’n Bybelse stemgids vir die 2019-verkiesing

gareth-stead

Gareth Stead is die nasiebou-portefeuljeleier van Every Nation in Suider-Afrika. Foto: Twitter.com

Deur Gareth Stead

Terwyl ons aanstaltes maak om ons kruisie te gaan trek vir die sesde nasionale demokratiese verkiesing, moet ons eers gaan kyk wat die Bybel te sê het oor demokrasie, regering en nasiebou in Suid-Afrika, soos dit vandag daaruit sien.

Teokrasie versus demokrasie

Wanneer leiers gekies moet word, word daar volgens die Bybel opgetree, met ander woorde ons laat God toe om te kies. Voorbeelde hiervan is toe God vir, onder andere, Adam, Noag, Abraham, Moses, Ester en Maria gekies het om leiers te wees – mans en vroue so na sy hart (“after His own heart”).

God pas teokratiese reëls toe as dit kom by mense en hul gemeenskappe. Daarteenoor staan demokrasie waar mense hul eie heersers en wette kies waarvolgens hulle regeer wil word.

Hoewel ons sal agterkom dat die beginsels van demokrasie oorspronklik uit die Bybel kom, is God se koninkryk nie ʼn demokrasie nie, maar ʼn teokrasie. Jesus is heerser en koning – op alle vlakke en vorme van leierskap in die koninkryk van God behoort daar ʼn oorgawe aan Christus as heerser te wees en die behoefte om volgens die wil van God op te tree.

Die Bybelse ontstaan van demokrasie (Eksodus 18:17-27)

Die heel eerste leiers wat gekies moes word, was nadat Moses die Raad van Jetro ná die uittog uit Egipte gehoorsaam het.

Vers 17 begin met Jetro wat aan Moses sê: “Jy maak nie reg nie.” Jetro het agtergekom dat Moses op sy eie regeer en dat hy sy raad volgens sy eie daargestelde kriteria verkies het.

Bybelse kriteria vir die kies van kandidate vir ʼn openbare amp

In vers 21 sien ons dat die vier sleutelvereistes vir die kies van kandidate wat ʼn openbare amp moet beklee, vandag net so geldig is as toe Moses die volk van Israel gelei het:

  1. Bekwaamheid: “Bekwame mans/vroue” beteken dat hulle bevoeg en in staat moet wees om die werk te doen. Wanneer leiers gekies word op grond van familie- of politieke verbintenisse, of na aanleiding van hoe aantreklik, ryk, gewild of beroemd hulle is, sonder enige inagneming van hul bevoegdheid, dan is mislukking en ongelukkigheid onvermydelik.

Daar is reeds te veel swaarkry en probleme in Suid-Afrika. Toe dit kom by die aanstelling van leiers, is bevoegdheid oor die hoof gesien – of dit nou in die regering, staatsbeheerde ondernemings, besighede, skole, universiteite of selfs in die kerk was.

  1. Godvresendheid: Om Godvresend te wees, was die tweede vereiste wat Jetro aan Moses gestel het. Godvresendheid, oftewel om godsdienstig te wees, spreek van ʼn hart vol liefde vir God, ʼn Christelike karakter, nederigheid, gedienstigheid, die vrug van die Gees, en so meer.

ʼn Persoon se privaat lewe kan ongelukkig nie van sy openbare amp geskei word nie. Die Bybel stel dit duidelik: as jy nie by bybelse standaarde in jou privaat lewe hou nie, word jy gediskwalifiseer om ʼn openbare amp te beklee.

  1. Eerlikheid: Jetro het gesê dat leiers “liefhebbers van die waarheid” moet wees. Ons skiet hier so ver tekort ten opsigte van hierdie vereiste vir verkose openbare amptenare.

 Dit is in vandag se tye ongelukkig so dat dit moeilik is om ʼn eerlike politikus te vind. Dis asof politici van vroeg af in hul politieke loopbaan leer om oneerlik te wees of om “ekonomies met die waarheid” om te gaan. Hulle het selfs skakelbeamptes nodig om hulle teen skandale te beskerm en beeldpoetsers om te sorg dat hul openbare beeld goed vertoon, want op hul eie integriteit, eerlikheid en optredes kan hulle nie meer staatmaak nie.

Dit het tyd geword dat ons van ons politieke leiers (en leiers in elke sfeer van die samelewing) absolute eerlikheid verwag en vereis.

  1. Onomkoopbaarheid: In die afgelope dekade het ons eerstehands gesien hoe korrupte politici en korrupte sakelui ons vooruitgang in die gemeenskap kan pootjie.

Die Zondo-kommissie van ondersoek is een van baie kommissies wat in die lewe geroep is om bewerings van korrupsie in sommige van die hoogste hiërargieë van die politieke arena te ondersoek. Daarteenoor vra God dat leiers onomkoopbaar moet wees.

Die rede waarom korrupsie so algemeen geword het, is weens die versugting na geld en mag. Selfsugtige belange is bó die bybelse opdrag om God en ons naaste met opoffering te dien, gestel. En as gevolg hiervan belewe ons tans ʼn groot krisis in ons land.

Om die regte kriteria toe te pas wanneer ons stem, is ʼn uitdaging

Hierdie vier vereistes is bybels en suiwer, en is steeds van toepassing op Suid-Afrika vandag. Die groot uitdaging lê egter daarin dat dit om twee redes moeilik sal wees om dit met hierdie verkiesing toe te pas:

  1. Partylys: Weens die partylys-stelsel gaan jou individuele stem na ʼn party eerder as na ʼn persoon.

Dit is stellig te laat om hierdie kriteria nou te gebruik, aangesien dit reeds toegepas moes gewees het toe die partye gekies het watter kandidate op die partylys behoort te verskyn. Partye het hul eie interne prosesse gevolg om hierdie lyste op te stel en na alle waarskynlikheid was dit nie ʼn baie demokratiese en deursigtige proses nie.

Maar ons kan steeds die bybelse kriteria indirek toepas. Ons kan die verskillende partylyste deurgaan en kyk of die kandidate wat daarop verskyn – veral die partyleiers en mense boaan die lys – aan die bybelse vereistes voldoen om ʼn openbare amp te beklee. Indien dié kandidate afbreuk aan hierdie standaarde sou doen, behoort ons nie vir die spesifieke party te stem nie. Daarteenoor behoort ons vir ʼn party wat dieselfde kriteria toon (of ʼn hoë ooreenstemming daarmee) te stem.

Dit beteken dat jy eintlik die verskillende partye en hul beleide, en die kandidate vooraf moet navors om te weet waarvoor hulle staan, as om slegs die partynaam of hardste stem te kies.

  1. Verkiesingsproses: Die tweede uitdaging lê in die feit dat ons verkiesingsproses kandidate nie toelaat om ʼn spesifieke kiesafdeling te verteenwoordig nie – ʼn persoon kan slegs deur middel van ʼn politieke party verkies word. Daarom kan onafhanklike kandidate nie vir die provinsiale of nasionale regering in aanmerking kom nie. Dit is stellig onkonstitusioneel en dit het nodig geword om druk uit te oefen vir die hervorming van die verkiesingsproses sodat dit nie net met ons eie Grondwet strook nie, maar om die weg te baan vir bybelse kriteria wat meer direk toegepas kan word wanneer mense vir openbare ampte gekies moet word.

Hoekom moet ek stem?

Noudat die “hoe om te stem” afgehandel is, kyk ons vlugtig na die “waarom ek moet stem”. Dit is belangrik om jou stem te gebruik – nie slegs omdat dit jou konstitusionele reg en verantwoordelikheid is nie, maar ook om God te vereer vir die vryheid van keuse wat jy gegun is. En wanneer jy stem, beoefen jy jou geloof om God – ongeag die beperkings van demokrasie – te vertrou, sodat leiers wat godvresend is en hul mense goed sal dien, verkies word.

