’n Leuen niks anders as die opsetlike onwaarheid

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

Verskeie jare gelede het ek, synde ’n historikus, ’n lesing op Stellenbosch gegee oor die vraag: “Wat is waarheid in die geskiedenis?”

Nadat ek ’n paar wye draaie in die lesing geloop het, het ek Tafelberg as metafoor gebruik: “Tafelberg ís soos hy ís. Die berg is ’n objektiewe waarheid. Maar vanuit Blouberg lyk hy totaal anders as vanuit Bellville, en weer totaal anders vanuit Wynberg. Maar dis steeds dieselfde berg. Hy lyk bloot anders na gelang van die hoek waarna jy na hom kyk.”

My laaste paragraaf was dus: “Met ander woorde, die waarheid is absoluut. En dis relatief. En daar is verskillende waarhede. Al drie gee saam weer wat waarheid in die geskiedenis is.”

’n Ander uitspraak wat van dekades gelede dateer, is van die Britse skrywer C.P. Scott afkomstig: “Comment is free, but facts are sacred.”

As historikus en joernalis weet ek dis volkome legitiem om op grond van dieselfde onbetwisbare feite tot verskillende gevolgtrekkings te kom. Baie hang af van die vertrekpunte wat jy gebruik – die een kyk na die Suid-Afrikaanse politiek as Afrikaner; die ander as ‘n swart persoon. Die een is ’n oortuigde liberale demokraat; die ander meen die demokrasie is dieselfde as wat die Engelse noem “mob rule”.

Tog is daar êrens ’n grens. Jy kan nie feite gaan uitdink, dié leuens as onaantasbare waarhede verkondig en vertolkings daarop bou nie. Reeds Adolf Hitler se minister van propaganda, Josef Goebbels, het al in die jare dertig gesê hoe groter die leuen wat jy verkondig en hoe meer dikwels jy dit doen, hoe makliker glo mense dit. Tog gebeur dit in ons eie tyd steeds meer.

In die 48 jaar wat ek as joernalis en kommentator werksaam is, kan ek die politici wat wérklik erns maak met die feitelike en genuanseerde waarheid op die vingers van my een hand tel. Dié wat nie flagrant lieg nie, verkondig net die waarhede wat hulle pas en verswyg dié wat hul politieke belange nie dien nie.

Só iemand wat in die laaste jare steeds in die nuus was, is pres. Donald Trump. Dit het begin met sy leuen dat sy voorganger, pres. Barack Obama, nie in Amerika gebore is nie, en dus kragtens die grondwet nie president mog geword het nie. Die telling van The Washington Post, wat noukeurig boek van al sy leuens gehou het, het al in Julie vanjaar meer as 20 000 leuens of misleidende stellings geïdentifiseer – en toe opgehou tel.

Nou ja, ’n mens moet beslis in ag neem dat dié koerant ’n politieke agenda het, en ook dáárdie stelling moet dus met ’n korreltjie sout geneem word. Maar selfs al is net die helfte waar, is dit al erg genoeg. Dis soos sy hoof-ideoloog, Steve Bannon, dit gestel het: “The Democrats don’t matter. The real opposition is the media … And the way to deal with them is to flood the zone with sh*t.”

Dit gaan om veel meer as bloot die kwessie van waarheid. Bright Line Watch, ’n organisasie van politieke wetenskaplikes aan die Dartmouth-kollege, die Yale-universiteit en die universiteit van Rochester, het ná ’n jare lange studie in September vanjaar bevind dat Trump se leuens grootliks bygedra het tot die “erosie van die demokrasie” in Amerika.

Trump, of die Republikeinse Party, is verreweg nie die enigste skuldige nie; Joe Biden en die Demokrate gaan ook nie altyd ewe gewetensvol met feite om nie. Maar die objektiewe, onontkenbare feit, as ’n mens na die syfers kyk, is dat Trump tog die kampioen is.

Die laaste vier jaar van die Amerikaanse politiek werp die vraag op in welke mate die land se demokrasie beskadig is. Om dít te beantwoord moet ’n mens eers kyk wat die voorwaardes vir ’n geslaagde demokrasie is.

