’n Ondoeltreffende maar lojale ANC-kader-staatsdiens

ANC-logo

ANC se logo op ‘n muur in Soweto, Johannesburg. Foto: Ben Sutherland/Flickr.com

Hoe het Eskom in die posisie gekom waar hulle R450 miljard skuld? Eskom was voorheen winsgewend.

Hoe gebeur dit dat uit 257 munisipaliteite slegs 18 skoon oudits kry volgens die jongste verslag van die ouditeur-generaal?

Dit gebeur omdat Zuma en die ANC glo dat ’n lojale ANC-lid beter is as ’n kundige persoon as dit by aanstellings kom.

Tydens Zuma se onlangse verskyning voor die Zondo-kommissie getuig hy soos volg:

“Die ANC, as regerende party, het die reg om aan die regering voor te skryf watter lojale (ANC-)kaders as senior bestuurders en direksielede van staatsentiteite (SOE’s), asook hoofde van regeringsdepartemente aangestel moet word.”

Hierdie siening het die staatsdiens en SOE’s vernietig.

In Brittanje bestaan die staatsdiens uit beroepsmense – amptenare wat oor ’n tydperk van 40 jaar spesialiseer in hulle rigting. Ons staatsdiens was daarop gebou. Ministers en politieke partye kom en gaan – maar die staatsamptenare bly oor jare en dien en adviseer die regering van die dag. In enige suksesvolle land is kundige staatsamptenare en ’n stabiele staatsdiens die ruggraat van die staat. Ons het dit verloor.

Maar Zuma is nie alleen skuldig nie. Thabo Mbeki het in sy tyd met ’n oorhaastige rassetransformasie-ideologie begin. Daarvolgens is rasseverteenwoordiging as ’n dringende korttermyndoelwit vir elke staatsdepartement en alle staatsondersteunde entiteite soos Eskom, Denel en die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) gestel. Ervaring en kundigheid van amptenare is hierdeur ondergeskik aan rasseverteenwoordiging gestel.

In ’n gesprek met my kort ná 1994 het Mbeki geargumenteer dat die meerderheid staatsamptenare Afrikaners is wat die ANC berekend sal saboteer. My argument dat hulle staatsamptenare is met ondervinding wat jy nie kan koop nie en dat hulle geleer is om die regering van die dag te ondersteun, het hy nie aanvaar nie.

In die Zuma-tydperk verskuif dit verder van rasseverteenwoordiging na kaderontplooiing. Dit beteken dat slegs ANC-lojaliste nou aangestel word. Swart mense wat nie ANC is nie, word ook nie aangestel nie. Die logiese gevolg was dat al hierdie instellings tot op ’n punt van algehele ondoeltreffendheid getransformeer is.

Eskom het tien uitvoerende amptenare in tien jaar gehad.

Onder druk het 10 200 wittes Eskom vanaf 1994 tot 2002 verlaat. Vanaf 2008 tot 2011 het nog 455 ingenieurs, van wie 110 wit, by Eskom bedank. As gevolg van kaderontplooiing sien nóg wit nóg swart ingenieurs kans om in so ’n atmosfeer te werk.

Die ANC was bang vir Afrikaner-sabotasie. Uiteindelik het hulle eie transformasieproses die staatsinstellings tot bankrotskap en algehele onvermoë gesaboteer.

Intussen moet ons as burgers eie planne maak. Ál meer staatsfunksies word deur privaat instansies oorgeneem. Burgerlike organisasies soos AfriForum maak slaggate in teerpaaie reg in plaas van munisipaliteite. Ons het meer privaat sekuriteitspersoneel as polisielede. Die meeste organisasies gebruik eerder privaat koerierdienste as die poskantoor. Meer privaat skole en universiteite soos Akademia word ’n werklikheid.

Eskom, Denel en SAL se reuse- finansiële skuld en die staatsdiens en munisipaliteite se onvermoë om dienste te lewer, het sommige ANC-leiers uiteindelik wakker geskud. Voormalige pres. Motlanthe se stigting het in April vanjaar ’n ondersoek begin en ’n reeks sinvolle voorstelle aan min. Tito Mboweni en die regering gemaak oor hoe om die staatsdiens reg te ruk.

Hulle beveel aan dat senior staatsdiensamptenare deur die staatsdienskommissie en nie die betrokke ministers aangestel word nie, sodat duideliker tussen staat, regering en party onderskei word. As hierdie benadering vanaf 1994 gevolg is, was Suid-Afrika dalk nie in hierdie haglike toestand nie.

Kom ons kyk of hierdie voorstelle ernstig oorweeg word en of dit deur die ANC in werking gestel gaan word. Dit beteken egter nie dat ons nie voltyds moet voortgaan om steeds ons eie planne te maak nie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Pieter Mulder

Meer oor die skrywer: Pieter Mulder

Dr. Pieter Mulder was ʼn parlementslid en is die voormalige leier van die Vryheidsfront Plus.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

waarheid ·

Korrup tot op die been .
Hulle het hulsef deur hulle gestelery gesaboteur.

kla-kous ·

Of die aanstelling deur die staatsdienskommissie (wat ook maar ‘n klomp kaders is), die posisie sal verbeter, betwyfel ek sterk. Die kern van die probleem is dat die potensiële arbeidsmag beperk word op die basis van velkleur. Ek wonder of die situasie nie so ver versleg het, dat selfs al gooi jy die poste oop vir almal, baie wittes nie sal belangstel om in ‘n admosfeer van vyandigheid en onbekwaamheid te werk nie.

Jerry ·

CR en Gordhan het n groot gewag gemaak van die herstrukturering van Eskom om ontslae te raak van die onregmatige botallige werkers. Ons weet nou dat dit alles net n lippetaal oefening was en dat daardie onregmatige botallige poste geskep was as addisionele ANC kaderstrukture en hier is om te bly totdat die belastingbetalers uiteindelik opdroog. Die kanse is dus groot dat die ANC voorstel dat die aanstelling van senior staatsdiensamptenare nie deur die ANC politici gedoen sal word nie, ook maar net op lippetaal geskoei is! Dit maak nie saak wie van die ANC dit is nie, hulle gemeenskaplike strewe om kolonialisme met sosialisme te vervang verhoed hulle om enige iets te implementeer wat daardie strewe kan vertraag of verhoed! Die ANC se verskillende faksies se verskillende idees en uitsprake herinner aan goeie toneelspel en speel inderwaarheid woer woer met die opposisie se denke en vermoe om die regte aanduidings vroegtydig te identifiseer om die ANC te verhoed om onomkeerbare skade aan te rig met veranderinge wat deur bv misleiding geimplementeer word. Die opposisie word so aan die neus rond gelei dat hulle niks kan verhoed nie, maar heel tereg net kan reageer deur terug te slaan wanneer onomkeerbare verandering reeds plaasgevind het en skade reeds aangerig is! Wie wil dit waag om te se dat die herstel van staatskaping se skade, nie dalk staatkaping fase 2 behels nie?

Vlakvark ·

Elke politieke party behoort die reg te hê om twee partylede en ‘n menslike hulpbronbestuurskundige aan te wys as lede van die staatsdienskommissie. Anders is die staatsdienskommissie self ook maar net weer ‘n politiek gekaapte kader sirkus.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.