‘n Derde weg uit die doodloopstrate van die hede en verlede

Flip Biuys. Foto: Reint Dykema

Flip Buys. Foto: Reint Dykema

Die doodloopstraat waarheen die land struikel as gevolg van die onbekwame regering, moet sommige Afrikaners nie verlei om met politieke heimweë na die Apartheidsdoodloopstraat van die verlede te verwys nie. Dis verkeerd, dis vrugteloos, en dit gee die venynige vyf die gulde geleentheid om Afrikaners se geldige strewes te besmeer met die teerkwas van ʼn moreel tereggestelde stelsel. Daarby – as ʼn tipe bonus, legitimeer dit weer ʼn keer die huidige bestel met al sy gebreke en doodloopstrate.

Lees hierdie slotsom waartoe prof. Koos Malan van Tukkies voorheen op Maroela Media gekom het: “Die Suid-Afrika van voor 1994 was ʼn wit-oorheerste staat, nie ʼn Afrikanerstaat nie. Vanweë demografiese kragte – die groeiende swart meerderheid sonder politieke regte – was hierdie staat illegitiem, en het dit uitgedien en onvolhoubaar geraak. Weens die massiewe en toenemende gewelddadige druk wat vanuit swart geledere op die staat geplaas is, het dit in ʼn toenemend verhoogde toestand van burgeroorlog verkeer. Dit het noodwendig die karakter van ʼn sekurokratiese garnisoenstaat begin aangeneem. Dis ʼn staat wat nie met die regsreëls bedoel vir ʼn algemeen vreedsame samelewing in stand gehou kon word nie, maar alleen met noodmaatreëls wat deur die weermag en polisie afgedwing is. Die era voor 1994 was gevolglik ʼn groeiend onstabiele orde waar die destydse grondwetlike raamwerk algaande uit pas met die onderliggende sosio-politieke kragte geraak het. Die belangrikste van hierdie kragte was die groeiende swart meerderheid wat toenemend gemoderniseer geraak het en vir wie wit dominasie totaal onverteerbaar geword het.”

Die Apartheidsbestel wat volgens sy voorstaanders in die sestigs vryheid vir alle volke moes bring, het teen 1990 vasgeval in ‘n doodloopstraat waar niemand vry was nie en waarin swartmense oorheers was. Daarom, laat ons nie by die verlede vassteek, of daarna terugverlang nie. Kom ons werk eerder vir ʼn beter toekoms as om te stry oor ʼn slegte verlede.

Gesonde bewussyn
Die onderliggende probleem is treffend deur prof. Hermann Giliomee as volg uitgelig: “Dit is moeilik om te verstaan dat ʼn mens vandag waarskynlik in geen Afrikaanse koerant of tydskrif ʼn nugter of gebalanseerde ontleding van apartheid sal sien nie. Dit is vir my duister hoe die Afrikaners ʼn gesonde politieke bewussyn kan ontwikkel as die hele apartheidsgeskiedenis enersyds deur sommige net in skuld en skaamte en andersyds deur sommige met blinde ontkenning bejeën word.”

Liberale mistastings
Maar die liberale aktiviste wat nou met sulke heilige “ons is reg” verontwaardiging in debatte inklim, het nie rede om so te kap en te kruisig nie. Hulle eie strategiese mistastings het die weg gebaan om die land vanaf die een doodloopstraat na die volgende een te vat. Hoewel die huidige bestel op ‘n totaal ander morele grondslag as die vorige bestel gevestig is, beteken dit nog glad nie dat dit regverdig teenoor almal is of gladweg werk nie. Vyf van die liberale aktiviste se “ligte mistykies” is genoeg om hierdie punt toe te lig.

Die eerste is dat liberale voorstaanders van die huidige bestel, moes besef het dat die ANC as rewolusionêre organisasie hom nie permanent sou laat inbind in ʼn liberaal-demokratiese bestel nie. Dit was voor die hand liggend dat die ANC tydens die Kodesa-onderhandelings toegewings sou maak om die mag te kry en dat hulle na die magsverskuiwing die mag sou gebruik om hulle oorspronklike doelstellings te verwesenlik. Selfs net ʼn oorsigtelike kennis van die ANC se onderliggende ideologiese grondslae het dit duidelik uitgewys. Hierdie oorskatting van grondwetlike krag, saam met die onderskatting van oorweldigende politieke mag, is onderliggend aan die land se huidige krisisse.

Tweedens was dit logies dat die bedeling breedweg tot die huidige tipe regering sou lei. Ten spyte van die ANC se destydse bekwame elite en hul oortuiging dat hulle ideologie die finale hoogtepunt van menslike ontwikkeling verteenwoordig, was dit toe al duidelik dat die ANC in wese ʼn tipiese Derdewêreld-beweging was, sonder die vermoë om ʼn moderne ekonomie en Eerstewêreld-infrastruktuur te regeer.

Groepsverhoudinge
Derdens is dit onverstaanbaar dat die destydse onderhandelaars die regulering van groepsverhoudinge as die belangrikste historiese vraagstuk in die opstel van die Grondwet ignoreer en bloot op individuele regte gefokus het. Die oorvloed getuienis dat ʼn simplistiese een-man-een-stem-bedeling nie ontwerp is om die kompleksiteite van ʼn diep verdeelde land suksesvol te akkomodeer nie, is nie verreken nie. Daarom ervaar ons daagliks dat die individuele regte van die meerderheidsgroep swaarder weeg as die individuele regte van die minderheid.

Die onderherstelbare skade wat Afrikaners se grondliggende belange soos ons taal, skole en universiteite gely het, is maar een van die gevolge daarvan. Die Engelse individualistiese grondwette het al soveel keer en met sulke tragiese gevolge in Afrika misluk. Die Europese Federale grondwette wat groepe ook met regte en magte beklee, bevat veel meer verskansings vir kleiner groepe. Dit verhoed dat die demografiese meerderheidsgroep die belange van minderheidsgroepe stoomroller.

Tikkende tydbom
Vierdens het die insluiting van sosiaal-ekonomiese regte ʼn tikkende tydbom in die grondwetlike bestel ingebou. Die Instituut van Rassebetrekkinge en talle ekonome het vergeefs gewaarsku dat ons belastingbasis te klein is om ʼn volskaalse welsynstelsel te befonds. Dr. Van Zyl Slabbert het gesê dat die politiek daardeur verwagtings skep waaraan die ekonomie nie sal kan voldoen nie. Kundiges soos John Kane-Berman was selfs bekommerd dat demokrasie en kapitalisme nie albei saam sou kon oorleef nie. Die ingeboude grondwetlike “gelykheidsregte” sou mettertyd die grondwetlike “vryheidsregte” in gedrang bring, omdat dit sosialisme onder die vaandel van menseregte in die Grondwet laat insluip het.

Die vyfde probleem is dat liberale denkers nie die ondemokratiese grondslae van ‘n linkse bewegings soos die ANC bevredigend verreken het nie. Die totalitêre neigings wat byvoorbeeld nou deur minister Blade Nzimande openbaar word, is jare gelede al deur denkers soos regter Jan Steyn as volg uitgelig: “It is naive to believe that one can adopt the basic economic tenets of socialism, without also inheriting its authoritarian political structures and limitations of personal freedom. There is ample evidence to substantiate the argument that there is a real and unbreakable connection between economic and political freedom, both of which may be lost if the state unduly expands its role in society.”Liberalisme is nie ‘n onaantasbare wêreldstandaard nie, dis self ook ‘n ideologie, met talle voorwaardes vir sukses.

Derde weg
Suid-Afrika is nog lank nie ‘n mislukte staat nie nie, maar baie dorpe, skole, staatsdepartemente, kolleges, universiteite en hospitale het al verval, terwyl baie ander daagliks verder verswak. Die gevaar van totale staatsverval is ongelukkig ʼn werklike moontlikheid wat nie wegredeneer kan word nie. Die mislukking van hierdie bestel is miskien te erg om te bedink, maar is nietemin ‘n skrikwekkende moontlikheid. Maar om net onderling te veg en mekaar te verwyt oor hoe ons hier beland het, gaan nie help nie. Dermuitrygery moet vervang word met met werkbare planne om uit hierdie doodloopstraat te kom. Kom ons kyk dus verby die vorige en die huidige doodloopstrate, en soek na ʼn derde weg na ʼn toekoms waar ons ook vry, veilig en voorspoedig kan wees.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

92 Kommentare

jongste oudste gewildste
Lorraine Groothuijzen

Bla bla bla…. daar word net geskryf oor wat nie gedoen moet word nie maar geen oplossings nie. Word gepraat van werkbare oplossings? Soos wat? Almal kom na vore met geskiedenis wat plaasgevind het maar nie een het die oplossings nie. Wat is die sin daarvan? Hoekom dan bla bla bla. Totale staatsverval is nie meer op die horison nie… dis hier broer, dis hier. Almal gee die probleme aan met hogere woorde maar ek sien nie die lig aan die einde van die tonnel nie. Daar is niemand wat op ‘n tamatiekissie sy stem dik maak nie en die… Lees meer »

Lorraine Groothuijzen

Bla bla bla…. daar word net geskryf oor wat nie gedoen moet word nie maar geen oplossings nie. Word gepraat van werkbare oplossings? Soos wat? Almal kom na vore met geskiedenis wat plaasgevind het maar nie een het die oplossings nie. Wat is die sin daarvan? Hoekom dan bla bla bla. Totale staatsverval is nie meer op die horison nie… dis hier broer, dis hier. Almal gee die probleme aan met hogere woorde maar ek sien nie die lig aan die einde van die tonnel nie. Daar is niemand wat op ‘n tamatiekissie sy stem dik maak nie en die… Lees meer »

Rudolf

Dis nie n terugverlang na apartheid nie,net die wete dat die huidige staat die altetnatief vir apartheid is.En as Koos Malan se dit was wit oorheers is hy reg
maar die Afrikaner was die sentrum van die wit bevolking.Die fout van die huidige stelsel is nie net ideologies nie.Dit le in botsende werelde en route dit word definieer deur rasverskille.As ons ras uithaal in die debat,ontken ons die werklikheid.

Rudolf

Dis nie n terugverlang na apartheid nie,net die wete dat die huidige staat die altetnatief vir apartheid is.En as Koos Malan se dit was wit oorheers is hy reg
maar die Afrikaner was die sentrum van die wit bevolking.Die fout van die huidige stelsel is nie net ideologies nie.Dit le in botsende werelde en route dit word definieer deur rasverskille.As ons ras uithaal in die debat,ontken ons die werklikheid.

Willem

Die liberale Afrikaner wil nie dink aan ‘n Derde weg nie. Enige iets wat bespreek word wat die huidige gedwonge integrasie en transformasie beveraagteken word summier bestempel as rassisme. Vir my is Orania ‘n voorbeeld van ‘n groep mense wat anders en nuut dink maar die meeste Afrikaners weet nie eers waaroor Orania presies gaan nie. Ten minste probeer Oranie n nuwe werklikheid skep binne die raamwerk van die huidige grondwet en internasionale reg maar die meeste Afrikaners lag dit af.Wat is die alternatief dan as onderdrukking meer en meer gaan begin toeneem? Die grondwet gaan jou nie red nie.… Lees meer »