’n Helpende hand met hart, in krag, tot hoop

Hannes Noëth is die besturende direkteur van Helpende Hand. Foto: Reint Dykema.

Hier volg Hannes Noëth, besturende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, se volledige toespraak wat hy Donderdag op die Solidariteit Beweging se tweede Toekomsberaad gelewer het. Die Beweging het sy 2030-blyplan tydens die geleentheid by die Choose Life-kerk in Moreletapark, Pretoria bekendgemaak.

“Veel van wat opgebou is, is tans vernietig, verval en vervalle. Maar met eenheid van wil en eenheid van kragte kan daar weer opgerig word wat tans in die stof lê.”  – Uit Paul Kruger, 29 Junie 1904 se laaste boodskap

Wanneer dinge om ons vernietig word, verval en vervalle raak, is die kwesbaarste nie ons wat vandag hier is nie, maar ons kwesbare groepe – ons armes, ons bejaardes, ons kinders, en ons mense met gestremdhede.

Ons praat van ʼn toekomsberaad – maar vir wie bou ons? Vir wie bring ons hoop?

As dit vir onsself is, laat ons dit nie doen nie. As ons alleen vorentoe gaan, laat ons nie begin nie. As ons hulle wat kwesbaar is saamvat, laat ons dan doen wat ons hand vind om te doen – vir ons, maar ook vir hulle.

Waarom bestaan Helpende Hand?

Solidariteit Helpende Hand wil nie net bestaan nie, ons moet bestaan. Juis omdat ons moet, neem ons die roepingsmantel op en gaan daarmee vorentoe – met ʼn ysere wil – met hart, in krag, tot hoop!

Die rede is eenvoudig: Ons fokus is die verligting, voorkoming en verbreking van Afrikaner-armoede.  Daarom moet ons bestaan. Armoede onder die Afrikaner word nie minder nie, maar meer – juis daarom is dit noodsaaklik dat ons gestruktureerd, georganiseerd en met deeglike beplanning die armoede van die Afrikaner aanpak. Hierdie daadwerklike optrede ten opsigte van armoede moet wees op al drie vlakke van armoede, naamlik: geestelik, kultureel en fisies.

Die visie van Helpende Hand

Ons visie is die ontwikkeling van die Afrikanergemeenskap en die skep van ʼn maatskaplike struktuur wat die eise en uitdagings van die kwesbare groepe die hoof bied, die direkte nood te verlig sover moontlik en geleenthede te skep waar armoede voorkom kan word deur studies en opleiding.

Hoe doen Helpende Hand dit?

Helpende Hand hanteer hierdie geweldige uitdaging van armoede deur ʼn struktuur wat op vier vlakke werksaam is, naamlik ʼn hoofkantoor met ongeveer 60 personeel, streek- en takstrukture en vrywilligers. Ons rig ons al hoe meer in om die maatskaplike struktuur te word wat vir die Afrikaner leiding gee in gemeenskapsontwikkeling om lyding te hanteer en te glo en te hoop in ʼn toekoms.

Verder fokus ons op die stig en hantering van studiefondse – dit is en bly immers die beste manier van armoedevoorkoming. Die vorming van netwerke in die gesamentlike aanpak hiervan is vir Helpende Hand ʼn doelwit en ʼn noodsaaklikheid.  Die uitrol van hierdie struktuur, studiefondse en netwerke gebeur in en rondom verskillende projekte, byvoorbeeld die inrig van sentrums, die kapasiteitsbou van maatskaplike werkers, ʼn studiefondssentrum, projekte soos, onder meer, nasionale projekte soos Kosblikkie, Helpjag, Tassie, Stophonger, Helpmekaar, FroueVonds, Ons Winkels, en daarby dan ook streekprojekte en takprojekte. So word die krag van die gemeenskap gemobiliseer in die gesamentlike hantering van ons uitdaging en die skep van hoop en die bou aan ʼn toekoms.

Die roeping van Helpende Hand

Die digter J.D. du Toit (Totius) het geskryf:

“Laat dan mense en diere, droogte en vure, met al wat hul kwaad wil versin, maar kom om te kap, te brand en te trap – ek leef en sal lewe;  my doodkry is min!”  – Totius – “Die Besembos”

In 2019 wanneer die Solidariteit Beweging in ʼn Toekomsberaad vergader, word daar aan ons mense op allerhande wyses gekap, gebrand, getrap – maar juis daarom is ons hier – om te saai en te oes, om te luister en te werk, om te bou wat hou, om nie te wag nie, maar te doen. Ons wag nie, ons saai, ons plant sonder ophou en verwag die oes op die regte tyd. Die saad is soms min en die arbeiders gering, maar gaan lê sal ons nie, en ophou nog minder. Ons leef en sal lewe. Ons wil. Ons doen.

