’n Beproefde benadering

Barend Uys. Foto: Verskaf.

Die hoek waaruit jy na die wêreld kyk, bepaal wat jy sien en wat jy doen.

Die mense in die eerste hoek glo dat ’n samelewing saamgestel is uit groepe mense in verskillende klasse. Breedweg is daar in hul oë ’n werkersklas en ’n besittersklas. Dié wat besit, het meer as die werkersklas omdat hulle werkers uitgebuit het. Daarom moet die samelewingsorde verander word en die besittersklas vernietig word sodat die werkers vry en welvarend kan wees. Die staat moet gebruik word om dít te bereik en die gevolg daarvan is ’n staat wat al meer mag sentraliseer en in burgers en gemeenskappe se lewe ingryp. Dié benadering het wêreldwyd klaaglik misluk.

Die mense in die tweede hoek glo dat die samelewing saamgestel is uit vrye individue. Hulle glo dat die samelewingstrukture wat oor tyd gevorm het, die vryheid van individue aan bande lê. Die enigste aanvaarbare samebindende faktor is ’n stel beginsels (waarvan sommige utopies is) wat hulle as universeel en ewig geldend beskou. Die rol van die staat is om dié beginsels te beskerm en te verseker dat individue se vryheid nie aan bande gelê word nie. Die mense sê dat hulle ’n klein staat wil hê, maar in praktyk lei hul benadering tot ’n sterk staat wat ’n stel beginsels afdwing. Gemeenskappe wêreldwyd is al meer ontevrede met die gevolge van dié liberalisme.

Die derde groep mense glo dat die samelewing saamgestel is uit verskillende kultuur- en ander gemeenskappe. Dié mense verstaan die belangrikheid van kulturele identiteit en geloof en verstaan hoe noodsaaklik dit vir mense se welstand is. Hulle glo dat ’n individu veilig kan wees, kan groei en tot volle potensiaal ontwikkel om sy of haar roeping uit te leef binne die struktuur wat ’n gemeenskap bied. ’n Mens en gemeenskap wat só sekerheid in hulself het, het die vermoë om van daardie vaste fondament af ’n brug te bou na ander gemeenskappe en saam te werk waaroor saamgestem word en waar belange gedeel word – sonder om verskille wat bestaan, te ontken óf uit die weg te probeer ruim.

Die mense glo verder dat burgers en gemeenskappe vir hul eie toekoms verantwoordelik is en skep daardie toekoms deur gemeenskapskrag te mobiliseer deur middel van gemeenskapsinstellings. Hulle glo dat die staat slegs hoort te doen wat nie deur gemeenskapsinstellings gedoen kan word nie en dat besluitnemings- en bestuursbevoegdheid tot die laagste moontlik vlak afgewentel moet word. In praktyk lei dit tot ’n kleiner staat omdat die vermoë wat in gemeenskapsinstellings gesetel is die rol wat die staat hoef te speel beperk.

Hierdie idees van subsidiariteit, gemeenskapsinstellings en ’n klein staat is sedert die Franse Rewolusie onder druk. Dié benadering is verder oor die afgelope paar dekades deur globalisme onder druk geplaas. Hier aan die suidpunt van Afrika het die regering se ideologies gedrewe aksies tot erge staatsafhanklikheid en die agteruitgang van gemeenskappe se eie vermoë en kulturele identiteit gelei.

Wêreldwyd is daar ’n ontwaking en herontdekking van die noodsaaklikheid van gemeenskap, subsidiariteit en die strewe na selfstandigheid en ’n aandrang op minder inmenging deur nasionale en transnasionale owerhede. Klassieke konserwatisme is besig om te herleef.

Gemeenskappe in suidelike Afrika word deur groot uitdagings in die gesig gestaar. Dié uitdagings word hoofsaaklik veroorsaak deur onbevoegde en ideologies gedrewe regerings. Die oplossing lê nie in die vernietiging van ’n sekere klas, ’n sterk sentraliserende staat of die vereniging van verskillende kultuurgemeenskappe rondom utopiese beginsels wat vir die meeste gemeenskappe hier vreemd is nie.

Gemeenskappe moet die goeie uit hul eie verlede gaan haal en sterk bind rondom kulturele identiteit en beproefde waardes uniek tot daardie gemeenskap. En dan, as ’n selfversekerde gemeenskap, die hand reik na ander gemeenskappe en goeie verhoudings en samewerking bewerkstellig. Die enkel belangrikste gemene deler wat as grondslag vir dié vreedsame naasbestaan kan dien, is ons Christelike geloof.

Só sal gemeenskappe en burgers, sonder om afstand te doen van wat hulle glo, wie hulle is en wie hulle graag wil wees, die vermoë hê om ’n toekoms te verseker en ’n gunstige magsewewig tussen gemeenskappe en die staat verseker.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Barend Uys

Barend Uys is die hoof van interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.