’n Blik op Hongkong se betogings

Onlustepolisie trek met traangas los op betogers wat in openbare parke en pleine in verskillende dele van Hongkong byeengekom het ná ʼn algemene staking. Betogers het daarop aangedring dat die semi-outonome leier van dié Chinese stad moet bedank. (Foto: Kin Cheung, AP)

Die Chinese outonome stad Hongkong word nou al vir geruime tyd deur ’n vlaag betogings geteister. Dit het onlangs ’n nuwe hoogtepunt bereik met die tydelike besetting van die internasionale lughawe. Die oorsaak van die betogings gaan terug na Februarie vanjaar, maar veral in Junie het dinge weer vlam gevat en sedertdien hou dit aan, met honderde duisende, selfs miljoene betogers en ’n stad wat grootliks verenig agter die betogers staan.

Die betogings het begin as reaksie op ’n wetsvoorstel van die regering van Hongkong om die uitlewering van voortvlugtiges aan buurlande, ook kommunistiese China, moontlik te maak. Die vrees is dat Hongkong se outonomie en relatiewe vryheid teenoor kommunistiese China daardeur ondermyn sal word. Alhoewel die regeerder van Hongkong, mev. Carrie Lam, as reaksie op die betogings, die wetsvoorstel op die lange baan geskuif het, hou die proteste aan, want dit gaan oor veel meer: oor demokratiese selfbeskikking vir Hongkong.

Die grootskaalse proteste is merkwaardig vir China, wat sedert 1989 geen noemenswaardige verset teen die heersende bewind meer gesien het nie, en waar alles onder totalitêre beheer is. Vir die mense van Hongkong is die mate van vryheid wat hulle het, kosbaar, en hulle wil dit nie verloor nie. Al is hulle etniese Chinese, het die lang jare onder Westerse invloed aan hulle ’n ander identiteit en politieke kultuur gegee – iets wat China natuurlik probeer ontken en ongedaan wil maak.

Dit is nie die eerste keer dat China probeer om Hongkong se vryheid aan bande te lê nie, en ook nie die eerste keer dat Hongkong se mense in verset daarteen kom nie. Ook in 2014 was daar grootskaalse betogings, toe China probeer het om aan Hongkong se kieswet te peuter deur kandidate self aan te wys. Vir Hongkong gaan dit nie oor afskeiding nie, maar oor die beginsel van “een land, twee stelsels” wat eerbiedig word, naamlik die voortbestaan van ’n redelik demokratiese Hongkong met vryheid van spraak en ’n vrye markekonomie binne kommunistiese China.

Net soos met die geelbaadjieproteste in Frankryk is die protesbeweging van Hongkong deel van die nuwe verskynsel van die internet-era: vinnig mobiliseerbaar danksy die internet en slimfone, veral deur jongmense gedra, sonder duidelike leiers en daarom ook moeilik onderdrukbaar, maar ook moeilik vatbaar en beheerbaar, wat ook die risiko vir die beweging inhou om teen homself te draai en vinnig stoom te verloor.

Dit is ook ’n interne aangeleentheid van Hongkong, wat oor ’n groot mate van outonomie beskik en sy eie parlement en veiligheidsdienste het.  Tans word Chinese troepe op Hongkong se grens ontplooi en oefeninge gedoen as waarskuwing aan die betogers om te onthou wie die mag het. ’n Bloedige militêre onderdrukking kan nie uitgesluit word nie, soos met die Tianmenplein in 1989, maar dit is ander tye en China is afhanklik van die wêreldmarkte en ’n goeie internasionale klimaat. Die Chinese regering sal eerder deur middel van propaganda en ondermyning die protesbeweging probeer diskrediteer en die Hongkongse polisie ondersteun om die opstande te onderdruk.

Hongkong is anders as die res van China omdat dit vir meer as honderd en vyftig jaar ʼn Britse besitting was en die Britse politieke kultuur die stad en sy mense diep beïnvloed het. Met die onderhandelinge oor die oorgawe aan China in 1997 kon Brittanje outonomie vir sy kolonie beding, wat die stad in talle opsigte anders as die res van China maak: Hongkong het sy eie parlement en regering, sy eie grondwet, self sy eie polisie, grens- en toelatingsbeheer en ’n vryemarkekonomie.

Hongkong is wel geen soewereine land en ook geen volwaardige demokrasie nie.  China se wette geld gedeeltelik vir Hongkong ook, die uitvoerende gesag word deur China aangewys en die land is ook vir Hongkong se verdediging verantwoordelik en kan in gevalle soos nou militêr inmeng. Daar is gedurig spanning tussen die parlement wat prodemokraties is, en die uitvoerende gesag, wat pro-China is.

