ʼn Kersster vir ʼn verlore generasie

Foto: Pixabay

Net meer as 2 000 jaar gelede het ʼn onmisbare ster in die hemelruim ʼn onmisbare gebeurtenis aangekondig. Die ster van Bethlehem het nie net die drie wyse manne na Jesus se krip gelei nie, maar ook, vir die hele wêreld om te sien, ʼn nuwe era van hoop en betekenis aangekondig.

Oor die jare heen het verskeie sterrekundiges verskillende verduidelikings vir dié ster probeer gee. Daar is teorieë wat meen dat die ster van Bethlehem moontlik ʼn komeet kon wees. Ander teorieë hou weer voor dat die ster moontlik ʼn nova kon wees – ʼn nuwe ster wat gebore word. Die waarskynlikste teorie is egter dat die ster van Bethlehem glad nie ʼn ster was nie, maar eerder ʼn verskynsel van planete. Die ster van Bethlehem is waarskynlik veroorsaak deur die perfekte belyning van die son, aarde, Jupiter en Venus. Hierdie belyning sou die illusie van ʼn superster in die hemelruim skep.

Die drie wyse manne was ook sterrekundiges (of minstens kenners). Hierdie gebeurtenis sou vir die drie wyse manne baie betekenis dra. Siende dat die soort gebeurtenis so skaars is, sou hulle dit sien as teken van hoop en wonder. Hulle het sodoende nie net die skaarsheid van die ster self waardeer nie, maar ook die noemenswaardigheid van die gebeurtenis waarheen die ster hulle gelei het.

Op 21 Desember vanjaar het ons iets soortgelyks beleef. Jupiter en Saturnus was die naaste aan mekaar in 800 jaar. Die twee planete wat so na aan mekaar is, verskyn as ʼn buitengewone helder ster in die hemelruim. ʼn Konjunksie soos hierdie een is in 1226 laas met die blote oog gesien. So ʼn gebeurtenis sal ook eers weer 800 jaar van nou af herhaal word.

Sekularisasie van die Weste

Groot dele van die Weste het oor die afgelope dekades drasties gesekulariseerd geraak. Die kerk as groot en deurslaggewende rolspeler het veral sy invloed verloor. Saam met die afname van die kerk se invloed het verskeie state en mense ook weggedraai van geloof.

Christenskap veral het hieronder gely. In die sekulêre dele van die Weste is geloof ten beste gereduseer tot ʼn bysaak. Dit is iets wat dalk nog oulik is om te beoefen of teoreties te ondersteun, maar het geen daadwerklike impak op mense se lewens nie. Dit is veral waar van millenniërs wat grootgeword het met die boodskap dat geloof nie noodwendig so belangrik is nie.

In ʼn toenemend individualistiese, materialistiese en sekulêre Weste is die nuwe generasie geleer dat sukses, geluk en betekenis hierin gevind word. Geloof is nie noodwendig sleg nie, maar dit is werklik ook nie noodwendig nodig nie. Dit is nie nodig om aan iets groter, meer tydloos en transendentaal gebind te wees nie. Die ewige nou, soos wat die groot liberale denker Thomas Paine dit beskryf het, is belangrik. Die hede en sake van hiérdie wêreld is belangrik – niks anders nie.

Gevolge van sekularisasie

Saam met die grootskaalse verwerping van geloof as iets betekenisvol is die geestelike geveg tussen die goeie en die bose ook verwerp. Die idee van ʼn geveg groter as hierdie wêreld en hede is ook verwerp. Skielik is die groter geestelike geveg wat oor eeue heen strek van ʼn hele generasie ontneem.

Tog is hierdie soeke na ʼn groter geveg inherent deel van die menslike wese. Die verlange om betekenis in iets groter as net hierdie wêreld te vind, is onlosmaaklik deel van die mens. ʼn Lewe waarin mense net van hierdie wêreld en vir hierdie wêreld leef, en nie aan iets groter gekoppel is nie, is leeg.

Hoewel hierdie generasie geloof verwerp het, kon hulle dus nie van die soeke na iets groter ontslae raak nie. Sodoende het ʼn hele verlore generasie ontstaan – ʼn generasie op soek na iets meer, maar ʼn generasie wat nie weet waar om dit te vind nie.

Sodoende soek hulle groter betekenis in enige geveg wat homself voordoen. Enige kwessie van hierdie wêreld word skielik opgehemel tot iets tydloos en transendentaal – wat dit nie is nie. Kwessies soos aardsverwarming, Black Lives Matter en ander gevegte om sosiale geregtigheid word opgehemel tot die groot eksistensiële gevegte van ons tyd. Nie omdat dit is nie, maar eerder omdat ʼn hele generasie hulle soeke na dieper vervulling op iets moet projekteer. Sodoende omskep hulle al hierdie aardse gevegte in transendentale gevegte tussen goed en sleg. Dit verduidelik ook waarom dié generasie so militant vasklou aan sake wat nie noodwendig so deurslaggewend is nie. Daar waar hulle ook al kan, probeer hulle hierdie stryd tussen goed en boos veg.

Covid-19 as dié groot geveg

Die koms van Covid-19 het byna ʼn perfekte oplossing vir hierdie onvervulde generasie gebied. Dit is ʼn groot saak wat die hele wêreld gelyk affekteer en ook ʼn gevaar inhou – die perfekte geleentheid om dié eksistensiële geveg van ons tyd te veg. Die perfekte geleentheid om betekenis te vind.

Daarom was daar aan die begin van die jaar amper ʼn stille opgewondenheid oor Covid-19. Nie omdat enige iemand die gevolge en impak van die virus minag nie. Eerder omdat Covid-19 omvorm sou word in die groot geveg tussen boos en goed.

In die individualistiese, sekulêre Weste vind hierdie geveg egter nie vanuit ʼn (geloofs)gemeenskap plaas nie. Met die individu en staat as belangrikste rolspelers vir die sekulêre Weste is die geveg só geveg. Met die dryfkrag van ʼn klomp ongebonde individue en deur die mag van die staat.

Tog het Covid-19 nie die vervulling gebied wat verlang is nie.

Die antwoord

Foto: NASA/Bill Ingalls

Die een ding wat die verlore generasie geleer het, is dat ʼn groter geveg nie werklike saak maak as ʼn mens nie aan iets gebind is nie. Die geestelike geveg tussen goed en boos strek oor eeue heen. Dit is presies dieselfde geveg wat telkens in verskillende vorme vergestalt. Dit bind die eerste mense op aarde met die heel laaste mense op aarde – bloot omdat hulle met presies dieselfde geveg in presies dieselfde geloofsgemeenskap besig is.

Gevegte van hiérdie wêreld, geveg deur ʼn klomp ongebonde individue, bied bloot nie dieselfde nie.  Dit bied nie die tydlose gewigtigheid en verbintenis van ʼn geestelike geveg deur ʼn geloofsgemeenskap nie – dus is die roepingsbesef, groter saak en gewigtigheid wat gesoek word uiteindelik afwesig. Juis omdat aardse kwessies nie die ewigdurende verbintenis aan die verlede en toekoms het wat geloofskwessies het nie. Kwessies van hierdie aarde is tot die diepte van hierdie aarde beperk. Dit beloof onsterflike betekenisvolheid, maar skiet liederlik tekort in die feilbaarheid van dié wêreld.

In hierdie jaar waarin die verlore generasie se soeke na betekenis ʼn hoogtepunt bereik het, is dit eintlik ironies dat die antwoord op hulle verlorendheid reg voor ons oë is.

Vanjaar – vir die eerste keer in 800 jaar – ontvang ons oor Kerstyd ʼn “Kersster”. ʼn Antwoord op die verlore generasie wat in geestelike verlorendheid rigting op hierdie aarde en van hierdie wêreld soek.

ʼn Ster wat herinner dat ons ook verbind is aan die ewige verlede en ewige toekoms, mits ons kies om te wees. ʼn Ster wat ons herinner dat hierdie wêreld tydelik en feilbaar is. ʼn Ster wat ons herinner dat hierdie feilbaarheid oorkom kan word deur jouself aan die ewigheid van geloof in Christus te verbind. ʼn Ster wat herinner dat betekenis nie in aardse gekibbel gevind word nie, maar in die geestelike geveg tussen die goeie en die bose. ʼn Ster wat herinner dat hoop vir ewig in die hemelruim sal wees, mits ʼn mens bereid is om te kyk. ʼn Ster wat herinner dat ʼn mens net verlore is in soverre jy nie die ewige Wegwyser wil raaksien nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.