’n Nuwe Afrikaner werklikheid

Afrikaner

Argieffoto.

Deur dr. Morné Diedericks

In 1994 het ’n nuwe politieke orde in Suid-Afrika begin. Die nuwe politieke orde is deur die Afrikaners op hoofsaaklik drie wyses omhels naamlik, integrasie, emigrasie en die skep van ’n nuwe Afrikaner-werklikheid.

Ná 24 jaar kan ons seker sê dat die mentaliteit van die magtige Afrikaner nou tot ’n staat van nederigheid gebring is. Die behoefte vir die Afrikaner om oor die hele Suid-Afrika te wil regeer, het verdwyn. Die nostalgie van die ou-Suid-Afrika het uitgesterf en die nuwe nederige Afrikaner staan nou weer eens voor groot toekomsvraagstukke. Die wat wou emigreer het gegaan en sommige het weer teruggekom, die wat wou integreer het gesukkel, omdat hulle nie hul Afrikanerkultuur en -waardes kon afsterf nie. En die skep van ’n nuwe Afrikanerwerklikheid het op kleinskaal gebeur deur Afrikaner-instellings.

Die toekoms en die voortbestaan van die Afrikaner is die afgelope paar maande weer oopgekrap deur die gerugte van grondonteiening sonder vergoeding. Die gerugte het in ’n werklikheid verander ná die ANC se afkondiging op 31 Julie oor die ondersteuning van die wetverandering ten opsigte van grondonteiening sonder vergoeding. Die verskillende interpretasies van wat die wetverandering beteken en hoe dit verstaan moet word, is legio.

Die feit van die saak is dat beleggers nie belangstel om te belê in Suid-Afrika nie, aansoeke om emigrasie het toe geneem en ’n algehele paniekerigheid oor die toekoms van die Afrikaner in Suid-Afrika is aan die orde van die dag.

Net soos in 1994 staan die Afrikaner weer aan die begin van ’n nuwe politieke orde met die drie opsies van integrasie, emigrasie en die skep van ’n nuwe Afrikanerwerklikheid. Die Afrikaner het gelukkig die afgelope 24 jaar waaruit ons kan leer.

Eerstens is die naïwiteit aangaande integrasie minder en mense vertrou nie meer die propaganda van die huidige politici nie. Buitendien is integrasie in ’n vooruitstrewende land beter as in ’n land soos Suid-Afrika waar ekonomiese agteruitgang die voorland is. Tweedens is voor- en nadele van emigrasie reeds beproef en weet mense ook tot ’n groter mate waarvoor hulle hulself inlaat. Albei hierdie opsies van integrasie of emigrasie kan tog nie die oplossing wees vir die voortbestaan van die Afrikaner nie, omdat die Afrikaner per definisie daardeur sy identiteit opgee.

Die derde opsie, die skep van ’n nuwe Afrikanerwerklikheid lyk ook in 2018 anders as in 1994. Die Afrikaner is baie nederiger en selfs die kleinste politieke werklikheid waar ons oor onsself kan regeer, lyk al vir ons aantreklik. Afrikanerinstellings wat oor hulself regeer (soos dié wat opgerig is deur die Solidariteit Beweging) het nuwe momentum gebring aan die nuwe Afrikanerwerklikheid. As ons maar net dink aan ’n dorp soos Orania wat vroeër jare slegs die nuus gehaal het oor hul agterlike gedagtes en geïsoleerde visie. Ewe skielik het die dorp verander in ’n lewensvatbare ekonomiese dorp wat deur duisende toeriste jaarliks besoek word en die media haal omdat die dorp netjies en veilig is. Verder tree die dorp se leierskap in gesprek met ander leiers wat nasionale en internasionale aansien geniet.

Die nuwe Afrikanerwerklikheid gaan binne die volgende 24 jaar vanuit sy nederige posisie van selfregering en selfbeskikking ’n konsentrasiestrategie moet volg waarin die beginsels van ’n dorp soos Orania toegepas word. Hierdie beginsels sluit in selfregering en gesonde verhoudinge met belange partye.

  • Dr. Morne Diedericks is die akademiese hoof van Aros.
  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

20 Kommentare

jongste oudste gewildste
Alklaar

Dit het reeds begin. Eureka eerste veiligheidsdorp naby Garies. Daar IS hoop vir die blankes in Suid-Afrika. Gaan kyk gerus op fb en sluit aan.

Gemaskerde Sopbeen

Tog jammer dat ons nie die regering van die dag kan motiveer om apartheid in sy volle omvang om te keer, en AL die blankes van SA toe te laat om te herverstig in die voormalige TBVC lande nie. Die wat dan in SA wil werk kan so doen, verblyf huur, met ‘n dom pas rondloop, geen eiendom hier besit nie…………en ook geen belasting aan die staat betaal nie. 5 miljoen blankes in Transkei, Bophutatswana, Venda en Ciskei………sal binne 5 jaar ontwikkel tot selfregerende entiteite….met eie infrastruktuur, polisie, weermag, universiteite, skole, hospitale en industriëe van wêreld standard. En die regering… Lees meer »

Celtis Africana

Pragtige samevatting van sleutelkwessies en die pad vorentoe vir die Afrikaner.
Die leiers is reeds daar.
Samewerking tussen die verskillende Afrikaner entiteite gaan toenemend onontbeerlik raak in hierdie saak.

Nel

Ons kan. Ons het al voorheen na moeilike tye weer as ‘n volk opgestaan.

Dit herinner my aan Totius se gedig, ‘Vergewe en vergeet’ waarin hy die geknakte doringboompie met die verslae Afrikanervolk (na die Tweede Vryheidsoorlog) vergelyk;
“Maar tog het daardie boompie
weer stadig reggekom,
want oor sy wonde druppel
die salf van eie gom”

Jerry

Dit het gewerk vir Orania omrede daar nie baie selfaangestelde leiers was nie en die volgelinge ingekoop het by die leier se realistiese en lewensvatbare visie en manier van dinge doen wat gerig was op n nederige benadering met gesonde verhoudinge met alle belanghebbende partye. Die leier en volgelinge het met niemand skoorgesoek nie, niemand gedreig en niemand se goeie intensies bedreig nie. Hulle het geen ondermynende inisiatiewe teen die magshebbers van stapel gestuur nie en hulle volgelinge nie n teiken van vergelding gemaak nie. Hulle het nie staatgemaak op lede getalle deur halwe waarhede wat dit ten doel het… Lees meer »