Juis daarom is die proteste teen die wet oor uitlewering ook so hewig, omdat die vrees bestaan dat Hongkong se mense hul wetlike beskerming verloor en aan kommunistiese willekeur uitgelewer word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

marco polo ·

As jy nie jou vryheid wil verloor en aan die vasteland uitgelewer word nie, sorg dan dat jy die wette gehoorsaam. Dis mos nie te moeilik nie, of is daar dalk ‘n ander agenda?

Reinhardt ·

Daar is geen vryheid van spraak in China nie, dus as jy die regering slegpraat dan oortree jy die wet. Sjoe, ek sou ook betoog.

Stephan de S ·

Die agenda is dalk vrees……vir die onbekende toekoms en die bevlekte rekord Chinese verlede……..iets wat n gas/besoeker/tydelike inwoner moeilik kan peil. Laasgenoemdes het n ontsnappingsmeganisme maar die burgers gaan/kan “sit”.

marco polo ·

Dit mag so wees, Stephan, maar die vraag is steeds, as jy wette gehoorsaam, soos dit in die res van China (meestal) gedoen word, hoekom vrees jy uitlewering? Daar is dalk ‘n paar groot skelms agter hierdie storie. Mens moet ook versigtig wees om die absoluut anti-Chinese retoriek van verslaggewers vir soetkoek te wil opeet. Mens kan maar net na Amerikaanse nuus kyk om te weet waar dit vandaan kom. Elke saak het twee kante, soos die halfmiljoen mense wat die afgelope naweek vreedsaam betoog het TEEN die protesopgte en ontwrigting gewys het

Therese van Schalkwyk ·

“Hoekom vrees jy uitlewering?”
Marco Polo, dalk moet jy die bykans 2 miljoen vreedsame betogers daardie vraag vra.
En hoe indrukwekkend was hulle nie met hul sambrele in die reën nie!
Die Australiese werknemer van die bekende mynmaatskappy Rio Tinto, wat op besoek aan China in ‘n Chinese tronk beland het op aanklag van spioenasie, behoort ook bv. daardie vraag te kan antwoord.
Anti-Chinese retoriek moet erg frustrerend wees vir lojale Chinese, maar wanneer die leier van ‘n land as “lewenslank” verklaar word, is dit nogal geneig om Westerlinge agterdogtig te maak.

marco polo ·

Therese, kyk bietjie weer na die nuus. Die vreedsame protes in die reen deur derduisende was in protes TEEN die protesteerders wat amok maak, die polisie aanval en nie te gunste is van die uitleweringsooreenkomste nie, dus hulle steun die HK regering en China. Ongelukkig sien julle dalk net die een kant van die storie.

Jerry ·

Tussen so baie mense sal daar oenskynlik ook diegene met ander duistere motiewe wees. Hoe dit ookal sy, die kruks van die opstand is egter gemeenskaplik vir die behoud van die demokratiese pilare wat geskoei is op vryheid van spraak, van keuse, van assosiasie, onafhanklike regbank, eie regering, vrye mark, eiendomsreg ens. Dit is alles vryhede en regte wat onder kommunistiese bewind onderdruk en deur die staat beheer word. Die mense van Hongkong demonstreer dat hulle gesamentlik as n kollektief eerder bereid is om te sterf as om hierdie demokratiese vryhede prys te gee!

Sarie ·

Sebastiaan het net nagelaat om te noem dat Hongkong se outonomie wat in 1997 beding was, beperk is tot 50 jaar en dan is China weer in volle beheer.

Dries du Toit ·

Dit kom maar net weereens neer op die natuurlike begeerte vir selfbeskikking. Grense bring vrede.

Therese ·

“Stand for Hong Kong!”
“Fight for Freedom!” ens. was op plakkate te sien.
Hulle veg vir dieselfde saak, maar is teen geweld en saakbeskadiging en verál teen die onnodig aggresiewe optrede van die polisie.
Hulle steun nié China nie.

Marco, ek weet regtig nie wat jy bedoel met “net een kant van die storie” nie?

marco polo ·

Het jy al die Chinese vlae in die optog gesien? Dalk nie in die nuus wat daar aangebied is nie. In die Chinese media is dit wyd gedek dat die gemiddelde HKer moeg is vir betogings en proteste en eerder met China wil saamwerk. Mens weet nie altyd wie om te glo nie.

Therese ·

Dis interessant.
Sal bietjie dophou wat verder gebeur, dankie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.