ʼn Nuwe, beter wêreld wag ná Covid-19

(Foto: pixabay)

Dit is in die aard van die mensdom dat wanneer dinge goed gaan, mense dink dat dit sal aanhou goed gaan, en wanneer dinge sleg gaan, dink mense ook dat dit altyd sleg sal gaan. Daarom is dit verstaanbaar dat mense in die tyd van ʼn wêreldwye pandemie moedeloos op ʼn donker toekoms sit en wag.

In werklikheid lei groot krisisse egter meestal tot beter tye. Dit is asof rampe juis die mensdom aanspoor om sy skeppende energie in te span om van die wêreld ʼn beter plek te maak. Kyk maar na die Afrikaner se eie geskiedenis. Die eerste 20 jaar van die vorige eeu – 1900 tot 1920 – was ʼn verskriklike swaar tyd. Dit het begin met die verwoestende Anglo-Boereoorlog en die grootskaalse armoede daarna. Ons het ons vryheid verloor en is as kolonie by die Britse Ryk ingelyf. Dit is deur ʼn burgeroorlog én ʼn wêreldoorlog in 1914 gevolg, met die Groot Griep van 1918 daarna. Ramp op ramp, maar tog was dit ook ʼn tydperk van ongekende opbou. Afrikaners het uit die verbrande aarde opgestaan en talle maatskappye, vier universiteite, skole, hospitale, welsyns- en kultuurorganisasies, Afrikaans as moderne taal, kerke en die Helpmekaar-beweging opgebou.

Dekades van voorspoed

Dieselfde het ná die Tweede Wêreldoorlog gebeur. Paul Samuelson, bekendste Amerikaanse ekonoom van daardie tyd, het verkeerdelik voorspel dat die terugkeer van derduisende soldate en die staking van oorlogsproduksie miljoene mense werkloos sou laat. Hy het donker tye vir die wêreld voorsien. Selfs die magtige VSA se geld was op en die verwoeste Europese state sou nie hul bevolkings kon help nie. Maar daar gebeur toe net mooi die teenoorgestelde. Die Westerse wêreld het drie dekades van ongekende groei en voorspoed beleef!

Daar was verskeie redes hiervoor. Die oorlog het tot ʼn ontploffing van nuwe tegnologie, soos rekenaars, gelei, wat weer ʼn groot verbetering in produktiwiteit tot gevolg gehad het. Gesondheidsorg het drasties met vindingryke middels soos penisillien en talle nuwe behandelingsmetodes verbeter. Nuwe ekonomiese stelsels het ontstaan, werklose soldate is op groot skaal heropgelei, en verbruikersbesteding het ná die swaarkry van die oorlog die hoogte ingeskiet. Die toetrede van vroue tot die werksmag het die arbeidsmark verder vergroot.

Weerlig en reën

Die belangrikste bestanddeel van die oplewing was seker dat mense ná die lang tyd van militêre gesag weer vry van staatsdwang wou wees. Derduisende het hul eie ondernemings begin, of hul skeppende energie gebruik om lewens te verbeter.

Rampe is baie sigbaar en hoorbaar, soos weerlig en donderstorms. Positiewe ontwikkelings is meer soos sagte reën – minder opmerklik, maar meer blywend. Dit is hoekom mense op krisisse oorreageer en op positiewe nuus onderreageer.

Covid-19 en die harde inperkings het baie lewens en die lewensmiddele van derduisende mense ernstig geraak. In Suid-Afrika het dit ʼn bestaande ekonomiese en staatskrisis bykans in ʼn ramp verander. Die swak, korrupte en rassistiese ANC-regering het ʼn breuk met talle Afrikaners veroorsaak. Ons is op ons eie. Ons weet nou dat ons sélf ons toekoms moet skep. Dit is ʼn benouende wete, maar terselfdertyd bevrydend. Ons was al daar, en ons is steeds hier. Ons sal weer bo uitkom.

ʼn Boer maak altyd ʼn plan.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Werner ·

Flip Buys is darem ‘n uitskieter in terme van Afrikanerleierskap. Hierdie artikel is, nes al sy skrywes, vol realiteit, intelek en veral praktiese hoop. Dankie, Flip.

