‘n Gesprek oor Afrikaans

Amanda de Stadler, uitvoerende hoof van die Vriende van Afrikaans, neem deel aan die gesprekreeks “Afrikaans: Probleme en Oplossings“.

Taal gaan in die eerste plek oor mense en dit maak dit ‘n baie komplekse saak wat met groot omsigtigheid en gevoeligheid aangepak moet word. Omdat ons organisasie nie so groot en kapitaalkragtig is soos ander vennote in die taalhuishouding nie, word ons genoodsaak om die olifant by wyse van spreke stukkie vir stukkie op te eet en ons fokus is dus baie spesifiek op Afrikaans.

Ons organisasie se werksaamhede berus op drie bene nl. om Afrikaanssprekendes te bemagtig, om Afrikaans te handhaaf en te bevorder op die verskillende lewensterreine van sy sprekers. (Sien tabel hieronder.)

Ons teikengroepe is die volle spektrum van die sprekers van Afrikaans, moedertaal en niemoedertaalsprekers: voorskoolse en skoolgaande kinders, jong volwassenes en volwassenes.

Ons projekte voer ons uit saam met vennote. Ons vereniging is sedert 2002 betrokke by gesprekke oor Afrikaans wat ná die Taalberaad in 2004 gelei het tot die stigting van die ATR. Hierdie verbintenis en betrokkenheid het aan ons die geleentheid gegee om die taalhuishouding te leer ken, hegte bande te sluit en vertrouensverhoudings te stig. Ons weet dus wie doen wat waar vir Afrikaans en klop aan vir hulp en samewerking waar doenlik.

By gebrek aan ruimte word die belangrikste uitdagings wat ons met die verloop van tyd geïdentifiseer het, hier genoem asook ons projekte wat dáárop gerig is met inagneming van die volgende gegewe feite:

Moderne Afrikaanse jongmense het minder kinders, die geboortesyfers onder sekere groepe Afrikaanssprekendes begin daal, ons verloor Afrikaanssprekendes wat die land verlaat en dit is ook nie vanselfsprekend dat Afrikaanse kinders en studente verkies om in Afrikaans te studeer nie. Dit lei daartoe dat ons minder Afrikaanssprekende kinders in ons skole het en gevolglik minder Afrikaanssprekendes wat die hoër onderwys betree.

Uitdaging 1:
Moedertaalonderrig

Ten spyte van internasionale navorsing oor die voordele van moedertaalonderrig, is daar steeds Afrikaanssprekende ouers wat Engels beskou as die sleutel tot sukses en voorspoed en ‘n goeie lewe. Met behulp van onder andere inligtingverspreiding, ons boekeprojekte, slypskole en die pamfletveldtog van die ATR word die belang en voordele van moedertaalonderrig beklemtoon. Deur samewerking met die XhosAfrika-netwerk verleen ons ook hulp met dieselfde probleem in die Xhosa-gemeenskappe.

Uitdaging 2:
Taallojaliteit en taalhoudings

Die jonger geslag Afrikaanssprekendes het nie noodwendig meer onvoorwaardelike lojaliteit jeens hulle moedertaal nie. Hulle gebruik taal om effektief met hulle omgewing te interakteer en die gebruik van Engels is dikwels minder moeite en heel gerieflik. Dit lei daartoe dat Afrikaans stelselmatig besig is om uit die openbare oog te verdwyn.

Wat hierdie probleem teenwerk, is aanvraag en natuurlike markkragte. Sodra mense kan geld maak met Afrikaans, gebruik hulle Afrikaans. Met ons Taalaksie-projek en ook in ons nuusbrief probeer ons mense sensitiseer dat dit elke Afrikaanssprekende se plig is om te sorg dat Afrikaans gebruik word en ook om aan te dring op Afrikaans waar nodig.

Met ons jaarlikse “Koop-‘n-Afrikaanse-boekdag” vra ons mense om ons boekedryf te ondersteun.

Ons probeer byvoorbeeld ook met musiekbewaringsprojekte soos die Pieter van der Westhuizen-gedenkbundel en die vertaling van die Vespers van Rachmaninof uit Russies in Afrikaans sorg dat daar vir kore Afrikaanse musiek beskikbaar is om te sing.

Met die woordelys “Basic Afrikaans – the top 1000 words and phrases in Afrikaans” probeer ons nie-Afrikaanstalige studente bekendstel aan ons taal en probeer ons hulle omhaal om dit te leer praat.

