‘n Oorlog kan uitbreek!

Foto: pixabay.com

Foto: pixabay.com

Op die keper beskou is die wêreld tans in ’n onstabiele en gevaarlike fase van sy geskiedenis. ’n Oorlog kan as gevolg van ’n enkele, onbedoelde insident uitbreek.

Oordrewe? Moontlik. Maar kyk na die volgende oorwegings:

Om mee te begin het die wêreld op 28 Junie 1914 al meer as 43 jaar se vrede en ekonomiese groei ondervind. Maar één insident – die moord op die Oostenryks-Hongaarse troonopvolger, aartshertog Franz Ferdinand – het onbedoeld ’n kettingreaksie aan die gang gesit wat tot die vernietigende Eerste Wêreldoorlog gelei het.

Die moord was egter net die vonk in ’n kruitvat wat reeds bestaan het. Daardie kruitvat was die toenemend aggressiewe nasionalisme in Europa, gepaard met die netwerk van bondgenootskappe in twee kampe.

Kan iets dergeliks weer gebeur? Wel, niks staan in die sterre geskryf nie, maar die situasie lyk, om dit gematig te verwoord, gevaarlik.

Om mee te begin is dit duidelik dat Navo en Rusland hulself in opponerende loopgrawe verskans. Daar is aan albei kante veels te min bereidheid om die ander kant se posisie behoorlik te verstaan.

Enersyds het Navo hom boeglam geskrik vir die Russiese inval en anneksering van die Krim, en die wyse waarop pres. Wladimir Poetin ’n burgeroorlog in die Oos-Oekraïne met geld, wapens en selfs troepe aangestook het. Ná meer as twee dekades se steeds krimpende verdedigingsbegrotings, styg die Navo-lidlande se militêre uitgawes weer.

En op hul pas afgelope spitsberaad in Warschau het die Navo-regeringsleiers besluit om 4 000 troepe op roterende grondslag in Pole en die Baltiese state te stasioneer. Niemand dink regtig dat dit genoeg is om ’n eventuele Russiese inval terug te slaan nie, maar die idee is om die Russe twee keer te laat dink voordat hulle die grens oorsteek.

As Navo-troepe immers in só ’n operasie sterf, sal Rusland hom in ’n oorlog met die ganse Navo bevind. Hopelik, so word gemeen, sal dit Poetin afskrik.

Intussen loop die vrees in Pole en die Baltiese state, by wie die geheue van die wrede Russiese verdrukking van voor 1989-’91 nog rou is, hoog vir hul groot oostelike buurman. Of die vrees, objektief gesien, korrek is of nie, maak nie saak nie – die vrees is wel eg.

Rusland se antwoord was immers om drie divisies – 30 000 man – na die Poolse en Baltiese grense te stuur. Dís nou hoe eskalasie lyk.

Andersyds sien Rusland hoe Navo sedert die einde van die Koue Oorlog die nie-amptelike, mondelinge versekerings van die destydse minister van buitelandse sake, Hans-Dietrich Genscher, dat Navo nie ooswaarts sou uitbrei nie, verbreek. ’n Groot deel van die gebied wat voor 1991 onder Russiese beheer was, is nou deel van Navo.

Afgesien van die vraag of Poetin die Baltiese state sal binneval of nie (niemand buite die Kremlinmure kan regtig weet nie), sy buitelandse beleid is duidelik in die breë ’n voortsetting van dié onder die tsare en Josef Stalin. Met ander woorde, domineer die gebiede oorkant jou grense so ver voorwaarts as wat jy kan om ’n yslike verdedigingsgordel te skep.

Die twee sterkste Russiese tradisionele wapens hang immers saam – die ongelooflike afstande, en Vader Herfs en Winter. Dit het sowel Napoleon as Hitler se einde beteken.

Dit beteken natuurlik dat die soewereiniteit van Rusland se onmiddellike bure aangetas word. Maar die Kremlin het hom nog nooit aan sulke formaliteite gesteur nie. Mag is reg, is ’n leuse wat trouens die Russiese en Amerikaanse buitelandse beleid verbind.

Maar daar is meer gevaarlike ontwikkelings. Suid van Europa is die bevolkings van twee ganse wêrelddele – die Midde-Ooste en groot dele van Afrika – massaal aan die beweeg. In die Midde-Ooste is dit weens oorlog; in Afrika veral weens wanbestuur, korrupsie en armoede.

