ʼn Lae olieprys en die uitwerking op wêreldpolitiek

Foto: (AP Photo/Charles Rex Arbogast)

Die einde van die olie-era is al dikwels en jare terug reeds voorspel. In die 1970’s is voorspel dat olie in die afsienbare toekoms sou opraak, die sogenaamde “peak oil”-teorie, maar meer onlangs, in 2008, het dit gelyk asof die olieprys net verder sou styg en dit die wêreldekonomie sou kniehalter totdat ʼn alternatief vir olie gevind is.

Nie een van die scenario’s het ingetree nie. Daar is voortdurend nuwe oliebronne ontdek en nuwe ontginningstegnologie ontwikkel en vir die afsienbare toekoms, dalk nog vir honderd jaar, sal daar genoeg olie wees. Die uiters hoë olieprys van $130 per vat in 2008 het kort daarna, ook weens die finansiële krisis, getuimel en sedertdien nie weer dramaties gestyg nie.

Nou, met die Covid-19-pandemie, is die olieprys die laagste in ʼn lang tyd, onder $40 per vat, en die vermoede is dat dit nog lank redelik laag sal bly. Dit is eenmaal te danke aan die koronakrisis en sy uitwerking op reis en vervoer, maar ook weens daadwerklike stappe om alternatiewe vir olie te ontwikkel.

Die battery-aangedrewe motor, lank net stof vir toekomsvisioene, is nou ʼn werklikheid. Tans is dit nog ʼn luukse en ʼn teken van prestige vir die elite wat hulle omgewingsvriendelikheid wil toon, maar soos met alle tegnologiese ontwikkeling is die volgende stap die massaproduksie wat dit vir Jan Alleman bekostigbaar maak. Dink maar aan die selfoon – van jappie-prestigeobjek in die 1990’s het dit later ontwikkel tot iets wat in feitlik elke mens se hand of sak sit.

ʼn Permanent lae olieprys is in beginsel goeie nuus vir die wêreldekonomie, veral vir die lande wat olie invoer, dus ook vir Suid-Afrika. Dit alleen sorg egter nog nie vir ekonomiese oplewing as die ander faktore nie in plek is nie.

Vir die Midde-Ooste, die oliestreek by uitstek, hou die lae olieprys op kort en medium termyn baie slegte nuus in. Die meeste lande daar, veral in die Golfstreek, is heeltemal afhanklik van die olieuitvoer en moet feitlik alles andersins invoer. Hulle hele ekonomie en ook hulle spandabelrige begrotings is op olie gerig. Danksy die ryklike inkomste uit olie kon die belasting laag gehou word en talle vergunnings gegee word soos subsidies op kos, vervoer en behuising, of welsynstoelaes vir die armes. Dit het ook gehelp om die bevolking rustig en lojaal te hou.

Die meeste olieuitvoerlande, by name Saoedi-Arabië, het danksy die jare lange hoë olieprys en uitvoeroorskot groot reserwes opgebou en sal vir ʼn ruk die begrotingstekorte kan uitbalanseer.

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Pixabay)

Ontginningskoste verskil aansienlik tussen die lande, maar baie min (byvoorbeeld Katar) kan met ʼn prys van $40 per vat nog winsgewend produseer. Hoewel almal geweet het dat die afhanklikheid van olie riskant is, het slegs enkele lande beplan vir ʼn toekoms sonder olie. Die Verenigde Arabiese Emirate en Katar is van die lande wat hulle afhanklikheid van olie verminder het deur geweldige beleggings in infrastruktuur en die opbou van ʼn toerisme- en banksektor.

Met die huidige krisis word toerisme egter besonder hard getref. Saoedi-Arabië het eers onlangs begin beplan vir ʼn ekonomie wat minder afhanklik van olie is, maar die beplanning het nie die gevolge van die koronavirus ingereken nie. Alle lande in die Midde-Ooste het die probleem dat hulle vervaardigingsektor onderontwikkeld is en hulle feitlik alles uitkontrakteer. Ander lande moet vir die Golfstate produseer en ander lande se mense die werk doen. Ook hier tref die koronakrisis en die feit dat grense nou gesluit is en gasarbeiders in hulle lande van herkoms vassit, die ekonomie dubbeld hard.

ʼn Mens sou kon sê dat daar ʼn verband tussen ryk oliebronne in (nie-Westerse) lande en ʼn aggressiewe en arrogante internasionale optrede is. Die talle aanvalle op Israel het alles te doen met die oormatige selfvertroue van Arabiese state wat gedink het dat hulle met die manipulasie van die olieprys Israel en sy ondersteuners in die Weste kon straf.

Die wêreldpolitieke kragdadigheid deur middel van die Organisasie van Petroleum-uitvoerlande (Opul) het lank gewerk, maar dit werk nou nie meer nie. Afgesien van die afname in belangrikheid van olie en van Opul as kartel tree hulle ook lankal nie meer geslote op nie.

Ook terrorisme en die aggressiewe verspreiding van Islam is deur Opul-lande gefinansier wat danksy olie te veel geld tot hulle beskikking gehad en as wapen gebruik het. Verder het die olierykdom ook korrupsie bevorder: ʼn klein elite kon deur die olie-inkomste hulle mag uitbou en steun koop. Afgesien van die Midde-Oosterse lande kan ook hier ander olieuitvoerders soos Angola, Nigerië, Venezuela en Ekwatoriaal-Guinee genoem word, wat almal onder die seën en vloek van groot oliebronne ly.

Al beteken dit op medium termyn groot aanpassings en ontwrigtings, kan die afname van olie se belangrikheid op lang termyn selfs positiewe uitwerkings hê.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.