ʼn Jurie van landsburgers vir die ANC en sy president?

Argieffoto

Deur Jeannette Gnade

Die juriestelsel is in 1969 in Suid-Afrika afgeskaf. Dié stelsel het mettertyd in onbruik geraak en was ook nie verteenwoordigend van alle rasse nie. Dit is gevolglik deur ʼn mate van vooroordeel gekenmerk en ʼn paar keer het regters hulle van ʼn jurie-uitspraak gedistansieer.

In 1991 is daar met ʼn stelsel van leke-assessore in die laerhowe begin om groter gemeenskapsbetrokkenheid aan te moedig, maar of dit ʼn wesenlike bydrae tot die regstelsel gelewer het, is nog nie duidelik nie.

ʼn Paar jaar gelede het hoofregter Mogoeng Mogoeng hom skerp uitgespreek teen ʼn juriestelsel in Suid-Afrika. Hy het daarop gewys dat die opvoedings- en geleerdheidsvlakke in die land hemelsbreed verskil wat dit baie moeilik sou maak om ʼn objektiewe jurie-uitspraak te kry. Daar is ook kulturele aspekte wat drasties van mekaar verskil – met ander woorde, wat vir een groep toelaatbaar is, sou vir ʼn ander groep onaanvaarbaar gewees het.

Die land se hooggeregshowe gebruik dikwels twee assessore in sake van belang en in die appèlhof en grondwethof word sake deur verskeie regters beslis. In die VSA werk die juriestelsel goed, al ontaard dit soms in ʼn sirkus. Daar is egter verskeie appèlmoontlikhede wat sorg dat juries nie in alle gevalle die laaste woord het nie.

Die VSA se opper-appèlhof het die hoogste gesag en die meeste sake waaroor dié regters besin, is wanneer daar ʼn sterk vermoede bestaan dat sekere wette wat tot sekere uitsprake gelei het, in stryd met die Amerikaanse grondwet is. Die VSA se regstelsel is in dié opsig gelyktydig die voog én bewaarder van burgerlike vryhede. In Suid-Afrika vervul die grondwethof die rol van die VSA se opper-appèlhof, hoewel die appèlhof in Bloemfontein steeds die hoogste hof van appèl is.

Die naam van die ANC-president en die Suid-Afrikaanse staatshoof, Jacob Zuma, het al ʼn paar keer in die grondwethof opgeduik. Hy is daaraan skuldig bevind dat hy sy ampseed oortree het deur die Grondwet te minag met die Nkandla-kwessie. Minstens drie opposisiepartye gaan binnekort in dieselfde hof aansoek doen dat hy in ʼn staat van beskuldiging geplaas word. Die president gaan egter voort asof niks in sy pad staan nie en die ANC sterk hom in sy kwaad.

Geleerdes sê die ANC plaas ʼn hoë premie op lojaliteit en sal nie toelaat dat faksie-botsings die party kelder nie. Dit gaan glo nie oor Zuma nie, maar oor die ANC. Nou wonder die man op straat wie die faksievorming en al die ander probleme in die eerste plek veroorsaak het? Dalk is dit nou die aangewese tyd om weer met ʼn juriestelsel in Suid-Afrika te begin sodat landsburgers in die breë die kans kry om ʼn hofbeslissing oor die president en sy party te maak. Sy/hulle skuldigbevinding kan gewaarborg word – en dit “bo alle redelike twyfel” soos die regskenners graag sê.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Eish ·

My logika sê vir my dat hoofregter Mogoeng Mogoeng se reaksie op die voorstel van n juriestelsel vir Suid Afrika, is meer as korrek. Daar gaan n ewige debatvoering wees oor lede se bekwaamheid, agtergrond en politieke affiliasie. Om nie eers te praat van die rassesamestelling nie. Née, bly weg. Indien die instellings van vervolging hul werk na behore doen sal daar nie n probleem wees om no1 te vervolg nie. Jul gaan nie die golf van terminale verkankering van die helhool op die wyse stop nie.

wraggies ·

‘n Jurie hier sal erger wees as ‘n Jerry Springer uitsending.

John ·

Nee wat. Die meneer sal eenvoudig maar net weer toutjies trek en die bestaande stelsel in die kleine herhaal. 24 jaar te laat…

Verwonderd ·

Baie goeie artikel. Na proff Malan se bespreking oor die grondwet en die regstelsel wat ek vandag gelees het, en die skokkende realiteite van manupilasie en dwarsboming. kan ‘n juriestelsel ‘n regstaat afdwing. Ons is mos ‘n geintigreerde samaleweing?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.