In hul miljoene probeer dié mense wanhopig by die vleispotte van Europa uitkom. Verlede jaar het sowat 1,3 miljoen mense Europa binnegestroom en die Europese maatskaplike vermoëns tot op die uiterste beproef.

Sedertdien het slim staatsmanskap van veral die Duitse bondskanselier, Angela Merkel, en die Nederlandse premier, Mark Rutte (hy was die eerste ses maande van vanjaar roterende voorsitter van die Europese Unie), daarvoor gesorg dat Turkye die tsunami vlugtelinge opvang. Peilings wys dat dié groter rustigheid die gewildheid van die hoofstroom-leiers en partye weer laat toeneem en dié van die regs-populiste laat daal het.

Maar die probleem is nie opgelos nie. ’n Damwal is weliswaar gebou, maar die druk van die watermassa groei steeds. ’n Mens sien al klaar hoe die aantal vlugtelinge wat uit Libië oor die Middellandse See na Italië probeer kom, weer toeneem.

En tussendeur beroer die Islamitiese Staat en sy terreurdreiging in Europese hoofstede die gemoedere. Mense is bang.

Albei bogenoemde probleme – Rusland en die vlugtelinge – verg ’n sterk en eensgesinde Europa. Soos Brexit egter gewys het, is die Europese eenheid maar baie broos.

Die vrees was dat regse populiste ook elders op die vasteland hul ding kan doen, wat tot ’n totale verbrokkeling van die EU kan lei. Dié moontlikheid, lyk dit, het die laaste week of twee afgeneem, maar bestaan steeds.

Die een man wat waarskynlik die breedste oor die Brexit-uitslag geglimlag het, was Poetin. ’n Swak, verdeelde Europa is in sy belang. Bowendien kan ’n verdeelde Europa nie die vlugteling-probleem doeltreffend die hoof bied nie.

Daar is ook nog ’n vierde kruitvat met ’n vonk wat wag om te gebeur. In Oos-Asië begin China sy skouers steeds aggressiewer gebruik. Verlede week het die Chinese vloot uitdagend met ’n groot oefening in die omgewing van die Spratly-eilande in die Suid-Chinese See begin.

China eien vir homself 90% van die Suid-Chinese See toe, ver van sy eie kus en tot vlak voor die kuste van Viëtnam, die Filippyne, Borneo en Indonesië. Die Spratly- en Paracel-eilande – tot onlangs slegs sandbanke en rotse in die see – word met baggerwerk tot behoorlike eilande opgebou waar selfs landingstroke en militêre basisse opgerig word.

Dat dit teen die protes van Amerika en die ander lande in die omgewing gebeur, maak vir Beijing nie saak nie. Ook hier is die leuse: Mag is reg.

Teen die agtergrond van dit alles lyk dié gevolgtrekking geregverdig: Nog nooit sedert 1945 was die internasionale situasie só onstabiel soos nou nie.

Die Koue Oorlog was weens die wedersydse kerndreiging ook gevaarlik, maar tewens stabiel. Die twee magsblokke het mekaar in ’n ewewig vasgehou.

Daardie ewewig is weg. Die kruit- en oliedampe word vermeng met religieuse ekstremisme en etniese haatgevoelens.

Dis nie te sê dat ’n oorlog sál uitbreek nie. Maar die wêreld staan nader aan die afgrond as in ’n baie lang tyd.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

Therese van Schalkwyk ·

Sou sowaar nie die “opvang van die tsunami vlugtelinge in Turkye” juis “slim staatmanskap” noem nie? Dis bloot ‘n vertraging of ‘n verskuiwing van die probleem na onbetroubare hande. Praat van ‘n “vonk in ‘n kruitvat”!

Dit is lagwekkend dat die sg. “regse populiste” as die groot gevaar beskou word, terwyl die tsunami vanuit die kookpot van die Midde-Ooste en groot dele van Afrika oënskynlik die onskuldige engeltjies is.

Ek probeer régtig oopkop dink hieroor, maar dit súkkel.

Leopold Scholtz ·

Beste Therese, jy betwyfel dit of die Turkye-ooreenkoms goeie staatsmanskap is. Mag ek jou in alle vriendelikheid vra: Wat is jou alternatief dan? Om die mense in hul miljoene in Europa toe te laat? Dis juis wat Merkel wil voorkom. Maar terselfdertyd het sy mededoë vir die vlugtelinge, en wil sy hulle darem ‘n – sy dit onvolkome – heenkome gee. Ek hoor graag van jou. Lekker week!

