ʼn Kabinet om korrupsie uit te sny

Jacques Pauw, die skrywer van The President’s Keepers, by die bekendstelling van die boek in Pretoria (9 November 2017). Foto: ANA

Jacob Zuma het een keer, jare gelede toe hy nog vise-president was en nog voor hy deur Thabo Mbeki afgedank is, vir my en ander joernaliste vir middagete genooi. Ek sal nooit vergeet nie dat Zuma ons baie lank laat wag het terwyl hy hoorbaar in die kamer langsaan gelag en grappies gemaak het.

Ek het die afgelope dag of twee weer daaraan gedink toe ek Zuma se werkswyse tydens sy bewind as staatshoof beskou het. Kyk, Zuma is uitgeslape, indien nie geslepe nie, en sy manier van mense laat wag was maar net ’n ander manier om te sê hy is die belangrikste, dat ander vir hom moet wag. Hy was altyd laat by ANC-byeenkomste, vir kabinetsvergaderings, ens. Hy was, net soos hy die land bestuur het, die belangrikste. Hy het ook nooit om verskoning gevra nie.

Ek het ook weer daaraan gedink toe president Cyril Ramaphosa Maandagaand die aankondiging van sy nuwe Kabinet twee keer moes uitstel. Hy het egter dadelik om verskoning gevra en verduidelik waarom hy dit moes doen.

Nou na die nuwe kabinet. Daar is die afgelope dag baie gepraat en beoordeel oor die vraag of hy ver genoeg gegaan het om die kanker uit die ANC-regering te sny. Die jurie se finale oordeel is nog nie gevel nie, maar daar is algemene ooreenstemming dat daar heelparty lede van die Zuma-kader oorgebly het wat liewer ook die trekpas moes gekry het.

Verlede Sondag het ek na Jacques Pauw, skrywer van die boek The President’s Keepers, by die Adam Small-fees op Pniel in die Wes-Kaap gaan luister. Een ding was duidelik: dat korrupsie so diep gewortel is in die Suid-Afrikaanse gemeenskap dat dit moeilik sal wees om dit uit te sny. Hy wonder selfs of Suid-Afrika se regstelsel die kapasiteit het om dit reg te kry. As voorbeeld het hy onder andere Sam Monyane van die SAID en adv. Shaun (die “skaap”) Abrahams, hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag genoem. Albei het in die onderskeie poste wat hulle beklee, van al die kundigheid in hul organisasies ontslae geraak. Deels was dit om Zuma te beskerm, en deels omdat hulle ontslae wou raak van mense wat te veel van hulle geweet het.

Pauw het gesê hy is nie daarvan oortuig dat daar nuwe kandidate is wat die twee kan vervang indien hulle in die pad gesteek word nie. Syns insiens is die enigste oplossing dat diegene wat voorheen daar was, weer teruggebring word … as hulle nog beskikbaar en gewillig is. (Nie almal is ’n Nene wat as minister van finansies teruggelok kan word nie). Dieselfde geld vir die Gerrie Nels en Adrian Lackeys wat eintlik uit hul onderskeie organisasies gedwing is. Die verdoemende getuienis om misdadigers in die regering te vervolg, is daar, was lankal daar, maar dit is nie gedoen nie.  Gaan dit nou verander? vra Pauw.

Terug na die kabinetskommeling: goed begin is half gewin, sê die spreekwoord. Maar die finale antwoord is nog nie daar nie. Wat gaan Nene en ander doen om die kurruptes wat hulle geërf het, aan die pen te laat ry? Indien dit nie gou gedoen word nie, sal die publiek Ramaphosa nie langer glo nie. Pauw waarsku juis dat daar drie bene in Suid-Afrika is waarop ons demokrasie rus: ʼn vrye pers, ’n waaksame publiek en howe wat tot ’n groot mate nog onafhanklik is. Suid-Afrikaners moet daarteen waak om nie deur die Ramaphosa-charisma gepaai te word en hul veldtog vir reg en geregtigheid laat vaar nie. Dis nou die tyd om so wakker as moontlik te wees.

Een ding is seker: Ramaphosa het uit Zuma se foute geleer. Hy het Dhlamini-Zuma en Bathabile Dlamini in sy kantoor aangestel waar hy ʼn ogie oor hulle kan hou. Zuma weer het Julius Malema uit die ANC gegooi, en kyk waar is Malema nou!

Pauw het ook so ’n bietjie meer oor sy boek vertel. Net ná die vrystelling daarvan, het hy ’n aantal, maar niks meer as wat verwag is nie, verkoop. Toe het die “bright sparks” soos hy hulle noem, by Staatsveilligheid hom begin dreig met regstappe. Dit het die boek se verkope só dramaties laat styg dat die meeste eksemplare van ’n boek in Afrikaans of Engels, nog in Suid-Afrika so verkoop is.

Wat kan ek doen om my boek te laat verban?

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Tienie Fourie

Tienie Fourie is ʼn oud-joernalis wat Suid-Afrika ook as diplomaat in Londen, New York en Wene verteenwoordig het. Hy het ook in Zimbabwe en China gewerk.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Gerhard ·

Ek stel voor skryf ‘n boek oor Ramaphosa se onderduimshede, oo nee wag met hom gaan jy tweede kom.

Paul ·

Tienie, Ramaphosa en sy nuwe kabinet het nog dieselde dag dat die kabinet ingehuldig is daarvoor gastem dat grond/eiendom onteiening sonder vergoeding moet plaasvind. Binne ‘n oogwink is al sy goeie bedoelinge met Gordan en Nene se aastellings tot niet gemaak. Privaat eienaarskap is nou in die hele land in gedrang en dit sal nog vir maande, dalk jare, so voorduur, ons word op ‘n nuwe manier gevange gehou, nie meer deur ‘n korrupte man wat die land gekontamineer het nie, maar deur die swaard van onteiening oor ons koppe.

Dit is nog maar die begin, so waar gaan Ramaphosa se nalatenskap ons heen lei, as dit so begin, wil ek nie die einde aanskou nie, Zuma se nalatenskap sal ‘n vulletjie wees. Kyk Noord-oos.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.