’n Nuwe regering vir Italië

italiaanse-vlag

Foto: Jéshoots/Pexels.com

Ná bykans drie maande se vrugtelose onderhandelinge tussen die drie uiteenlopende partye oftewel alliansies wat op 4 Maart vanjaar tot die Italiaanse parlement verkies is, kon uiteindelik ’n regeringskoalisie uit die Vyfsterbeweging (Movimento Cinque Stelle [M5S]) en die regspopulistiese Lega tot stand kom. Die ooreenkoms moet nog deur die partylede bekragtig word en natuurlik moet die staatspresident die regering benoem, maar dit is ’n formaliteit.

Die verregse blok, waarvan die Lega die grootste party is, en die M5S, die grootste enkele party, het al kort ná die verkiesing onderhandel, maar vir die M5S was die probleem die teenwoordigheid van Silvio Berlusconi in die moontlike regering.

Berlusconi, in die verlede verskeie kere eerste minister en ’n omstrede en kleurryke persoon in die Italiaanse politiek en besigheidswêreld, staan vir die M5S juis vir die ou korrupte politieke stelsel van Italië waarteen hulle gekant is en wat hulle eens en vir altyd wil agterlaat. Die leier van die Lega, Matteo Salvini, het volgehou dat sy party deel van ’n alliansie saam met Berlusconi is en dat hy dit nie sal verbreek nie. Pogings van die M5S om met die linkse Demokratiese Party (DP) ’n koalisie te vorm, het ook nie ver gevorder nie, want ná hul swak vertoning in die verkiesing wou die DP liewers in die opposisie wees, en boonop verteenwoordig hulle juis die gevestigde orde waarteen die M5S gekant is. Toe mnr. Berlusconi egter aangekondig het dat hy hom as persoon onttrek en sy party, die Forza Italia, ’n Lega/M5S-koalisie sal duld sonder om deel daarvan te wees, was die pad oop vir ’n koalisie tussen die twee wenners van die verkiesing.

Die aangewese nuwe eerste minister, Giovanni Conte, 53 jaar oud, is nogal ’n verrassing en werklik ’n nuwe gesig. Hy is ’n prokureur en professor vir privaatreg wat al by verskeie universiteite in Italië en in die buiteland gestudeer en gedoseer het. Hy is wel ter tale en akademies uitnemend. Polities het hy egter tot dusver nog nie enige posisie beklee nie. Conte het eers relatief onlangs lid van die M5S geword en is ook nie parlementslid nie. Hy was die kompromiskandidaat tussen die twee partye, omdat nóg die M5S se leier (Luigi di Maio), nóg die Lega se leier (Matteo Salvini) vir die ander een wou terugstaan. Alhoewel Conte lid van die M5S is, is hy nie ’n politikus nie en ’n buitestander en was ook vir Salvini aanvaarbaar. Di Maio word nou waarskynlik minister van buitelandse sake en Salvini minister van binnelandse sake.

Italië het ’n magdom probleme, veral op ekonomiese terrein. Reeds nou staan die staatskuld op 130% van die land se bruto binnelandse produk (BBP), die tweede meeste binne die Europese Unie (EU) na Griekeland. Werkloosheid, veral onder die jeug, is hoog en die per capita-inkomste krimp al vir ’n aantal jare.

Sowel die Lega asook die M5S is teen die vorige regering se beleid van besuiniging (“austerity”) wat op aandrang van die EU toegepas word, gekant. Die M5S is ekonomies eerder links en het ’n basiese inkomste en ’n terugkeer na vroeë aftrede, wat die vorige regering se ekonomiese hervormings ongedaan maak, aangekondig. Die Lega het ’n eenheidsbelasting van 15% vasgeskryf, iets wat op lang termyn goed is vir die ekonomie, maar vir eers die skuldvlakke verder verhoog weens laer belastinginkomste.

Al twee partye, maar veral die Lega, wil die instroming van vreemdelinge beperk en ’n halfmiljoen onwettige immigrante terugstuur. Hulle wil ook Italië teenoor die EU eerste stel en minder in hul huishoudelike sake laat inmeng. Hulle sal egter nie so ver gaan om die Euro af te skaf of die EU te verlaat nie.

Alhoewel die EU nie van die nuwe regering se planne hou nie, het hulle min drukmiddele. Italië is die derde grootste ekonomie van die EU (ná Brexit) en kan nie soos Griekeland hanteer word nie. Aangesien die EU al in die geval van Griekeland gewys het dat hulle ten alle koste aan die Euro wil vashou, kan hulle ook nie Italië bangmaak met ’n moontlike uitwerping uit die Euro-sone nie.

Verder is beide partye meer toegeeflik teenoor Rusland, teen wie tans EU-wye sanksies bestaan, maar bevestig ook die Westerse alliansie en die goeie bande met die VSA. Beide partye is ook ten gunste van meer federalisme en lokalisme. Oorspronklik was die Lega ten gunste van ’n sterk outonomie of selfs afskeiding van die welvarende Noorde van Italië, maar die M5S word veral in die armer Suide van die land ondersteun en sulke planne is laat vaar.

