‘n Hansa-Liga en sake-ambassades onder verspreide Afrikaners

360 jaar na die VOC ’n handelspos in suidelike Afrika gevestig het, moet Afrikaners ook hul eie sake-ambassades in Westerse state oprig? Afrikaners het immers hul eie internasionale magsmiddele in 1994 verhandel. Wat kan ’n behoorlike plaasvervanger wees?

Afrikaners het voor die 1990s oor dekades deur eie republieke en sterk leiers hulself as ‘n internasionale rolspeler opgebou. Dit het baie teenslae en beleggings van energie en bloedoffers, geld en tyd geverg.

Die opgeboude internasionale magsinstrumente van Afrikaners self is in 1994 verhandel vir ’n pragtige papiergrondwet. Dit was ’n duur transaksie. Die oorgeërfde imperiale magsinstrumente oor ander groepe is tereg laat vaar. Maar sonder eie internasionale magsinstrumente was en is Afrikaners in ’n kwesbare posisie.

Afrikaners vorm ’n sigbare klein Westerse groep in ’n ruwe buurt. Groepe en elites ding hard mee om skaars bronne. Anti-Westerse griewe en afgunspolitiek is wydverspreid.

Afrikaners bly ook ver van die hoofsentra van politieke en ekonomiese mag en belange in die VSA en Europa. En die wêreld en die ANC raak nie meer pro-Westers nie.

Afrikaners het wel vorms van ekonomiese bedingingsmag en kundigheid. Juis die rol van regerings in die ekonomie en staatsgesteunde kapitalisme is egter nou baie belangrik. Bedrywe kompeteer met groot staatsgesteunde bedrywe uit China, Indië, Brasilië en Rusland.

Afrikaners het egter die ekonomiese troefkaart van direkte staatsmag verhandel sonder ’n eie internasionale platform. Hulle moet nou op die ANC-bewind staatmaak.

Vir sommige Afrikaner-ondernemers bied dit inderdaad beter kanse. Een probleem is egter dat Suid-Afrika se reënboogvloot toenemend skepe insluit met seerowerbemannings en vreemde vaarpatrone. En die seerowers self het ook nog planne met die bates van die reënboogvloot.

Dalk het die ANC baie Afrikaners die see in gejaag, maar anders as wat Afrikaners besef: Afrikaners wat vanuit hul gemeenskappe binne en buite Suid-Afrika hul eie handelsvlote en sakekamers en sosiale ondernemings moet vorm.

Ondernemings wat die nasionale en internasionale weë deurkruis en kragpunte en alliansies opbou. Ondernemings wat deur harde werk, skaars skeppingskrag en sosiale volhoubaarheid meer kan beding soos die ANC-staat se reputasie in die Weste verval.

Afrikaners is egter ook ’n verspreide en krimpende groep in die uitgestrekte Suid-Afrika. Daar is ’n groeiende verskil in die politieke en kulturele leefruimtes van Afrikaners in die noorde van Suid-Afrika, Afrikaners in die Wes- en Suid-Kaap, Afrikaners in Orania en die geskatte 400 000 of meer Afrikaners in Westerse state.

Hoe bring mens so ’n verskeidenheid sinvol bymekaar? Sake- en sosiale ondernemings is soms die groeipunt van ’n nuwe kultuurpolitieke orde. Die losse konfederasie van die Hansa-Liga in Noord-Europa 700 jaar gelede bied aanknopingspunte vir Afrikaners.

Die Hansa-gildes van sakelui in gemeenskappe het mekaar help beskerm teen struikrowers en seerowers toe die gebiedsowerhede te swak was. Die gildes het stede soos Lübeck en Hamburg later oorheers, regsdispute opgelos, en beveiligers gemobiliseer.

Hulle het ook onderhandel met plaaslike en buitelandse heersers. Oor dekades het die losse samewerking tussen gildes en handelsposte in meer as 70 stede internasionaal gegroei. Hulle het uiteindelik selfs hul eie verteenwoordiging in die Heilige Romeinse Ryk se keiserlike vergadering van belangegroepe verkry.

Politieke stroomversnellings in Suid-Afrika en globale magsverskuiwings is waarskynlik, en daarmee ook onverwagse krisisse en kanse. Hoe kan Afrikaners daarop inspeel?

Dalk die begin van sake-ambassades onder die 400 000 Afrikaners oorsee? Gekoppel aan ’n losse Hansa-Liga vir verspreide Afrikaners binne en buite Suid-Afrika?

Kultuurpolitieke ordes het al met heelwat minder begin. Vra maar vir Jan van Riebeeck.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Heinrich Matthee

Meer oor die skrywer: Heinrich Matthee

Dr. Heinrich Matthee is ʼn politieke en veiligheidsontleder wat spesialiseer in Midde-Oosterse en Moslem-politiek wêreldwyd. Dr. Matthee het meer as 14 jaar se ervaring in adviesdienste aan regerings, multinasionale maatskappye en nie-regeringsorganisasies. Hy skryf uit Nederland.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae