‘n Koue skouer in ‘n warm tyd – waarmee is ons nou eintlik besig?

Ons vriend Chris Conradie is onlangs begrawe. Chris was 23 jaar oud toe hy redeloos by Diepsloot deur die bors geskiet is. Die koerant het hom beskryf as ’n samaritaan wat sy lewe daaraan gewy het om sy naaste te help. Die tragiese ironie is dat sy hulpvaardigheid uiteindelik tot sy dood gelei het. Dit is ’n akkurate beskrywing van ons vriend, maar Chris het soveel ander waardes ook uitgeleef wat nie in een berig genoem kan word nie.

Ons kan daagliks die koerant oopslaan om die nuutste misdaad-stories te lees. Mens raak vinnig afgestomp vir sulke stories. Om vandag te lees van ’n moord op een plek is verskriklik. Om môre van ’n soortgelyke moord op ’n ander plek te lees is alreeds bietjie minder erg. Elke nou en dan word jy terug aarde toe geruk. Dit gebeur wanneer jy die koerant oopslaan om ’n foto van jou vriend of familielid te sien.

“Wat moet ons doen?” vra iemand by die oop graf. “Ons praat nou al vir so lank so hard, maar hierdie regering luister net eenvoudig nie! Hoekom Chris? Hoekom iemand wat sy lewe daaraan gewy het om sy naaste te dien en die land ’n beter plek te maak?”

Dit was ’n stil rit terug Pretoria toe. Miskien is dit tevergeefs. Miskien help dit nie om aan te hou praat nie. Wat is die doel daarvan om teen ’n stelsel te baklei wat oënskynlik nie in staat is om sy burgers te beskerm nie, wat nie die politieke wil het om die misdaadkrisis aan te spreek nie, wat voortgaan om my tot ’n tweedeklas burger te degradeer? ’n Mens vra maar sulke vrae as jy deur ’n moord geruk word.

Na ’n dag van innerlike konflik kom ek tot ’n gevolgtrekking.

Geen aktivis het ooit die luuksheid van ’n empatiese oor nie. As dít die geval was sou dit in die eerste plek nie nodig gewees het om aktivisties te wees nie. Die vraag of ’n aktivis sy tyd mors kan nie beantwoord word deur te bepaal hoe tegemoetkomend die regering is nie. Die grootste aktiviste in die geskiedenis was juis dié wat die koudste skouers in die warmste tye ontvang het. Die toets moet eerder wees waarmee daardie aktivis hom- of haarself besig hou. Belangriker – of die persoon daarin slaag om mense te aktiveer. Die toets is moeilik. Die grootste beproewing in ’n aktivis se lewe ontstaan op daardie oomblik wanneer die gevoel van magteloosheid en die besef van verstotenheid aansluit by die vraag: “Waarmee is ons nou eintlik besig?”

As die ANC in 1962, met die gevangenissetting van Nelson Mandela die skouers opgetrek het, sou Mandela steeds op Robbeneiland gesit het. As Roosevelt in 1941, met die aanval op Pearl Harbor in sy dop getrek het, sou die VSA nie ontwikkel het tot dit wat ons vandag ken nie. As Joubert in 1881, met die slag van Majuba die hasepad gekies het toe Brittanje die berg beset het, sou die oorlog nie gewen word nie. Die lys gaan aan.

Wanneer ons dus standpunt inneem vir dit waarin ons glo, word die impak van ons optrede nie noodwendig bepaal deur die reaksie van die instansie waarop dit gerig is nie, maar op die vraag of ons daarin slaag om mense te mobiliseer om saam te staan en tot aksie oor te gaan.

Die tipe aksie wat ons nou benodig is dat mense hul tyd en energie daaraan moet spandeer om twee dinge te doen. Ons moet entoesiasties standpunt inneem vir die beskerming van ons regte, wat die reg op veiligheid en kulturele vryheid insluit. Dit sluit die beskerming van bestaande instellings soos ons goeie onderwysinstellings in. Terselfdertyd moet ons die tyd en energie wat tot ons beskikking is benut deur nuwe selfdoen-instellings te skep – volhoubare instellings wat sal help om ’n toekoms te skep. Hierdie tweeledige strategie is die strategie waarmee AfriForum hulleself deesdae besig hou.

Wanneer ons dus debatteer, word ons sukses nie gemeet aan of die persoon met wie debatteer van ons standpunt oortuig word nie, maar eerder of diegene wat na die debat luister hulleself laat aktiveer. Terselfdertyd praat ons nie net met diegene wat geaktiveer word nie, maar met die samelewing in geheel, asook die internasionale gemeenskap.

En so, na ’n lang dag van interne konflik skakel ek die televisie aan om op die laataand-nuus te sien hoe die polisie spog oor die fantastiese werk wat hul die afgelope maand in Diepsloot gedoen het. Dit was duidelik nie fantasties genoeg om ons vriend se lewe te red nie. Hier kom nog baie werk, maar ek besef nou dat die doel van dit waarmee ons besig is nie daarvan afhang of die regering erken dat hulle poging om hul burgers te beskerm ’n katastrofe is of nie, maar eerder of ons daarin kan slaag dat die van ons wat wel in ’n veilige samelewing wil woon die moue oprol en aan die werk spring. Slegs deur dít te doen sal ons werklik die nagedagtenis van stille helde soos Chris Conradie kan vereer.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Ernst Roets

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Ernst Roets is die Adjunk-Uitvoerende hoof van Afriforum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae