ʼn Kind en sy woef, ʼn splinternuwe mamma en ʼn gemeenskap wat omgee

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media Foto: Noeleen Foster

Danksy ʼn gemeenskap wat saamstaan, kan ʼn 14-jarige seun van Krugersdorp binnekort sy geliefde hond en beste vriend saamneem wanneer die gesin Nieu-Seeland toe emigreer.

Die Sondagkoerant Rapport het verlede week berig oor Ethan Martins wat allerlei planne maak om geld in te samel sodat hy sy woef, Leo, ʼn Jack Russel-kruising, kan saamneem wanneer hulle binnekort Auckland toe trek.

Die R40 000 wat nodig is om Leo saam te neem, was vir die gesin onhaalbaar, en Ethan het soos ʼn ware entrepreneur besluit om self planne te maak: Hy het oor naweke begin om sy pa by sy heuningstalletjie op vlooimarkte uit te help en het veeldoelige wasgoedpennetjies van herwinde materiaal begin verkoop. Voor Leo sowat ʼn jaar gelede deel van die Martins-gesin geword het, was hy ʼn verwaarloosde, wangevoede hondjie van Maraisburg in Roodepoort. Deesdae is hy en Ethan onafskeidbaar. Die gedagte dat Leo weer ʼn nuwe huis moet kry, was vir Ethan ondenkbaar.

Om vir Ethan te help, het sy ouers ʼn skarefinansieringsinisiatief op die Go Get Funding-webtuiste gestig waar mense hom finansieel kon ondersteun.

Maroela Media het Dinsdagoggend Ethan en Leo se storie met die Maroela Media-gemeenskap gedeel. In daardie stadium was daar sowat R20 000 se bydraes in die Go Get Funding-rekening.

Binne twee ure nadat Maroela Media se storie gepubliseer is, is die volle bedrag van R40 000 ingesamel. Tans staan die rekening op R42 800, met nog 82 dae voor die sperdatum vir die fondsinsameling sou verstryk.

Dís die krag van ʼn gemeenskap.

Ek kry trane in my oë terwyl ek deur die bedrae en kommentaar op Ethan se Go Get Funding-profiel lees. Hier en daar het iemand groot bedrae soos R500 of selfs R7 500 gegee, en ʼn paar bedrae is weggesteek. Maar die meeste bedrae is klein: R200, R100, heelwat R50’e, en selfs R20. ʼn Lang rits bydraes wat uiteindelik sal seker maak dat Ethan se beste vriend naby is wanneer sy verlange na sy mensevriende te veel raak.

“Leo gaan saam – finish en klaar!” skryf een bydraer.

“I pray and trust that your best friend will be joining you! God bless you for your loyalty and commitment,” skryf ʼn ander.

“Sterkte, ou seun,” skryf nog ʼn ondersteuner. “Mag jy en jou vriendjie Leo, en jou gesin, nog baie geluk, voorspoed en liefde ervaar – al is dit daar ver in ʼn vreemde land.”

Dis Sondag Moedersdag, en die Maroela-span het die afgelope twee weke op nog ʼn manier die wonder van ʼn gemeenskap beleef. Sanet Nel, ʼn ma van Boksburg, is as die wenner van Maroela Media se Moedersdagmooimaak-kompetisie aangewys, en vir haar prys ter waarde van R32 000 het sy voorkomskonsultasies, klere, spabehandelings, mooimaaksessies, ʼn fotosessie en akkommodasie gewen. Maar dis nie die waarde van die prys wat dit besonders maak nie. Dis die manier hoe elkeen wat ʼn prys geborg het, as ‘t ware dit wat sy in haar hande gehad het om mee te werk, gebruik het om een vrou se lewe te verander, en veel meer gegee het as wat van haar gevra is. Carina Nel, die voorkomskonsultant, het ná die tyd aangebied om by Sanet se huis te gaan kuier en saam met haar te kyk na alles in haar klerekas; Anita Baatjies van Hair at the Hub het, saam met Sanet se nuwe haarstyl, vir haar ʼn hele jaar se haarstilering gegee. Maar die mooiste van alles was waarskynlik nie Sanet se nuwe uiterlike voorkoms nie, maar die innerlike selfvertroue en skoonheid wat sy uitgestraal het nadat sy vir twee dae lank by ander vroue komplimente, raad en bevestiging van wie sy is, gekry het.

