’n Blik op Nigerië se verkiesing

abudja-nigerie

Verskillende landmerke in Abudja die hoofstad van Nigerië. Foto: Jamie Tubers/En.wikipedia.org

In die presidensiële, parlementêre en streeksverkiesings in Nigerië het die sittende president Muhammadu Buhari, 76, van die All Progressives Congress (APC) met 56% van die stemme gewen, teenoor sy naaste teenstaander, Atiku Abubakar van die Peoples Democratic Party (PDP) met 41%. Ander kandidate of partye was betekenisloos. Nigerië is effektiewelik ʼn tweepartystaat en die presidensiële verkiesing was ’n tweeperdresies. Buhari regeer reeds vir een termyn, nadat hy in 2015 as kandidaat van die destydse opposisie gewen het, iets wat in Afrika selde voorkom.

Abubakar het ná die bekendmaking van die uitslag beweer dat daar onreëlmatighede voorgekom het, en het aangekondig dat hy hom na die hof sal wend om die uitslag ongeldig te laat verklaar. Die kanse op sukses is egter klein, veral in Afrika, waar howe uiters selde teen ’n sittende regering besluit. Daar is geen bewyse vir grootskaalse manipulasie nie, maar Abubakar vind dit verdag dat in die vestings van sy party die deelname aansienlik laer was as in diegene van die regeringsparty. Die deelname was die laagste nog in ’n algemene verkiesing in Nigerië, slegs 35% van geregistreerde kiesers het gestem. Dit skep vraagtekens oor die verkiesing.

Meer waarskynlik as direkte manipulasie, soos Abubakar beweer, is egter dat Buhari se aanhangers meer gemotiveerd was. Die sittende president het ook altyd ’n voordeel bo die opposisiekandidaat, veral in Afrika. Die lae stempersentasie het ook te doen met die onverwagse uitstel van die verkiesing met ’n week, wat talle kiesers wat reëlings moes tref, onkant gevang het. Die uitstel het egter beide kandidate benadeel.

’n Moontlike rede vir die geringer as verwagte steun vir Abubakar en die PDP kan gevind word in die feit dat hy (nes Buhari) ʼn Moslem is. Alhoewel die twee partye hulle geensins as godsdienstige, geografiese of etniese partye sien nie, is Nigerië tradisioneel verdeel tussen ’n hoofsaaklik Moslem-Noorde en ʼn Christen-Suide, wat ook ooreenstem met sekere etniese groepe. Die PDP het gewoonlik ’n Christen uit die Suide as kandidaat, en die APC ʼn Moslem uit die Noorde. Abubakar kon dus minder mense in die Suide mobiliseer as wat ’n Christen-kandidaat dit sou kon doen.

Die politieke program van die twee partye en kandidate verskil weinig van mekaar. Beide belowe om die erge korrupsie te beveg, om die ekonomie te verbeter, armoede te verlig en die infrastruktuur te moderniseer. Mense in Afrika stem egter dikwels eerder volgens die etniese en godsdienstige kenmerke van die kandidate en partye, as volgens die partybeleid.

Buhari het in sy eerste termyn gemengde suksesse behaal. Hy het die verkiesing in 2015 gewen met die belofte om die radikaal-Islamitiese terreurgroep Boko Haram te vernietig en om korrupsie te beveg. Boko Haram is nog aktief, maar is wel ʼn knou toegedien en het nie meer die mag wat hy destyds gehad het nie. Korrupsie is nog steeds wyd verspreid, maar ten minste is hier en daar iets daaraan gedoen. Aan die sukkelende ekonomie is egter min aandag gegee en Buhari het ook geen oortuigende planne in dié verband nie. Abubakar, wat ʼn sakeman is, het nogal sterk klem gelê op die punt.

Nigerië is ʼn reuseland met enorme uitdagings. Verbeel jou Suid-Afrika se probleme in die oortreffende trap: ’n baie groot bevolking van 200 miljoen mense, boonop met ʼn sterk bevolkingsgroei. Werkloosheid en kompetisie om hulpbronne is hoog. Korrupsie is wydverspreid en deel van die land se kultuur. Die infrastruktuur kan lankal nie meer die behoeftes van die groot bevolking dra nie en moet dringend uitgebou word. Etniese en godsdienstige konflikte kom dikwels voor. Die ekonomie is eensydig afhanklik van enkele kommoditeite, by name olie, en dit word deur ʼn klein elite beheer.

Nogtans kon Nigerië, ná dekades van staatsgrepe en militêre diktators, dit regkry om sedert 1999 ʼn demokrasie (met al sy beperkinge) te bly. Die groot etniese verskeidenheid word in ʼn mate geakkommodeer deur die federale aard van die land. Met die kunsmatige hoofstad Abuja in die middel van die land (wat Lagos in die suidweste as hoofstad vervang het) is gepoog om ʼn balans tussen die noorde en suide te vind. Die visepresident moet ook altyd aan ʼn ander godsdiens as die president behoort.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk as navorser, argivaris en toergids vir die Orania Beweging in Orania, is ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling en skryf is veral politiek, geskiedenis, reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae