ʼn Moderne Griekse tragedie

griekeland-geldkrisis

Duisende mense betoog voor die parlement in Griekeland. Foto: Facebook

Met die aanvang van die Europese staatskuldkrisis sedert 2010 was Griekeland gereeld in die nuus. Dit is die afgelope paar maande weer die geval.

Lang toue by kitsbanke, beperkings op kontantonttrekkings, ʼn “bankvakansie”, valutabeheer en politieke twis is die afgelope tyd in Griekeland gesien. Opskuddings het na die breër Europese Unie (EU) uitgekring.

Die Griekse staatskuldkrisis is vir ons in Suid-Afrika ʼn waarskuwing en ʼn les. ʼn Les omdat dit ʼn duidelike gevallestudie oor die gevare van onvolhoubare staatskuld is en ʼn waarskuwing omdat soortgelyke tendense reeds in Suid-Afrika se staatsfinansies bespeur word.

Aanloop na die 13 Julie 2015-ooreenkoms

Die nuutste hoofstuk van die krisis het vroeg in 2015 aangebreek. Die Griekse politieke party Syriza, onder leiding van Alexis Tsipras, het die vorige EU-reddingspakket se bepalings op Griekeland betwis en beloof om besnoeiing van staatsbesteding te beëindig. Later, in Junie 2015, is ʼn skuldterugbetaling aan die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) nie gedoen nie. Groot opskudding het gevolg.

Nuwe paniek het in Griekeland ontstaan en in Junie 2015 het ʼn bankkrisis afgeskop. Kitsbanke is stormgeloop soos mense probeer het om hul geld uit die banke te onttrek. Dit het die reeds kwesbare Griekse bankstelsel op die rand van ineenstorting gelaat. Kontantonttrekkingslimiete, valutabeheer en banksluitings is in werking gestel.

Die nuwe ooreenkoms

Op 13 Julie 2015 het die Europese Unie ʼn derde reddingspakketooreenkoms, ter waarde van EUR86 miljard, bereik om Griekeland se skuld te waarborg.

Vir die Grieke kom die nuwe ooreenkoms met aansienlike verliese van nasionale soewereiniteit. Burokrate van die EU en skuldeisers sal nou ʼn sterker sê in Griekeland se sake hê.

Algehele Griekse skuldvlakke sal ook noodwendig styg. Griekse bates sal na ʼn skuldeisersfonds oorgedra word. Opbrengste van die fonds sal skuldeisers terugbetaal. Skuldvergifnis is tans nie in die vooruitsig nie.

Vir die gewone Griek beteken die ooreenkoms eenvoudig hoër belasting en groter EU seggenskap oor sy lewe.

Waar het Griekeland se probleme begin?

Paul Joubert, my kollega by die SNI, verduidelik kortliks: “Te veel Grieke, insluitend die Griekse regering, het vir te lank heeltemal bokant hul vermoëns geleef. Nou moet hulle vir die gelag betaal.”

Dié stelling som die situasie goed op. Slegs ʼn paar punte word gemaak ter wille van duidelikheid.

Langdurige begrotingstekorte

Die Griekse regering het oor lang tydperke groot begrotingstekorte gehandhaaf. Begrotingstekorte verhoog staatskuld en Griekse staatskuld het toegeneem totdat onvolhoubare vlakke bereik is.

Die ekonomiese ineenstorting van 2008/09 het die Griekse staatskuldkrisis voorafgegaan. Soos die Griekse ekonomie verswak het, kon die Griekse belastinginkomste eenvoudig nie meer die skuldverpligtinge dek nie.

Griekeland-geldkrisis-012010 skuldkrisis

Teen April 2010 bereik kommer oor die Griekse regering se vermoë om sy skuld te betaal, ʼn hoogtepunt. ʼn Skuldkrisis volg en paniek tref die wêreldmarkte. Skuldbriewe van die Griekse regering se waarde tuimel en opbrengskoerse skiet die hoogte in.

Daarna was nuwe Griekse staatskuld baie duurder. Die Griekse regering kon nie meer soos van tevore goedkoop leen om sy besteding te befonds nie en kon ook nie al sy skuldeisers terugbetaal nie.

Griekeland-geldkrisis-02Deurlopende EU- en IMF-reddingspakkette is daarna ingestel om skuld te herfinansier. Die reddingspakkette het inderwaarheid vir Griekeland net nog meer skuld beteken – die eintlike pyn is uitgestel. Meer skuld maak verdere krisisse nog meer waarskynlik soos Junie/Julie 2015 duidelik wys.

Wat het die onvolhoubare skuld en besteding moontlik gemaak?

Griekeland se toetrede tot die EU en die Euro-geldeenheidsone het grootliks tot die onvolhoubare opbloei van skuld bygedra. Dié en verdere redes vir die skuldkrisis word kortliks bespreek.

Griekeland-geldkrisis-03Toetrede tot die EU en Eurosone

Saam met EU-lidmaatskap sedert 1981 en toetrede tot die Euro-geldeenheidsone in 2001 het nuwe, goedkoper skuldbronne vir Griekeland na vore getree. Veral ná 2001 kon die Griekse regering, weens buitengewone lae rentekoerse, meer geld goedkoper leen.

