’n Les uit Australië vir Trump en ander Westerse leiers

scott-morrison-australie-boodskap-sosialemedia

Die Australiese eerste minister, Scott Morrison, het ‘n eenvoudige boodskap oor Australië se ekonomie in hierdie jaar se verkiesing gehad. Foto: Scott Morrison se Facebook-blad.

Oor die afgelope twee jaar het daar ’n konsensus in Australië ontstaan dat die Liberaal-Nasionale koalisie, wat in dié land die sentrum se regse en konserwatiewe politieke terrein verteenwoordig, die onlangse verkiesing sou verloor.

Alle peilings wat oor die afgelope paar weke gedoen is, het gewys dat die linkse Arbeidersparty die verkiesing sou wen en oor genoeg setels sou beskik om ’n nuwe regering te vorm. Die konserwatiewe Australiese eerste minister, Scott Morrison, het egter vriend en vyand verras toe sy party verlede naweek se nasionale verkiesing gewen het.

Australië is een van die grootste ekonomiese suksesverhale van Westerse lande oor die afgelope drie dekades. Dié land se ekonomie was 27 jaar laas in ’n resessie en ʼn gesonde regeringsbeleid het daarin geslaag om Australië ’n middelland van ekonomiese groei, inkomstegroei en ekonomiese stabiliteit te maak.

Terwyl die Arbeidersparty hul verkiesingsveldtog op die verhoging van belasting, die uitbreiding van staatsgefinansierde dienste en veral op strenger omgewingsregulasies (om die vrystelling van kweekhuisgasse te verminder) toegespits het, het Morrison een eenvoudige boodskap vir die kiesers gehad: Australië se ekonomie is sterk en ’n Arbeidersregering sal die stabiliteit versteur wat tot laer groei, hoër lewenskoste en talle ander ekonomiese uitdagings aanleiding sal gee.

Uiteindelik het peilings aangetoon hoe die gaping tussen die konserwatiewe koalisie en die arbeiders al hoe kleiner raak. ’n Week voor die verkiesing was die Arbeidersparty met slegs twee persent voor in die peilings. Op stemdag het kiesers in Australië egter vir ekonomiese stabiliteit gestem en is Morrison tot nog ’n termyn as eerste minister verkies.

In die Verenigde State van Amerika sal kiesers volgende jaar in November na die stembus gaan om te besluit of president Donald Trump vir nog vier jaar die staatshoof van die magtigste land in die wêreld sal bly. Hoewel daar enorme verskille tussen die VSA en Australië is, soos dat Australië se ekonomie sterk deur kommoditeitsuitvoere aangedryf word terwyl die VSA ’n veel meer diverse ekonomie het, is daar egter ook politieke lesse vir Trump, en selfs ander Westerse leiers, uit verlede naweek se verkiesing in Australië te leer.

Die VSA beleef tans een van sy suksesvolste ekonomiese periodes in vele dekades. Die ekonomiese groeikoers van meer as drie persent in die eerste kwartaal van 2019 het almal verras omdat dit hoër as byna elke voorspelling was. Werkloosheid is byna afwesig met selfs groot arbeidstekorte en stygende inkomstevlakke. Geen ekonomie is perfek nie en die Amerikaanse ekonomie het ook sy ongelykhede en uitdagings, maar dit is ’n feit dat die Amerikaanse ekonomie vandag baie gesond is en dat ’n gesonde meerderheid van Amerikaners tevrede is met Trump se hantering van die ekonomie.

Terwyl die Arbeidersparty in Australië alles moontlik probeer doen het om Morrison se aandag van sy ekonomiese boodskap na ander sake weg te lei, het hy gefokus gebly en uiteindelik die verkiesing gewen.

Indien Trump volgende jaar wil wen, moet hy eenvoudig die Amerikaners laat verstaan dat daar ’n ekonomiese risiko bestaan, sou hulle hom uitstem.

