ʼn Oorlog in Suid-Amerika?

Guyana se president Irfaan Ali (L) en Venezuela se president Nicolas Maduro (R) (Foto: Keno GEORGE and Federico PARRA / AFP)

Terwyl die wêreld angstig na die oorloë in Israel en Oekraïne kyk, word daar dalk binnekort ʼn nuwe oorlogsfront geopen, op ʼn heel onwaarskynlike plek, naamlik in Suid-Amerika. Spesifiek gaan dit oor ʼn dreigende oorlog tussen Venezuela en Guyana.

Suid-Amerika het talle probleme en is geen vreedsame vasteland nie, maar oorloë en konflikte vind eerder intern plaas, soos guerrilla-oorloë en bendegeweld. Militêre konflikte tussen state is die absolute uitsondering. Die laaste tussenstaatlike militêre konflik was in 1995 tussen Ecuador en Peru oor ʼn omstrede grenslyn in die Amasone-oerwoud. Die oorlog is vinnig besleg en die verliese was beperk.

Venezuela, ʼn sosialistiese diktatorskap wat ten spyte van sy ryk oliebronne ekonomies sukkel weens wanbestuur en korrupsie, het onlangs ʼn referendum gehou waarin die bevolking gevra is of groot dele van die noordelike buurland Guyana deel van Venezuela behoort te wees. Soos verwag kon word, het ʼn oorgrote meerderheid van 96% “ja” gestem, in lyn met die regering van president Nicolas Maduro se propaganda. Die gebied waarop Venezuela aanspraak maak, is die westelike helfte van Guyana wat Venezuela as die provinsie Essequibo wil inlyf. Die gebied strek oor 160 000 vierkante kilometer, meer as twee derdes van Guyana se grondgebied.

Dié aanspraak op grond is ʼn eeueoue territoriale dispuut tussen die reeds onafhanklike Venezuela en die destydse Britse kolonie Guyana, wat eers in 1966 onafhanklik geword het. Die grensdispuut is eintlik al lankal deur die Internasionale Arbitrasiehof in Den Haag ten gunste van Guyana beslis en dit is ook onlangs weer bevestig. Vir lank was die konflik begrawe, maar Maduro het dit ʼn paar jaar gelede weer laat herleef.

Een rede hoekom die referendum nou gehou is, is dat daar volgende jaar ʼn presidensiële verkiesing in Venezuela plaasvind en Maduro probeer om deur middel van die opsweep van patriotiese sentimente aandag van sy eie katastrofiese bestuur af te lei. Alhoewel verkiesings in Venezuela nie demokraties is nie en al verskeie kere bekook is, moet Maduro steeds groot getalle ondersteuners mobiliseer om die manipulasie effens meer geloofwaardig te laat lyk. Nog ʼn rede is die redelik onlangse ontdekking van ryk oliebronne in Essequibo, wat die deel ook ekonomies interessant maak. Daar is ook ander minerale hulpbronne in die gebied wat hoofsaaklik uit reënwoud bestaan.

Die groot vraag is of die referendum en die dreigemente teen Guyana net opsweep van die bevolking met die oog op die verkiesing is, en of Venezuela werklik ʼn oorlog sal begin. Sedert Rusland se aanval op Oekraïne weet ons dat so iets moontlik is, al het dit ook eers gelyk soos spiere bult. Nie toevallig nie is Venezuela bondgenote met Rusland en China en is ʼn oorlog in die VSA se agterplaas dalk juis deel van ʼn groter strategie om die Weste te verswak.

Vir Venezuela is die omstandighede in sy eie streek tans ook gunstig: die groot buurlande Brasilië en Colombië het al twee linkse regerings wat Venezuela sagkens hanteer. Guyana is ʼn klein land met geen strategiese betekenis nie. Militêr sal die klein Guyana (800 000 inwoners in 215 000 vierkante kilometer) geen kans staan nie teen die veel groter Venezuela met 28 miljoen inwoners in 914 000 vierkante kilometer. Die VSA het egter reeds sy steun aan Guyana toegesê in die geval van ʼn aanval deur Venezuela.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

annie ·

Ons dog dit het strategiese betekenis vandaar Manduro se planne bv die nuwe ryk oliebronne. Die president van Guyana klink na ‘n Arabiese afstammeling. Dit is nogal ver weg van daardie wêreld. Alles word ons nie vertel nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Sowat ‘n derde van Guyana se bevolking is van Indiese herkoms. Die Britte het hulle ingevoer om op suikerplantasies te werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.