ʼn Ieder nasie het sy vlag

wêreldfoto's

ʼn Betoger verbrand ʼn Amerikaanse vlag tydens ʼn optog in Philadelphia, in die VSA, in Julie 2016 gedurende die tweede dag van die Demokratiese Nasionale Konvensie. Foto: AP Photo/Matt Slocum/ wire.africannewsagency.com

Dit loop nou in die rigting van ’n kwarteeu sedert die laaste apartheidswet – die ou grondwet – formeel met die nierassige oorgangsgrondwet vervang is. En tog lyk dit of apartheid lewendiger is as ooit tevore – maar dan tussen (sommige) Suid-Afrikaners se ore.

Dié artikel wil nie ontken dat die gevolge van apartheid en wit bevoorregting op talle terreine steeds met ons is nie. Maar terwyl die omvang van swart agtergesteldheid in die breë juis aan die afneem is, is die intensiteit van die aanslag op alles wat aan apartheid herinner, juis aan die toeneem.

Die veldtog om die ou landsvlag – die Prinsevlag uit die tyd van die Republiek der Zeven Verenigde Nederlanden, met die klein Vierkleur, Vrystaatse vlag en die Union Jack op die middelste baan – te verbied, is ’n goeie voorbeeld.

In die naweek is berig dat ’n groep EFF-ondersteuners by die Port Alfred-vliegveld amok gemaak en gedreig het om ’n historiese Skymaster-pasassiersvliegtuig te verbrand. Die vliegtuig was geverf in die kleure van die ou Suid-Afrikaanse Lugdiens met die Springbok op die neus, oranje stertvin en klein vlaggie aan die kant van die romp en word vir plesiervlugte gebruik.

Van die EFF moet ’n mens enigiets verwag. Die ernstigste aanslag kom egter uit onverwagte hoek, naamlik die Nelson Mandela-Stigting, wat die hof gevra het om vertoon van die vorige landsvlag by openbare geleenthede te verbied.

Dié vlag, het Sello Hatang, uitvoerende hoof van die stigting, in ’n beëdigde verklaring aan die hof gesê, is die simbool van ’n “pynlike verlede” wat liefs vergeet moet word.

Oor die ou vlag wil ek dít sê: Uit die aard van die saak het ek, komende van die “regte” kant van die apartheidskeidslyn, nie daardie negatiewe gevoelens oor die vlag nie. Ek het as soldaat trots onder die vlag gemarsjeer. En ek onthou nog goed dat my hart, toe ek in die jare sewentig nagraadse student in Nederland was, sommer vinniger geklop het by die skaarse geleenthede dat ek die vlak êrens sien wapper het.

Maar as – hopelik – rasionele mens besef ek dat ander mense ander ervarings met die vlag het as ek, en dat dit ander reaksies sal ontlok. Dis die een rede waarom ek meen dis onverstandig om die vlag by openbare geleenthede rond te swaai: Jy beledig ander mense daarmee.

Oor die nuwe vlag – wel, dit het aanvanklik geen emosionele gevoelens, positief of negatief, by my uitgelok nie. Ek het my die laaste kwarteeu wel daarby neergelê. En as ek dit nou in die buiteland sien, ondergaan my hart wel ’n ligte skok van aangename herinnering.

Ek het die vlag as mýne aanvaar.

Let wel, dis een van daardie gevalle hier waar geen objektiewe waarheid bestaan wat vir alle omstandighede waar is nie. Daar is wel verskillende waarhede wat uiteenloop.

Die vraag is hoe ons die bestaan van daardie verskillende waarhede hanteer. Rigied en onverdraagsaam? Of gun ons mekaar die reg om anders te wees en anders te dink?

Gaan ons die besit of openbare vertoon van die vlag aktief verbiéd, soos die Nelson Mandela-Stigting wil hê? (Terloops, dink Sello Hatang nou werklik dat hy Mandela se erfenis hiermee vereer? Maar dit daar gelaat.)

Een van die groot voordele van die huidige Grondwet is dat hy die vryheid van spraak verskans. Behoudens noukeurig omskrewe haatspraak (wat die element van geweld moet bevat) word die “vryheid van uitdrukking” gewaarborg.

Spesifiek die volgende word genoem: “Die vryheid van die pers en ander media; die vryheid om inligting of idees te ontvang of oor te dra; die vryheid van artistieke kreatiwiteit; en akademiese vryheid en vryheid van akademiese navorsing”.

Nou moet ’n mens baie presies hier wees en twee sake van mekaar onderskei. Die een is of dit verstándig is om die ou vlag in die openbaar te vertoon (waar my antwoord “nee” is). Die ander is of dit jou rég is om dit te doen (en daar is die Grondwet se antwoord “ja”).

