’n Meer realistiese politiek nou nodig

landsvlae-02

Foto: Munplanet.com

Vra enige ekonoom en hy sal vir jou sê een van die grootste bedreigings vir aandelemarkte is die stabiliteit van geldeenhede en onsekerheid oor kommoditeitspryse. Wanneer mense en instellings onseker is oor die toekoms, neem hulle makliker besluite om hier en nou hul belange te beveilig of om hul posisie te verskans.

Sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog, het die meeste Westerse lande ekonomiese sukses, politieke stabiliteit en redelike vlakke van vrede en veiligheid beleef. Oor die afgelope paar jaar het die gevolge van onbekostigbare sosiale programme, verouderende bevolkings, uitgediende ekonomiese stelsels, onbeheerste immigrasie uit Derde Wêreldlande, globalisering, terrorisme en ’n algemene tekort aan ’n gedeelde visie en burgerlike motivering, tot nuwe onsekerheid in Westerse lande aanleiding gegee.

Die politieke ruimte in talle Westerse lande word toenemend deur opportunisme, ideologiese intervensionisme, reaksionêre denke en populisme beset. Terwyl mense in Europese lande op ’n ouderdom van tussen 60 en 65 jaar met ruim voordele kan aftree, sit baie jongmense sonder werk of slegs met tydelike werk en beleef die middelklas hoe hul inkomste stagneer en hulle nie meer vir aftrede voorsiening kan maak nie.

In Amerika voel ’n groot deel van die bevolking reeds vir lank dat dit eintlik jaar na jaar met hulle slegter gaan. Talle peilings wys hoe mense voel dat hulle harder moet werk sonder dat hul lewenspeil daarmee saam verbeter. In Europa sien jong gesinne hoe stagnante ekonomieë, demografiese druk en enorme staatskuld ’n swaar las op volgende generasies plaas.

Weens al hierdie onsekerheid sien ons vandag dat die politieke middel in duie stort met die linkse en regse pole wat sterker word en toenemend teen mekaar opgestel word. Die verval van die politieke middel, wat in baie Westerse lande vir dekades regeer het, is nie noodwendig sleg nie. Die soort leierskap van Angela Merkel, Barack Obama, David Cameron en talle ander Westerse hoofstroompolitici, het oor die afgelope paar jaar die vlakke van onsekerheid eerder verhoog as verlaag.

Westerse politici het die afgelope paar jaar in reaksie op ekonomiese, politieke en demografiese onsekerheid met oordrewe selfvertroue reageer deur pypdrome van die kitsdemokratisering van die Midde-Ooste tot die ekonomiese en uiteindelik politieke vereniging van Europa voor te staan. Die groot drome wat eerstens die krag van Westerse beginsels moes bewys en tweedens identiteit- en ander verskille moes oorkom in die naam van langtermyn vrede, het grootliks misluk. Amerika en Europa se intervensionisme in die Midde-Ooste was rampspoedig. Die Europese Unie en die Eurosone dreig om uitmekaar te bars en Amerikaners draai soos vir ’n lang periode voor die wêreldoorloë weer hul gesig na binne met die rug na buite.

Die enorme tekort aan politieke realisme lei daartoe dat hoofstroompolitici se pypdrome met reaksionêre denke meeding. Langtermyn onrealistiese idees stry dus teen korttermyn onuitvoerbare kitsoplossings.

Wat die Westerse wêreld nou nodig het, is ’n sterk politieke beweging wat op realistiese ontledings van waar ons nou is en waarheen ons kan gaan, moet fokus. Die mislukking van globalisering moet aanvaar word, intervensionisme moet verwerp word en die waarde van die plaaslike, die kosbaarheid van die eie en die realisme van dit wat nou en hier gedoen kan word, moet weer vooropgestel word.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

John ·

Jaco, hierdie soort gesonde logika word tans hewig gestraf. Jy kan bly wees die brandstapel is effe uit die mode… maar moenie te rustig slaap nie…

Ou Afgetrede Navorser Erdvark ·

In die periode 1970 – 2000 het Westerse nywerhede se leierskap gedink hulle is baie slim om hul fabrieke na China te verskuif waar daar dan glo goedkoop arbeid is maar dat hulle die navorsingslaboratoria in die Weste sou terughou om hul kompeterende voordeel te behou. Intussen het ‘n menigde Chinese van China hul doktorsgrade in die Weste gaan doen en na China teruggekeer. China het destyds besluit om die wêreld se fabriek te word. Hulle het ‘n gefokusde visie en strategie gehad. Nou betaal die Westerse nasies ‘n baie duur prys vir daardie gierigheid en kortsigtige beleid: grootskaalse werkloosheid, toenemende armoede, sosiale onrus en vele meer. En almal is kwaad vir almal. ‘n Menigde sondaars en sondebokke.

Johan ·

Uiteindelik!! Iemand met n brein! Jaco!
Ek woon in amerika , en Jaco se woorde is 100% waar. Die kraak tussen links en regs het n kloof geword. Die linkses hier vereenselwig hulle nou met die Anti-Chris , pro-Aborsie , Pro-Muslim(Islam) ,Anargiste , geweld en plunder , haat en onverdraagsaamheid teenoor enige iemand wat n ander opinie het as hulle….
Die regses herleef nasionalisme en self regering en n nasionale identiteit…presies die teenoorgestelde as die liberals…en globale liberalism is nou besig om Europa te verwoes en die regses is besig om terug te veg..dis hoekom ons nou vir Trump het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.