ʼn Fiskale krisis en die vurk in die pad

woudTwee begrippe wat in die jongste tyd posgevat het, gaan heelwaarskynlik die politieke debat in die volgende dekade oorheers. Een is die fiskale afgrond en die ander een is regime-verwisseling. Gedurende die laaste drie of vier jaar het politici en kommentators in die Verenigde State dikwels die term fiskale afgrond gebruik met verwysing na die enorme staatskuld en die politici se onvermoë om dit af te werk.

Die term regimeverwisseling word soms gekoppel aan gewelddadige veranderings soos die omverwerping in Irak van Saddam Hussein, maar verreikende regimeverwisseling kan ook op vreedsame wyse teweeg gebring word. Dit geskied gewoonlik nadat ʼn regering getoon het dat hy nie bevoeg is om alleen ʼn ekonomiese krisis en die verlamming van die staatsadministrasie die hoof te bied nie.

In die vroeë 1930’s het Suid-Afrika as gevolg van ʼn depressie en ʼn droogte in ʼn ekonomiese krisis beland. Dit is vererger toe die Nasionale Party-regering onder genl. J.B.M. Hertzog besluit het om nie soos Brittanje, sy grootste handelsvennoot, van die goudstandaard af te stap en te devalueer nie. Dit het Suid-Afrika se uitvoerprodukte heeltemal onmededingend gemaak.

Gedurende die loop van 1932 het die druk van die mynindustrie en die boere dat die land moet devalueer, skerp toegeneem. ’n Afvaardiging van Ventersdorp bestaande uit boere van albei partye het by Hertzog aangedring om ’n koalisie te vorm om die krisis die hoof te bied. Toe Hertzog vra hoe daar van hom verwag kon word om met ’n party saam te werk wat hom oor die taal en ander kwessies nog altyd net teengestaan het, het ’n boer uitgeroep: “In godsnaam, Generaal, laat staan die taal en gee ons brood.” In die laaste dae van 1932 het die regering die goudstandaard verlaat maar teen daardie tyd was die hele partystelsel reg vir ’n herrangskikking.

Genl. Jan Smuts, leier van die opposisie, het vroeër in die Parlement verklaar: “Ons is soos ʼn gewonde man wat voel dat sy lewensbloed wegvloei. Ons is tot onvermydelike en stellige ondergang gedoem.” Om die krisis die hoof te bied, het generaal Hertzog en Smuts die Verenigde Party gestig.

Dit het ʼn regimeverwisseling verteenwoordig, want die nuwe regime het nou verteenwoordigers van sektore wat die meeste belasting betaal het, ingesluit. Die regering het nou in ʼn heeltemal ander verhouding tot die myn- en vervaardigingsektor gestaan as wat die geval was met die Nasionale Party aan bewind.

Die krisis van die 1980’s het tot die regimeverwisseling van 1994 gelei. Maar die stelsel was en is steeds skeef getrek. Voor 1994 was die grootste deel van die georganiseerde arbeidsmag nie in die regering verteenwoordig nie, terwyl onder die ANC-regering diegene wat die meeste belasting betaal, individueel en korporatief, nie politieke verteenwoordiging op kabinetsvlak het nie.

Die ANC-regering het oor die laaste twintig jaar algaande sy demokratiese legitimiteit deur korrupsie en die vermorsing van staatsfondse verkwis. Die protes teen die Johannesburg se tolpad lyk na die eerste suksesvolle opstand van die middelklas teen belasting.

Ons sit met ʼn politieke stelsel wat nie vir ons diep-verdeelde samelewing geskik is nie. In ʼn globale oorsig van die kwessie, het prof. Vernon Bogdanor van Oxford Unversiteit geskryf: “ʼn Vorm van magsdeling is ʼn kenmerk van die regerings van alle samelewings wat daarin geslaag het om hul verdelings te oorkom.” Hy het bygevoeg: “Ek is nie bewus van enige verdeelde samelewing wat dit reggekry het om sonder magsdeling stabiliteit te bewerkstellig nie.

Die regering se vermoë om die ekonomiese en finansiële krisis doelgerig aan te pak, word aan bande gelê deur ʼn stryd tussen ANC-faksies wat enige konsensus fnuik. Onlangs het die hoofde van verskeie groot maatskappye op die aandelebeurs ’n gesprek met die minister van finansies en die goewerneur van die Reserwebank oor die groeiende ekonomiese krisis aangevra.

Daar kon egter geen sinvolle gesprek plaasvind nie, omdat die kabinet se tros van ekonomiese departemente diep verdeeld is tussen voorstanders van die vrye mark en outydse kommunisme. Soos iemand opgemerk het: “Daar is eenvoudig tans geen ekonomiese beleid vir die land nie.”

Daar is sekere sakeleiers wat volhardend probeer om individuele ministers te oorreed om beleide te wysig wat groei en werkverskaffing strem. Soms slaag hulle om die minister tot ander insigte te oorreed, maar die saak kan dikwels nie deurgevoer word nie. Mnr. FW de Klerk het by geleentheid gewys op die verskille tussen die NP- en die ANC-bewind wat “lobbying” betref. Voor 1994 kon ʼn afvaardiging ʼn senior NP-minister met ʼn sterk politieke basis tot ʼn bepaalde hervorming oorreed en die minister kon dit deurvoer. De Klerk se indruk was dat onder die ANC die saak in die een ANC-forum na ander gedebatteer word in ʼn dikwels futiele poging om konsensus tussen die faksies te bereik.

