ʼn Maatskaplike Verdrag is nodig, en die Afrikaner sal moet help

Deur Freek Robinson

Freek Robinson. (Foto: Verskaf)

“As jy in ’n gat is, hou op om te grawe,” lui die gesegde.

Ons in hierdie land het reeds genoeg moeilikheid sonder dat ons deur onbesonne dade die gat dieper hoef te delf. Om ontsnap-toue uit ons situasie te span, sal ongelooflike toewyding, geduld, harde werk, verdraagsaamheid en nuwe denke vereis.

’n Maatskaplike verdrag is nodig. Dis iets waaroor pres. Cyril Ramaphosa al dikwels gepraat het, maar nog nie mooi uitgespel het nie. ’n Konsep-dokument daaroor is al in 2015 deur die Nasionale Beplanningskommissie gepubliseer as deel van die Nasionale Ontwikkelingsplan. Daar het toe dadels van gekom – deels weens die katastrofiese bewind van Jacob Zuma.

Die Maatskaplike Verdrag, oftewel Social Compact, kom daarop neer dat alle sektore en groepe van die samelewing plegtig moet ooreenkom dat hulle, ter wille van ontwikkeling en groter voordeel vir almal, vir ’n bepaalde tyd opofferings sal maak. Dit moet gefundeer word op kernwaardes van die grondwet – soos respek, empatie, verantwoordelikheid, gelykheid, regverdigheid en nie-rassigheid.

In hierdie artikel poog ek om ’n beeld te skep van hoe so ’n maatskaplike verdrag kan lyk. Ons sal eenvoudig nie ’n vooruitstrewende ekonomie kan bou met ou oplossings nie. Op die minste is dit van kardinale belang dat ons op mensvlak meelewend moet leer saamleef.

In ’n gesprek oor die naweek sê die vise-president van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke, eerwaarde Frank Chikane, die koronavirus het almal in hulle verskanste hoekies laat terugtrek. Hy wys daarop dat elke krisis geleenthede skep. Hy glo dat veral die burgerlike samelewing, en die Afrikaner in die besonder, ’n leidende rol kan speel in die vestiging van ’n maatskaplike verdrag. Maar hy betreur die verklaring van die FW de Klerk-stigting dat apartheid nie so erg was nie. Daarmee het De Klerk nie net die egtheid van sy waagmoedige politieke optrede met die vrylating van Nelson Mandela en die ontbanning van die ANC verwater nie, maar homself ook uitgerangeer as ’n huidige speler in die soeke na oplossings.

En dit bring ons terug na gatgrawery. ’n Voorbeeld is Jana le Roux wat in die kykNET-reeks “Kwarantyn” verwys het na ʼn “k*****pak”. Dit opsigself was hoogs ongelukkig, maar toe reageer haar man, Braam: “Ons wil ’n nasie bou, maar daar glip goed uit en daar gebeur goed… Dit gebeur in elke huis.” Dit skep die indruk dat alle Afrikaners sonder meer inherent rassisties is en nie kan help as iets daarvan so nou en dan deurglip nie. Dit herinner aan prof. Jonathan Jansen se boek The Knowledge in the Blood waarin hy suggereer dat die Afrikaner as ‘t ware geprogrammeer is om rassisties te wees. ’n Israelse professor, Don Bar-On, het in sy soeke na die rede vir die Duitsers se wrewelrige haat teenoor die Jode gepraat van “the power of the kitchen table tales”. Dit verwys na die vergiftende gesprekke van gesinne diep in die binnekamer waar hulle siele deurdrenk word van vooroordeel. En soos Braam sê: “Daar glip goed uit”.

En dis natuurlik in ’n mate waar. Ek onthou nog hoe my ouma letterlik op haar sterfbed ’n week by ons aan huis gebly het. Sy het vir my en my broer as jong kinders die vreeslikste stories vertel van die behandeling wat boerevroue en -kinders in die Britse konsentrasiekampe gekry het. Tot vandag toe, meer as ’n eeu later, het ek ietwat van ’n hekel in Britte – veral as hulle hulle soos engele voordoen in vergelyking met die Afrikaner. Dr. Braam Hanekom van die NG Kerk se Sentrum vir Publieke Getuienis doen uitstekende werk om mense in nood, soos Kaapse slagoffers van stormweer, onderdak te gee, maar hy werk ook met kenmekaar-groepe op dorpe. Hy sê: “Dalk is die diepste vorm van rassisme dat jy dink jy verstaan, maar self nie besef dat jy glad nie verstaan nie.”

Dit verg dus gedurige waaksaamheid oor dinge wat jy sê, maar ook ’n toegewyde poging om my medeburger te leer verstaan en waardeer. Die Amerikaanse politieke wetenskaplike, prof. Robert Putnam, praat van “bridging and bonding”. Met ander woorde, mense moet nie net brûe na mekaar bou nie, maar ook werklik aanklank probeer vind bymekaar. Dis wanneer daar so ’n sterk basis van maatskaplike kapitaal is, dat ’n land se ekonomie ook kan verbeter.

’n Verteenwoordige burgerlike organisasie moet die projek van ’n Maatskaplike Verdrag bestuur, maar ook gedurig konsulteer met die regering, sake-organisasies en vakbonde.

Die visie en waardes moet elke dag landwyd aan mense oorgedra word. Burgers moet die geleentheid kry om saam gesprek te voer. Soos daar in die geweldtyd voor die verkiesing van 1994 vredeskomitees oral in die land was, kan sulke plaaslike liggame opnuut gevestig word. Elke munisipaliteit kan as agent dien vir die bevordering van die verdrag.