Indien volgende jaar se verkiesing in die VSA ’n ekonomiese referendum gaan wees, sal Trump tot ’n tweede termyn verkies word. Hy kan daardie les gerus by sy Australiese ampsgenoot gaan leer.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Dries du Toit ·

Suksesvolste ekonomie in vele dekades
Ekonomiese groeikoers van meer as 3%
Werkloosheidskoers byna 0%
Arbeiders tekorte
Stygende inkomstevlakke
OM HEMELS NAAM .HOE OP AARDE KAN DAAR NOG ENIGE IEMAND BETWYFEL DAT PRES. TRUMP NIE DIE BESTE WERELD LEIER IS NIE.
Dit gaan my verstand te bowe dat klein politieke kommentators soos Pieter du Toit, Croucamp, Tim du Plessis , Max ens nog hulle bekke so kan uitspoel oor Amerika se president. Tipiese napraters van CNN. Wat wil hulle vir SA dan hê

Liberaal ·

Julle mag nie sulke vrae vra nie, linkses se heersers sal namens jou dink. Ons linkses het onsself daardie vraag baie gevra en die beste antwoord is dat sy haarstyl nie mooi is nie.

Attie. ·

Donald my ou vriend, sal jy vir ‘n paar jaar sa kom lei. Ons het jou dringend nodig,

humor ·

Ek reken nog n goeie voorbeeld is die van Frau Merkel . Ten spyte van haar nie te goeie beeld as staatshoof het sy nog steeds agv, die sterk ekonomie gehandhaaf. maar nouja haar pad is nou gelukkig op die afdraand.

ZAR ·

Kyk daar is vele peilings op cnn gewys hoe clinton verseker sou wen. Die media word gebruik om die mense te “help” besluit. Die alternatiewe nuus wat mense kry is nie van hoofstroom media nie, want mense is opsoek na die volle waarheid, en dit kos die persoon om tot 5 alternatiewe nuusdekkings te lees voor hulle die volle prentjie kry van een gebeurtenis. Dis hoekom daar so hard gedruk word om die internet te sensuur. Mense soek die waarheid en al hoe meer besef hoe korrup media huise is. Op hierdie stadium dink ek daar is baie meer regs-denkendes as wat voorgehou word. Die linkses praat net harder.

Annie Webb ·

Nie seker waarteen Jaco Kleynhans pres. Trump hier probeer waarsku nie? Die handelsoorlog met China? Afsny van China se intellektuele diefstal via Huawei se 5G? Oorlog met Iran? Want pres. Trump en sy verkiesingspan vir 2020 is baie bewus daarvan dat die ekonomie een van sy grootste suksesse is. Mens kan net hoop dat Barr, Durham, die IG en Huber se ondersoeke daartoe lei dat die eindelose en kleinlike “resistance” uit Demokratiese en media-geledere effe gesmoor word, want die kakofonie van leuens en verdagmakery uit dié gespuis is uitputtend oorverdowend.

Liberaal ·

Die verklaring vir die verrassende verrysing van die konserwatiewe leier in Australie is eenvoudig. Ons linkse heersers wat die massamedia besit en peilings beheer skep die indruk dat die linkses gaan wen, al is dit nie regtig so nie, want dit druk die groot getalle draadsitters om ook so te stem soos al die ander, al is dit net n drogbeeld in die kop. Dis een van ons leiers so grootste manipulasie geheime.

Rupert Ashford ·

Hoof les te leer hieruit (soos ook met Brexit, Trump se verkiesing en die UK verkiesing voor Brexit) is dat in hierdie vreemde tye van politieke korrektheid daar ‘n groot deel van die bevolking is wat geen vertroue meer het in die sosiaal maatskaplike omgewing nie en net stil raak en geen opinie uitspreek oor enigiets nie. Die enigste plek waar hulle eerlik is, is in die privaatheid van die stembus. Dit geld vir meeste opinies en enigiets waar peilings gedoen word. Mense vertrou net nie meer die samelewing om hulle nie te benadeel deur direkte aanvalle en beswaddering as hulle hulle reg op vryheid van spraak uitoefen nie.

aj ·

In beide Australië en Amerika is dit WIT MONOPOLIE KAPITAAL wat die beleggings en kundigheid bygedra het om die lande te laat floreer.

Hier is RSA is dit (wit monopolie kapitaal) verklaar as die vyand! … die SATAN vanself!

Verwag hiér plaaslik die teenoorgestelde uitkoms as in Australië en Amerika!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.