Uiterste staatsbesteding

Die Griekse regering het oor die jare skuld en inkomste onvolhoubaar aan hul staatsdiens bestee. Die aantal staatsamptenare het aansienlik vermeerder. Spesifiek staatsbesteding op maatskaplike toelaes en staatspensioene het ruim gegroei. Volgens beskikbare bronne is 26,1% van staatsuitgawes in 2011 op pensioene en toelaes bestee. Rente op lenings was ʼn verdere groot uitgawe teen 19,8% van uitgawes.

Beskrywing van 2011 staatsuitgawes% van uitgawes
Pensioen en maatskaplike toelaes26,1%
Rente (op staatskuld)19,8%
Gesondheid en welsyn9,8%
Onderwys8,3%
Ontwikkelingsfinansiering6,9%
Ander uitgawes29.1%
Bron: http://t-government.blogspot.com/2011/06/greek-budget-visualisation-where-do.html

Uit die tabel hierbo sien ons dat groot bedrae aan toelaes, rente en ander oordragbetalings bestee is. Sulke uitgawes is nie ekonomies neutraal soos sommige glo nie. Wanneer meer en meer besteding van volhoubare markgedrewe kapitaalprojekte weggelei word, word die kapitaalstruktuur ondermyn en verswak. Dit laat mense kort voor lank armer, met minder produktiewe bedrywe en besighede wat mededingende produkte maak en bemark. Dit veroorsaak ʼn ongesonde afhanklikheid van die staat.

Belastingontduiking

Saam met die wanbesteding wat hierbo genoem word, is hoë koerse van belastingontduiking blykbaar in Griekeland teenwoordig. Belastingontduiking sal ook die vermoë van die Griekse regering om skuld te handhaaf, ondergrawe.

Staatsoorname van die private sektor

Talle groot ondernemings het mettertyd oorafhanklik van die Griekse regering geraak. Ondernemings wat grotendeels van staatsbesteding, -tenders en -kontrakte afhanklik is, sukkel as die vloei van staatsgeld, soos ná 2010 in Griekeland, toegedraai word.

Korrupsie

Volgens beriggewing is ʼn menigte gevalle van korrupsie in die Griekse media ontbloot. Blykbaar is knoeiery, soos waar staatsamptenare korrupte ondernemings en mense met staatsfondse bevoordeel, algemeen. Een ontleder beraam dat korrupsie en omkoopgeld ʼn direkte bydrae van tot 20% tot die Griekse staatskuld (soos in 2010) gemaak het.

Wat beteken dit vir Suid-Afrika?

Soos in die Griekse ekonomie speel die Suid-Afrikaanse regering toenemend ʼn rol in die plaaslike ekonomie. Alhoewel Suid-Afrikaanse staatskuld nog nie op Griekeland se vlakke is nie, het plaaslike regeringskuld skerp sedert 2009 toegeneem.

ʼn Groeiende staatsdiens plaas ook al hoe meer druk op plaaslike belastingbetalers. Groot bedrae word jaarliks namens belastingbetalers aan oordragbetalings, soos welsyn en rente, bestee. Dit beteken dat fondse toenemend van markgedrewe projekte na staatsbesteding en ondoeltreffende ondernemings in staatbesit (SOEs) vloei. Dit verhoog die kans op vrugtelose wanbesteding.

Baie ondernemings is reeds deur staatskontrakte en staattenders van staatsfondse en SOEs afhanklik gemaak. Hierdie ondernemings se voortbestaan hang sterk van die vloei van staatsgeld af.

Verder is ʼn reeks ingrypende wette, kodes en beleid wat ondernemings en beleggings kan strem, reeds in werking. Dit kan die ekonomie verder onderdruk en groei belemmer. Swak groei is veral gevaarlik by gevalle van hoë staatskuld.

Dit is moeilik om die mate waartoe die ekonomie deur hierdie faktore ondergrawe word, presies te kwantifiseer. Tog sien ons uit die Griekse voorbeeld dat groeiende skuld, saam met langdurige staatsbelemmering van die ekonomie, nie vir ewig sonder gevolge kan voortgaan nie.

Griekse tragedies gebeur nie net in Griekeland nie. Sou dieselfde foute as in Griekeland plaaslik voortgesit word, is dit gewoon realisties om soortgelyke gevolge as in Griekeland te verwag.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Gerhard van Onselen

Meer oor die skrywer: Gerhard van Onselen

Gerhard van Onselen is ʼn senior navorser by Sakeliga.

Deel van: Geldsake, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Peet Schabort ·

Kortweg het R6 een Amerikaanse dollar gekoop in 2005.
Nou is dit meer as R12.
In 1961 met desimalisering word 1 Engelse pond = R2.
Nou trek ons by oor die R19 vir daardie pond.
Toegegee dat baie jare verloop het maar ons het nie tred gehou met hierdie geldwaardes.
Daar was/is totale agteruitgang. Dalk is daar ‘n kundige wat kan projekteer waar ons eintlik moes gewees het teenoor genoemde geld.
Daar is al soveel striemende wette gemaak waarvan die nuutste een gaan wees om op landbougrond jou voor te skryf waarmee om te boer. Ook die erf van plaaseiendom gaan in gedrang kom.
Kyk na werkloosheid en misdaad in hierdie land dan vertel ook dit ‘n storie.
Maak jou reg vir ‘n Griekse tragedie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.