’n Meer realistiese politiek nou nodig

Pres. Donald Trump. Foto: AP Photo/Alex Brandon

Vra enige ekonoom en hy sal vir jou sê een van die grootste bedreigings vir aandelemarkte, die stabiliteit van geldeenhede, en kommoditeitspryse, is onsekerheid. Wanneer mense en instellings onseker is oor die toekoms neem hulle makliker besluite om hier en nou hul belange te beveilig of om hul posisie te verskans.

Sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog het die meeste Westerse lande ekonomiese sukses, politieke stabiliteit en redelike vlakke van vrede en veiligheid beleef. Oor die afgelope paar jaar het die gevolge van onbekostigbare sosiale programme, verouderende bevolkings, uitgediende ekonomiese stelsels, onbeheerste immigrasie uit Derdewêreldlande, globalisering, terrorisme en ’n algemene tekort aan ’n gedeelde visie en burgerlike motivering tot nuwe onsekerheid in Westerse lande aanleiding gegee.

Die politieke ruimte in talle Westerse lande word toenemend deur opportunisme, ideologiese intervensionisme, reaksionêre denke en populisme beset. Terwyl mense in Europese lande op ’n ouderdom van tussen 60 en 65 jaar met ruim voordele kan aftree, sit baie jongmense sonder werk of slegs met tydelike werk en beleef die middelklas hoe hul inkomste stagneer en hulle nie meer vir aftrede voorsiening kan maak nie.

In Amerika voel ’n groot deel van die bevolking reeds vir lank dat dit eintlik jaar na jaar met hulle slegter gaan. Talle peilings wys hoe mense voel dat hulle harder moet werk sonder dat hul lewenspeil daarmee saam verbeter. In Europa sien jong gesinne hoe stagnante ekonomieë, demografiese druk en enorme staatskuld ’n swaar las op volgende generasies plaas.

Weens al hierdie onsekerheid sien ons vandag dat die politieke middel in duie stort met die linkse en regse pole wat sterker word en toenemend teen mekaar opgestel word. Die verval van die politieke middel, wat in baie Westerse lande vir dekades regeer het, is nie noodwendig sleg nie. Die soort leierskap van Angela Merkel, Donald Trump, en talle ander Westerse hoofstroompolitici het oor die afgelope paar jaar die vlakke van onsekerheid eerder verhoog as verlaag.

Westerse politici het die afgelope paar jaar in reaksie op ekonomiese, politieke en demografiese onsekerheid met oordrewe selfvertroue reageer deur pypdrome van die kitsdemokratisering van die Midde-Ooste tot die ekonomiese en uiteindelik politieke vereniging van Europa voor te staan. Die groot drome wat eerstens die krag van Westerse beginsels moes bewys en tweedens identiteit- en ander verskille moes oorkom in die naam van langtermyn vrede, het grootliks misluk. Amerika en Europa se intervensionisme in die Midde-Ooste was rampspoedig. Die Europese Unie en die Eurosone dreig om uitmekaar te bars en Amerikaners draai, soos vir ’n lang periode voor die wêreldoorloë, weer hul gesig na binne met die rug na buite.

Die enorme tekort aan politieke realisme lei daartoe dat hoofstroom politici se pypdrome met reaksionêre denke meeding. Langtermyn onrealistiese idees stry dus teen korttermyn onuitvoerbare kitsoplossings.

Wat die Westerse wêreld nou nodig het, is ’n sterk politieke beweging wat op realistiese ontledings van waar ons nou is en waarheen ons kan gaan, moet fokus. Die mislukking van globalisering moet aanvaar word, intervensionisme moet verwerp word en die waarde van die plaaslike, die kosbaarheid van die eie en die realisme van dit wat nou en hier gedoen kan word, moet weer vooropgestel word.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

JC ·

President Donald John Trump is tops, en ‘n grootse held wat die Westerse fakkel en westerse trots weer aan die brand gesteek het.
Lank lewe die 45ste President van die Verenigde State van Amerika!