In ʼn era van tegnologie en sosiale media, en waar ons ons self hier in SA dikwels agter slot, grendel en alarmstelsels isoleer, raak ons partykeer ʼn bietjie verlore, nes Leo daar in Maraisburg. Omdat ons nie elke dag fisiek deel is van ʼn gemeenskap waar ons kan ontspan en tuis kan wees nie, vergeet ons soms dat hulle steeds om ons is. Ons gemeenskap lyk dalk nou anders as 20 jaar gelede, maar dis nog steeds dieselfde mense: Dis die tannie in die straat wat op Facebook spog met die lekker koekies wat sy bak en verkoop; die onbekende Maroela-leser wie se naam jy nou al in die kommentaar-afdeling leer ken het en wat jy elke oggend vriendelik groet wanneer julle saam op die eerste storie kommentaar lewer; die skoolma’s op die WhatsApp-groepies wat jou soms teen die mure uitdryf, maar wat ook eerste daar is om te help en raad te gee as jou kind in die middel van die eksamen sy arm breek.

Ons is deel van ʼn gemeenskap – ʼn Afrikaanse gemeenskap, al sien ons hulle nie elke dag om ons nie. In hierdie gemeenskap, soos in enige ander gemeenskap, het ons ʼn verantwoordelikheid en ʼn reg. Ons reg is om te mag deel voel van dié gemeenskap. Ons verantwoordelikheid is om te kyk wat in ons hande is, en dit te gebruik waar dit nodig is, binne én buite hierdie gemeenskap: Of dit nou is om iemand anders se naels te verf, om sop te maak en dit uit te deel, of om R20 te gee sodat ʼn seun se hond saam met hom na ʼn vreemde land kan trek.

Dankie dat jy deel is van die Maroela Media-gemeenskap.

Groetnis

Susan Lombaard
Uitvoerende hoof: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Annie Webb ·

So ‘n Afrikaanse gemeenskap soos Maroela was bitter nodig, daarom is dit só suksesvol. En laat ons nou maar eerlik wees: die Hand aan die stuur hier werk soos gewoonlik deur mensehande maar kan nooit misgekyk word nie. Dankie en sterkte, Susan en span!

WIEBO ·

Dis n plesier om deel te wees van Maroela! Baie baie dankie vir almal wat n bydrae gemaak het vir Leo!! en baie dankie vir als Susan en dankie vir almal by Maroela!!!

Andreas ·

Susan, jammer dat ek nou en dan te hard blaf, by tye as ander nog slaap, maar ek kan ook nie help as die hadida my vroegoggend ontstig nie.

Stephan de S ·

n Mens besef nie aldag die voordele daarvan om aan n gemeenskap te behoort nie en dat daar mense hard agter die skerms werk om hd gemeenskap uit te bou, te stimuleer , , te koester en in stand te hou nie. Teen hd agtergrond, baie dankie Susan en al jou medewerkers vir julle opofferings …….mag jul gereeld insig kry in die vrug op jul arbeid.

Johan Oosthuizen ·

Susan, jy skryf oor een van die mooiste en kosbaarste eienskappe wat daar onder ons mense besig is om te groei. Ons is daar vir mekaar. Dit bring geluk. Ek dink dis Gibran wat gesê het: Liefde (gee) verbly die hart van die ontvanger en verruim die hart van die gewer. Iets in der voege. Ons het ook al uit Maroela se gee-hand ontvang en ons vreugde was groot toe ons hier by die kinders in Nederland aankom en sien dat die tweede stel koffiebekers wat ons (per abuis?) gekry en aan hulle gegee het, gebruik word. Ja, dis van GEE dat ons so baie het. As ons ophou gee waar ons kan en dit nodig is, al is dit vir ‘n seun en sy hond, sal armoede op ons toeslaan.

humor ·

Ja dit is voorwaar besonderse verhaal wat die hegte verbintenis tussen die kind en sy woef bevestig en ook dan die reaksie van die gemeenskap.In die harde boerewereld is ek egter anders opgevoed en so het ek ook my eie kinders begelei. Waar dit nie moontlik is nie moet die kind ook begelei word tot aanvaarding. Dit kweek eenvoudig n meer volwasse en standvastige perssonlikheid wat waardevoller is as om gedurig toe te gee en sy sin te laat kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.