’n Jakkals in die hoenderhok

hoenderprys-plaaslike-hoenderproduksie-by-astral

Plaaslike hoenderproduksie by Astral. Foto: Verskaf.

Deur Francois Baird

Het Suid-Afrikaners verander van ’n volk wat trots is op ons vermoë om dinge te maak gebeur tot ’n nasie van geïntimideerde uitstellers? Is ons aan die slaap of bloot bang om ferm op te tree teen die aanslag van ’n vyand? Ja, ’n moderne vyand en skyn-vennoot in Brics, naamlik Brasilië. Dit terwyl hierdie “handelsvennoot” stelselmatig voortgaan met die meedoënlose vernietiging van een van ons land se belangrikste landbousektore, die pluimveebedryf.

Waar is ons politieke leiers as ons hulle ferm optrede nodig het? Waar is die verdedigers van ons nasionale belang terwyl ons aangeval word?

Die nasionale ekonomie is teen die planke en werkloosheid hemelhoog. Die minste wat ons kan doen om ons internasionaal-mededingende pluimveebedryf teen profytbejagte roofhandelaars en invoerders te beskerm, wat dit stadig maar seker ondergrawe.

Die pluimveebedryf in Suid-Afrika verskaf direk werk aan 110 000 mense, en indirek aan ʼn verdere 20 000 in die graanbedryf (wat die hoendervoer verbou), en verteenwoordig ’n lang waardeketting wat landwyd geleenthede skep vir klein ondernemings en entrepreneurs. Die bedryf is ook ʼn hoeksteen van Suid-Afrika se voedselsekuriteit.

Laasgenoemde is nie net ’n lekker sêding om emosies op te jaag nie. Dit is ’n ernstige feit. Die onaangename waarheid is dat as die hoenderbedryf deur roofhandelaars opgevreet word, soos wat in Ghana en Senegal gebeur het (en byna ook in Kameroen waar dit net-net afgeweer is deur ʼn besliste ingryp en samewerking tussen die gemeenskap en die regering), is die skrif aan die muur.

Die hoenderbedryf sal nie bloot gewond wees nie; dit sal verwoes wees, oorgeneem deur Brasilië, die Europese Unie en diesulkes wat met markdominasie totale beheer oor hoenderpryse sal hê.

As Brasilië toegelaat word om die stryd om Suid-Afrika se pluimveemark te wen, is dit verby vir ons voedselsekuriteit. Dis verby vir ’n bedryf met die potensiaal om werk te verskaf aan amper 200 000 mense om ’n gesonde, dinamiese bron van geleenthede te verskaf vir veral nuwe swart boere, en entrepreneurs en kleinsake-eienaars kruis en dwars oor die land.

Dít is waar ons toekoms lê. Maar eers moet ons ons eie beskerm. Ons moet ewewig in die bedryf verkry – dit rig op groei, en dan wegspring na ’n splinternuwe, getransformeerde toekoms. Ons moet niemand toelaat om dit van ons te steel nie. Roofhandel beroof ons nie net van ons toekoms nie, dit verwoes hoop ten bate van die profyt van moondhede soos Brasilië en die EU, en ’n handjievol Suid-Afrikaanse invoerders.

FairPlay sê nee. Slegs nee.

Een saak moet duidelik uitgespel word. Die FairPlay-beweging is geensins gekant teen regverdige handel nie, of gelyke speelveld waar almal volgens dieselfde reëls meeding en voor dieselfde uitdagings te staan kom nie. Maar ons is nie bang om in die voorste linie te staan in die stryd wat gevoer móét word teen die storters, die markmanipuleerders, die gulsige invoerders, die werkverwoesters, die gemeenskapsondergrawers en die roofhandelaars nie.

Ons stryd is nie net om voedselsekuriteit en die uiters beduidende aantal werkgeleenthede wat direk en indirek afhanklik is van die hoenderbedryf nie. Ons skaar ons aan die kant van die geraamde 1,3 miljoen mans, vroue, kinders en bejaardes wat van die salarisse van pluimveewerkers vir hul daaglikse bestaan afhanklik is. Volhoubaarheid op gesinsvlak is noodsaaklik vir stabiliteit in kwesbare gemeenskappe.

’n Gesonde hoenderbedryf verseker dat ons bejaarde ouers en familielede versorg is, dat ons kinders kan skoolgaan, dat winkels besig bly, vervoer betaal word en so aan en so voorts. Die verwoesting van die Suid-Afrikaanse pluimveebedryf sal sosiale en ekonomiese stabiliteit elimineer en vervang met… wat? Niks, absoluut niks, behalwe duurder hoender, slepende armoede en mense se onvermoë om die land se belangrikste proteïenbron te bekostig.