Gevolgtrekking

Ons behoort nooit die vryheid wat God ons gegee het, as vanselfsprekend te aanvaar nie. Laat ons eerder ons vryheid van keuse op só ʼn manier aanwend dat ons God daarmee eer. Laat ons die grense en beperkinge wat God op vryheid plaas, respekteer.

Kom ons gaan stem as teken van daardie vryheid wat ons nie sonder opoffering gekry het nie.

Moenie die verkiesing as ligtelik beskou nie.

Wanneer ons stem, laat ons nie net die mense om ons raaksien nie, maar na God kyk vir ʼn hoër standaard vir die leiers wat Suid-Afrika in elke sfeer van die samelewing nodig het. Sodat hulle ons na ons beloofde land kan lei.

  • Gareth Stead is die nasiebou-portefeuljeleier van Every Nation in Suider-Afrika.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

John ·

Nee wat, eerwaarde, dominee, die uwe, u eiertjie is nie die Woord nie maar u persoonlike en eie mening. Om nou te wil dink presies wat die Vader dink tov all nations in SA is verwaand verby. Hoeveel glo kerklikes wil nog hierdie korrupte spulletjie tot heilig verhef sou hul net hul kruisie trek agter… ‘n mens se opinie en selfverheffing tot ‘n lekker sitplek in die parlement teen lekker pay…

Valerie ·

John, hier is my hand. Skud dit. Daar is te veel mense wat maak of hulle weet wat “god” se plan is, maar snaaks dat dit nog nooit hier plaasgevind het nie, nê? Vroeër jare het ‘n “kerk” SA beheer en watse gemors was dit nie. Ek kon nie eers op die “heilige” (volgens die tweegesigte) gaan fliek nie, ens.

Sam ·

Ek stem saam dat ons onder ‘n teokrasie moet staan, dat dit die verkose Godgegewe stelsel is vir Sy land en volk .., maar hoe kanselleer die skrywer daardie insig wat hy openbaar deur dan juis stemmery aan te moedig!

Hierdie land en wêreld kan by geen stembus oorwinning behaal nie. Ons leef in die eindtye van verval, Goddeloosheid en toetrede van die antichris en sy trawante wat slegs ten doel het om die koninkryk van die Opperherder te vernietig.

In terugkeer tot Hom en in rus lê ons heil en die oorwinning sal slegs deur ‘n hand van Bo bewerk word.

God lag vir die regeerders van die tyd. Ons mag nie deel hê aan die spel deur ‘n kruisie te gaan trek nie .,,

MEL ·

Ek stem saam, ons behoort nie te gaan stem nie. Vir wie wil jy stem? Wie van die partye is regverdig, Goddelik in hul weë, eerlik, en nie met ‘n agenda agter hul party nie. VF plus is nog die beste kandidaat tussen die spul, maar selfs met hulle gaan daar steeds tekort skiet.

James ·

Hou op om godsdiens in politiek in te sleep, en politiek in godsdiens in.

Fran Joubert ·

Baie dankie vir hierdie mooi uitdrukking. Ek will ook van my kant byvoeg van wat die Bybel ons ook leer oor stemmery, wat by jou en my le. Met Jesus se kruisiging, was daar twee ander saam gekruisig, waarvan die een vergifnis gevra her vir al sy oortredings en Hy Jesus se kant gekies het en oor hy so besluit het, is hy met vrede en vergifnis gekruisig en die een aan die ander kant het geen skuldgevoelens gehad oor wat hy gedoen het nie daarom is hy na die hel. Wie se kant sal jy kies om te volg?
Wat ek uit ons partye se logos opgemerk het, is daar partye wat met gebalde vuis in hul logos het en die teken is een van die sataniste se simbole en ook is daar ander partye wat ander simbole van sataniste is wat niemand will opslaan of glo nie. Hierdie partye het gekies om die een wat hel toe is by sy kruisiging te vokg.