Die vlagkwessie was in die verlede op ’n heel ander vlak ook in Amerika ’n tameletjie. Veral in die jare sestig en sewentig het sommige Amerikaners wat teen die oorlog in Viëtnam geprotesteer het, hul land se vlag in die openbaar verbrand.

Dit het aanleiding gegee tot ’n lang en uitgerekte rusie. Sommige deelstate – Texas was ’n voorbeeld – het wette aanvaar om vlagverbranding ’n kriminele oortreding te maak.

In 1984 het ene Gregory Johnson by die Demokratiese Party se konvensie, waar die party se presidentskandidaat aangewys sou word, ’n vlag verbrand. Johnson is aangekla en tot ’n jaar gevangenisstraf veroordeel. Die saak het die hele pad tot by die Hooggeregshof geloop, wat in 1989 geoordeel het dat vlagverbranding op vryheid van spraak neerkom. In 1990 het die Kongres toe ’n wet aangeneem om dit tog te verbied, waarna die hof dit weer in vlamme neergeskiet het.

Die kwessie is steeds ’n taai Amerikaanse tameletjie. In 2006 was Hillary Clinton, toe ’n ambisieuse senator wat baie graag die Withuis wou betrek, een van die voorstellers van só ’n wetsontwerp, maar dis verwerp.

Verlede jaar het pres. Donald Trump getwiet dat enigiemand wat disrespekvol teenoor die vlag is, sy burgerskap sal verloor of ’n jaar in die tronk sal deurbring. Blykbaar het hy nooit van die hooggeregshofbeslissings gehoor nie.

Hoe ook al, die Amerikaanse sage dui vir ons ook ’n rigting aan. Amerika se demokrasie is nie volmaak nie – dit het byvoorbeeld nou al twee keer gebeur dat die verloorder van ’n presidentsverkiesing in die Withuis beland – maar die wyse waarop die land met sy demokrasie en burgerregte omgaan, is oor die algemeen behoorlik voorbeeldig.

As die Nelson Mandela-Stigting sy sin kry, sal dit die dun ent van die wig wees in die muur wat ons menseregte beskerm. Vryheid is ondeelbaar.

Die vraag is natuurlik wat ons eie konstitusionele hof sal beslis as só ’n saak voor hom kom. Tot betreklik onlangs sou ek gesê het ons hoef nie bekommerd te wees nie.

Ná die flagrante wyse waarop regters die Grondwet se bepalings rakende Afrikaanse taalregte (die sake in verband met die Universiteit van Pretoria, die Universiteit van die Vrystaat en Unisa) vertrap het, is ek nie meer so seker nie. Kom ons hoop ek is verkeerd.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Nuew Aparthd

Gaan blaai deur enige tenderdokument, advertensieblad vir poste, nuwe wette en regeringsbeleidsdokumente, dan sal julle sien WIE sorg dat apartheid ten volle sterk terug is…niemand anders nie as die ANC.

John

Boelies speel mos altyd buite die reels en die oog van die toesighouer en is aaaltyd die ou wat glo die hardste geslaan is wanneer ‘n veldslag wel plaasvind… en iemand daarvan uitvind. En die ANC ken van hierdie spel… dit het mos sy oorwinning verseker selfs tot in die VN. Hoekom nie by die resep bly nie. Mandela se naam word orals bygegooi amper soos All Spice vir smaak, status en meerwaardigheid. En ons ou vlag word nou skielik ‘n vloerlap in sekere kringe genoem en hoort uit die oog by die agterdeur uit en op die ashoop… waar… Lees meer »

Jerry

Tree verstandig op en belange bly behoue. Tree onverstandig op en belange word geteiken. Die tyd om verstandig op te tree het ons ongelukkig reeds verbygegaan.

Vlag

Jip, dis alles baie persoonlik, so met respek kan ek antwoord en stel dat die nuwe vlag op sy beurt my weer beledig. (Weens verskeidenheid van redes.)
Daarom voer ek my eie private boikot aksies uit beginsel, en ek gee geen eer aan die ‘volkslied’ of aan die bestaande vlag.
(Nee ek het nie eers ‘n ou vlag ens, ek neem maar net standpunt aangesien ek ‘n vreemdeling is in my met-bloedgekoopte-vaderland.)

daro

Wel onder die nuwe vlag is daar meer pynlikheid, en gaan maar het al reeds pynlike verlede, so stel nie belang in die nuwe bebloede rassistiese vlag nie.