‘n Jaar later: Marikana se nalatenskap

‘n Jaar ná die Marikana-gebeure wat gekenmerk was deur onbeskermde stakings, protes-optogte, moord, geweld, intimidasie en die oplewing van die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu), word die gespanne atmosfeer in die mynbedryf steeds aangevoel.

Amcu-lede Foto: nowry.co.za

Amcu-lede Foto: nowry.co.za

By nabetragting is dit duidelik dat die Marikana-gebeure en wat daaruit voortgespruit het, veroorsaak is deur talle faktore en dat dit ‘n perfekte storm was. Die Marikana-gebeure is onder meer veroorsaak deur die volgende: swak arbeidsverhoudinge en wantroue; vakbondwedywering; vakbondpolitiek; onvermoë van vakbonde om lede se belange op verskeie posvlakke te bestuur; sosio-ekonomiese omstandighede in die Marikana-omgewing; die trekarbeiderstelsel wat etniese spanning aanwakker en finansiële druk op werknemers plaas wat twee huishoudings in stand moet hou; gewetenlose mikroleners; ‘n misdadige element wat geweld aangehits het; kulturele invloede; georkestreerde intimidasie van werknemers om aan protesoptogte deel te neem; politieke invloed van teenstanders van die ANC en die NUM; ’n politieke stryd om die beheer van intreevlakwerkers; aanhitsing en vergelding deur voormalige NUM- en Lonmin-werknemers; politieke opportuniste; gebrek aan leierskap deur alle rolspelers; ’n verwronge ideologiese denkraamwerk; gegriefde werknemers wie se omstandighede sedert 1994 nie wesenlik verbeter het nie; die meerderheidsbeginsel vir vakbonderkenning; gebrek aan interne veiligheidintelligensie; diensleweringsfrustrasies en intense media-aandag.

Talle van die bogenoemde kwessies is ‘n spieëlbeeld van die uitdagings waarmee Suid-Afrika in die algemeen gekonfronteer word en wat van die mynbedryf ʼn mikrokosmos van die Suid-Afrikaanse samelewing maak. Die raamwerkooreenkoms vir ‘n volhoubare mynbedryf, ʼn inisiatief van adjunkpresident Kgalema Motlanthe, is die bloudruk om bogenoemde oorsake oor ‘n tydperk van 12 maande sistematies te takel. Amcu se weiering om die ooreenkoms te onderteken, het egter nie die inisiatief gestuit nie, maar het vir seker die moontlike suksesse daarvan beperk.

Hoewel die Marikana-voorval ook as ‘n wekroep van die sogenaamde “have nots” geag moet word en dit ʼn uitdrukking van hul frustrasie was, is die uitvloeisel daarvan so vernietigend dat die negatiewe gevolge nog lank gevoel gaan word. In hierdie verband leef talle myngemeenskappe in die omgewing van die platinum- en goudmyne waar grootskaalse werksplekanargie plaasgevind het in vrees weens die voortsetting van geweld en intimidasie. ʼn Gespanne atmosfeer heers ook by die myne waar vakbondwedywering om lede plaasvind en waar dispute oor vakbonderkenning voorkom.

Terwyl sekere kommentators Amcu se lof besing oor hul teenstand teen die status quo en omdat hulle ‘n geleidelike wegbeweeg van die bestaande geïnstitusionaliseerde strukture genoodsaak het, veroorsaak Amcu sedert die Marikana-voorval onnodige konflik in die arbeidsverhoudingeveld. Amcu, wat baat gevind het by die Marikana-voorval, moenie sy nuutgevonde magsposisie misbruik en homself van alle ander belanghebbende partye isoleer nie. Indien dit die norm word vir Amcu om hulle skuldig te maak aan negatiewe gewoontes soos swak tydbestuur, die teenstaan van voorstelle bloot uit beginsel, weiering om ooreenkomste te onderteken of die onnodige uitrek van ondertekening, weiering om met ander vakbonde saam te werk, en die stel van onrealistiese eise en verwagtinge by hul lede en potensiële lede, gaan hulle slegs vriende maak met individue en instansies van twyfelagtige geloofwaardigheid en motiewe. Lonmin het egter hierdie week in ʼn verrassende stap Amcu as die enigste vakbond by hul werksplek erken. Die ironie is dat Lonmin hierdie gevaarlike welwillendheidsgebaar as die einde van die magstryd met Amcu beskou, terwyl dit vir Amcu waarskynlik net die begin is.

Weens die gewelddadige en destruktiewe aard van die gebeure wat aan die Marikana-voorval gekoppel word en later oorgespoel het na ander myne, is dit moeilik om enigiets positiefs wat hieruit voortgespruit het, te regverdig. ʼn Demokratiese en beskaafde land kan nie bekostig dat geskille wat hul oorsprong in die arbeidsverhoudingeveld gehad het, oorkook tot op ʼn vlak waar onskuldige mense geïntimideer of op barbaarse wyse vermoor word nie.

Soos wat verskeie individue hul invloed en mag misbruik en mense vir eie gewin gemanipuleer het voor, tydens en ná die Marikana-gebeure, kan hierdie individue se boosheid slegs geneutraliseer word deur leiers en besluitnemers in gesagsposisies wat die moed van hul oortuiging het om besluite te neem wat die magsbalans sal herstel. As die oppergesag van die reg nie spoedig herstel word nie, gaan dié vorm van arbeidsverhoudinge wat gereeld na anargie in die werksplek neig die norm word en gaan dit vererger namate werkloosheid toeneem weens plaaslike en internasionale beleggers wat uit die land onttrek.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Gideon Du Plessis

Meer oor die skrywer: Gideon Du Plessis

Gideon du Plessis is hoofsekretaris van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae