’n Lewende klokkespel wat selfs ná Paasnaweek weergalm

(Argieffoto)

Deur ds. Schalk Strauss

Die afgelope Paasnaweek kon ek nie help om terug te dink aan twee jaar gelede se Paasnaweek nie. Die regering het toe pas vir die eerste keer vlak vyf van inperkings ingestel. Niemand kon uit hulle huise gaan nie. Dit was ʼn stil Paasnaweek. Gelowiges kon nie as kerk van die Here gesamentlik hulle lofliedere aanhef tot Christus wat op sy hemeltroon sit nie, want die kerk was leeg – haar lofstem was stil.

Op Paassondag 2020 het ek besef hoe stil dit werklik in Suid-Afrika geraak het. Waar is die dae toe jy op ʼn Sondagoggend, en veral op ʼn Paassondag, wakker geword het met die “stem” van die kerk – kerkklokke wat oral beier? In ons sekulêre samelewing het mense al hoe meer begin kla oor die “rusversteurende” kerkklokke, want dit pla te veel. Wat het ons gedoen? Ons het die klokke, wat op ʼn simboliese wyse op ʼn Sondagoggend die gemeenskap na die huis van die Here oproep, se stembande verwyder. Intussen skree die Imams luidkeels voort.

Een van ons mooiste Paasliedere lui: “Ons hoor die Paasfeesklokke. Hul lui van vroegdag af; hul jubel oor die wêreld: Die Heer is uit die graf!” Vir ons wat nog die “roepstem” van kerkklokke onthou, het hierdie lied waarskynlik nog waarde, maar wat van hulle wat grootword in ʼn wêreld waarin die klokke stom is? Wat gaan dit vir hulle beteken as hulle nie weet hoe diít klink waarvan ons sing nie?

Die probleem strek wyer as die feit dat daar nie meer op ʼn Sondag vreeslik baie kerkklokke gehoor word nie. Die klokke wat stil geword het, is dalk meer simbolies van die kerk se stem wat stil geraak het. As ons mooi daaroor dink, dan het ons meer nodig as net leë kerke met klokke wat lui. Dit sal ʼn baie kragtiger klokkespel wees wanneer kerke vol is met gelowiges wie se lewens getuig dat hulle saam met Christus uit die dood opgestaan het.

Onder ʼn groot deel van die kerkvolk is daar ʼn toenemende honger om die stem van die kerk oor sake van die dag te hoor. Hulle is moeg vir die stilte en tog is die kerk so traag om haar stem te verhef. Die kerk vrees die rimpelings wat dit kan veroorsaak; sy vrees die reaksie van die regering. Party reken selfs dat dit nie die kerk se plek is om haar uit te spreek teen sondige praktyke in die samelewing of teen die regering se optrede nie, want “die kerk moet haar stem uit die politiek hou”.

Die afgelope naweek het nogal ʼn ideale geleentheid vir kerke gebied om Christus se oorwinning en heerskappy oor die sonde te verkondig. Die jaarlikse Twee Oseane-marathon het in Kaapstad plaasgevind. Kerke het hul ontevredenheid uitgespreek omdat die geleentheid vir Paassondag gereël is. Die rede vir hulle ongelukkigheid het veral te doen gehad met die feit dat daar nie behoorlike verkeersbeplanning gedoen is nie en dat mense weens die marathon sou sukkel om by die kerk uit te kom.

As moontlike verkeersprobleme egter die belangrikste rede is waarom kerke beswaar teen ʼn sportbyeenkoms op Paassondag maak, dan het ons soos ʼn klok sonder ʼn klepel geword. Dit kom vreeslik indrukwekkend voor, maar dit maak geen geluid nie. Hoeveel ander sportgeleenthede vind daar nie deesdae op Sondae plaas nie? Die Comrades-marathon, die Argus-fietswedren, rugbywedstryde en deesdae selfs skolesport. Die afgelope Goeie Vrydag het waarlik ook ʼn Curriebekerwedstryd op die sportkalender gehad!

Kerke in Kaapstad was ongelukkig omdat so ʼn groot sportbyeenkoms op “hierdie spesifieke heilige Sondag” gehou is, maar wat van al die ander Sondae? Christene kom vir eeue al juis op die Sondag byeen, omdat dit die dag van Christus se opstanding is. Ons vier nie net sy opstanding en sy oorwinning oor die dood tydens Paassondag nie – ons vier dit elke Sondag. Ons wy nie hierdie dag aan die Here omdat ons wetties is nie. Ons bring juis die dag anders as die ander dae van die week deur, omdat ons sy oorwinning en heerskappy wil erken. Waarom maak ons nie kapsie teen hierdie vergrype wat die heerskappy van die opgestane Christus uitdaag nie?

