’n Halfdosyn planne om jeugwerkloosheid die hoof te bied

Deur Paul Maritz

Paul Maritz, bestuurder van Solidariteit Jeug en loopbaanontwikkeling. (Argieffoto)

Toe die jong wesie Oliver Twist in die bekende boek van Charles Dickens opgestaan het en na die kokende kinderhuis kospotte gestap het, wou die seun eintlik twee goed hê: Meer, en minder.  Die storie lui dat jong Oliver, gans teen die kinderhuis se starre regulasies, nog so ’n klein bietjie meer kos wou hê. Hy wou natuurlik nie net meer kos hê nie, hy wou ook minder honger hê.

Jongmense vandag sit in ’n penarie wat op ’n interessante plek presies parallel met jong Oliver se storie loop: Hulle bevind hulle in ’n massiewe krisis, met jeugwerkloosheid wat lank reeds nie meer net ’n krisis is nie, en nou eerder ’n katastrofe genoem kan word en wil hulle, soos Oliver Twist, ook meer hê. Maar ook minder. Hier is drie prominente “minder”, en dan drie prominente “meer”.

  1. Minder regulasies

Soos ’n paal bo water staan die feit dat jongmense, ten spyte van hul energie en passie, ’n ernstige tekort aan ervaring het. Die hele punt van ’n nuwe lewensfase is immers dat dit nuut is, dat dit onbekend is, en dat daar gedurig nog geleer moet word. Deur ’n minimumloon in te stel wat nie gebaseer is op die vraag na arbeid se interaksie met die aanbod van arbeid nie, vind ons ’n tekort aan vraag. Kortom, werkgewers (die mense wat die werk gee, wat die pap in die bordjies moet skep) is nie bereid om te betaal wat die regering hulle wil verplig om te betaal nie. Deur besighede toe te laat om aan die werk te spring, en die chevron-lint wat besigheid in Suid-Afrika tot stilstuipe wurg, ’n bietjie los te knip, sal besighede toegelaat word om die probleem te begin om die probleem aan te pak. ’n Jeugwerkloosheidsyfer wat klop aan 70% is lankal nie meer speletjies wat reg gereguleer gaan word nie.

  1. Minder inperking

Natuurlik moet die Covid-19-virus ernstig opgeneem word. Dit is duidelik dodelik, dit hou beduidende gevaar in – dit is egter totaal dwaas om goeie en funksionele besighede toe te forseer as gevolg daarvan. Geen sektor is so versigtig soos die gasvryheidsektor nie, met temperature wat by die deur geneem word, tafels wat ver van mekaar af geskuif word, en kelners wat in meeste gevalle beide maskers en skerms dra. Tog moet restaurante telkens eerste hul deure sluit as die getalle toeneem. Nie net word onafhanklike restaurante se bestaan bedreig en in baie gevalle beëindig nie, jongmense se eerste werk as kelner of kok of selfs tafelskoonmaker is dadelik daarmee heen. Verantwoordelike besigheid moet seëvier bo impulsiewe inperking.

  1. Minder korrupsie

Korrupsie is nie ’n misdaad sonder slagoffers nie, alhoewel sy slagoffers dikwels nie weet dat hulle slagoffers is nie. Wanneer staatsamptenare in Suid-Afrika maatskappye stig wat watertenks teen opgeblaasde pryse aan skole verskaf, wat beskermende kleredrag soos maskers en handskoene teen groot winsmarges invoer, en wat kwarantynkampe teen vet profyte opstel, word geld van bo af, van onder af, en sommer ook uit die middel van die staatskoffers geskep. Die logiese gevolg is dan dat die staat se bankrekening ’n hupstoot nodig het, ’n hupstoot wat telkens by besighede afgedwing word. Of dit nou ’n toename in BTW, ’n toename in invoertariewe, of ’n afname in basiese dienslewering is, korrupsie vertraag ekonomiese groei, wat natuurlik daartoe lei dat jongmense nie aangestel word nie.

  1. Meer meriete

Besighede en groei in Suid-Afrika word doodgedruk deur die idee dat burokratiese beplanning wyser en wonderliker is as koue en harde besigheid. Deur die beste en mees gewillige kandidate toe te laat om deel te neem aan die Suid-Afrikaanse ekonomie, sal kompetisie en produktiwiteit verhoog, wat verbruik en inkome ook kan laat styg. As die geld vinniger beweeg, is daar ’n groter behoefte aan jong hande – dit is maklik en logies. Uitgediende wetgewing wat mense uit die werkplek hou bloot weens velkleur of geslag, veroorsaak maar net dat ongeskikte persone aangestel word of geleenthede kry, juis omdat hulle gekies is volgens ’n maatstaf wat arbitrêr is, en niks te make het met die produk of diens wat gelewer word nie. Miskien, as die regering minder omgegee het oor die velkleur van die ontwikkelaar, en meer oor sy vermoë om huise te bou, het hulle al ’n paar van hulle beloftes nagekom.

  1. Meer relevante opleiding

’n Algemene tendens in Suid-Afrika en eintlik in verskeie ander lande, is gegradueerde werkloosheid. Die jongmens glo vas dat ’n graad gelyk is aan ’n werksgeleentheid omdat een of ander baldadige leier dit drie jaar terug tydens ’n staking geskree het. Nou gaan studeer die student vir een of ander graad waarvoor die universiteit geen toelatingstoets vereis nie, en waarvoor slegs ’n universiteitsvrystelling nodig is. Skielik sit hierdie kind ná drie, vier, of selfs vyf jaar met ’n kwalifikasie wat hom of haar nie eens in staat stel om ’n intern te wees by meeste besighede nie, en daar is woede en frustrasie. As hierdie kind maar net ’n vaardigheid opgedoen het, ’n goeie ambag, vakmanskap, of beroepskwalifikasie voltooi het, dan was daar nooit ooit sprake van werkloosheid nie. Die haglike toestand van nasionale opleidingsentrums in vergelyking met nasionale universiteite maak hul keuse dalk meer verstaanbaar, maar ons moet die idee dat ‘n graad werk verseker, uit ons koppe kry. Baie grade dien die universiteit se sak baie meer as wat dit die gemeenskap dien.

  1. Meer betrokke gemeenskappe

Dit sou maklik wees om alle skuld op die regering te pak, maar die realiteit is dat gemeenskappe baie kan doen om jongmense se las van werkloosheid en onsekerheid, wat tans groter is as ooit te vore, heelwat te verlig. Gemeenskapspraktyke kan kontak maak met skole en skoliere nooi om skaduwerk te kom doen, of om maar net te kom kyk wat werklik by hul praktyke aangaan. Ouer, gevestigde persone kan besluit om mentors te word, jongmense onder die vlerk te neem, en ’n pad van leer saam met hulle te stap. Groot, suksesvolle besighede kan besluit om beursfondse te stig, en geleenthede vir jongmense te gee om bo uit te kom wat andersins dalk nooit daardie geleentheid sou gehad het nie.

Vir jongmense op pad werkplek toe in 2021 is omstandighede werklik moeiliker as in ’n baie lang tyd, dalk moeiliker as ooit tevore. Werk en geleenthede bestaan gewoon net nie, en die werkplek word ’n hersenskim wat nooit nader kom nie.

’n Bietjie minder van sommige dinge, en ’n bietjie meer van ander is dalk die beste pad vorentoe!

  •  Paul Maritz is die bestuurder van Solidariteit Jeug en loopbaanontwikkeling.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Piet

Studies is in, debat is verby. Hoër minimum loon vernietig nie werk nie my broer. Jou kop is nog in die 80s en jou ekonomiese analise kort ‘n update

ABDP

Ek kan getuig. Indiensopleiding absoluut beters as slegs ‘n graad agter die naam.