’n Groot protesstem in Oos-Duitsland se verkiesing

Foto: Christian Wiediger/Unsplash

Sowat dertig jaar ná die hereniging van Wes- en Oos-Duitsland het verkiesings in twee Oos-Duitse deelstate die afgelope naweek hernude vrae oor die toekoms van die politieke middelgrond in Europa laat ontstaan.

Die regs-populistiese Alternatief vir Duitsland het, soos verwag en ten spyte van ’n enorme veldtog teen die party, daarin geslaag om uitstekend in Sakse en Brandenburg te doen. In beide deelstate het die party daarin geslaag om tweede te eindig, ’n kortkop agter die Christen-Demokratiese Unie in Sakse en die Sosiaal Demokratiese Party in Brandenburg. In Sakse het hul steun van 9,7% in 2014 tot 27,5% gestyg en in Brandenburg vanaf 12,2% tot 23,5%.

Twee stelle data verduidelik tot ’n mate die groei in steun vir die AfD in Oos-Duitsland. Die eerste is dat 66% van kiesers in Oos-Duitsland hulself as tweedeklasburgers beskryf. Byna 80% van mense wat vir die AfD stem, beskryf hulself as tweedeklasburgers. Nog ’n interessante ontleding is dat in Sakse die AfD die gunstelingparty van ’n meerderheid van kiesers tussen die ouderdom van 18 en 29 is. Dit beteken dat dit nie, soos wat die persepsie miskien is, net ’n klomp ouer mense is wat vir regs-populistiese partye stem nie, maar eerder dat dit jongmense is (wat van die politieke stelsel vervreemd voel) wat vir partye soos die AfD stem.

In onlangse navorsing in ander Europese lande het dieselfde tendens na vore gekom. In Italië is dit moedelose jongmense wat ook soos tweedeklasburgers voel wat tans hul steun vir die Lega-party van Matteo Salvini gee. In Nederland is dit jong kiesers wat vroeër vanjaar in provinsiale verkiesings die Forum vir Demokrasie tot die grootste party in Nederland laat groei het.

Die uitslag van die verkiesing Sondag in Sakse en Brandenburg, en soortgelyke tendense in ander dele van Europa, kan aan nuwe verdelingslyne toegeskryf word. In die eerste plek is daar die verdelingslyn tussen ’n regeringsklas in hoofstede soos Berlyn, Parys en Brussel en gewone kiesers op voetsoolvlak wat voel dat politici nie na hulle luister nie. In Duitsland is die verdelingslyn tussen Wes- en Oos-Duitsland ook besig om groter eerder as kleiner te raak.

Sedert hereniging drie dekades gelede het meer as 3,5 miljoen Oos-Duitsers, veral jongmense, die streek verlaat en in veral Wes-Duitsland gaan werk. Dit is merendeels plattelandse gemeenskappe in Oos-Duitsland wat die gevolge hiervan ervaar. Daar is in Duitsland, net soos in ander Westerse lande, ook ’n groeiende verdelingslyn tussen die welvarende, liberale en kosmopolitiese stede en die behoudende, tradisionele en arm wordende platteland. Dat ’n protesparty soos die AfD dus in landelike gebiede in Oos-Duitsland goed doen in verkiesings, behoort nie ’n verrassing te wees nie.

Die probleem is egter dat hoofstroompartye soos Angela Merkel se Christen-Demokrate alles in hul vermoë sal doen om die AfD uit die regerings in Sakse en Brandenburg te hou. Netso het die Vyfsterbeweging en die Demokratiese Party verlede week ’n koalisie in Italië gesluit om te verhoed dat die regse Lega-party ’n verkiesing wen. Dieselfde gebeur in Nederland, België, Frankryk en nog ander lande en uiteindelik behou die politieke elite die gesag terwyl die vervreemding met ’n wesenlike deel van die burgery verder toeneem. Dit is onvolhoubaar en gaan uiteindelik net tot verdere groei in steun vir regse protespartye aanleiding gee.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Charles ·

Uitstekend Jaco, baie dankie. Jy’t beslis jou vinger op die pols wat Europese politiek betref. Wat van ons Afrikaners, wat staan ons te doen in hierdie ellendige land van ons? Ek wil baie graag in Orania gaan woon, maar hoe doen ek dit, waar begin mens? Is daar geleenthede in my “beroep”? (prokureur)

Neil Marnewick ·

Ek het agtergekom dat die jongmense dink die ouer garde se politieke kompromieë is snert.