Therese van Schalkwyk ·

Dr. Scholtz,

Dankie dat ons kan saam gesels! Jy is reg, om net van die kant af te sit en kritiseer sonder oplossings, beteken niks. ‘n Mens hoef egter ook nie ‘n eier te kan lê om te weet wanneer dit vrot is nie :-)

Ek is genadiglik nie ‘n verkose staatsman wat hierdie lewensbelangrike, toekomsbepalende besluite moet neem nie, maar één ding wat ek lánkal sou doen, is om daadwerklik op te tree teen die mense-smokkelaars wat die hele fiasko moontlik maak. Sonder hierdie gewetenlose gierigaards sou die getalle vlugtelinge dramaties minder wees. Die probleem het juis so geëskaleer omdat Merkel en kie. op hulle hande gesit het toe daar pro-aktief opgetree moes word. Viktor Orban van Hongarye het eerste die gevaarligte sien flikker en is taamlik stief behandel.

Die massas vlugtelinge moet in neutrale VN-beheerde kampe versorg word totdat die kwessies in hul lande opgelos is, eerder as om hulle op Turkye af te pak wat nie juis bekend is vir goeie regering nie. Gebruik die Turkse leier nie alreeds die vlugtelinge as afdreigmiddel vir sekere doelwitte nie?

Wat die sg. “regse-populiste”-kwessie betref; dit laat ‘n mens dink aan die gewoonte van sommige mense om vreemdelinge met groter hoflikheid as hul eie familielede te behandel. Angela Merkel en Mark Rutte behoort net so bevrees as Geert Wilders te wees vir die totale Islamafisering van hul lande, maar soos met die ‘people smuggler’-kwessie gaan hulle passief sit tot dit te laat is.

julius ·

Die oorlog gaan uitbreek. Niks kan dit meer keer nie. Die tekens is daar en moet nie mis gekyk word nie . Putin sal sorg dat dit gebeur. Hy skrik nie vir die ander nie. Viva Putin.

Theuns ·

Heleen, Juluis dra rooi so ook die ROOI LEER,ROOI RUSLAND en ROOI SJINA! Is hy dalk ‘n KOMMUNNIS? Of dalk ‘n verskuilde lid van die EFF? Dit was LENIN wat gese het as daar ‘n oorlog uitbreek en daar bly net ‘n kwart van die wereld bevolking oor nie sal dit nie saak maak nie solank almal net kommuniste is. Ons sal nie nodig he om ver te soek nie want hier is baie kommuniste. Juluis is seker geregtig op sy opinie! Groete

Pieter ·

Dr. Scholtz
Dankie vir die insiggewende rubriek, ek wil u tog uitvra oor nog ‘n kant van hierdie opbounende Oos-Wes aggressie, nl. die Siriese burgeroorlog. Tans, soos u weet, ondersteun NAVO die rebelle groepe en Rusland die huidige regering. ‘n Paar weke terug het die Russiese mininster van verdediging afgekondig dat die Kremlin oorweeg om elite Spetsnaz troepe op die aktiewe front te ontplooi en dat hulle anders as die Amerikaanse spesmag troepe nie in ‘n raadgewende hoedanigheid daar sal wees nie.
Dit is egter voor die hand liggend dat Amerikaanse troepe direk by die geveg betrokke is en dat daar sekerlik al Spetsnaz teenwoordigheid is. Wat is, volgense u, die moontlikheid dat Rusland besluit om amptelik Spetsnaz troepe te ontplooi? Verder, indien Spetsnaz ontplooi word sal die Amerikaners/NAVO hul troep getalle vermeerder? Indien ‘n Spatsnaz soldaat ‘n Amerikaanse/NAVO soldaat sou doodskiet in ‘n skermutseling sal dit nie dan lei tot ‘n volskaalse internasionale konflik nie, veral met die spanningvolle toestande wat heers soos genoem in die bostaande rubriek?

Leopold Scholtz ·

Beste Pieter, jammer dat ek nou eers antwoord – het net sporadies e-postoegang, want ek is in Frankryk vir die Delvillebos-herdenking. Ewenwel, Poetin is ‘n briljante taktikus. Hy maak nie reg van die begin af openlik oorlog nie; hy doen dit op ‘n bedekte wyse om sy opponente so lank moontlik te verwar sodat hy die wereld met ‘n voldonge feit kan konfronteer. Ek dink dus nie hy sal openlik Spetsnaz-troepe instuur nie. Die Russiese troepe wat reeds daar is, het opdrag om hulself as Oekraiense rebellevegters voor te doen, of anders as Russiese soldate wat met verlof is. Ek skat as Poetin Spetsnaz instuur, sal dit seker in dieselfde omstandighede wees. Groetnis, Leopold