Meer seggenskap op grondvlak en groter outonomie vir die verskillende streke is egter wel vorentoe moontlik. Interessant sal ook wees hoe die nuwe regering die Suid-Tirol-kwessie (die Duitssprekende provinsie in die Noorde van Italië) sal hanteer. Suid-Tirol het later vanjaar provinsiale verkiesing en kan swaai in die rigting van aandrang op groter outonomie.

In die opposisie was die Lega altyd vir groter outonomie van Italië se streke, nou moet hulle wys dat hulle dit in die regering ook is.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JC ·

Wonderlike nuus,

inoltra il conservatorismo/Voorwaarts konservatisme ! (wel, al is dit nie op ekonomiese en/of maatskaplike vlak nie, solank dit op “sosiale” vlak is)

Terug na tradisionalisme en nasionalisme, die wereld het genoeg gehad van veragtelike en sieldodende liberalisme en kwasi-marxisme!/Tornando al tradizionalismo e al nazionalismo, ne abbiamo avuto abbastanza di spregevole e devastante liberalismo e quasi-marxismo!

Vergelyk hierdie ontwikkeling nou met die skreiende skande van die liberaal-links, verlore en verwarde Republiek van Ierland; wat JA vir aborsie gestem het- werklik- daar IS NIE MEER HOOP vir die Iere nie, en GEEN salf meer te smeer nie- hulle aanvaar nou blykbaar gelate net agteruitgang, verval, kniebuiging voor vreemde kulture en onChristelike gebruike en selfverwyt…

Italie gee ons egter nou ‘n Nuwe Hoop, pragtig dat die ouens hulle dinge kon uitsorteer, pragtig!!!

Make Italy Great Again/Rendere l’Italia di nuovo grande !

Nog ‘n hou weg aan die Europese Unie (ook bekend as die “EUSSR”)-hoeveel houe kan hulle nog vat voordat die hopeloos onregmatige, voorskriftelike, totalitere, en gesentraliseerde burokrasie/ kaarthuis in Brussel heeltemal inmekaartuimel?

JK ·

Mooi so Italy! Ek’s n trotse burger! Julle maak my elke dag meer trots!

JC ·

Toe nie gebeur nie…
Die versmorende reikwydte van die onderduimse EU is groter as wat mens dink:#Impeachment Neigings op Italiaanse Twitter oor Anti-Populistiese staatsgreep.
Italianers was Maandag in rep en roer oor die besluit van president Sergio Mattarella om die nuut verkose populistiese regering te verwerp in die oënskynlike belange van die EU.

Dit was die eerste keer in die geskiedenis van die Italiaanse Republiek dat ‘n president die voorstel om ‘n regering van die verkose partye uitgegooi het; en selfs kritici van die populistiese oorwinnaars het erken dat die Italiaanse mense die skuif as ‘n klap aan die Italiaanse kiesers sal neem,en die hele demokratiese proses.

Beide Matteo Salvini en Luigi Di Maio het Mattarella se weerstand gekritiseer. Hulle het daarop aangedring dat dit die ontevredenheid van “Berlyn” en ander vestigingsmagte weerspieël,eerder as ware besorgdheid vir Italianers.

Mattarella se kragspel sal byna seker tot die guns van die populistiese leiers werk,want dit sal kiesers aanvuur om hul soewereiniteit met nog meer krag te herbevestig.

Die voormalige linkse premier,Massimo D’Alema, het Saterdag reeds gewaarsku dat “as ons weens ‘n veto van Savona terug moet gaan, sal Salvini 80% van die stemme optel.

Hoe lyk dit wanneer Demokratiese PC “liberalisme” in ‘n hoek gedryf word?SO.

Krisis? Krisis is ‘n eufemistiese woordjie van monsteragtige onderbeklemtoning om hierdie sameloop van omstandighede behoorlik te omskryf: Die demokratiese liberalisme sal die “geliefde” en geykte beginsels daarvan onder die bus ingooi wanneer gepas. Die EINDEVANDEMOKRATIESELIBERALISMEISHIER

Sebastiaan ·

Dankie vir die opdatering van gebeure. Dit was heel onverwags wat die naweek gebeur het en die artikel is nou ongelukkig nie oor iets wat sal wees, maar wat kon wees. Daar is egter ‘n goeie kans op ‘n herverkiesing en ‘n hernude poging van die twee partye om, waarskynlik met ‘n groter meerderheid, hulle regering te vorm.

Populustius ·

Die liberale missie is om die westerse samelewing te vernietig, daarom moet enige party wat opkom vir middelklas en werkersklas westerlinge as regs, verregs of populusties afgemaak word sodat hulle sleg kan klink.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.