ʼn Gelouterde beleggingstrategie

geld ekonomie suid-afrika

Argieffoto

[promosie-artikel]

Deur Drikus Combrinck 

Die afgelope jaar het twee wêreldgebeurtenisse voorgekom wat min meningspeilings, meningsvormers of besluitnemers kon voorspel. Eerstens het Brexit die geopolitiese balanse en wêreldmarkte geskok. Die opvolgsalvo was die verkiesing van Donald Trump in die VSA. Baie meningsvormers het reeds die ink laat spat oor wat die moontlike implikasies is, maar dit is weereens niks anders as voorspellings nie. Voorspellings wat sakemanne, beleggers en politici met goeie bedoelings gebruik om strategie te formuleer en besluite te neem. Om strategie egter alleenlik op voorspellings te grond, is om jouself in die geselskap te plaas van dobbelaars, fortuinvertellers en valse profete.

ʼn Groeiende koor stemme is besig om pos te vat in die moderne literatuur en wetenskap rondom die mens se onvermoë om te voorspel. Boeke soos Nasim Taleb se Fooled by Randomness en vakgebiede soos “Behavioral Finance”, is kyk na hierdie onvermoë. Van die aspekte waarna gekyk word, is die mens se kognitiewe en emosionele vooroordele. Beide hierdie vooroordele het ongetyfeld ʼn rol gespeel in die voorspellings van meningsvormers voor Brexit en die VSA-verkiesing (meer hieroor in ʼn volgende artikel).

Ons het ook al ʼn naam vir sogenaamde onvoorspelbare gebeurtenisse wat niemand kan voorsien nie, naamlik “black swans”. Die probleem is dat geen hoeveelheid inligting hierdie gebeurtenisse meer voorspelbaar sou gemaak het nie, omdat die aantal moontlike uitkomste letterlik oneindig is. Nie net is dit oneindig nie , dit is dinamies. Dit beteken die toekoms kan verander sodra die rolspelers weet van ʼn moontlike toekoms. Wiskundiges glo hulle kan hierdie beperkinge ook oorkom, maar daarin lê die sleutel: hulle “glo” hulle kan. Dit is ʼn geloofsverklaring en die wortel daarvan is die modernistiese wêreldbeskouing dat die wetenskap, wiskunde, of dan tegnologie, ons sal red. Vir mense wat so graag wil voorspel, is hulle maar redelik verbeeldingloos wanneer dit by redding kom.

Hoor hoe pleit die apostel Jakobus vir nederigheid wanneer ons besig is om die toekoms te “bepaal”: “Julle sê: “Ons gaan sommer nou of miskien môre na daardie stad toe. Ons gaan ʼn jaar daar bly. Ons gaan lekker sake doen en sakke vol geld maak.” Sê my, weet jy presies wat môre gaan gebeur? Kan jy dit regtig sê? Dink maar aan die lewe. Dit is so onseker en kortstondig. Dit is soos weerlig wat slaan. Die een oomblik is dit helder, maar die volgende oomblik is dit weg. Erken liewer dat die Here julle hele lewe beheer. Sê liewer: “As ons môre nog leef, sal ons dit of dat doen. Maar dit hang eintlik alles maar van die Here af.” Julle praat egter so groot asof alles net van julle alleen afhang.” – Jakobus 4:13-17 DB

Deur ons lot uitsluitlik in ons eie hande te plaas, sit dit geweldig druk op ons om die toekoms te voorspel. Die wortel van hierdie voorspellings-geneigdheid is dus selfvoldaanheid. Voordat jy vry van hierdie geneigdheid kan wees, moet jy dus eers jou selfvoldaanheid kruisig.

Instede daarvan om tyd, energie en geld op voorspellings te mors, sal ʼn belegger dan vry wees om te fokus op wat regtig belangrik is vir ʼn beleggings strategie:

  • ʼn Goeie beginpunt is om altyd op die langtermyn te fokus teenoor kort-termyn gratifikasie, winskope en gelukskote. Standhoudende beleggingstrategieë fokus op enkellopies in die konteks van ʼn 5-dag krieket toets.
  • Fokus op fundamentele waarhede en beginsels wat vandag waar is en ook in die toekoms waar gaan wees. Om Jeff Bezos (hoof van Amazon) te parafraseer: “Moenie vra wat gaan verander oor die volgende 10 jaar nie, ek weet nie, vra eerder wat gaan nie verander nie”.
  • Gee dan aandag aan strukturele tendense bo-oor sikliese op-en-af swaaie. Om te fokus op die markte se sikliese element, is grootliks spekulasie.
  • Wees egter bedag op paradigmaverskuiwings. Beleggers raak gewoond aan sekere patrone waarvolgens markte funksioneer. Hierdie patrone verskuif egter van tyd tot tyd, maar is eers na ʼn verloop van tyd (en geld) sigbaar. Jou beleggingstrategie moet dus dinamies genoeg wees.
  • Maak voorsiening vir die onvoorspelbare. As onvoorspelbaarheid ʼn sekerheid is, is voorsiening ʼn voorvereiste.
  • Wees geduldig. Markte is wisselvallig en kan lank afwyk van fundamentele waardes. Gebruik dit tot jou voordeel eerder as om senuweeagtig te raak.

Om ʼn suksesvolle belegger te wees, vereis dus nie ʼn besonderse intellektuele vermoë of ʼn kristal-bal nie. Beleggingsukses vereis ʼn gelouterde beleggingstrategie en die karakter om daardie strategie deur te voer.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Promosies

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.