ʼn Kort geskiedenis van die reg op selfbeskikking

Deur Ryan McMaken

John Trumbull se skildery “Declaration of Independence” beeld die opstelkomitee van die Amerikaanse verklaring van onafhanklikheid uit wat hul werk aan die Kongres voorlê. (Foto: US Capitol)

In sy 1927-boek Liberalism het die radikale klassieke liberalis en ekonoom Ludwig von Mises ʼn streng en uitgebreide siening ten gunste van afstigting ingeneem. Hy het spesifiek opgemerk dat respek vir die reg van selfbeskikking van bestaande state vereis om die skeiding van nuwe politieke eenhede, wat afstigting soek, moontlik te maak.

Hy skryf:

“Die reg van selfbeskikking met betrekking tot die kwessie van lidmaatskap in ʼn staat beteken dus: wanneer die inwoners van ʼn bepaalde gebied, hetsy dit ʼn enkele dorpie, ʼn hele distrik of ʼn reeks aangrensende distrikte is, dit bekend maak, deur middel van ʼn vry geleide volksraadpleging, dat hulle nie langer verenig wil bly met die staat waaraan hulle destyds behoort nie, maar óf ʼn onafhanklike staat wil vorm óf hulself aan ʼn ander staat wil verbind, hul wense gerespekteer en nagekom moet word.”

Waar kom Mises aan hierdie idee van selfbeskikking? Hy het natuurlik nie die idee uitgedink nie, maar het op daardie tydstip, waarskynlik in die laat negentiende en vroeë twintigste eeue, gebruik gemaak van denkstrome wat lewendig was in Europa.

Oorsprong in die Amerikaanse Revolusie

Die konsep van selfbeskikking – al was dit nie die frase nie – was reeds bekend as die dryfkrag agter die Amerikaanse revolusionêre toe die kolonies in die 1770’s van die Britse Ryk afgestig het.

Die historikus David Armitage beskryf die Verenigde State se oorlog vir onafhanklikheid as in wese die praktiese en politieke beginpunt vir moderne idees van selfbeskikking. Terwyl die filosofiese wortels van selfbeskikking dikwels aan Immanuel Kant toegeskryf word, is die prototipe vir ʼn werklike afstigtingsbeweging hoofsaaklik te vinde in die Amerikaanse onafhanklikheidsoorlog.

Ludwig von Mises (1881 – 1973) (Argieffoto)

Armitage skryf: “Die idee dat ‘een volk’ dit dalk ‘nodig’ sou vind om sy bande met ʼn groter staat te ontbind – dit wil sê dat dit wettiglik kan probeer om af te stig – was byna heeltemal ongekend en skaars aanvaar ten tyde van die Amerikaanse Revolusie.”

Die sukses van die Verenigde State in die handhawing van ʼn reg van selfbeskikking het soortgelyke bewegings in Europa en Latyns-Amerika uitgelok in die dekades na Amerikaanse onafhanklikheid. Armitage merk byvoorbeeld op dat “taal vir selfbeskikking” wat in die onafhanklikheidsverklaring gevind word, herhaaldelik in Latyns-Amerikaanse, Europese en Asiatiese bewegings sou verskyn wat politieke onafhanklikheid soek.

Die idee versprei na Europa

In Europa het die konsep goed voortgeleef in Mises se tyd.

Selfbeskikking was byvoorbeeld ʼn sentrale tema in Pole se stryd in 1794 om ten volle van die Pruisiese, Oostenrykse en Russiese state te skei. Pole se voorste separatis was Tadeusz Kościuszko, was tydens die Amerikaanse Revolusie ʼn offisier was in die Kontinentale Leër en ook redelik vertroud was met die Onafhanklikheidsverklaring.

Soos Victor Kattan opmerk, het Kościuszko aangedring op selfbeskikking lank voordat die konsep die algemene leksikon in Europa betree het en “het onopsetlik nasionale selfbeskikking voorgeskryf en vooruitgewys soos dit meer as ʼn eeu later bekend sou word.”1

Mises, wat goed vertroud was met die Poolse geskiedenis, was waarskynlik bewus hiervan. Mises sou selfs meer vertroud wees met die gevegte oor selfbeskikking wat ʼn generasie voor sy geboorte oor Habsburg-lande gewoed het. Die belangrikste hiervan was Hongarye se poging om van die Oostenrykse Ryk af te stig in 1848. Die Oostenrykse kroon het uiteindelik die Hongaarse separatiste verslaan (en ʼn militêre diktatuur tot 1867 ingestel), maar oproepe om selfbeskikking in sakke regoor Europa het skaars verdwyn.