Die probleem strek dieper as die feit dat “die kerk” nie iets oor hierdie dinge sê nie. Wat help dit in elk geval “die kerk” sê iets oor hierdie dinge, maar dit is die kerk se lede wat daaraan deelneem? Die Paasfeesklokke wat oorwinning oor die sonde en die dood aankondig, sal die hardste lui wanneer Christene self besluit om sekulêre, onchristelike patrone in ons samelewing te verbreek juis deur nie daaraan deel te neem nie.

Dit geld nie net vir ons optrede op Sondae nie. Oor baie ander sondes het die kerk, en by name haar lidmate, soos ʼn klok sonder ʼn klepel geword. Ons soek eerder redes om die sonde te akkommodeer as om dit te oorwin. Ons skei eerder as wat ons bereid is om teen die sondes wat ons huwelike vernietig, te stry en dit te oorwin. Ons probeer eerder die Bybel anders verklaar sodat sekere sondes nie meer sonde is nie, as wat ons oorwinning oor daardie sondes aankondig.

Hierdie dinge bring ons voor ʼn baie belangrike vraag te staan: As die Paasfeesklokke dan so stil in ons lewens is, glo ons werklik dat Jesus Christus uit die dood opgestaan het? Glo ons dat oorwinning oor die sonde en die dood moontlik is? Niemand kan immers sê hy glo Jesus het uit die dood opgestaan, as hy nie ook saam met Christus uit die dood opstaan nie.

Vir baie van ons het die opstanding uit die dode net te doen met die opwekking van die dode tydens Christus se wederkoms. Natuurlik gaan dit ook daaroor, maar as dit vir ons die enigste betekenis van die opstanding uit die dood is, dan is dit verstaanbaar dat ons nie so hard probeer om in hierdie lewe van die sonde in ons lewens en samelewing ontslae te raak nie. Ons sien dit nie as iets wat nou al oorwin kan word nie. Die beste wat ons nou kan doen, is om maar daarmee saam te leef totdat ons in die hemel is en dan daarvan ontslae kan wees.

In Romeine 6:5 skryf Paulus: “Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding.” Ware gelowiges is hulle wat saam met Christus uit die dood opgestaan het tot ʼn nuwe lewe – hulle is in die wêreld, maar nie van die wêreld nie. Dit het te doen met hiérdie lewe. Daarom moedig Paulus ons in Romeine 6:11 aan om lewend vir God te wees, terwyl hy dit in vers 13 baie prakties verwoord: “En moenie julleself stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het en julle lede as werktuie van geregtigheid in diens van God.

Kerke se klokke lui nie meer nie, maar dit beteken nie dat die klokkespel moet stil raak nie. Dit behoort eerder harder te weerklink omdat dit ʼn lewende klokkespel is. Ons is saam met Christus uit die dode opgewek. As ons saam met Hom uit die dood opgestaan het, dan is óns die beiaardiers deur wie die klokkespel van die Gees oorverdowend oor die stadspleine moet weergalm.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marius ·

Ds . Strauss, baie dankie vir jou pragtige, dog byna hartseer artikel. Ek stem jou heelhartig met jou saam. Net soos jy, mis ek ook die gebeier van kerkklokke op ‘n Sondag en tydens Paasfees. Dit is vir my ook jammer dat meeste preke vandag nie meer die volle waarheid van God se Woord oordra nie, en verander het in blote motiveringspraatjies. Ja, God in sy liefde het deur Christus die mensdom met Homself versoen, maar slegs diegene wat Hom aangeneem het – en wie lewens daarvan getuig. God se koninkryk is waar geregtigheid woon, en aanhoudende, opsetlike sonde kan nooit daarin bestaan nie – nie nou nie en ook nie in die hiernamaals nie.

annie ·

In die VSA is die afwesigheid van kerke opvallend… regte egte kerke. Dominees kan nie hul hande in onskuld was nie. Langnaweke is hul woerts na hul ‘seegemeentes’ en die tuisgemeente sit herderloos. Tydens covid was hul stem stil oor pes en die Bybel. Die Roomse Kerk gebruik klokke as opdraggewers van die pous. Ons het eens naby ‘n kerk gebly wat Sondae en vir begrafnise pragtig gelui het met ‘n horlosie bo wat klokslag reg was. Wat ‘n gemis. Dominees moet net die Woord verkondig nie politiek nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.