Deur Du Preez de Villiers
Orania is vandag ’n toonbeeld van Westerse, Afrikaner-beskawing en hierdie gemeenskap is bestem om ’n veilige vesting, indien nie die enigste een nie, van die Westerse beskawing in Afrika te word. ’n Gemeenskap waar kuns- en kultuurliefhebbers hulself ten volle kan uitleef.
Waar, mag die vraag wees. Alhoewel daar reeds ‘n klein filmteater is en konserte gehou word en teateropvoerings gelewer word, is daar ‘n potensiaal wat nuwe denkers en nuutskeppers sal aanspoor om iets magies in hierdie dorre Karoo-streek te skep…
’n Operahuis.
Maar kom ons staan eers stil by die gedagte aan opera.
Die Latynse woord vir opera beteken werk, in die sin dat arbeid verrig is en resultate gelewer word. Dit is ook die meervoud van die woord, opus. Volgens die Oxford-woordeboek is die woord opera die eerste keer in 1648 in Engeland gebruik om die taak, “composition in which poetry, dance and music are combined,” te beskryf. Dit, terloops, was vier jaar voor Jan van Riebeeck aan die Kaap geland het.
Sedert die eerste uitvoering in 1598 in Florence, het opera vinnig oor die Westerse wêreld versprei en ’n sleutelgedeelte van ons kultuur geword.
Die operastuk, L’Euridice, wat deur Jacopo Peri gekomponeer is, is die vroegste oorlewende opera. ’n Groot tragedie is dat sy eerste opera, Dafne, verlore geraak het – die verlies van hierdie kunsskat is betreurenswaardig. Dit behoort nooit weer te gebeur nie.
Opera saam met simfonieorkeste kan beskou word as die mees gesofistikeerde vorm van die uitvoerende kunste.
Die kuns van opera lê in die vermoë om ’n boaardse atmosfeer te skep soos die Duitse komponis, Carl Maria von Weber met sy stuk Der Freischütz reggekry het. Richard Wagner het ook geen bekendstelling nodig nie en was deur von Weber geïnspireer en een van die mees rewolusionêre en omstrede komponiste in die geskiedenis. Hy het die konsep van ’n “volledige kunsuitvoering” ontwikkel waarin hy musiek, poësie en skilderkuns saamgevoeg het met ingewikkelde leitmotifs en herhalende temas om die drama te versterk. Hy het, byvoorbeeld, die orkes meer prominent gemaak. Daarby was hy ook bereid om bestaande musikale konvensies te oortree soos in Der fliegende Holländer, Tannhauser en Lohengrin. In Die Meistersinger von Nurnberg, Der Ring des Nibelungen en Parsifal het hy ’n naatlose vloei van ’n eindelose melodie teweeggebring. Hy het, inderdaad, ’n nuwe dimensie aan opera gegee.
Opera word steeds gemoderniseer en dit is vandag veral gewild onder opera- en klassieke komponiste om klankbane vir rolprente te skryf. Wat wel belangrik is, is om die Westerse gehalte van opera en klassieke musiek te behou.
En hierdie behoefte om kuns- en kultuurskatte te behou en te koester, sal jy in Orania vind.
Hierdie dorp het klein en eenvoudig begin, maar het vandag geen bekendstelling nodig nie. Met die ontstaan van hierdie gemeenskap om die Afrikanerkultuur te bewaar en te laat gedy, is die norme van die Suid-Afrikaanse samelewing uitgedaag.
Dié “omstrede” projek het egter teenkanting gekry en is met agterdog bejeën. Maar hierdie “klimaat” het die nuwe denkers en nuutskeppers net verder aangespoor om hul droom te verwesenlik.
Die inwoners het hard beplan en hard gewerk om ingewikkelde uitdagings te oorkom. Mettertyd is die wanklanke uitgestryk en ’n ritme is bereik wat hierdie pragtige projek nou uiteindelik in harmonie laat vloei.
Die dramatiese groei en gewildheid van Orania onder Afrikaners in Suid-Afrika en wêreldwyd, skep ’n warm, lekker gevoel in ons harte en prikkel ons emosies. Orania se “overture” was aanvanklik stadig en afgemete, maar nou is hulle besig om die eerste “aria” uit te voer. Daar is ongetwyfeld nog progressies, ontwikkelings, crescendos en wendings wat tot iets skouspelagtigs en luisterryk gaan opbou. Dit gaan sonder twyfel ’n uitvoering wees wat die wêreld sal laat regop staan, hande klap en met encore! encore! toegejuig sal word.
Soos sake nou lyk, word Westerse kuns al hoe meer in die groter Suid-Afrika uitgefaseer. Sodra Orania ’n groot stad word, moet daar beslis ’n operahuis gebou word waar die Europese operas en klassieke komposisies bewaar en uitgevoer kan word en ’n sterk komponent van die inwoners se kultuur moet uitmaak.
Die inwoners het, soos dit hoort, reeds ’n musiekgroep begin wat sterk groei en die gemeenskap tydens samekomste vermaak. Die fondament vir talentontwikkeling is reeds tot stand gebring en gereed om vir die opvolgers van Mimi Coertse, Marita Napier, Emma Renzi, Gé Korsten, Deon van der Walt, Zanne Stapelberg, Désirée Talbot, Cecilia Wessels en Elza van den Heever ’n heenkome te bied. Dit geld ook vir ons komponiste en ander uitvoerende kunstenaars.
Die behoefte is ook om avant-garde Afrikaner-operas en klassieke stukke te komponeer en uit te voer om die stryd en opwinding in ons eie verlede uit te beeld. Natuurlik gaan die grense van musiek verskuif word, want alhoewel Orania die geskiedenis eerbiedig en bewaar, pas hierdie gemeenskap die modernste metodes toe om uitdagings te oorkom, tred te hou met die hede en gereed te maak vir die toekoms.
’n Operahuis vir Orania sal musiek vir die oor wees.
- Du Preez de Villiers is ‘n landboujoernalis wat ook graag sy neus in politieke- en kultuursake steek.
Ek het nog nooit Opera gekyk nie.
As Orania ‘n teater bou sal ek van Los Angeles af invlieg om Opera te kyk.
ek betaal vir jou vliegkaartjie, direkte vlug na Orania Internasionale Lughawe
my stuiwer,,,, sodra doe kommuniste sien daai plek gaan vooruit, gaan hul seker die wet verander sodat dit oneien kan word
Emigrasie is n oplossing vir goed gekwalifiseerde enkelinge, nie vir n hele volk nie.
Nuwe planne moet gemaak word vir Afrikaners wat hier gaan bly.
Dan is daar die eksperiment om Orania van dorp na stad te groei.
n Droom van n Operahuis is dus nie so vergesog nie.
Droom en doen voort!
my stuiwer,,,, sodra doe kommuniste sien daai plek gaan vooruit, gaan hul seker die wet verander sodat dit oneien kan word
Orania droom groot….mooi soe Afrikaners!
Nonsens,Orania is n plaas in Suid afrika onder hulle wet en hulle regering gee ons n onafhanklike tuisstaat en dan sal ons kultuur kan bevorder.