Met ons boekverspreiding onder verdienstelike instansies probeer ons sorg dat kinders Afrikaanse boeke en stories het om te lees.

Uitdaging 3:
Veeltaligheid

Dit is vir die VVA duidelik waarom daar in Suid-Afrika gewerk moet word aan die uitbou van veeltaligheid. Net soos wat die verlies van ‘n plantspesie of ‘n dierespesie ‘n verlies vir die hele mensdom is, is die uitsterf van ‘n taal die verlies van ‘n hele gemeenskap se geheue en bestaan. Daarom moet ons as taalhuishouding werk vir meertaligheid en vir elke taal in hierdie land, waar dit vir ons moet gaan oor mý taal en jóú taal in plaas van oor mý taal en ‘n gemeenskaplike taal (Engels). Dit is ‘n belangrike kopskuif wat ons moet maak.

Ons versprei met die hulp van Biblionef boeke in al 11 tale en het ook tweetalige kinderboeke en ‘n drietalige prentjiewoordeboek te koop in ons kantoor. Verder is ons ‘n stigterslid van die XhosAfrika-netwerk wat hulle bemoei met die uitbou van isiXhosa.

Ons werk die meeste van die tyd met arm skole wat min of geen boeke het nie en waar die ouers nie in staat is om te sorg dat hulle kinders behoorlik onderrig en opgelei word nie.

Opsomming van bedrywighede in tabelvorm
Die VVA se werksaamhede berus op drie bene: ons bemagtig, bevorder en beskerm.

Bemagtig

Bevorder

Handhaaf

Doendinge (nuusbrief)Doendinge (nuusbrief)Doendinge (nuusbrief)
WebwerfWebwerfWebwerf
VertaalwerkVertaalwerkVertaalwerk
AfrikaansweekAfrikaansweekAfrikaansweek
Dae uit ons geskiedenis (historiese dagboek)Dae uit ons geskiedenis (historiese dagboek)Dae uit ons geskiedenis (historiese dagboek)
Debatskompetisie vir laerskoleVespers in AfrikaansErfenisstigting en Voortrekkermonument (dien op Direksies)
BoektrommelsKoop-‘n-boekdagKoop-‘n-boekdag
SlypskoleSinfonía africanaLouw-huis (bekom finansiering)
Basic Afrikaans (termelys vir studente)Feeste (Woordfees, ens.)Pieter van der Westhuizen-gedenkbundel
Voorlees vir kleuterskoleVoorlees vir kleuterskoleCD van toonsetting van Joernaal van Jorik
BoekpryseBoekpryseTaalaksie-groep (briefskryfaksie)
PlaasbibliotekeGedenklesingGedenklesing
Bewaring van toonsetting van Joernaal van JorikStorievertel-aande
Kontak met Afrikaanssprekendes in die buiteland
Voorlegging oor Talewet



Ons teikengroepe is

  • Skoolkinders: Byvoorbeeld debatsaande, plaasbiblioteke; boektrommels, webwerf; Doendinge, boekvoorlesing by kleuterskole
  • Jong volwassenes:Byvoorbeeld  Basic Afrikaans, webwerf; Doendinge; gedenklesing
  • Volwassenes: Byvoorbeeld boeke, Vespers, Ou Vriende-CD, Dagboek; Doendinge; Gedenklesing

Betrokkenheid en samewerking: 
Afrikaanse Taalraad, WAT, SBA, Dameskring, Helpende Hand, Afriforum ATKV, Taalmuseum en-monument, US (Konservatorium, Taalsentrum), Biblionef, NTLA, SA Akademie, Kiwiasa Groep, Wes-Kaapse Taalkomitee, Dept Kuns en Kultuur, GISA, AB, Erfenisstigting en die Voortrekkermonument, XhosAfrika-netwerk, Louw-huis.

 Bande met buiteland
Weens omstandighede kon ons op ‘n een-tot-eenbasis sterk bande ophou met lede in Nederland en ook fondse in vir ons boekverspreidingsprojekte.

Languages are not fixed biological species but adjust to and accommodate changing contexts; they merge and flow continually in social processes of give and take.

(Mail &Gaurdian  9-15 October 2009 – Language of Division and Diversion deur Kees van der Waal, Christine Antonissen, Amanda Gouws, Ashraf Kagee, Sandra Liebenberg, Tony Naidoo, Steven Robins en Leslie Swartz)

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae