ʼn Boeiende blik op media en politiek

Johannes Froneman

Deur die jare is verskeie rolprente uitgereik waarin daar op die media gefokus is en kykers ʼn blik agter die skerms gekry het van die uitdagings waarmee joernaliste te kampe het.

So uit die vuis herinner ek my aan die uitstekende Broadcast news, The year of living dangerously en All the president’s men.

Plaaslike TV-reekse en radiovervolgverhale het ook al joernaliste as hoofkarakters gehad, maar meer dikwels het ek as joernalis dit nie geloofwaardig gevind nie. Vir my gevoel is daar dikwels karikature van joernaliste gemaak.

Wat ʼn uitsondering is Netflix se Deense reeks Borgen nie! Hier word die wel en wee van ʼn premier, ministers, hul kommunikasieadviseurs en TV-joernaliste op ʼn oortuigende wyse vermeng. Geen wonder die reeks loop nou in sy vierde seisoen nie, weliswaar met ʼn effens nuwe titel.

Ek het die eerste seisoene eers in Deens (met Engelse onderskrifte gekyk), wat vinnige lees verg, want die karakters praat soms bitter vinnig. My tweede kyk was van ʼn lieflike, na Engels oorgeklankte weergawe. Dit het my net soveel plesier as die eerste kyk gegee. Eintlik was daar allerlei nuwe plesiere in die oorgeklankte reekse, soos ʼn bebaarde Deen wat met ʼn tipiese Skotse aksent Engels praat. Dit pla geensins nie en gee tekstuur aan die oorklanking. Nie alle Dene se Deens klink seker eenders nie?

Ek was sommer ingenome om te sien daar is ʼn nuwe reeks, Borgen — power and glory, beskikbaar en het dit binne dae deurgekyk, wat nogal jammer is. ʼn Mens wil hê dit moet aanhou. Ek vind nie veel nuwe kykstof op Netflix wat die moeite werd is nie.

Maar Borgen (wat verwys na die Deense parlement) is uitsonderlik en hoogs aan te beveel. Die storielyn is soms nogal kompleks, met al die gemaneuvreer wat eie is aan ʼn koalisieregering, en ʼn vroulike eerste minister wat al meer agterkom dat hoë beginsels een ding is, maar dat kompromieë soms noodsaaklik is. Dan is daar ook die wisselwerking tussen kommunikasieadviseurs en die media, waar hul etiek (of gebrek daaraan) oortuigend uitgebeeld word.

Om die reeks verder interessant te maak, kom die karakters se persoonlike lewens in spel. Die lewens van politici en mediamense is nie altyd bevorderlik vir gelukkige gesinslewens nie.

ʼn Aspek wat ek onlangs weer in Suid-Afrika tot debat gelei het en sterk in Borgen na vore tree, is die vraag of en hoe ʼn TV-kanaal harde politiek moet aanbied. Die stryd tussen openbare belang en die winsmotief is ʼn bittere geveg. Dit verg soms van joernaliste om hul hoë joernalistieke ideale te versaak ter wille van oorlewing. Dan is daar ook die vraag of en hoe ʼn (onafhanklike) TV-kanaal mag kant kies — vrae wat in media-etiek-klasse bespreek word, maar waarvan kykers nie altyd so bewus is nie.

Waar ons as Suid-Afrikaners soms hartlik moeg is vir die politiek van korrupsie en nimmereindigende klagtes oor rassisme, is dit nogal verfrissend om verplaas te word na ʼn vreemde land met sy eie probleme en uitdagings. Dit gee nie net insig in die (vir ons) vreemde leefwêreld van Kopenhagen nie, maar bied ʼn paar oomblikke van ontvlugting. Dit is wat vermaak tog ook moet doen. As dit boonop leersaam is, soveel te beter.

As jy nog nie met Borgen kennis gemaak het nie, beveel ek aan dat jy dit in volgorde, vanaf die eerste reeks, kyk. Die storielyn en karakters ontplooi stuk vir stuk, soos mens sou verwag.

Net toe ek dog die nuwe (vierde) seisoen in die reeks begin al tekens toon van uitrafel (soos wat meer dikwels met reekse gebeur), ontvou dit tot ʼn realistiese en daarom bevredigende einde. Dit begin goed en eindig sterk. Min dat dit gebeur.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Johannes Froneman

Johannes Froneman is ‘n emeritus-professor, kurator van Mediamense.com en vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Harley Davidson ·

Die media en politiek is presies dieselfde verdraaide waarhede vir sensasie en te bang om ‘n spade ‘n spade te noem ek hou nie van een van die twee nie .

Treurwilger ·

“Borgen” is een van die beste reekse ooit!
Skandinawiese televisie-reekse is oor die algemeen strate bo enige Hollywood snert.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.