ʼn Belangrike deurbraak vir vryheid

Deur dr. Adi Schlebusch

(Foto: VF Plus/X)

Die Afrikanerverklaring wat onlangs bekendgestel is en reeds onderteken is deur meer as 30 instansies, verteenwoordig saam ongeveer 2 miljoen Afrikaners, maar lok tog weerstand uit in bepaalde kringe.

In hierdie verband is dit belangrik om te let daarop dat wanneer daar oor die verklaring gepraat word, dit belangrik is om in ag te neem dat dit nie, sover ek weet, deur enige organisasie as beleidsdokument aanvaar is nie.

Dit is en bly ‘n riglyndokument vir samewerking tussen verskillende instansies wat elkeen sy eie grondslag, etos en doelwitte behou. Tog besef al die Afrikanerorganisasies wat hul tot die verklaring verbind die waarde van ‘n verenigde front.

Uit die teks van die verklaring is ook duidelik dat dit doelbewus so opgestel is om mense wat uiteenlopende siosio-politieke standpunte huldig, te akkommodeer. Ek sal byvoorbeeld nie gemaklik daarmee wees om hierdie verklaring net so as beginselbasis vir die Afrikanerorganisasies waarby ek betrokke is te aanvaar nie, en tog is ek gemaklik daarmee om sonder ‘n gewetensbeswaar die verklaring as basis vir samewerking te onderskryf.

In terme van die inhoud van die verklaring is dit vir my veral bemoedigend dat die verskillende samelewingsverbande waarin ons as Christen-Afrikaners staan erken word sonder om enige van hierdie verbande te misken of te verabsoluteer. Die dokument verwys byvoorbeeld na ons as Afrikaners se Europese afkoms, en tog word tereg erkenning gegee aan ons taalverbintenis met bruin Afrikaanssprekendes.

Die blote feit dat die dokument na ons kultuurgemeenskap verwys as ʼn volk is vir my werklik bemoedigend. Die federalistiese inslag van die Afrikanerverklaring blyk duidelik uit die feit dat alhoewel ʼn verskeidenheid van identiteite erken word, daar nie geskroom word om te sê dat dit ons volksidentiteit is wat hier op die voorgrond tree nie. Dit is veral belangrik omdat dit juis hierdie volksidentiteit van Afrikaners is wat al vir dekades by wyse van Kultuurmarxistiese propaganda in openbare skole, universiteite, die hoofstroommedia en selfs in sommige kerke verguis is.

Verder word ook ons afhanklikheid van God in die verklaring bely – iets wat werklik wesenlik is vir ons volk se stryd om oorlewing en vryheid, want soos Christus ons leer: “sonder My kan julle niks doen nie” (Johannes 15:5b).

As ek self so ʼn verklaring sou moes opstel, sou daar natuurlik ʼn sterker reformatoriese en nasionalistiese inslag wees, en tog word die kern van beide vervat deur die belydenis van ons afhanklikheid van God sowel as die erkenning van ons volk se republikeinse strewe na etnies-territoriale selfbeskikking. Die feit dat hierdie twee aspekte albei in die verklaring ter sprake kom, is vir my persoonlik deurslaggewend.

Van die ondertekenaars en opstellers van die dokument huldig ongetwyfeld uitgangspunte wat ek as te liberaal sal beskou, en tog is dit duidelik dat ook my beginsels en wêreldbeskouing bewustelik verreken is.

As Calvinistiese Afrikaner is dit immers vir my wesenlik om nie my beginsels prys te gee of om bloot die verskille tussen instellings eenkant toe te skuif ter wille van samewerking nie.

Hierdie verklaring slaag egter myns insiens op ʼn besondere manier daarin om genoegsame gemeenskaplike grond daar te stel dat ek met ander Afrikaners kan saamwerk wat nie my oortuigings deel nie, sonder dat ons ons beginsels of verskille hoef te minag en sonder dat ons almal deel van een organisasie hoef te word.

Verder is dit ook noemenswaardig dat daar wel erkenning gegee word aan swartmense se ervaring van die konflikte van die verlede sonder om verskoning vir “rassisme” of “onderdrukking” aan te bied, wat myns insiens daarop dui dat die opstellers hierdie oorgebruikte, byna niksseggende leitmotief wat so dikwels bloot ingespan word om goedkoop politieke punte te wen, bewustelik vermy. Dit is opsigself lofwaardig en dui op die groot pendulumswaai wat ons politieke landskap gedurende die afgelope paar jaar ondergaan het – veral na afloop van die grendelstaat van 2020 en 2021.