Mag Suid Afrikaners nue bevrees wees om te gaan stem nie.

Leandie ·

Ons geveg is nie teen vlees en bloed nie maar teen bose magte. Dankie vir hierdie rubriek. Ons moet vertrou op die Here en nie mense nie. Ons is immers as “warriors” hier geplaas om God te eer in alles wat ons doen, insluitend politiek!

James ·

Dus gaan jy nie stem nie? Want jou stryd is teen bose magte – en hulle is nie op die stembrief nie?

MAAR – ons is ook “warriors”?

“Warriors” teen wie? Ek dog daar is nie plek vir geweld in die Christelike doktrines nie?

Ek glo ook in God, maar ek is slim genoeg om te versstaan dat die stryd op aarde – die stryd op aarde is.

NOG ‘n slagoffer van passifisme. Marx het nog altyd gereken op mense soos jy.

Oop oge ·

God is en was nog NOOIT deel van politiek en die wereldse agenda nie. Dit is die speelplek van satan homself.

God was juis in Christus gekruisig deur die wereldse en teologiese regime van die tyd.

God het net een doel en dit is om Sy kinders uit die wereldse politieke en kerklike sisteem te verwyder en hiervoor gebruik Hy Godgestuurde profete soos Johannes die doper…

Johan Neuteman ·

Stem nie saam met die uitleg van Eksodus 18:17 wat in die artikel gegee word nie: die voorafgaande verse maak dit duidelik dat Jetro se advies nie was oor hoe Moses ‘n raad saamgestel het nie, maar dat hy al die werk alleen probeer volhou het. Vers 18 is verder baie duidelik daaroor dat dit gaan oor advies om hulp in te bring vir mindere sake (vers 22 en 26) deur toepaslike bekwame manne wat Moses moes kies (verse 21 en 25). Niks met demokrasie of die instelling van ‘n soort raad of parlement of iets te doen nie, maar met ‘n praktiese maatreël om God se volk te regeer waarvoor Moses die opdrag gehad het.

Piet ·

Johan, ek stem saam met jou. Die skrywer wil voorgee dat Jetro, Moses se gesag wou ondermyn, maar Moses was deur God self aangestel om Israel te lei. Ek sal net mense volg wat deur God self aangestel is en nie deur mense verkies is nie. Volgens die skrywer se kriteria, is daar geen mens wat hieraan voldoen nie, so niemand behoort te stem nie.

klip in die bos ·

Die sigbare kerk is uiters belangrik, omdat dit as die Liggaam van Christus gereken word. Die voorwaarde is dat dit die eienskappe van die ware kerk MOET openbaar.

Fran ·

Danke vir die skrywe. Ek stem saam met Gareath ons stemmery moet in woorde van ons Hemelse Vader wees, soos die Bybel ons daarop wys. Die van julle wat se politiekn het nie die Bybel nodig on te volg nie, moet klappe van hul oe afhaal.
Bewys van ons as mens se keuse kom op ons elkeen se keuse wat one maak en die geheim is wie of wat will jy geskerm of om te volg. My bewyse uit die Woorde is die kruisiging van Jesus Christ is. Daar was twee ander, weerskante van Hom, wat ook gekruisig was. Die een het uit sy siel vergifnis gevra, sy eie keuse, vir al sy oortredings en hy het heengegaan met opregtheid en skoon gewete. Die ander een aan die ander kant van Jesus, het geen sondevergifnis gevra nie oor hy nie wou nie, sy keuse, en sy siel is vuil daarom is hy hell toe. Aan watter Kant van Jesus will jy wees? Jou besluit is jou eie keuse. Volg jy die regses of die linkses?
Ek will ook net se, daar us partye wat die balkende vuis (swart van kleur) in hul party se logo, hierdie teken kom voor onder sataniste as n simbool ook ander simbole word ook deur ander partye gebruik. Google gerus “satanistiese simbole en tekens, Al die simbole loop onder mekaar met hul betekenis daarby.