Lees gerus Flip se boek, Die pad na selfbestuur

Schalk ·

En so kan die geskiedenis van die mensdom getuig van krissise wat uiteindelik in positiewe groei en geleenthede omskep word. Die geheim is om jouself eers te bevry van dinge wat jy nie kan verander nie soos die politieke inmenging en korrupsie. Daar is soveel maniere om baie van die ” rooi band ” te omseil en te vermy. “Don’t waste time on things you can’t change.

jeff ·

Seker sal daar ‘n wereld na die Wuhan pandemie bestaan maar dit sal ‘n treurige ding wees.

CA ·

Ek wil nou nie reën op die Afrikanerparade nie, maar daai 3-dekade (en langer) oplewing was volgens my verstaan grootliks te danke aan die oorskakeling na goedkoop en volop olie-energie wat agter al daai mooi dinge (nuwe tegnologie, produktiwiteit, gesondheid, opleiding, groeiende salarisse/besteding) sit.

En nou is energieproduksie – en dié van baie ander belangrike hulpbronne – op ‘n afdraende pad. En globalisasie veroorsaak pandemies. En die wêreld raak letterlik warm.

So ons tradisionele boereplanne gaan nie help nie. En ons jongmense moenie ‘n rat voor die oë gedraai word nie: die “sondes van die vaadre” haal ons in. Ekonomiese groei soos ons ouers dit geken het is iets van die verlede. Groeiende salarisse, pensioene en vakansiehuise is nie meer vanselfsprekend nie. Die verwagtinge moet getem word. Die toekoms gaan anders lyk. Dit alles moet ons uitwerk, voor dit op ons afgeforseer word – nie deur die regering nie, maar deur die realiteite.

Petrus Albertus ·

@CA Ons sal eenvoudig maar ‘n plan moét maak. Ons kan tog nou nie net op ‘n hoop in sak en as gaan sit nie, dit gaan niks vermag nie. Ook was die ekonomiese voorspoed darem nie net beperk tot daardie drie dekades nie – globaal gesproke – die 1990s en eerste dekade van die 2000s was baie voorspoedige dekades vir Wes-Europa, die VSA, Suid-Amerika, Suid Oos Asië en beslis selfs vir China en Rusland en uiteindelik ook vir ons. Wat die wêreld wel gaan moet afskud is die instellings-melancholie en hierdie virus kan dalk net die katalisator wees om dit te doen – terwyl die wantroue in regerings wêreldwyd so duidelik gevoorgrond word – tyd vir politieke verandering. Interessante tye.

CA ·

@PetrusAlbertus – Ek stem saam, ek stel juis voor ons moet die bul pro-aktief aan die horings pak en nie net kla oor, of wag vir die regering nie, want die realiteite van energietekorte, duurder/minder hulpbronne, onstabiele klimaat, moontlike verdere pandemies wat internasionale vervoerlogistieke affekteer, en dies meer klop reeds aan die deur en gaan selfs die beste, mees effektiewe regerings onkant vang. Dis ‘n lang gesprek, maar ek dink dit kom neer op minder van alles, en nader (daar is bv. reeds lande wat sedert COVID begin werk maak van meer plaaslike produksie van noodsaaklikhede). Terloops, ek dink die latere dekades waarna jy verwys het ook grootliks op die oorblywende energie-golf gery, maar sedert die deregulasies van die 80erjare het die wêreld al meer op skuld begin leef om daardie duurder energie te kan bekostig. As ek reg onthou het dit teen die 2000’s reeds iets soos 3 of 4 USD van skuld gekos vir elke $1 GDP van groei en voorspoed.

Jaco ·

‘n Nuwe beter wêreld ja; ‘n wêreld met bitter min toerisme, toe kerke, toe discos en nagklubs, beperkings op restaurante, social distancing, handreiniger, maskers. Ek sien maar swarigheid voor. En in SA kom nóg ‘n nare dimensie by: ramaphosa het meer as eenkeer gesê dat inperking wys hoe ongelyk SA is en dat wit mense se rol in die ekonomie moet stop. So ja, voorwaar swaar tye wat voorlê in dié “nuwe beter wêreld”….

Johan ·

Ons moet seker ook net eers die ‘jab’ neem om te kan kwalifiseer om deel te hê aan hierdie nuwe post Covid wêreld né.

Hendrik ·

Ek voorspel dat die inenting so oor 6 maande iets van die verlede wees soos al die data korrek geanaliseer word en die hofsake die inenting vervaardigers aan die pen gaan laat ry.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.