Die Afrikanerverklaring verteenwoordig ʼn belangrike deurbraak vir ons volk se stryd om vry te kom van die imperiale multikulturalisme wat ons kultuur bedreig, infrastrukturele verval, onderdrukkende arbeidswetgewing en belastings wat ons ekonomies bedreig, en vreemde, sekulêre owerhede wat die openbare uitlewing van ons godsdienstige oortuigings bedreig.

Of jy nou ʼn Afrikaner is wat glo in die idee van “Suid-Afrika eerste” en of jy soos ek graag ʼn suidelike Afrika bestaande uit ʼn verskeidenheid van onafhanklike volkstate wil sien, ons kan steeds saamstem dat hierdie verklaring ʼn baie belangrike rol kan speel in terme daarvan om ons hande gesamentlik te sterk met die oog op die verwesenliking van ons ideale.

Ek is bemoedig deur die feit dat soveel instansies reeds hul ondersteuning aan die verklaring gegee het om daarmee aan te toon dat hulle bereid is om met mekaar saam te werk.

  • Dr. Adi Schlebusch is lidmaat van die APK Lichtenburg.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Thys ·

Wat kan ek sê? 1994 was almal ook bereid om aan ‘n toekoms te werk, dit sal nou in elkgeval net van een kant af kom, kom ons spandeer liewers ons energie aan ons eie mense

annie ·

Nog groter grootsheid en akademiese parfuum om te beïndruk? Boekekennis is dalk nie die beste belegging om die vrot appel wat SA geword het mee te benader nie. Ons is moeg vir maskers want reuke wil nie buite bly nie… soos die klankie van weer ‘n onderhandeling wat die traktaat van 2024 uitbasuin. As ander alles van jou eis en jou dreig, om dan te smeek en baie mooi woorde te uiter vir oorlewing? Die gevolge van die 30 jaar se vals skyn uit die ANC se bende-handleiding wat in 1994 net met mooi geskenkpapier oorgetrek was. Dit was toe al die tyd eintlik net ‘n apartheidsgeskrif, terwyl die vorige, ‘n handleiding was vir die ophef van Afrika uit die gevaarlike wildernis wat dit was. Die waarheid van die verlede is verdraai om die eintlike vergrype te wettig.

Jaco ·

In die 1980’s, toe die regerende Nasionale Party (NP) begin “hervorm” het, het die verregse AWB begin praat van ‘n Volkstaat. Die NP het gesê dis rassisme en dit sal nie werk nie.
Die regse opposisie Konserwatiewe Party, wat apartheid wou terugbring, het ook gesê “dit sal nie werk nie”. Die Konserwatiewe Party wou ook nooit met party ander regse partye saamwerk nie.
In 1991, toe Mandela al reeds vry was, die ANC al ontban was en almal geweet het die ANC sou ‘n veelrassige verkiesing wen, het net 60 mense darem Orania gestig. Vandag 33 jaar later bly daar net 3000 mense in Orania, en daardie kleine dorpie het 2 Christenskole en 8 kerke! Wat dan nou van saamstaan?
In 1992 stem amper 1 miljoen mense nee. Daardie verminder na net 425000 vir die Vryheidsfront in 1994. En daarna het die VF-Plus minder stemme gekry in elke verkiesing.
So waar los dié feite ons? Ons eie mense kan nie regtig saamwerk en saamstaan nie, ons sê te vinnig “dit kan nie werk nie” en “daars nie geld nie” en ons stel al hoe minder belang in deelname aan verkiesings. Ons mense se grafskrif sal eendag lees: tot niet gegaan weens gebrek aan belangstelling.

Mari ·

@Jaco,
Dit is ‘n gegewe dat Afrikaners nie kan en nie sal “saamstaan” nie.

Dis nou elke ou vir homself.

Republikein in die Wes Kaap ·

Tussen 1994 en 1999 het die statutêre Volkstaatraad gewerk aan voorstelle aan ‘n alternatiewe bedeling vir Afrikaners. Die ANC was gewillig om te luister, want dan was Afrikaners uit hul lewe. Maar Afrikaners het nie belanggestel nie. Hulle het verkies om mee te doen aan die nasionale sirkus. Die reenboog was tog te mooi. En die Wêreldbeker het geblink in die son. Ons was so gelukkig. Nou is die glans weg en ons laat ons lei deur ‘n Dakar voorbok.

Mari ·

Ek onthou nog die foto van die manne op die voorblad van die Afrikaner koerant van 1992.
Die foto was van ‘n klomp Afrikaner mans wat FW de Klerk gaan waarsku het by die Uniegebou: Dat hy waansinnig is om ons goedsmoeds oor te gee aan die ANC.
Wens ek kon daai manne se name onthou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.