ʼn Grondwet-verskuiwing?

president-jacob-zuma-sharpeville-grondwetvieringe

Pres. Jacob Zuma lê blomme neer by die Sharpville-gedenkteken tydens die Grondwetherdenkingsvieringe. Foto: Twitter via GovernmentZA

Deur Jeannette Gnade

Die 20-jarige herdenking van die Suid-Afrikaanse Grondwet het die afgelope naweek op verskeie plekke in die land plaasgevind. Regeringsleiers – pres. Jacob Zuma ingesluit – het ʼn simboliese belofte om die wet te onderhou in Sharpeville onderteken waar die aanvanklike wet in 1996 bekragtig is.

Voordat hy ʼn woord kon uiter, het lede van die Ekonomiese Vryheidsvegters hom uitgejou. Volgens die EFF is hy die allerlaaste persoon wat die Grondwet as voorbeeld mag gebruik, omdat hy al ʼn paar keer ingevolge dieselfde wet skuldig bevind is aan growwe onreëlmatighede. Die DA het op sy beurt die president én die ANC daarvan beskuldig dat hulle die Grondwet versaak het. Die party sê die Grondwet is veronderstel om die mense te dien, maar die president doen weinig om dit te beskerm, te handhaaf en te verdedig, soos wat hy met sy inhuldiging belowe het.

Pres. Zuma het nietemin met sy toespraak deurgedruk en ʼn beroep op landsburgers gedoen om van die hoofstuk nege-instellings in die Grondwet gebruik te maak om hulle regte te beskerm. Dit val vreemd op, omdat verskeie mense en organisasies hulle juis na die bekendste instelling, die openbare beskermer, gewend het om oor die president se verontagsaming van die Grondwet te kla.

Sy eie lae dunk van dié betrokke hoofstuk nege-instelling het duidelik geblyk toe hy die vrystelling van die Madonsela-staatskapingverslag met ʼn interdik probeer keer het. Dit is in weerwil van die feit dat sy geen definitiewe bevinding gemaak het nie, maar aanbeveel het dat ʼn regterlike kommissie aangestel word om die bewerings van staatskaping behoorlik te ondersoek. Die president is egter ook nie daarvoor te vinde nie en is besig om ʼn hersieningsaansoek teen dié aanbeveling voor te berei. Net soos met die Nkandla-kwessie probeer hy die kantoor van die openbare beskermer verkleineer en verdag maak.

Die president moet ook in gedagte hou dat die gewone man op straat nie die middele het om duur hofsake aan te gaan nie. Pres. Zuma het egter nie die probleem nie. In die middeltermyn-begroting is daar selfs bykomende geld vir die presidensie se regskoste bewillig. Zuma kan maar net sowel erken dat hy na sy eie mening bo die reg verhewe is. Sy uitsprake dat die nageslagte van Jan van Riebeeck grond by die etniese bevolkings in die land gesteel het, is net so erg soos die uitsprake van die EFF-leier. Klagtes wat daaroor by ʼn ander hoofstuk nege-instelling – die Menseregtekommissie – gelê is, word eenvoudig geïgnoreer of op die lange baan geskuif.

Die MRK is te bang om sy eie gesag af te dwing, want hy besef seker dat die president enige bevinding met ʼn hofsaak sal beveg. Teen dié agtergrond is dit des te meer verstommend dat die president mense na die hoofstuk nege-instellings verwys as hy self nie eens uitsprake deur die konstitusionele hof – die opperbeskermer van die Grondwet – eerbiedig nie.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

John ·

Die president lief die grondwet wat hom bo die grondwet verhef… Onaantasbaar. Wat gaan die Grondwethof doen as bv sou weier om sy presidentskap af te staan wanneer sy termyn verstreke is… en die ANC sou dit steun?

Basson ·

I/s die grondwet, kyk hoe ver het ons al verloor dmv die wegkalwing van ooreengekome beginsels:

(Ek sien MM het die ‘plak’ funksie gestop, Google ‘The Malherbe Paper – How De Klerk was swayed’, gepuliseer op die Huffingtonpost.co.za)

Hanno Visagie ·

Die teenpool vir Jacob Zuma hierbo is die vernuftige FW de Klerk wat steeds spog met sy wêreldklas grondwet se teenwigte.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.