ʼn Normale lewe vereis ʼn normale land

flip-buys-2017-11-01

Flip Buys, die voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: René Roux.

Wat is ons almal se grootste begeerte? Dis tog om net ʼn normale lewe te lei. ʼn Normale lewe vir enige mens ter wêreld is sekerlik orals dieselfde.

In ʼn neutedop wil die meeste mense die volgende hê:

  • ʼn Veilige bestaan voer en met oop vensters kan slaap.
  • Werk wat en waar jy wil sonder rassekwotas wat jou inperk.
  • ʼn Gelyke bestaan voer, sonder om bó of ónder ʼn ander groep behandel te word.
  • Normale vryheid om te doen wat jy wil sonder staatsvoorskrifte.
  • In ʼn werkende land met werkende dienste bly waar dinge nie verval nie.
  • ʼn Eerlike en bekwame regering, en waar slegte regerings uitgestem word.
  • Inspraak in die besteding van jou belasting, en waarde vir jou geld.
  • Ouerinspraak in jou kinders se onderwys en opleiding, sonder dreigende politici.
  • Gesonde rassebetrekkinge waar mense met wedersydse erkenning en respek saamleef.
  • Reg en geregtigheid, waar wetsgehoorsame burgers teen kriminele beskerm word.
  • ʼn Bedeling wat jou taal, kultuur en geskiedenis respekteer.
  • ʼn Normale toekoms waar mense nie wonder óf daar nog ʼn toekoms is nie.

Abnormaal

Die uitdaging in ʼn land soos Suid-Afrika is dat minderhede vir dit moet veg wat meerderhede hier en in ander lande as vanselfsprekend aanvaar. Dis nie volhoubaar om as minderheid te leef wat weens die bevolkingsamestelling ewig uitgesluit van besluite sal wees wat jou lynreg raak nie. Dis nie normaal om altyd bekommerd te wees oor wat die regering beplan om met jou pensioengeld te doen, of dat hulle jou in ʼn staatsmedies wil dwing waarvoor jy betaal maar waar jy nie diens kry nie. Dis glad nie normaal as staatsondernemings vir jare misluk en die regering steeds aan hulle vasklou vir die rekening van belastingbetalers nie.

Dis abnormaal as ʼn regering wat die land so wanregeer dat ons nou die hoogste werkloosheidskoers ter wêreld het, weer en weer verkies word. Die welstand van ʼn land word deur die welstand van sy werksmag bepaal. Die regering regeer so swak dat miljoene mense nie werk kan kry nie, en vervang boonop werk met welsyn om stemme te koop om hul swak regering voort te sit. Dan word die hardwerkende minderheid teen wie gediskrimineer word nog beskuldig dat die ellende in die land hulle skuld is! Dis totaal abnormaal!

Normaliteit

Dinge kan nie aangaan soos nou nie; ons almal kan sien die land is op ʼn glybaan na Zimbabwe se situasie op pad. As staatsbestuur misluk is selfbestuur die enigste oplossing. Suid-Afrika se grondoppervlakte is so groot soos die gesamentlike oppervlakte van Brittanje, Duitsland, Italië, Nederland, België, Griekeland, Ierland én Denemarke. Dis heeltemal te groot en te kompleks om te dink dat die ANC so ʼn groot landstreek kan regeer. Niemand sal dit eers oorweeg om al hierdie lande onder een sentrale regering te probeer indruk nie. Dit sal nooit eers in Europa werk nie, wat staan nog hier? Suid-Afrika is veel eerder ʼn landstreek as ʼn normale land.

Afrikaners

Afrikaners se bestaanskrisis is nie ons klein getalle nie, maar ons yl verspreiding wat veroorsaak dat ons orals in die minderheid is en landswyd dieselfde probleme het.

Ons is meer Afrikaners as die onderskeie bevolkings van Namibië, Lesotho, Macedonië, Slowenië, Letland, Botswana, Gambië, Gaboen, Estland, Swaziland, Mauritius, Ciprus en Luxemburg, asook nog ’n menigte ander volke. Maar ons woon nie gekonsentreerd soos al hierdie volke nie, en is gevolglik ’n kwesbare minderheid tussen ’n groter meerderheid.