“Oorname van die Warskou-arsenaal” deur Marcin Zaleski. Hierdie gebeurtenis het aanleiding gegee tot die November-opstand (1830–31), ‘n gewapende rebellie in die hartland van die verdeelde Pole teen die Russiese Ryk. (Foto: Wikipedia)

Teen die 1870’s blyk die frase “selfbeskikking” al hoe meer algemeen te wees – veral in die Duitse taal. Jörg Fisch skryf byvoorbeeld dat die frase in 1865 voorkom in die woorde van die historikus Theodor Mommsen, wat verwys na die “selfbeskikkingsreg van die Schlewsig-Holsteinse [sic] mense.”2 Dieselfde frase (“selbstbestimmungsrecht”) verskyn onder Tsjeggiese parlementslede van die Oostenrykse Keiserlike Raad in 1870. Dit word ook gevind in Franse geskrifte (as “droit des peuples de disposer d’eux-mêmes”) ten minste so vroeg as 1862.3

In Liberalism beklemtoon Mises uitdruklik die onafhanklikheidspogings van Pole, “die Duitsers in Sleeswyk-Holstein [en] die Slawiërs in die Hapsburgse Ryk” in sy uitsprake oor afstigting en selfbeskikking.

Soos met ander liberale konsepte – soos klassiek-liberale uitbuitingsteorie – gebeur het, het die Marxiste later die liberale konsep van selfbeskikking in die laat negentiende eeu gekoöpteer en misbruik. Ersatz liberale in Amerika het dieselfde gedoen. Teen die vroeë twintigste eeu was selfbeskikking ʼn frase wat dikwels deur mense soos Lenin en Woodrow Wilson gebruik is – nie een van hulle was natuurlik Jeffersoniese liberale nie. Lenin het die term in diens van Sowjet-propaganda teen die beweerde reaksionêre state van Europa gebruik. Wilson het dit gebruik om die seëvierende geallieerdes te help om Oostenryk en Duitsland daarna te ontbind in 1918.

Die Verenigde Nasies en selfbeskikking

Selfs ten spyte van dit alles het die kern van die idee van selfbeskikking behoue gebly, ten minste in die algemene toepassing daarvan.

Die Verenigde Nasies se handves – skaars ʼn uitdrukking van Mises se ideale – lys ʼn reg van selfbeskikking uitdruklik onder die basiese regte wat dit opsom. Die presiese betekenis van die selfbeskikkingstaal is egter lank reeds betwis. Toe die handves in 1945 aanvaar is, was koloniale moondhede soos Brittanje en Frankryk huiwerig om enige breë interpretasie van die konsep van selfbeskikking goed te keur.

Winston Churchill het, na jare se veroordeling van Duitsers vir die skending van selfbeskikkingsregte in Europa, daarop aangedring dat die konsep nie op Afrikane van toepassing is nie. Uiteindelik het baie kolonies egter daarin geslaag om die VN-handves se woorde oor selfbeskikking te gebruik om afskeiding van die koloniale magte te regverdig.

In reaksie daarop het baie VN-lidlande daarop aangedring dat selfbeskikking via “eensydige afstigting” slegs van toepassing is op koloniale onderdane van ʼn ooglopende aard – dit wil sê mense in plekke soos Kenia en Nigerië. “Nie-koloniale” onderdane, het die denke gegaan, het nie dieselfde regte van afstigting en selfbeskikking gehad nie.

Die basis vir hierdie onderskeid tussen koloniale en nie-koloniale afstigting was egter nog altyd duister, grootliks omdat daar geen onbetwiste definisie is van watter streke of bevolkings “koloniaal” van aard is nie. Die definisie van hierdie status het soms so arbitrêr geword dat een maatstaf was of die kolonie en die koloniale mag deur ʼn soutwatermassa geskei word of nie. Dit ontsê gerieflikheidshalwe Australiese inboorlinge, Noord-Amerikaanse Indiane en Siberiese inboorlinge die reg van selfbeskikking.