Ten eerste, dis sekerlik te veel gevra dat álle politici áltyd nét die volle waarheid moet praat. Maar te veel leuens, te veel misleiding, soos die Bright Line Watch se gevolgtrekking lui, “erodeer” die demokrasie. Jy kan nie flagrante leuens as waarhede verkondig nie; daar moet darem ’n minimum respek vir die feitelike waarheid wees.

Byvoorbeeld, jy kan nie die gevaar van die koronavirus, wat deur viroloë en epidemioloë bestudeer is, as onbenullig afmaak nie. Jy moet jou darem deur gerespekteerde wetenskaplikes, wat ’n studie van die saak gemaak het, laat lei.

In die tweede plek moet die demokratiese stelsel voldoende tasbare voordele vir ’n groot genoeg deel van die bevolking inhou. As dit net enkeles bevoordeel en die meeste nie, gaan die stelsel nie oorleef nie. Dit geld veral in sosiaal-ekonomiese opsig. As jy ’n klein ryk bolaag het, terwyl die meeste mense hulle moet doodsukkel om die volgende maaltyd op tafel te kan plaas, gáán jy mettertyd groot onrus kry. Dit geld veral vir die Derde Wêreld, maar selfs in ’n ryk land soos Amerika is dit, sy dit in mindere mate, ’n probleem. En as dit ernstig genoeg raak, kan dit die einde van die demokrasie wees.

Derdens het jy ’n gevestigde demokratiese struktuur en kultuur nodig. Om maar by Amerika te bly: Die stelsel is só ontwerp dat die mag verdeel word om te keer dat ’n enkele persoon of instansie dit monopoliseer. Die implikasie is dat diegene tussen wie die mag verdeel is, met mekaar moet saamwerk om iets gedaan te kry; anders knars die hele staatsapparaat tot stilstand.

En dít verg dat die onvermydelike politieke mededinging nie tot ’n dodelike wedersydse politieke vyandskap moet degenereer nie. Dit verg ’n besef dat die begryplike korttermyngeveg om stemme nie só ver moet eskaleer dat dit die hele stelsel in die gedrang bring nie.

Dit is egter presies wat die laaste dekade of drie – en veral die laaste vier jaar – in Amerika gebeur het. Nou het jy selfs ’n president wat die demokrasie aan die finale leuen, dat sy verkiesingsverlies eintlik ’n oorwinning is, wil opoffer.

In Europa word dit veel beter besef. Ook daar het jy klipharde mededinging tussen politieke partye; ook daar beklemtoon politici hul eensydige waarhede. Maar omdat dit selde gebeur dat één party alleen die regering kan vorm, weet almal (behalwe ekstremiste) daar is ’n grens wat liefs nie oorgesteek moet word nie. Môre, oormôre kan jy vind dat jy saam met jou opponente in ’n koalisieregering moet gaan sit – en dan help dit as jy duskant daardie moeilik bepaalbare grens gebly het.

Die demokrasie is op sy beste ’n taamlik morsige affêre, nie vir sissies nie. Soos Winston Churchill dit pragtig gestel het: “Dis die slegste van alle stelsels wat al geprobeer is, maar dis steeds beter as al die ander”.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Frans ·

Obama is gebore in Honolulu wat in Hawaii is.Hawaii is in 1898 deur die VSA geannekseer.Die volgende inskrywing kry ‘n mens in die VSA-‘State Department’ argiewe.Dole sent a delegation to Washington in 1894 seeking annexation, but the new President, Grover Cleveland, opposed annexation and tried to restore the Queen. Dole declared Hawaii an independent republic. Spurred by the nationalism aroused by the Spanish-American War, the United States annexed Hawaii in 1898 at the urging of President William McKinley. Hawaii was made a territory in 1900, and Dole became its first governor. Racial attitudes and party politics in the United States deferred statehood until a bipartisan compromise linked Hawaii’s status to Alaska, and both became states in 1959.
Nou is dit duidelik ook in Nederland dat mense van geannekseerde gebiede nie eintlik as burgers beskou word van die land wat die anneksasie uitgevoer het nie.Selfs in Nederland is daar voorbeelde.