Ek dink die jongmense het ‘n beter idee waar die wêreld moet wees. Ja, ek verstaan dat dieselfde gaan hier gebeur, maar julle is verkeerd as julle dink dis net in een volk. Almal voel dieselfde.

Dit lyk vir my hier kom ‘n groot Christelike rewolusie. Die land gaan saam kom onder gebed en die jongmense gaan die ou retoriek wegstoot.
Almal gaan wil werk aan ons toekoms, òf as federasie òf konfederasie.
Maar die rewolusie gaan eers kom, of noem dit dan ‘n Great Awakening.

Dis nes hierdie Qanon en die WWG1WGA bewegings. Maar ons as SA gaan verchristelik.

Mark my words!

Merkur ·

Ek stem saam met die „Junge Freiheit“: Die belangrikste rede waarom vir die AfD gestem word, is dat die mense vreemd voel in hulle eie land en, dat hulle die eie kultuur wil bewaar. Eers dan, vind ek, kom ´n veragting vir die sisteempolitici en ´n gevoel tweedeklas burgers te wees in die geval van Oos-Duitsers. Duidelik is daar ook ´n fyngevoeligheid om politici te wantrou, wat baie Wes-Duitsers nie besit nie. Lagwekkend is die politici van die regerende en oud-partye, wat nog steeds van hulleself in die kameras sê, dat hulle dit nie reg gekry het om hulle goeie politiek aan die Oos-Duitsers suksesvol te kommunikeer nie.

Waar ek nie saamstem met Jaco Kleynhans nie:
Die AfD is nie populisties nie. Of was die CDU in 2005 ook populisties met oor die 90 % dieselfde partyprogram as die AfD vandag? Was dit net ´n onversigtige gebruik van die term of dalk ´n hoofstroom siening?

Merkur ·

(Eintlik eerste gedeelte)
Dankie vir die goeie ontleding!
Wil graag iets byvoeg. Verstaanbaar dat nie alles in een artikel gesê kan word nie.

Fakties is daar net twee partye in Duitsland: die AfD en die hele res as een mengsel.
Die ouer garde in Duitsland kry en kyk net staatstelevisie en radio. Min het toegang tot alternatiewe media. Elke dag hoor hulle dat die AfD ekstremisties is en vir hulle ´n nuwe oorlog gaan bring. Ook is hulle bang dat hulle die klein pensioene gaan verloor soos hulle hul gevoel van veiligheid reeds verloor het. Immers het 20 % van die 60 en ouer vir die AfD gestem. (Intussen groei die Turkse en Arabierse bevolking en ook die getal linkse gaste-studente in die Oos-Duitse deelstate wat nie vir die AfD stem nie.)

Wat ook genoem kan word: bewoners in die Oos-Duitse deelstate voel alleen gelaat met die grenskriminaliteit. Beeste en kleinvee, vrugte en ander oestes, trekkers, gereedskap ens word oornag in trokke gelaai en verdwyn dan na Oos-Europa.

Soos Bernhard Schlink in die FAZ ´n meningspeiling aanhaal, is die mense oortuig dat jy vandag versigtig moet wees om jou oortuigings en menings oor sekere temas in die openbaar te lig. Soos gedurende die Oos-Duitse diktatuur. Amptenare en onderwysers wat dit doen, word afgedank en verloor hulle hele pensioen. Om een voorbeeld van die gevaarlikheid te noem.

Merkur ·

Met betrekking op Salvini:
Die Italiaanse koerant „La Repubblica“ het berig, dat Angela Merkel direk en persoonlik in die Italiaanse politiek ingegryp het en ´n nuwe verkiesing afgewend het om te verhinder dat Salvini Premier word. Volgens die koerant „Il Giornale“ het Merkel vir Luigi di Maio (5 ster) se nuwe koalisie partner, die sosiaal demokrate, verligting in Italië se staatsskuld belowe. ´n Verligting wat onlangs nog vir Italië verweer was met Salvini in die regering. Merkel se oproep het gekom toe die koalisie verhandeling tussen „5 Ster“ en die sosiaal demokrate hopeloos gelyk het en kort voor die beëindiging gestaan het.

Die Duitse EU kommisaar en Merkel-handlanger Günther Oettinger, het dit op die tv-stasie SWR met trots bevestig. Sy woorde: „Dit het daarom gegaan om vir die populis Salvini wat in swemklere politiek maak, die grense te wys.“

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.