Ons kan nie toelaat dat dit gebeur nie. Dit moet trompop gestuit word. Nou.

Dis interessant én ontstellend om in onlangse berigte te lees dat Astral, die grootste Suid-Afrikaanse pluimveeprodusent, se wesensverdienste per aandeel in die ses maande tot die einde van 2019 se eerste kwartaal met tussen 50% en 55% gedaal het in vergelyking met verlede jaar. Een van die bydraende faktore is die regering se versuim om gepaste nuwe invoertariewe op pluimvee in te stel. Ja, daar is natuurlik ander faktore ook, soos stygende mieliepryse en die staat se onvoldoende belegging in infrastruktuurontwikkeling, om net twee te noem, maar die mees beduidende faktor is bepaald die versuim om die nuwe tarief van 82% op ingevoerde hoender in te stel.

“Is julle mal? Dit sal hoender 32% duurder maak!” skree Brasilië en die invoerders se ondersteuners (hoe tragies dat die Suid-Afrikaanse Nasionale Verbruikersunie (Sanvu), die organisasie wat kwansuis verbruikersregte beskerm, een van hierdie stemme is). Hierdie aantyging is onsin, fopnuus, manipulerende bog. Die feit is dat die prys van plaaslike hoender nie met ’n enkele rand sal styg nie… en dit beslaan 70% van die mark. Voorts sal die invoerders baie maklik die ekstra tariewe kan absorbeer en steeds ’n wins maak.

Hier is die feite:

  • Die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV), die hoenderbedryf se verteenwoordigende liggaam, het by die Internasionale Handelsadministrasie (Itac) aansoek gedoen om die bestaande invoertarief op hoender te verhoog tot die maksimum wat deur die Wêreldhandelsorganisasie (WHO) toelaat – 82%. Hierdie aansoek word teengestaan deur die Vereniging van Vleisinvoerders en -uitvoerders (AMIE), wat Brasiliaanse produsente onder hul raadslede tel.
  • Tans kom 61% van alle hoenderinvoere wat in SA land, uit Brasilië – ʼn groter volume as dié van selfs die grootste Suid-Afrikaanse produsent. Brasilië stort veral beenkwarte, die sogenaamde “bruin” vleis, in Suid-Afrika, omdat dit bloot ʼn byproduk is van die oormaat hoenders wat hulle produseer om die wit borsvleis teen ʼn premie aan die VSA en EU te kan verkoop.
  • Data van die SA Inkomstediens (SAID) wys dat die gemiddelde aanlandprys van Brasiliaanse beenkwarte in Januarie 2019 R13,52 per kilogram was, of R18,52 as die bestaande tarief bygereken word. Die gemiddelde kleinhandelprys van hoender in SA is ongeveer dubbeld soveel – daar is byvoorbeeld vandeesweek by Game ingevoerde beenkwarte te koop teen R37,80 per kilogram. Dit is 104% hoër as die aanlandprys.
  • Indien Itac die 82% tarief goedkeur, en as die prys in Game dieselfde bly teen R37,80 per kilogram, soos dit sekerlik sal, sal invoerders nog steeds hul pryse ruim kan opmerk. Wat dit beteken, is dat die 82%-teenstortingtarief geen invloed sal hê op die kleinhandelprys van hoender nie en geen impak op die verbruiker nie. Al wat hierdie prentjie kan verander, is invoerders se gulsigheid vir groter winste.

Maar nou het ’n nuwe moontlike bondgenoot vir FairPlay op die toneel verskyn. Die onlangs gestigte EBieSA (Emerging Black Importers and Exporters of South Africa) kan ’n waardevolle rol speel as hulle hul beywer vir die beginsel van regverdige handel en ’n gelyke speelveld by invoere sowel as uitvoere, en hul by FairPlay skaar in die stryd om hierdie beginsels ook in wetgewing te formaliseer.

Daar is geen twyfel dat ons meer swart pluimveeboere in ’n omvattend getransformeerde pluimveebedryf nodig het nie, net soos ons meer swart invoerders nodig het. Transformasie in eie geledere is ook iets wat AMIE self dringend moet aanspreek.

Verandering is altyd uitdagend, en ons almal weet dit. Wat moet vernuwe, is die manier hoe Suid-Afrika reageer op die uitdaging. Saam kan ons trots Suid-Afrikaans wees, ʼn volk wat saamstaan en met beslistheid en vertroue skouer-aan-skouer die toekoms binnestap.

Of ons kan ons vyande toelaat om ons te verdeel, en die aaklige gevolge dra.

Die pluimveebedryf is op hierdie oomblik besig om, in samewerking met die departement van landbou, bosbou en visserye, die departement van handel en nywerheid en ander belanghebbendes ’n meesterplan vir die bedryf te formuleer. Hierdie is meer as net ’n teoretiese raamwerk, maar ʼn plan om die strategiese deur vir hierdie belangrike bedryf oop te maak na ’n nuwe toekoms waarin ons kan doen, pleks van uitstel.

Agtergrond:

Francois Baird is die stigter van die FairPlay beweging, ʼn niewinsgewende organisasie wat hom beywer vir ’n gelyke speelveld in handel en optree teen roofpraktyke soos storting, om te verseker dat plaaslike produsente wat werk verskaf aan tienduisende Suid-Afrikaanse werkers, in ’n regverdige handelsomgewing met ingevoerde produkte kan meeding.

Die Suid-Afrikaanse hoenderbedryf, wat onlangs weer in ’n onafhanklike studie aangewys is as een van die mededingendste lande in hoenderproduksie ter wêreld, is gewikkel in ’n stryd om lewe en dood teen roofhandelspraktyke wat deur groot uitvoerlande soos Brasilië, die VSA en die EU-lande toegepas word. Die bedryf het by Itac aansoek gedoen dat die maksimumtarief wat deur die WHO toegelaat word (82%) op ingevoerde hoender toegepas word. Itac se besluit word tans afgewag.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Andre C ·

Suksesvolle lande het n pluimveebedryf waar die suksesvolste produsent die produk teen die beste prys kan produseer.Hoekom sal n getransformeerde pluimveebedryf vir Suid-Afrika beter wees ?

Danie ·

Ek stem saam Andre C. Vra ek ook.Transformasie het ‘n vloekwoord in SA geword. Dis onregmatige bevoordeling gebaseer op ras sonder enige belofte van sukses. Behandel alle potensiele rolspelers op dieselfde vlak. Al so keelvol vir die retoriek wat in ons kele afgedruk word

Wonder net ·

Dat daar baie werksgeleenthede in die pluimveebedryf ontsluit kan word is ‘n feit.
Wat is beter: ‘n Paar ontevrede invoerders oor tariewe of meer werksgeleenthede ?
Al die politieke partye het werkskepping hoog op hulle agenda gehad.
Wat my egter keelvol maak is die feit dat alles net oor swart gaan. Swart invoerders en swart produsente. Ons weet mos by nou dat swart nie omgee vir hulle kiesers nie. Al wat tel is selfverryking en dit is die kreteria wat gebruik gaan word om besluite te neem.
Indien die onwaarskynlike gebeur en meer hoender plaaslik geproduseer word gaan armoede wel vir sommiges verlig word. Hulle het werk en kan verdien.
Maar nee, onse regering hou van grants uitdeel want dit jou die kiesers afhanklik van hulle.
Hoop Fair play kry iets reg tot voordeel van almal

Jerry ·

Sterkte Fairplay, julle gaan dit nodig kry, want dit klink na n bietjie te min te laat om nou eers te wil transformeer!

Judge Dredd ·

Wel – miskien moet SA ook meer produseer as wat ons nodig het – dan kan ons ook produkte “dump” teen lae pryse.

Anton ·

Ek eet eerder goedkoop ingevoerde hoender as getransformeerde plaaslike hoender.

Dries du Toit ·

Daardie jakkals is nie net in die hoederhok losgelaat nie maar ook in baie ander bedrywe. Ek is in die mynbou en het geval vir die owerhede se “proudly SA company” al my produkte word in SA vervaardig. Toe na die BRICS ooreenkomste het goedkoop Chinese produkte die land ingestroom en ek kon nie meer kompeteer nie wat gelei het tot die afskaling van personeel totdat ek uiteindelik my deure moes toemaak en sodoende ook die oorsaak was van talle klein besighede, wat afhanklik van my was , se bankritskap

Sê net ·

Die tekstielbedryf het jare gelede ineengestort en baie mense het hul werk verloor a.g.v. goedkoop sub-standaard klere wat van China ingevoer is. Besmette varkvleis wat van Suid-Amerika ingevoer en hier verwerk is, het sterftes a.g.v. Listeriose veroorsaak. As Salmonella besmette hoenders ingevoer word, mag ons sterftes a.g.v. Tifoïedkoors (maagkoors) hê.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.