Hendrik ·

Trump het sopas 25% invoertariewe op staal en 10% op aluminium aangekondig. ‘n Paar weke gelede het hy invoertariewe op sekere huishoudelike toestelle en sonpanele aangekondig. Hy help miskien ‘n paar staalwerkers, maar verwring die res van die ekonomie stoomaf in die VSA. Daar is reeds praatjies van ‘n handelsoorlog met die VSA. Hoe vinniger die Amerikaners hom uitskop, hoe beter. Om ‘n staatspresident te wees is bietjie meer kompleks as ‘n “reality show” aanbieder.

JOeV ·

Stem saam, mens kan nie jou eie mense op straat sit net om groter wins uit ingevoerde materiaal te maak nie.
Ons sit in dieselfde bootjie met alles wat van Sjina af ingevoer word, en ‘n derde van die populasie is op toelaes van die staat!

Gerhard ·

Mense vergeet dat uitvoere tot ‘n stilstand kan kom as alle lande tariewe op invoere plaas. Verder kos alles duurder en is soms onbekostigbaar.

Stephan de S ·

Ek is jammer maar hierdie artikel is n bietjie wydlopig en in botsing met homself bv Amerikaners wat na binne kyk is skynbaar negatief en tog word ons opgeroep om die eie te koester. Is dit nie juis wat Amerikaners probeer doen nie?

Jaco Kleynhans ·

Stephan. Nee jy lees verkeerd. Ek dink nie om na binne te kyk is negatief nie. Ons jou eie mense se belange eerste te stel is goed solank dit nie lei tot internasionale intervensies en selfs oorloë, ens nie. Die Amerikaners moet juis eerder na binne kyk en ophou om onnodige oorloë in die Midde-Ooste te dryf of selfs net te bevorder.

Jacques ·

Die wêreld sal in elk geval ‘n baie beter plek wees sonder aandelemarkte.

JC ·

Die artikel bedoel dit in die sin van “isolasionisme”. Amerika het ‘n bewese geskiedenis daarvan om hulle te isoleer van, en te onttrek uit wereldsake.

Net een eenvoudige voorbeeld is die feit dat die VSA aanvanklik nie deel gevorm het van die VVO nie (President Wilson was een van die vernaamste voorstanders van die VVO en voorsiening is gemaak vir die toetrede van die Verenigde State. Die Senaat van die Verenigde State het egter geweier om die Handves te bekragtig, aangesien dit begerig was dat die land hom moes isoleer van internasionale sake. Hierdie groot moondheid het dwarsdeur die bestaan van die VVO gevolglik nooit lid geword nie, hoewel hy dikwels ’n verteenwoordiger gestuur het om aan die besprekings deel te neem._ -ai, het dit maar so gebly…-
Dit het nog altyd wondere verrig vir die land en in krisistye die deurslag gegee. Dit is niks nuuts vir die VSA nie, en van my kant af moet dit aangeprys word en is dit hoogs lofwaardig.
#MAGA

Leopold Scholtz ·

Beste JC, nee, dit was nie die VVO – of eintlik die VN – nie; jy dink aan die Volkebond, die VN se voorganger.

JC ·

Die artikel bedoel dit in die sin van “isolasionisme”. Amerika het ‘n bewese geskiedenis daarvan om hulle te isoleer van, en te onttrek uit wereldsake.

Net een eenvoudige voorbeeld is die feit dat die VSA aanvanklik nie deel gevorm het van die VVO nie (President Wilson was een van die vernaamste voorstanders van die VVO en voorsiening is gemaak vir die toetrede van die Verenigde State. Die Senaat van die Verenigde State het egter geweier om die Handves te bekragtig, aangesien dit begerig was dat die land hom moes isoleer van internasionale sake. Hierdie groot moondheid het dwarsdeur die bestaan van die VVO gevolglik nooit lid geword nie, hoewel hy dikwels ’n verteenwoordiger gestuur het om aan die besprekings deel te neem._ -ai, het dit maar so gebly…-
Dit het nog altyd wondere verrig vir die land en in krisistye die deurslag gegee. Dit is niks nuuts vir die VSA nie, en van my kant af moet dit aangeprys word en is dit hoogs lofwaardig.
#MAGA!