Die Maatskaplike Verdrag kan met ’n plegtige verklaring begin deur elk. Dit word dan op ’n webblad geregistreer. Dit kan iets wees soos:

Ek is ’n trotse Suid-Afrikaner.

Ek verbind my om vir minstens drie jaar ’n spesiale poging aan te wend om hierdie land ’n beter plek te help maak vir almal.

Ek gaan meer bydra as wat ek eis.

Ek verbind my om die waardes van die grondwet te lééf.

En dan moet elk invul wat hy/sy gaan doen. Byvoorbeeld: Ek gaan minstens vier ure per maand spesifiek ten bate van die gemeenskap aanwend, soos om vir bejaardes te gaan kuier in ’n sorgsentrum, by ’n sopkombuis diens te doen of saam met bure gemors in ons straat op te tel; of, ek gaan een uur per week langer te werk sonder betaling.

Van die ondernemings wat deur die verskillende sektore oorweeg kan word, is:

Werkgewers en die privaat sektor:

  • Belê in die land
  • Behandel werkers as mede-toekomsskeppers
  • Versprei inkomste meer eweredig
  • Skep te alle koste werk en beveg armoede
  • Beveg korrupsie
  • Bevorder interne dialoog om verhoudings te verbeter
  • Belê soveel moontlik in opleiding, vaardigheidsontwikkeling en internskappe.

Werkers en vakbonde:

  • Beperk looneise tot die vlak van inflasie
  • Wees produktief
  • Verhoog vaardighede
  • Geen beskadiging van eiendom of infrastruktuur tydens betogings of stakings nie.

Die staat:

  • Beskerm elke burger
  • Wees diensgerig
  • Stel mense op meriete aan
  • Hou elke amptenaar verantwoordbaar
  • Vat korrupsie vas.

Die burgerlike samelewing:

  • Help bevorder sinvolle dialoog tussen alle gemeenskappe
  • Maak seker betogings ontaard nie in geweld nie
  • Beveg korrupsie en misdaad in welke gedaante ook al.

Daar kan heelwat meer punte vir elke sektor uitgelig word.

Teen dié tyd is sommige lesers seker al warm onder die kraag omdat hulle meen ek versuim om die regering se mislukkings te noem, soos veiligheid op plase en onteiening sonder vergoeding. Dat ek die Afrikaner uitsonder vir straf. My antwoord is: Geen verfoeilike daad is te vergoeilik nie. Maar ek skryf nou vir my gemeenskap en glo, soos eerwaarde Chikane, dat die Afrikaner ’n fundamentele rol te speel het om ons almal uit die verknorsingsgat te help kry.

Die afgelope weke het ek ’n hele paar keer deelgeneem aan gesprekke van eenhede van die groter Solidariteit Beweging. Ek staan werklik verstom oor die omvang van die beweging se gemeenskapsdienslewering en die gehalte van jong werkers. Die beweging is ’n voorbeeld van hoe strukture gevestig kan word om beslag te gee aan ’n Maatskaplike Verdrag.

Ons kan nie toelaat dat ’n donker toekoms ons oorval nie. Dit sal opofferings verg. Doen ons dit nie, is die prys van ekonomiese verval en konflik later soveel groter.

  • Freek Robinson is ‘n televisie- en radiojoernalis met 45 jaar ervaring in die bedryf. Hy is die eienaar van sy eie kommunikasiemaatskappy wat webgesprekke fasiliteer en opleiding verskaf aan senior sakelui in mediavaardighede. Hy was tot onlangs die hoofanker van eNuus op kykNET en het ook sy eie aktualiteitsprogram, Robinson Regstreeks, aangebied. 

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

18 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jaun

Edel, maar futiel. Afrikaners gaan nie in groot getalle vir so ‘n vedrag te vinde wees nie, nie totdat daar ‘n sperdatum vir hulle “boetedoening” is nie. Nie totdat diskriminerende wette soos regstellende aksie en swartbemagtiging ‘n sperdatum bereik nie. Nie totdat onteiening sonder vergoeding laat vaar word nie. Nie totdat die regering plaasmoorde erken en as prioriteitmisdaad hanteer nie. Nie totdat die stelsel se dubbelstandaarde t.o.v. die veroordeling van rassevoorvalle ophou nie. Die regering gaan ook nie getrou aan so ‘n verdrag wees nie, want watter ander perd as die “rassistiese wittes” gaan hulle as politieke skietgoed opsaal? Hul… Lees meer »

Annatjie

Ja en ons mede burgers voel vere vir ons. Ons het opgeoffer en ons maak foute maar ons sien ook die verval en moet ons dit nou maar aanvaar?

Vrijburger

Jammer boet – die’ skippie het die hawe jare gelede al verlaat. En terloops, ons het ‘n maatskaplike verdrag gesluit in ’94 maar die ANC het dit keer op keer verbreek en die Afrikaner se uitgestrekte hand weg geklap. Nou is ons op die punt van omgekeerde apartheid. Jou verklaring: “Ek is ‘n trotse Suid-Afrikaner.” – Trots op wat presies, vra ek jou? Persoonlik aanvaar ek nie die identiteit nie, ek is te skaam. Jou onderneming: “Ek gaan meer bydrae as wat ek eis.” Huh – is ons dan nie al jare lank belastingslawe nie? Jy is verstom oor Solidariteit… Lees meer »

Snowball

Vrijburger en Juan, ek is beïndruk met julle mooi, reguit antwoorde want ek het my nou so gewip vir dié Afrikaner -oproep, midde die konstante, weersinwekkende aanslae teen ons as minderheidsgroep, dat wat in my gedagtes opgekom het, beswaarlik hier gesê kan word nie.

Hendrik

Hierdie oproep klink maar baie na die “virtue signaling” wat tans in die VSA gebeur.