Helpende Hand, “met hart, in krag, tot hoop”, en toekomsgedrewe vorentoe! Die nood van ons mense roep.

Daarom:

Terugvoering ten opsigte van vordering sedert 2015 en stand van sake in 2019

Om vorentoe te kyk, wil ons graag terugkyk. Die tydperk tussen 2015 en 2019 was vir Helpende Hand uitdagend, geseënd en vol genade. Terugkyk na 2015 wys wat gedoen en bereik is, maar méér nog, wys dit wat nog gedoen moet word en waarheen ons op pad is.

Verdeling van Helpende Hand en die Skoleondersteuningsentrum

In 2018 verdeel Solidariteit Helpende Hand en die Skoleondersteuningsentrum in twee afsonderlike entiteite. Daarmee word die onderwysgedeelte grotendeels die verantwoordelikheid van Skoleondersteuningsentrum en die maatskaplike gedeelte die verantwoordelikheid van Helpende Hand. Hierdie verdeling is ʼn reusetree en vordering in twee gebiede wat beskou word as tsoenami’s wat besig is om ons te tref, naamlik onderwys en maatskaplik.

Hier kan ook vermeld word dat die loopbaansentrum wat geskep is in 2015 uit Helpende Hande, verskuif het na Solidariteit en opgeneem is in die hele netwerk van werk.

Die studiefondssentrum

Die groei in die Studiefondssentrum waaruit studente gehelp word om te studeer, is ʼn riem onder die hart. In 2015 word R25 miljoen verdeel vir die jaar en in 2019 is ons by ongeveer R41 miljoen. Die droom was om teen 2020 ʼn studiefonds te bou van 160 miljoen en ons is dankbaar om terugvoering te kan gee dat ons fonds nou op 185 miljoen staan. Sedert 2015 is ʼn bedrag van R145,1 miljoen aan studente uitbetaal.

Die voedingsprojekte

In 2015 kon ons meld dat ons voedingsprojekte 4 000 kleuters daagliks versorg. In 2019 kan ons noem dat hierdie getal nou tot 8 000 gegroei het en ons werk na 12 000 in die volgende paar jaar. Ons sou natuurlik graag wou sien dat die behoefte minder is en nie meer nie, maar die realiteit en praktyk is anders. Kyk ons wel terug oor die paar jaar wat verby is, is ons dankbaar dat ons kon werk daaraan om ʼn reuseverskil te maak. Hierdie werk kon veral gedoen word deur twee projekte naamlik:

Stophonger – ʼn Projek waar daar spesifiek geld ingesame is vir die versorging van kinders.

Helpjag – ʼn Projek waar ons in 2019 23 ton vleis kon verdeel.

Tassieprojek

Die tassieprojek, waar tassies met noodsaaklike benodigdhede aan gr. 1’s voorsien word, gaan elke jaar onverpoosd voort. In 2019 is 5 000 tassies verdeel. Hierdie tassieprojek is ʼn vlagskipprojek wat wyd bekend is en ʼn enorme verskil maak in die lewe van kinders.

Projekte gefokus op vroue

HelpHetta is die veldtog waarin ons poog om die lewe van meisiewees te vergemaklik deur sanitêre ware te voorsien aan dié wat dit nie kan bekostig nie. In 2019 voorsien ons sanitêre ware aan 3 000 meisies per maand en die impak daarvan op die verbreking van armoede is noemenswaardig.

Saam met HelpHetta het ons ook ʼn FroueVonds begin wat fokus op opleiding en die hantering van armoede in die lewens van jong meisies en vroue. Die naam is doelbewus verkeerd gespel om aan te dui “dat alles nie altyd reg loop nie” en daar soms ʼn brug na sukses nodig is. FroueVonds dien hierdie doel.

Strukture en praktyk

Helpende Hand het tans 150 takke in 10 streke wat gefokus is daarop om die funksionering van ons aktiwiteite so doelgerig en vaartbelyn as moontlik te maak.  Ons het ongeveer 40 000 ondersteuners wat saamwerk aan ons doel en strewe. Hierdie takke en streke maak nasionale- streek- en takprojekte ʼn moontlikheid en ʼn realiteit.

Ons Winkels

In 2015 het Helpende Hand 14 winkels gehad. Vandag kan ons dankbaar sê dat ons in 2019 reeds ons 50ste winkel oopgemaak het. Die winkels dra by tot ʼn verskeidendheid projekte, dra by tot ons sentrums, ons studielenings en skep werk vir ons kontrakteurs en skep ʼn wonderlike netwerk binne Helpende Hand.