Leonard van der Dussen ·

Die norme wat die artikel vir leiers stel, is een van die redes hoekom ek aktief, bewustelik en beslis nie apaties nie, nie in die verkiesing stem nie en ook nie eens as kieser in hierdie bestel geregistreer is nie.

Jean van der Riet ·

Ons leiers en regering voldoen nie aan die vereistes wat in die artikel gestel word nie , he he he he

Jerry ·

Daar is geen politieke leier in SA wat voldoen aan die vereistes wat deur teokrasie gestel word nie, dit sien ons met ons eie oe al vir die afgelope 25 jaar. Geeneen van die leiers openbaar iets goeds teenoor alle gewone mense in SA nie. Dit is elkeen vir homself en vir n sekere groep. SA wag nog vir teokratiese leiers en slegs n wonderwerk sal dit teweegbring. Al wat SA sal red van totale verval is vir n verenigde opposisie wat die ANC by die stembus kan verslaan en dit gaan nie gebeur nie juis agv die leierloosheid van die opposisie wat nie die teokratiese vermoe het om alle Suid Afrikaners te verenig vir die beloofde land nie. Die teokratiese droom van n beloofde land is oor die afgelope 25 jaar deur die klug van n sogenaamde demokrasie en die se demokratiese verkose leiers vernietig! Met die afwesigheid van teokratiese leierskap, die slegte keuses van die meerderheid kiesers, die eskaleerde jaloerse en onverdraagsame uitdagings teenoor sekere minderheidsgroepe is die teokratiese boodskap aan hierdie groepe baie duidelik vanuit die teokratiese Skrif. Toe julle moes brue bou, toe bou julle mure, nou se die Skrif vir julle, verkoop julle grond, besittings en eiendom en versprei julle na die uithoeke van die wereld terwyl dit julle nog beskore is!

Johan ·

O hel diw mendom se koppe raas . As jy nie stem nie moenie flippen kla nie. Gaan sit en lees jou bybel die heeldag en nag . Watter bybel is reg. Elke ou verander en verdraai soos dit hom pas en waar hy die meeste geld kan maak

Oom Charles ·

‘n Nie-stemmer moet tevrede wees met wie ookal oor hom regeer. Passiewe sit-en-kyk kommentators is erger as Maandagoggend se sportbeterweters. Laasgenoemde se slimstories gaan nie die spel verander nie. ‘n Stemgeregtigde kan wel iets bydra as hy sy reg uitoefen om te stem.

Dis jammer dat die valse beeld geskep word (disinformasie) dat ‘n stem vir ‘n klein partye ‘n stem is wat partye No.1 bevoordeel. Hoe? Ons stelsel werk volgens proporsies, Klein partye baat meer by jou stem as ‘n groot party. Gaan lees hoe dit werk, en moet net nooit van die stembus wegbly nie.

Jy moet aktiewe navorsing doen oor watter party die heel naaste aan jou ideale is en jou kruisie daar trek. Doen intelligente navorsing, moenie na gerugte luister nie.

Gareth het nie ‘n enkele ding kwytgeraak wat hy uit sy dui suig nie. Die beginsels waarop hy uitbrei geld universeel in elke land onder die son – en ‘n landsburger wat nie stem nie maak ongelukkig geen positiewe bydrae nie. ‘n Nie-stemmer baan eerder die weg vir boelies wat arrogant bo-oor sy regte gaan loop omdat hy self geen waarde heg aan wat hy nog met sy regte sou kon doen nie.

Die stem-reg-bly-weg-mentaliteit is gevaarlik en ‘n tragiese verskynsel en speel net mooi reg in die hande van magsmisbruikers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.