Dit is boonop nonsens dat daar van ons verwag word om as Afrikaners te ontbind – ons moet kwansuis in ʼn Suid-Afrikaanse geheel opgaan. Dis nie eens van die Duitsers na die wêreldoorlog verwag nie. Hulle is vandag nie net Europeërs nie, maar steeds Duitsers wat hulself regeer en nie onder rassewette en ʼn korrupte wanregering ly nie. Boonop sluit die rasseformules van transformasie ons van opgaan in die groter geheel uit. Die ANC beskou en behandel wit mense as tweedeklasburgers. Hul eie beleid sê duidelik dat die ANC se doel die bevryding van Afrikane in besonder en swart mense in die algemeen is. Hulle spel ook uitdruklik ʼn beleid van “Afrikaan-oorheersing” in hulle dokumente uit.

Apartheid onder nuwe bestuur

Ons kan nie meer vir die skynheilige “nie-rassigheid” van ʼn party val wat ʼn hele rassebedeling hervestig het nie. Apartheid is nie in 1994 afgeskaf nie. Dis net omgekeer en onder nuwe bestuur geplaas.

Ons kan nie net méér van dieselfde ding doen nie, want dit gaan net dieselfde uitkomste hê. Dr. Anton Rupert het tereg gesê dat ʼn klein volk groot moet dínk en groot sal moet dóén om te oorleef.

Daarom sal die Solidariteit Beweging ons konsentrasiestrategie moet verskerp om groter normaliteit te bewerkstellig. ʼn Maglose ylverspreide minderheid se vryheid, veiligheid en voorspoed gaan altyd deur die leiers van ʼn demografiese meerderheid bedreig word wat belasting-melkkoeie en sondebokke vir hulle mislukkings soek. Ons sal onder hierdie onbevoegde korruptes moet uitkom.

Ons kinders verdien ʼn normale toekoms.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

skurweberg ·

Daar is ‘n bose gees in Suid Afrika vaardig. Sy naam is “ontkenningsindroom” Selfs Albert Einstein het eenkeer gesê “dat ons nie ons huidige probleme kan oplos deur op dieselfde manier te dink as toe ons die probleme geskep het nie” ‘n Fyn en delikate lakmoestoets wat deur almal wat in regering was en nou is, aangele moet word om oplossings vir SA se probleme te vind.

Klein Karoo Loper ·

Ons gaan ongelukkig moet wag tot die ANC sy mag oor die land verloor m.a.w. sodra die ekonomie in duie stort. Dan gaan daar ruimte wees vir Afrikaanse leiers om met die ander rasse te onderhandel om die land te verdeel sodat elke ras suksesvol op hul eie kan floreer. Ek gun elke ras God se guns maar ons kultuur verskil te veel. Maar die duiwel soek sy demokrasie in al die lande sodat sy planne vir een wereld sisteem in plek kan kom.

Nici ·

Die Afrikaner moet onderhandel om grond te koop, al is dit van Namibie. Wanneer die ANC sien mens is nie meer desperaat nie en Afrikaners begin trek na hul eie suksesvolle land, gaan die houding vinnig verander. Hul het geen respek nie want hul het al die mag. Dis soos ‘n slegte liefdesverhouding waarin ons vasgevang is. Ons ‘minnaar’ moet in die bek geruk word en besef hys nie ons enigste opsie nie.

Tanniepetoors ·

Puik artikel. Dankie Flip. Hoe kry ons hierdie waarhede tuis by ons medelandgenote? Ek wou al so dikwels vra watter persentasie van die bevolking is regtig beter daaraan toe na 1994?

Harley Davidson ·

Sou mnr Buys vandag die president van Suid-Afrika was sou die land vry en voorspoedig gewees het met dit wat ek elke week lees sou ek vir hom gestem het ONGEAG die party wat hy sou verteenwoordig

Henk ·

Ek is nie van nature negatief nie, maar op 64 begin ek ernstig twyfel dat ek die voorreg sal hê om ‘n terugkeer na die “normale” vir my mense tydens my aardse lewe te kan aanskou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.