ʼn Jeugdag vir die Afrikanerkind

Deur: Johnell van Vollenhoven 

Fotografiese versameling van die Anglo-boereoorlogsmuseum, Bloemfontein.

Vandag is 16 Junie 2020. ʼn Dag wat onwillekeurig emosie uitlok. Kwaad, hartseer en frustrasie oor onregte en verdrukking. Dit is ʼn dag waarop ons kan kies om stil te staan om die geskiedenis te herdenk. Die vraag is: Wie se geskiedenis? Ons leef in ʼn wêreld waar geskiedenis misken of gekriminaliseer word en waar minderheidsgroepe uitgekryt word juis oor die handelinge in die verlede wat hulle wil herdenk.

Die geskiedkundige gebeure van 16 Junie 1900 geniet weinig aandag in die hoofstroom. Vandag, 120 jaar gelede, is die verskroeideaardebeleid, wat deur lord Roberts uitgevaardig is, in werking gestel.

Vir die Afrikaner in die geheel, maar veral vir die jeug van hierdie jong volk, was dit ʼn droewige dag. Soveel kinders is misken, uitgehonger, verstoot, afgemaak as barbaars, ʼn minderwaardige mens omdat hulle in die oë van die magtige Brittanje ongeskool was en self, met hul eie hande saam met die ander hande, die grond bewerk het. Vir hierdie kinders was dit ʼn stryd om oorlewing; vir die man op die slagveld het dit om die behoud van sy volk, sy gesin en sy vryheid gegaan. Vir Brittanje was dit bloot ʼn magspel, ʼn gulsige vergryp aan rykdom en later die beskerming van sy ego omdat hy sy teenstander onderskat het.

‘n Groep weeskinders van die Anglo-Boereoorlog. Foto: Verskaf.

Jou hart kan breek vir jou mense wat moes toekyk hoe hul lewe en vryheid in vlamme en rook tot niet gegaan het. Verslae en magteloos moes hulle aanskou hoe bloed, sweet en harde werk verskroei word. Moeders, oupas, oumas en kinders is weggeneem en soos diere in omheinde kampe met min geriewe aangehou om uit te teer en weg te kwyn in ʼn poging om die gees van die Afrikaner te breek.

Konsentrasiekamp. Kamp van lyding. Roukamp.

Daar eenkant, ʼn ent weg van die tente wat ellendig in rye die horison versteur, daar het die hopies vars grond al hoe meer geword. Wanvoeding en siektes, veroorsaak deur die haglike omstandighede wat die Engelse kroon op hulle afgedwing het, het oorgeneem. Daardie grootskaalse vernietiging en uitwissing was ʼn misdaad – gemeet aan die heersende definisie van ʼn misdaad teen die mensdom, was dit miskien nie ʼn misdaad teen die mensdom nie, maar wel ʼn misdaad teen die Afrikaner, teen sy menswees, waardigheid en vryheid.

Ek herdenk Jeugdag. As individu wil ek nie langer dít herdenk wat nie myne is nie. Ek sal ander se geskiedenis nie ontken nie, want ek besef wat die waarde van ware geskiedenis is en ek verstaan dat die onthou van omvattende en akkurate feite onskatbare waarde vir die toekoms inhou, al is dit nie my eie nie.

Daarom herdenk ek vandag, in hartseer en in rou, die Afrikaner se jeug. Ek herdenk elke Lizzy van Zyl wat moes wegteer in ʼn vuilwit tent. Ek herdenk elke laaste familiefoto waarop kinders se gesiggies verskyn wat intussen gesterf het en ek besef dat daardie foto al was wat hul Boereouers van hulle oorgehad het. Ek herdenk elke kind wat moes toekyk hoe ʼn moeder, ʼn ouma en ʼn oupa in ʼn kis in die grond wegsak en wat moes hoor dat ʼn vader nooit van ʼn veldslag sou terugkeer nie.

Die nuwe Sorg-beeld wat by die Irene-kerkhof opgerig is. (Foto: Verskaf)

En dan, dié wat kon, verslae en oorwin, wat moes terugkeer na swart gebrande velde en bouvalle – swart geroet en dreigend het dit daardie verwoestende dag weer laat herleef. Hierdie bouvalle herinner aan mense wat eens daar gewoon het, op daardie stofpaaie geloop het, maar wat nou, in bondels geoffer, deel geword het van die stof wat hierdie land, hul land, bedek.

Jy sien, elke lewe maak saak. Elke stukkie geskiedenis maak saak. Vir my maak hierdie kinders, hul lyding en hul verwaarloosde grafte steeds saak. Die lewe van ons Afrikaanse kinders maak saak – hul reg op identiteit, geleenthede en die vryheid om in ʼn veilige wêreld hul eie heenkome te mag soek en daaraan te mag bou sodat hulle voorspoedig kan wees. Dit is ʼn lewensreg. Dit is ʼn bestaansreg. Dit is ʼn reg wat ek opeis.

Ek is trots op my geskiedenis, al maak baie daarvan seer. Tog put die Afrikaner steeds vasberade moed uit kaal voete wat oor berge kon trek, hande wat ʼn plaas uit wildernis kon skep, geloof wat aan ʼn handjievol ʼn oorwinning kon gee en die opstaan uit krisisse en armoede met helpende hande wat regstaan vir gee.

Ek sal nooit daarvoor om verskoning vra nie. Ek sal nie dít wat my voorouers prysgegee het so misken nie. Ek sal daardie kinders in daardie tente onthou.

Ek vier Jeugdag en ek is nie alleen nie. Midde-in die staat van inperking hou die FAK ʼn geskiedkundige aanlyn konsert wat vandag by die Voortrekkermonument aangebied word. Saam sal ons juig, saam sal ons sing en saam sal ons ons eie jeug en ons eie mense se stryd onthou.

Johnell van Vollenhoven is ʼn skakelbeampte vir Solidariteit.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Michael 1 ·

Daar is niks vir n afrikaanse kind in Suid Afrika nie behalwe diskriminasie toegepas deur die kommuniste en hulle wetgewing die afrikaner sal oorleef en sterker wees as ooit vantevore ons het niks verkeerd gedoen nie en sal ook nie verskoning vra nie,ons sal ons geskiedenis herdenk en respek he vir ander se geskiedenis maar ons sal geen teken van swakheid wys nie.

BoerSonderRoer ·

As jy kinders ken wat uitgesluit word vanwee hul ras in die mediese sektor, kyk gerus na Rominie.

Raadslid ·

Ja, 16 Junie 1976 het niks met die Afrikaner te doen nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.