Algemeen

Ons het steeds twee sentrums, in die Strand en Derdepoort wat kinders versorg in die middae; intussen is ook ʼn gemeenskapsentrum geopen in Pretoria-Noord. Waar ons in 2015 beskik het oor die hulp van een maatskaplike werker, het ons in 2019 reeds 10 amptelike maatskaplike werkers as deel van ons personeelkorps. Daar is ook ʼn Ons Spreekkamer (Witbank) en ʼn Ons Kleuterskool (Volksrust).

Baie tyd en aandag is gegee aan netwerkvorming in die gemeenskapsontwikkelings van ons gemeenskappe. As Helpende Hand terugkyk na die tydperk tussen 2015  en 2019 is ons verstom dankbaar oor die verskil wat gemaak kon word met gemeenskapskrag en geduldige stukkie-stukkie-vordering.

Toekomsplanne vir 2030

Helpende Hand is nie onseker oor ons roeping nie – dit is die verligting, verbreking en voorkoming van Afrikaner-armoede. Ons ken ons uitdagings. As ons terugkyk, weet ons wat dit moontlik gemaak het, ons weet ook wat suksesse moeilik gemaak het. Vir alles wat ons doen, is daar altyd wat ons meer kan doen.

Daarom mag en kan ons nie onseker wees oor ons tienjaarplan nie. Die fokus is en sal bly die aanpak van armoede binne ʼn gestruktureerde en georganiseerde raamwerk.

In die volgende tien jaar stel ons onsself ten doel:

  • Die uitbreiding van takke/strukture, ondersteuners en kapasiteit.
    • Takke moet groei van 150 na 190 (In 2015 was ons 130);
    • Ondersteuners moet groei van 40 000 na 60 000; en
    • Personeel moet groei van 60 na 90.
  • Die ontwikkeling van ons maatskaplike struktuur is wesenlik, daarsonder sal ons nie ʼn gemeenskapsontwikkelingsplan kan neersit nie.
    • Die ontwikkeling van ʼn maatskaplike gemeenskapsontwikkelingsplan vir die Afrikaner;
    • Maatskaplike werkers moet groei van 10 na 30+ (In 2015 was daar 1);
    • Elke streek moet ʼn eie maatskaplike werker hê; en
    • In soveel moontlik van die ankerdorpe moet daar ʼn maatskaplike kantoor wees.
  • Die ontwikkeling en uitbreiding van nasionale projekte moet voortgaan en verder ontwikkel word:
    • Helpjag;
    • HelpHetta;
    • FroueVonds;
    • Tassie;
    • StopHonger;
    • Helpmekaar; en
  • Uitbreiding van Ons Winkels
    • Ons Winkels dien as belangrike been van ons finansiële model, daarom moet ons dit uitbrei in die volgende tien jaar van 50 na 80. (In 2015 was daar 14).
  • Studiefondssentrum
    • Die studiefondssentrum kon in 2019 R41 miljoen verdeel tussen 1 300 studente. Ons werk na die doelwit in 2025 van 2 500 studente, wat beteken ons sal R87,5 miljoen per jaar nodig hê en in 2030 wil ons graag 4 000 per jaar help teen R140 miljoen per jaar. (Neem in ag dat ons in 2019 ons 5 000ste student gehelp het.)

Helpende Hand besef dat die bereiking van hierdie doelwitte nie net gaan gebeur nie, maar met harde, intense werk, goeie beplanning en sterk roepingsbewustheid gepaardgaan. Ons aanvaar die uitdaging. Saam vorentoe.

“Veel van wat opgebou is, is tans vernietig, verval en vervalle. Maar met eenheid van wil en eenheid van kragte kan daar weer opgerig word wat tans in die stof lê.”

Eenheid van wil. Eenheid van krag.

Só gaan ons saam en suksesvol vorentoe.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Hannes Noëth

Hannes Noëth is die uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand. Hy is ook die skrywer van die boek Depressie: Struikelblok of uitdaging? en skryf dikwels rubrieke vir verskeie publikasies.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Adriana ·

Dankie dankie dankie!
Ek is so trots om aan julle te behoort!

Jerry ·

Baie mooi en baie sterkte vir Helpende Hand. Sonder julle onbaatsugtige diens sou talle behoeftiges vergaan het “fade away”!

Marius van Wyk ·

Ek salueer Hannes en sy span vir dit wat hulle doen!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.