JC ·

Met respek Hendrik, maar wat jy daar kwytraak oor President Trump se beleid is nie die waarheid nie.
Volg gerus DIE volgende skakels om op hoogte te kom van sake: https://townhall.com/columnists/scottmorefield/2018/03/05/the-chicken-littles-are-hammering-trump-on-trade-but-fox-business-host-charles-paynes-truth-bombs-blow-their-theories-to-smithereens-n2457591, asook https://townhall.com/columnists/patbuchanan/2018/03/06/why-is-the-gop-terrified-of-tariffs-n2457830.

En die laasgenoemde is van die gerekende konserwatis Pat Buchanan…

Die hele wereld is besig om te verander na ‘n meer volhoubare, regse en konserwatiewe (dankie tog!) plek danksy die groot man -sien asb Italie se nasionale verkiesingsuitslae as bewys van Trump se invloed wat wereldwyd aan’t toeneem is.

Hendrik ·

JC, kom ons kom maar ooreen om vriendelik te verskil. Hierdie verwysings wat jy gee is omtrent vir my so goed soos jy stuur my na die ANC webwerf om oor die deugde van grondonteiening sonder vergoeding te lees …

Hendrik ·

Terloops JC, het jy gesien Trump se eie ekonomiese adviseur het vandag bedank oor Trump se beleid oor tariewe?

Alta Roux ·

Ek sien hier baie kortsigtige en oningeligte aanmerkings. Mense, lees wyer as wat die bekombaarste en maklikste inligting vir julle weergee. Dit is eensydig! Daardie man doen net wat hy wil. Buite toestemming van Amerikaanse kongres en goedkeuring van NATO. Gaan lees wyer mense. Hoe hy met alles wegkom, weet ek nie. Hy maak Rusland en China uit as die agressors, terwyl hy ‘n halfmaan van militêre basisse om hulle opgebou het. Alles rondom die staal en aluminium gaan veel wyer as om sy land en mense. Gaan lees wyer. Asseblief?

Gerhard ·

Die president het nie altyd toestemming van konres nodig nie. Hy is immers ook die president en het die reg om sy mandaat te gebruik. Verder NATO geen se in die Amerikaanse regering nie, net soos Rusland geen se het nie. Nie dat Trump en Poetin aards vyande is nie. Ek wil ook bevoeg dat mense Sjina onderskat en nie besef watse gevaar die land kan inhou as daar nie opgetree word nie.

OOm Ekonoom ·

Uitstekende opsomming, dankie. Die antwoord lê daarin om plaaslike besighede te ondersteun, globale reuse te ondersteun net wanneer plaaslike gemeenskappe nie dit self kan maak nie soos spesialistoerusting maar virseker nie hamburgers nie! Ek voel dat Trump wel krediet moet kry vir die goeie groei wat hy nou bewerkstellig.

Disselboom ·

Dis ‘n swak ontleding wat Donald Trump as “hoofstroom:-politikus saam met Angela Merkel te beskryf. Die kommentare gaan sinvoller met die debat oor Trump se invloed om as wat die artikel hierbo doen.

Marthinus Willemse ·

Etienne, Donald Trump het eintlik niks mag as president nie; behalwe om te twiet. As die weermag se bevelvoerder het hy meer as 800 militêre basisse regoor die planeet; meer as 400 net om China. [David Vine, Our base nation (2015); lees ook William Blum, Noam Chomsky, John Mearsheimer, Stephan F Cohen, se werke.]

In 1963 het veldmaarskalk Montgomery oor realistiese politiek in Europa gesê, “A major trouble in the West is that the foreign policy of the United States in Europe, and in Asia, has been based on illusions. Overall, the nations of the Western Alliance have lacked the courage to face up to practical facts. It is an illusion, indeed illogical, to expect Russia to agree that a re-united Germany armed with nuclear weapons can be integrated into the Western Alliance – with nuclear launching sites on the Polish frontier.

