ʼn Huldeblyk aan Gerrie Coetzee

Deur Pierre Massyn

Gerrie Coetzee. Argieffoto.

Die klok het die laaste keer gelui. Ja, Gerrie, ek sal jou nooit vergeet nie.

Van die vreugdevolle dae op Kovsies toe ons gesien het hoe jy jou hande breek teen Mike “Die Tenk” Schutte se kop tot jou epiese gevegte met Kallie. Kallie die Blou Bul wat jou tart oor jou “seer handjies”. Meer oor hom later.

Toe beland ek mos by TV-nuus. As ʼn bloedjongverslaggewer stuur hulle my na jou huis in Boksburg.

Gerrie Coetzee was groot, seker ʼn goeie ses voet vier in die ou taal. Hy het sagmoedig voorgekom, en hy was. Sy lieflingshond was Wendy, die Spanjoeltefie. Coetzee – ʼn jintelman – was besonder innemend. As hy met jou praat, voel jy of jy en die Boksburg Bomber die enigste twee mense op aarde is. Hy het verstaan van die druk van spertye, die nimmereindigende oorlog teen tyd se uurglas wat onstuitbaar leegloop.

Hy wys my sy hand, daardie bioniese regtervuis. Gerrie, jy vertel my in jou sagte, maar intense stem hulle moes repe spier, weefsel en sening uit jou linker bo-arm verwyder en in jou regtervuis invleg. Jy moes minstens 60% van jou gevegte met gebreekte hande baklei – beide jou hande, maar veral die regterklou. Teen Greg Page moes jy letterlik met een hand in die kryt klim. Jy was die vinnigste swaargewig van jou tyd, belaglik beweeglik vir ʼn man van tweehonderd-en-twintig pond.

Jou huis het altyd vir my en kollega Jan van Niekerk oopgestaan. ʼn Gewone middelklas huis. Boksgimnasium ingerig in die kelderverdieping. Dit ruik na sweet, leer en Deep Heat. Slaansakke, bokshandskoene en kopskerms. Boksplakkate teen die mure. Jy was dikwels die buiteperd. Maar jou talent het vroeg reeds gewys in ʼn stuk of tweehonderd gevegte as amateur. Ses teen jou boksvyand, Kallie Knoetze, waarvan jy drie wen en “Die Bek” drie. En julle trou op presies dieselfde dag, 8 Januarie, 46 jaar gelede.

Toe kry jy jou kans, in Monte Carlo, Junie 1979. Ons klompie joernaliste by TV-nuus se gebou in Henleystraat in Aucklandpark, is ʼn handjievol bevoorregtes wat Gerrie se geveg teen Leon Spinks regstreeks kan beleef. Die Boerseun van Boksburg laat die man wat die grote Mohammed Ali onttroon het, drie keer harpuis ruik voor die skeidsregter die geveg stopsit. In die eerste ronde!

Die Amerikaanse kommentator stik amper in sy woorde, maar kry dit tog uiteindelik uit: “Gerry Coat-Sea from South Africa, scores a major upset!” Pandemonium bars los. Ons harte bars van trots, ons jubel dat die kranse antwoord gee. Redakteur Fanus Venter besluit terstond: dis ons hoofstorie vir daardie bulletin.

Toe is dit Loftus en John Tate. September 1979. Maar dit reent. Sommer emmers vol. Van die pawiljoen af moet die twee vegters oor ʼn sopnat grasveld aanskuifel na die pawiljoen op die middellyn, waar minister Pik Botha reeds sy plek ingeneem het. Tate se bestuurspan het die teenwoordigheid van gees om hul man inderhaas ʼn paar rubberstewels te laat aantrek om die deurweekte grasveld oor te steek. Gerrie se span, gelei deur sy pa, Flip, dink nie daaraan nie – die gevolge is fataal.

Teen die tyd dat Gerrie die kryt bereik, is sy boksskoene sopnat. Gerrie is nie homself nie. Hy veg gly-gly; dit lyk of hy heeltyd van balans is. Nogtans veg hy end-uit dapper en Tate wen net-net met punte. Pik wissel ʼn woordjie met hom, bemoedig hom. “Gaan aan Gerrie, jy kan!”