Lidstate van die VN het boonop gereeld daarop aangedring dat selfbeskikking slegs as “remediërende selfbeskikking” aangeroep kan word in gevalle van groot skendings van menseregte soos volksmoord. Dit wil sê, afstigting kan slegs gebruik word as ʼn remedie vir regteskendings in extremis.

Sedert die 1940’s het die konsep van selfbeskikking in die internasionale reg verbreed – hoewel nie naastenby tot Mises se interpretasie nie.

Byvoorbeeld, die VN se 1970-verklaring oor beginsels van internasionale reg rakende vriendskaplike betrekkinge en samewerking tussen state brei selfbeskikking uitdruklik verder as koloniale onderdane. Die verklaring lys koloniale onderwerping as ʼn regverdiging vir afstigting, maar dit impliseer ook sterk dat state slegs legitiem is wanneer hulle optree in ooreenstemming met die beginsel van gelyke regte en selfbeskikking van mense, en dus besit van ʼn regering wat die geheel verteenwoordig, sonder onderskeid ten opsigte van ras, geloof of kleur.

ʼn Noukeurige lees van hierdie afdeling lei tot die gevolgtrekking dat daardie state wat die steun van “die hele volk” verloor – hetsy in ʼn koloniale verhouding of andersins – politieke weerstand legitimeer wat die staat kan “onttakel”.

Volgens Glen Anderson se siening verteenwoordig hierdie verandering ʼn voortgesette neiging na meer uitgebreide “eensydige nie-koloniale afstigting”.4 Boonop kan die taal van die verklaring verder die deur oopmaak vir die legitimering van die gebruik van afstigting om regteskendings “in moderato” aan te spreek.

Dit wil sê, internasionale regsdiskoers erken toenemend dat afstigting nie net deur oorlogsmisdade en volksmoord geregverdig hoef te word nie. Deur hierdie denke is herhaalde dade van “diskriminasie” teen ʼn politieke of etniese minderheid voldoende om afstigting te regverdig.

ʼn Individuele reg

Natuurlik het geen van hierdie interpretasies deur internasionale regskenners of VN-amptenare enige invloed op die vraag of selfbeskikking eintlik ʼn reg is of nie. Volgens liberale soos Thomas Jefferson en sy ideologiese afstammelinge in Pole, Hongarye en elders is ʼn reg op selfbeskikking en afstigting vanselfsprekend, ongeag wat magtige state en hul agente mag sê. Boonop is Mises versigtig om te verduidelik dat die reg op selfbeskikking ʼn individuele reg is. Dit moet nie gedefinieer word as “ʼn reg van volke” of “van nasies” soos dit algemeen verstaan word onder die tipe mense wat vir die VN werk nie.

In die praktyk berus suksesvolle afstigting egter dikwels op groot sosiale bewegings wat kollektiewe optrede vereis. Soos Allen Buchanan opgemerk het, beteken die feit dat afstigtingsbewegings dikwels deur groepe mense teweeggebring word nie noodwendig dat afstigting nié ʼn individuele reg is nie. John Locke se reg van rewolusie val ook in hierdie kategorie. Dit is ʼn individuele reg wat gewoonlik deur groepe uitgeoefen word. Jefferson – duidelik onder die invloed van Locke – het in die onafhanklikheidsverklaring geskryf dat “een volk” die reg het om “die politieke bande te ontbind” tussen politieke eenhede, maar dit sou ʼn fout wees om hierdie reg wat vir “die mense” gereserveer is, vaag gedefinieer te interpreteer.