The American leaders didn’t seem to understand that history would measure their leadership not so much by the quantity of dollars that were given away as by the quality of the leadership that was provided. Americans generally reckon they can buy anything with dollars; they soon found out that you cannot buy with cash the affection and loyalty of proud nations, nations who want to decide their own destiny and not have it decided for them by the United States… America… now look like being the nation most likely to lead us all into a third world war!” [The Path to Leadership, Fontana, bl 162-165]

Joe Hall ·

Wees versigtig wanneer Montgomery se beuel geblaas word.
Arme ou Montgomery is een wat deur die geskiedenis en feite openbaar is as iemand wat met groot vertoon en ‘n spul wind die arme Engelse so beïndruk het, dat hulle tot vandag die perdekuttels wat hy as vye gesmous het, heelhuids verorber.
Gelukkig het die VSA en die Russe die Duitse magte verslaan, terwyl die Britte tot vandag toe verkondig dat hulle onder Montgomery se leiding(lyding?) die Duitsers plat geloop het.
Die ou klompie eilandbewoners het destyds met groot vertoon oor die kanaal vertrek om die Franse teen die magte van die Duitsers te ‘beskerm’. Hulle het na enkele weke stert tussen die bene in enige ding wat kon dryf, gespring om van die Duitsers weg te vlug, terug na ‘home’ toe.
Daarna het die Russe en die VSA tot hul redding gekom.
Indien dit nie so gebeur het nie, was meeste Britte vandag Duitssprekendes.
:-))))

Peet ·

Aan die skrywer –
Jou heel laaste paragraaf verwys. Is dit nie PRESIES wat Donald Trump probeer nie??

Casper ·

Jip, dis wat Trump doen, hy is die eerste president in dekades wat in sy eie mense se belang optree, en die superryke globale citizens met geen landgebondenheid is boos daaroor, daarom gebruik hulle al hul mag om hom sleg te laat lyk deur kanale soos CNN en en en.

Jaco Kleynhans ·

Die woord ‘presies’ is dalk baie sterk gestel, maar ek dink wel in ‘n groot mate is dit wat hy wetend of ontwetend done.

JC ·

Hendrik, “Townhall” is ‘n gerekende en ingeligte konserwatiewe blad, en Pat Bucahanan is omtrent die beste konserwatiewe meningsvormer wat daar is.
‘n Mens ignoreer sy stukke tot jou eie nadeel. Om dit te vergelyk met dit wat jy noem is net eenvoudig heeltemal verkeerd. Dis al wat ek nog hieroor wil se.

Pietman ·

Kla maar oor invoertariewe maar die VSA sit met ‘n reuse handelstekort. Moet ook nie net invoertariewe in isolasie oordeel nie. Wat is die VSA se huidige uitdagings? Hulle skuldvlakke. Hulle ekonomie word grootliks gebou op verbruikersbetseding. Trump wil dit verander. Wat doen hy? Verlaag maatskappy belasting van 35 na 21%. Dit sal meer vaste beleggings teruglok na die VSA wat sal werk skep en plaaslike produkise opstoot. Die invoertariewe is natuurlik daar om plaaslike staal maatskappye verder te ondersteun . Vervaardiging gaan wen, verbruik gaan verloor. Dis die regte besluit.

John ·

… teen die einde van WW2 het dinge beter gegaan… So ‘n oorlog het sake geswaai. Gaan iets op deeske aarde ooit beter word sonder ‘n groot geveg? Met al die vreemde strominge wat wereldwyd vloede veroorsaak en mense wat van oraloor druk plaas op kulture, is oulike metodes om ons van chaos te red, nie beskikbaar of genoegsaam nie. Ons wil dit nie glo nie, maar die pad vorentoe le nie met rose of lourierblare besaai nie. Inteendeel. ‘n Mens kan nie eers meer kitskos eet sonder om te wonder of jou mediese dekking of begrafnispolis in orde is nie…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.