Dit is teen hierdie agtergrond dat die werk van prof. Jannie Rossouw en sy medewerkers, Adele Breytenbach en Fanie Joubert, groot aandag trek. Hulle het die enorme styging in staatstoelaes en van staatsamptenare en -salarisse aangetoon. Tans verteenwoordig dit 56% van die staat se inkomste; indien die huidige tendense voortduur, sal dit teen 2026, dit wil sê binne twaalf jaar, al die staatsinkomste opslurp. Hierdie syfer verteenwoordig ʼn fiskale krisis van die eerste orde.

Natuurlik sal die regering probeer brieke aandraai en selfs ʼn matige besparing op hierdie twee poste sal klaar ʼn groot verskil maak. Afstort oor fiskale afgrond is nie onafwendbaar nie. Maar kan hierdie regering radikaal besnoei? Staatsamptenare in ʼn groot aantal lande het getoon dat dit vir regerings uiters moeilik is om hul salarisse te besnoei. Sakeleiers sal maniere moet vind om die regering dringend tot herbesinning te oorreed. Soos in 1932 en 1994 mag slegs ʼn regering waarin al die belangegroepe verteenwoordig is, sterk genoeg wees om die krisis die hoof te bied.

Wat ʼn ANC-regering se opsies baie beperk, is die feit dat 16 miljoen mense van gifte van die staat afhanklik geraak. Berigte uit die voormalige tuislande dui daarop dat mense al minder self saai en plant en al meer afhanklik raak van die toelaes. ʼn Begrotingskrisis gaan vir die armes ʼn bestaanskrisis word.

Slaag die regering nie daarin om ʼn fiskale krisis af te weer nie, mag Suid-Afrika se enigste oplossing wees om ʼn lening by die Wêreldbank en IMF te vra. So ʼn lening sal net onder sterk voorwaardes toegestaan word, wat ongetwyfeld ʼn streng vermindering van staatsamptenare en -salarisse sal insluit en ʼn beperking van welsynsbesteding. So iets sal heel waarskynlik ʼn volskaalse skeuring in die ANC tot gevolg hê, tussen diegene wat belastings verder sal wil verhoog en diegene wat hulle in die onvermydelikheid van ʼn buitelandse lening sal berus.

Hierdie ontwikkeling sal politieke en ekonomiese stabiliteit voor ʼn baie groot toets stel.

Dit sal beter wees as Suid-Afrikaners van alle politieke oortuigings vroegtydig maniere vind om die groot afgronde wat wag, te vermy.

Hierdie stuk het eerste op Politicsweb verskyn.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Hermann Giliomee

Meer oor die skrywer: Hermann Giliomee

Hermann Giliomee was 'n professor in politieke wetenskap aan die Universiteit van Kaapstad. Hy skryf gereeld oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis en kontemporêre politiek. Hy woon tans in Stellenbosch.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Rupert Ashford ·

En wat dink die agbare Professor gaan gebeur? Meeste van ons weet van die krisis soos hierbo uiteengesit – dit is o.a. waarom meeste munisipaliteite besig is om te “groet” – hulle salarisrekening maak ‘n te groot deel uit van hulle balansstaat. Vraag is egter of die nasionale regering ons op ‘n beter pad sal kan kry.

Rupert Ashford ·

En wat dink die agbare Professor gaan gebeur? Meeste van ons weet van die krisis soos hierbo uiteengesit – dit is o.a. waarom meeste munisipaliteite besig is om te “groet” – hulle salarisrekening maak ‘n te groot deel uit van hulle balansstaat. Vraag is egter of die nasionale regering ons op ‘n beter pad sal kan kry.

James Constantine ·

‘n Absolute briljante artikel, baie bly om die Prof. so op sy stukke te sien. ‘n Wonderlike helder blik op die toekoms. Twaalf jaar om te gaan, vinnig groeiende armoede, vinnig groeiende bevolking, vinnig groeiende werkloosheid, vinnig groeiende groep jong mense as persentasie van totale bevolking. Enige dwaas kan mos eintlik sien wat gaan gebeur. Die paradys is ons voorland. Maar nie op aarde nie. Prof, nou moet u asb ook kyk na die langtermyn implikasies van wat met Afrikaans gebeur by die ou Potch Univ. Is wat nou daar gebeur ‘n bedreiging vir Afrikaans op akademiese vlak oor die lang termyn?

James Constantine ·

‘n Absolute briljante artikel, baie bly om die Prof. so op sy stukke te sien. ‘n Wonderlike helder blik op die toekoms. Twaalf jaar om te gaan, vinnig groeiende armoede, vinnig groeiende bevolking, vinnig groeiende werkloosheid, vinnig groeiende groep jong mense as persentasie van totale bevolking. Enige dwaas kan mos eintlik sien wat gaan gebeur. Die paradys is ons voorland. Maar nie op aarde nie. Prof, nou moet u asb ook kyk na die langtermyn implikasies van wat met Afrikaans gebeur by die ou Potch Univ. Is wat nou daar gebeur ‘n bedreiging vir Afrikaans op akademiese vlak oor die lang termyn?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.