’n Christelike blik op die ANC-konferensie

jannie-pelser-01-featured

Jannie Pelser. Foto: Verskaf.

Deur Jannie Pelser

Die veelbesproke 54ste nasionale ANC-konferensie is voor die deur. Wat die uitkoms daarvan sal wees, is ʼn raaisel. Verskillende scenario’s word lewendig in die media bespreek. Menings wissel van ʼn nuwe hoofstuk tot niks sal verander nie.

Gesels met Zimbabwiërs en jy kom agter dat ʼn mens nie te gou opgewonde moet word nie. Mense het die fenomenale vermoë om teleur te stel.

Ná alles word die status quo maar weer gehandhaaf. Dit is altyd ʼn moontlikheid. Ander gesigte, dieselfde storie.

Mnr. R was tot onlangs maar stil wanneer dit by ongerymdhede binne partygeledere gekom het. Sakebelange het soms swaarder geweeg as om die regte ding te doen. Tog is daar belowende geluide wat gemaak word.

Me. Z het nie veel vermag terwyl sy by die AU was nie, bowenal mag lojaliteite aan haar vorige liefde haar oordeelsvermoë beïnvloed.

Mag is ʼn vreemde ding. Dit gaan na mense se kop toe en van beloftes kom daar weinig.

Maar die hoop beskaam nie. Mense het ook die vermoë om na die positiewe kant te verras. Ons het dit tog al almal beleef. Gegewe die regte omstandighede kom die mooiste soms na vore.

Mag dit so wees. Die toekoms sal ons leer.

Vanuit ʼn Christelike perspektief is die Bybel baie duidelik daaroor dat ʼn mens nie op mense moet vertrou nie.

 Jeremia 17:5

So sê die Here: Daar rus ʼn vloek op die mens wat sy vertroue in mense stel, wat sy krag soek by sterflike mense en van My af wegdraai.

 God is ʼn Rots wat van geen wankel weet nie.

 Jesaja 44:8

Moenie skrik nie, moenie bang wees nie! Het Ek dit nie van lankal af aan julle verkondig, dit vir julle gesê nie? Julle is my getuies: is daar ʼn God buiten My? Daar is geen ander Rots nie; Ek weet van geeneen nie.

Niemand wat sy vertroue op Hom stel, word teleurgestel nie.

Psalm 25:3

Niemand wat sy verwagting in U stel, sal beskaam word nie. Dié wat nie op U vertrou nie, hulle kom in die skande.

Hy is gister, vandag en tot in alle ewigheid dieselfde.

Hebreërs 13:8   

Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.

Hy is ten volle betroubaar en geloofwaardig.

Psalm 9:11

Daarom vertrou almal wat u Naam bely, op U, want U, Here, laat dié wat vra na u wil, nie in die steek nie.

Die dilemma is dat ons God se weë nie altyd, dalk selfs meermale, verstaan nie. Ons wil graag vir Hom voorskryf en verbeel ons dat ons al die antwoorde het.

“Dit is tog duidelik wat die aangewese weg is wat gevolg moet word. Hoe sukkel die Here (met respek gesê) dan so om aan die beweeg te kom? Dis ooglopend en vanselfsprekend.”

So kan ʼn mens aangaan.

Niemand is so slim soos die Here se kinders nie.

Tog laat die Here Hom nie voorsê nie en is gemaklik in sy soewereine alwetendheid. Wat Hy van ons vra, is om te bid en Hom met die uitkoms te vertrou.

Ai, as dit net makliker was om die Here te verstaan!

Job se vriende het ʼn antwoord vir alles gehad. Job is skuldig en basta. Die antwoord is bekering. Net erken dat sonde die rede is en dan sal die omstandighede verander.

Job weet beter. Hy is verbasend oortuig van sy eie onskuld. Hy weet nie waarom die omstandighede hom tref nie, maar weet dat dit nie met sonde te doen het nie.

Daar is ʼn dimensie waarop ons nie beslag kan lê nie. Dis die dimensie van God en sy op weg wees met hierdie wêreld, soos my geliefde prof. Heyns gesê het, van die proton na die eskaton, die begin na die einde.

Ons weet:

– dat God uiteindelik alles en in almal sal wees (1 Kor 15:28).

Wanneer alles dan aan die Seun onderwerp is, sal Hy Hom ook self onderwerp aan die Vader wat alles aan Hom onderwerp het. So sal God alles wees vir alles.

– dat die koninkryk in sy volle heerlikheid sal deurbreek, dat elke knie sal buig en elke tong sal bely dat Jesus die Here is (Fil 2:10).

… sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sal buig.

Ons weet niks meer nie.

Ons hoef nie meer as dit te weet nie.

Dis genoeg.

Beteken dit dat ons passief moet toekyk hoe dinge in hierdie wêreld gebeur, dat ons sonder gesag en invloed is, dat God doen wat Hy wil en basta?

Uiteraard nie. Om in die Gees te wandel beteken ook aktiewe deelname aan die koms van sy koninkryk.

Soms moet jy egter soos Josafat erken: Here, ons is teen die grond. Ons weet nie wat om te doen nie. Die bedreiging is veel meer as wat ons kan hanteer.

Wat ons weet, is dat U groot, magtig, ja, almagtig is. Dat niks vir U onmoontlik is nie. Dat omstandighede U nie ontwrig en ontstel nie. Dat Suid-Afrika en sy toekoms ook in U hande is.

Doen slegs u wil, Heer, u wil met ons.

Omdat Hy leef, kan ek môre in die oë kyk, vrees ek nie die onbekende nie, weet ek dat alles meewerk, is geen stadsmuur vir my te hoog nie.

Loof sy Naam!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

CG ·

Jannie, boul jy my nou uit! Ek verwag ‘n soetsappige, maklike “Christelike” inset wat my net sal kwaadmaak. Ek kan egter geen fout vind met wat jy geskryf het nie- inteendeel. Die harde werklikhwid is dat ons God nie kan verstaan nie en dat Hy, om dit nou baie reguit te se, doen net wat Hy wil. Hy laat Hom nie voorskryf deur mense of menslike waardes of wense nie. Verskriklik! Tog ook baie gerusstellend- Hy is so, omdat Hy almagtig is! Baie moeilik, maar ook baie lekker om so ‘n God te aanbid! Dankie vir hierdie artikel!

John ·

Moontlik is daar nog van ons wat die Gelofte van
16 Desember baie jare gelede nie Saterdag sal vergeet nie. En van ons dominees wat nie weggehol het na hul strandhuise nie, Sondag ‘n woordjie daaroor aan hul eie gemeentes sal se, want ons Afrikaners is weer met ons karige verweer aangewese op ons Opperhoof alleen vir oorlewing in hierdie steeds wilde en woeste wereld waarin wilde diere die minste van ons bekommernis is…

Johann ·

John – Ek hoop ook dat die mense Saterdag – Geloftedag – dienste sal bywoon. Dis nodig om jou geloftes na te kom!

Mien ·

Baie dankie vir hierdie meningstuk wat ook my gedagtes verwoord. Soms as ek bid, vra ek my Hemelse Vader om verskoning omdat ek Hom probeer voorskryf. Dan besef ek net weer Sy raadsplan is beter en groter as my wense. Hy is in beheer, al twyfel ons soms.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.