Toe Mike Weaver op Sun City. In die agste ronde het Gerrie die Amerikaner uit op sy voete, teen die toue. Hy is een hou weg van ʼn oorwinning. Maar hy kan net nie die finale uitklophou plant nie en word self – op sy voete – uitgetel in die dertiende ronde.

Jy moes altyd teen veel meer as jou teenstander in die kryt veg. Jy, die pin-up boy van apartheid, was altyd gebrandmerk. Die voortdurende pyn in jou hande, veral die metakarpale bene in die middel van die menslike hand. Bevooroordeelde beoordelaars. Soos teen Renaldo Snipes in Tarrytown, New York in die VSA op 9 Augustus 1981. Jy stuur hom twee keer planke toe, maar hulle ken die geveg aan hom toe.

Maar toe kom Ohio. Die Richfield Coliseum, ʼn uur se ry per bus van Cleveland. Op 23 September 1983  vermorsel jy Michael Dokes in die tiende ronde. Die Amerikaanse kommentator hyg: “Dokes is down, and he’s down hard!”

Gerhardus Christian Coetzee word die eerste man uit Afrika en die eerste wit bokser sedert Ingemar Johansson in 1959 wat die wêreld se swaargewigtitel wen. Jy maak ons almal trots. Wéér breek jy jou hand, en moet noodgedwonge vyf dae later in New York geopereer word. Ek bevind my in Windhoek, by die wêreld se grootse uraanmyn.

Ek dink terug aan Boksburg 1979 toe ek moes opkyk na jou om ʼn mikrofoon in jou gesig te druk vir TV-nuus. ʼn Klomp van ons spring in ʼn bakkie met ʼn luidspreker en vaar wild Windhoek se strate in. Ek verkondig uitbundig dat Suid-Afrika die nuwe wêreldkampioen het.

En Kallie Knoetze? Van alle nuusmakers met wie my paadjie gekruis het, was die deurtrapte Pretorianer loshande die kleurrykste. Die Bek van Boomstraat was letterlik nooit op sy bek geval nie. Hy was die antitesis van Gerrie Coetzee: uitdagend, uittartend, vol bravade. Hy was flambojant, kompleet met sy Noord-Transvaal rugbykouse in die bokskryt.

In 1979 moet Kallie Knoetze, polisieman van Suid-Afrika, teen die Amerikaner Bill Sharkey gaan veg. In Amerika. Knoetze veg stelselmatig sy plek oop as aanspraakmaker op wêreldglorie. Dis my plig as verslaggewer om die Knoetze-storie te dek. Net voor sy vertrek staan hy my ʼn onderhoud toe. Ek weet van die anti-Suid-Afrikaanse sentiment oor ons binnelandse beleid. Kallie het tydens onluste ʼn swart seun in die been gewond.

Daarom moet ek die vraag vra: “Kallie, is jy nie bekommerd oor betogers nie?” Hy gluur my aan asof ek Gerrie Coetzee is wat saam met hom in die bokskryt is en trek los met: “Wat, betogers? Nee kyk man, vir ʼn betoger is ek niks bang nie, verstaan jy?” Kallie Knoetze het Bill Sharkey op 13 Januarie 1979 in die derde ronde uitgeslaan.

Suid-Afrika het ʼn paar bokslegendes opgelewer. Vic Toweel, Pierre Fourie, Arnie Taylor, Jimmy Abbot, Mike Schutte, die nimlike Kallie Knoetze. Maar vir my was daar net een Gerrie Coetzee. Rus sag, Ou Grote, jy is ʼn volksheld. Jy bevind jou nou in die geselskap van Mohammed Ali, Jersey Joe Walcot, Gene Tunney, Rocky Marciano en die ander reuse van wêreldboks.

  • Pierre Massyn is ʼn oud-joernalis en skrywer.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

OW ·

Goeie skrywe.Pierre Fourie was natuurlik ook een van ons beste boksers gewees,en na mening een van die mees wetenskaplikste boksers ooit.Wie kan sy gevegte teen Bob Foster en Victor Calindez vergeet.Gerrie Coetzee het vir my ook baie ure se boks plesier gegee,en ons salueer jou Gerrie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.