chrismar ·

Ek stem saam Frans.Hawaii is ‘n eiland +/- 4 000 km vanaf die VSA vasteland.Hy is dus nie in die VSA gebore nie maar op ‘n geannekseerde eiland van die VSA ver vanaf die vasteland.Verder was sy pa ‘n Keniaanse burger.So om dit sommer af te maak as ‘n Leuen dat hy nie in Amerika gebore is nie.is ook so ietwat van ‘n onwaarheid wat as ‘n feitelike waaheid met verskuilde agendas voorgehou word.Gelukkig kan ons nog “Google”,maar soos selfs Google,FB en Twitter nou sensuur toepas en ontbloot word in die verkiesingsbedrog sage in die VSA kan ‘n mens maar net wonder oor die mag van die pen.

Therese ·

Mag dít dan die swanesang oor hierdie ‘leuenagtige’ persoonlikheid wees wat die skrywer uit die staanspoor verdoem het. .
Wanneer objektiwiteit in die verloop van 4 jaar in die slag bly, herstel geloofwaardigheid moeilik.

Derek ·

Die anderkant is ook waar en die ou spreekwoord verduidelik dit:” hy wat agter die deur staan soek ander ook daar” Die mainstream media is veral bekend met die verdraaing van die waarheid dat dit soos die waarheid klink maar nie is nie. Hulle sien tafelberg van die ander hoek en noem dit net n berg, want die video moet die berg indentifiseer. Die demokrasie wat die vryheid van godsdiens beskerm en aanvuur is nie n demokrasie nie, want dit is waar die verdraaing beskerm word tussen die waarheid en die leuen. Dit word die mens se “reg” genoem en SA is maar een van die lande. Die vorige bedeling was dit nie toegelaat, daarom die SA vandag en die SA waar ons trots nog steeds . Dit is die groot verskil.

annie ·

Meerwaardig en verhewe, alwetend en afwysend… en so ploeter die glo vreeslik akademiese joernaliste vorentoe op die pad na die 1984-toring van Babel. Natuurlik is geen Duitser lewendig wat die Nazi’s se sielkundige aanslag sou goedkeur nie. Maar hulle het in duisende hul Herr gesalueer. Daar is niks so erg soos iemand wat glo hy/sy weet alles beter as ander nie. En as die poppo die fan strike na die bewondering en afkrakende kritiek jeens die ou wat toe tog reg was, dan skryf ons gou die boeke/koerantberigte oor soos in 1984. Sela.

Rooijan ·

Dr Scholtz dit is natuurlik so dat die sogenaamde liberale pers hulle dan nou ook 100% by die “Demokratiese” party skaar. Ek sit die aanhalingstekens daar want die Demokratiese party in die VSA hel so ver oor na links dat hy eintlik maar die sosialistiese party genoem kan word. En om vir Maggie Thatcher aan te haal ń sosialis is iemand wat nooit moeg raak daarvan om ander se geld te spandeer nie. Dan is daar natuurlik die kwessie dat jy basies die hele Republikeinse party as leuenaars afmaak, interressante posisie om in te neem synde dat die helfte van die kiesers vir hulle gestem het, meeste van daai kiesers het stembus toe gegaan, en nie per pos “gestem” nie, wat ook n aanvegbare situasie is. Maar terug by die helfte van die kiesers in Amerika wat jy leuenaars noem, dus is die helfte van Amerika waarmee jy nie saamstem nie leuenaars. Die ander waarmee jy wel saamstem is nie, al veg hulle hand en tand om stemme van dooies getel te kry ten einde hul kandidaat in die withuis te kry.

Frans ·

Soms kom ‘n mens te hore van dinge wat politici sê wat jou regtig laat kop krap of hul werklik ernstig is:
‘n Mens kan maar net hoop dat Joe Biden nie ernstig was toe hy op 5 November 2020 die volgende uitlating gemaak het:Joe Biden :We have put together I think the most extensive and inclusive voter fraud organisation in the history of American politics’.
Werklik of fop.

Dewald ·

Ai, die ironie wanneer die pot die ketel probeer verwyt….

Kobus ·

Barack Obama is pas in 1961 gebore, twee jaar nadat Hawaii ‘n volle deelstaat van die VSA geword het. Die stelling dat hy buite die VSA gebore is en dus nie president mog word nie, is dus foutief.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.