Eerder, soos Buchanan dit beskryf: “Die slegs-remediërende-reg-benadering tot die reg om af te stig kan gesien word as ʼn waardevolle aanvulling tot die Lockeaanse benadering tot die reg op revolusie wat as ʼn remediërende reg verstaan word.”5 Buchanan stel voor dat beide revolusie en afstigting “verstaan moet word as die reg van persone onderworpe aan ʼn politieke gesag om hulself teen ernstige onregte te verdedig”.6

Wat “ernstige onregte” is, bly natuurlik ʼn kwessie van debat, asook die “aanvaarbare” manier om hierdie skeiding te verkry en af te dwing. Die Misesiaanse benadering sou wees wat Buchanan die “pure plebiscite theory” noem van die reg om af te stig.7 Volgens Buchanan stel die teorie voor dat “enige groep wat ʼn meerderheid (of in sommige gevalle ʼn aansienlike meerderheid) ten gunste van afstigting binne ʼn deel van die staat kan vorm, die reg het om af te stig.”8

Hierdie benadering is inderdaad gebruik om politieke steun en legitimiteit vir sesessiebewegings te vestig. Moderne voorbeelde sluit in Ysland in 1944, Malta in 1964 en Slowenië in 1990. Tog word volksraadplegings nie altyd gebruik nie, soos die voorbeeld van die Amerikaanse Revolusie duidelik maak.

ʼn Nalatenskap van die radikale liberale

In die een-en-twintigste eeu is die feit dat die reg op selfbeskikking hoegenaamd erken word, te danke aan die werk van radikale liberale van die agtiende en negentiende eeue. Dit was hulle wat in teorie en praktyk vasgestel het dat dit beide moreel en teoreties goed is om state in kleiner stukke op te breek indien die staat se onderdane (dit wil sê slagoffers) dit wenslik vind. Nogtans is daar nog baie werk om te doen, soos die geskiedenis van die twintigste eeu toon.

Wat duidelik is, is dat die behoorlike toepassing van die selfbeskikkingsreg in dispuut bly. Daar is geen ooreenkoms oor hoeveel misbruike in die hande van state verduur moet word voordat ʼn regstellende reg van afstigting ingeroep kan word nie. Daar is geen ooreenkoms oor die manier waarop openbare steun vir afstigting beweer kan word nie. Daar is ook nie eenstemmigheid oor wat koloniale onderwerping uitmaak nie.

Wat egter nie in dispuut is nie, is dat ʼn reg op selfbeskikking via afstigting bestaan en dat die huidige grense van die wêreld se soewereine state nóg heilig nóg ewigdurend is. Die meer radikale liberale soos Jefferson en Mises het die reg van selfbeskikking histories baie meer uitgestrek as moderne hoofstroom sosiaal-demokratiese teoretici. Hierdie laasgenoemde teoretici is geneig om slegs teësinnig ʼn reg op afstigting te aanvaar vir mense wat verregaande oorlogsmisdade ly.

Ongelukkig beteken hierdie posisie in wese dat die reg van selfbeskikking vir slagoffers van regime-diskriminasie en -mishandeling nie erken word nie, solank die staat se misdade tekort skiet aan volstrekte volksmoord, slawerny en soortgelyke misdade.

Bronne

  1. Victor Kattan, “To Consent or Revolt? European Public Law, the Three Partitions of Poland (1772, 1793, and 1795) and the Birth of National Self-Determination,” Journal of the History of International Law 17, no. 2 (Augustus 2017): 287–81.
  2. Jörg Fisch, A History of the Self-Determination of Peoples: The Domestication of an Illusion, New York: Cambridge University Press, 2015, 118.
  3. Ibid.
  4. Glen Anderson, “ʼn Post-millennial Enquiry into the United Nations Law of Self-Determination: A Right to Unilateral Non-kolonial Secession?”, Vanderbilt Journal of Transnational Law 49, no. 5, (November 2016): 1183–254, esp. 1216–17.
  5. Allen Buchanan, “Theories of Secession,” Philosophy and Public Affairs 26, no. 1 (Januarie 1997): 31–61, esp. 36.
  6. Ibid.
  7. Ibid., 39.
  8. Ibid.
  • Ryan McMaken is uitvoerende redakteur van Mises Wire.

Hierdie artikel is met vergunning van Mises Wire gepubliseer.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

annie ·

Ons moes in 1994 vir daai reg opgekom het en daar was sprake maar baie boere (wat hul grond liefgehad het bo alles) en volksleiers het dit afgemaak as waansin. Vandag is dit ‘n onbegonne taak met die mengelmoes van volke en rasse wat woon waar die Republikeine glo hul penne wil inslaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.