Pieter ·

Baie dankie vir u antwoord! Geniet die herdenking van die slag van Delville-bos, mag so ‘n sinnelose slagting van mense in die naam van oorlog nie weer gebeur nie.
Groete
Pieter

Jaycee ·

Net ‘n stuiwer in die armbeurs: sedert die begin van die mens se bestaan het nasionalisme ‘n kardinale rol gespeel in veral tragedies soos oorlog en konflik. Hierdie kenmerk van menswees sal seker nooit ophou bestaan nie. Moet regerings en wereldorganisasies dus nie eerder die konstruktiewe bestuur van hierdie eienskap voorop stel nie, eerder as om soveel bronne te verkwis in ‘n futiele strewe om alle bevolkingsgroepe “eners” te laat wees in die uitleef van kultuurgoedere ensovoorts nie? Met ander woorde erken die bestaansreg van diversiteit en streef daarna dat groepsidentiteite beskerm word. Die geskiedenis het tog gewys om almal oor een kam te probeer skeer gepaard gaan met konflik en stryd. Maar nou ja, die mens en sy regerings is magsbehep en verskille tussen groepe word maklik die spreekwoordelike stok gemaak om die hond mee te slaan. [Ek besef ‘n volmaakte wereld bly ‘n hersenskim.]

Theuns ·

Leopold jou vorige kommentaar het ook betrekking toe jy ons gewaarsku het oor die Russiese bedreiging en vandag met die kommunistiese bondgenootskap tussen Rusland en China. Zuma se groot vriende. Jy waarsku ook deurgaans op die taktiek wat gebruik word in die subtiele oorlogvoering van veral Rusland se kant af. Niemand is seker so verradelik en wreed soos Poetin nie. Hy het onder ‘n dekmantel en met brute krag die Krim binnegeval, ‘n passasiers vliegtuig afgeskiet en baie woongebiede platgeskiet en onskuldige mense laat vermoor! Geen wonder NAVO is bang vir Poetin nie. Net soos Zuma het Poetin ‘n bedrieglike tong. In Suid Afrika mag ons niks meer se nie anders is die Kommuniste op oorlog en naakte swart op wit rassisme uit. Westerse Volke het rede om baie bekommered te wees. Die weste raak al hoe meer verdeeld en die ooste al hoe meer samehorig! Soos jy se dit gaan net ‘n vonk kos om die laaste oorlog te begin!

Ampie ·

Theuns, ek weet nie waar jy aan jou inligting kom nie. Seker maar CNN & Time Magazine. Pas het die voormalige Britse adjunk eerste minister Prescott erken dat Brittanje en die VSA se aanvalle in Irak in 2003-2004 tot die dood van 150,000 burgerlikes in Irak gelei het, en natuurlik die inplofffing van die staat wat tot nou toe voortduur. Volgens Theuns is Poetin die verraaderlike wreedaard nadat die Weste ‘n verkose Ukrainse leier uitgeskop het en met hul eie man vervang het. Poetin is nie ‘n engeltjie nie. Sy regering is korrup en hy werk sy opponente se gal, maar ek verkies hom 1000 maal bo “Black Lives Matter” Obama en Merkel wat die hele Europa op ‘n skinkbord aan die Moslems bied.

Leopold Scholtz ·

Beste Ampie, Jong, dit was nie “die Weste” wat ‘n verkose Oekraiense leier uitgeskop het nie. Daar was ‘n massale volksopstand van dieselfde aard as wat die kommunistiese diktature in 1989 laat val het. Dis waar dat die Weste die opstandelinge aangemoedig het. Maar in die eerste en laaste instansie was dit die Oekraieners self wat dit gedoen het. Groetnis.

Frikkie Brits ·

Die beknopte uiteensetting van Leopold is 100 % in die kol. Oral in die wereld ontstaan sporadies klein opstote van onverdraagsaamheid, gierigheid, etniese haat, bedoelde onenigheid, gestookte rassehaat ensomeer wat nie regtig onderdruk word nie. Tereg seker ook so want geen ware leier vandag wil die oorsaak wees van die uitbreek van oorlog no. 3 nie, daarom word alle sulke insidente in staatsie gele tot dit vergeet is of tot die volgende krisis voorkom. Maar voorwaar is die uitbreiding van Sjina se grondgebied, ISIS se opkoms, Brexit en moontlike volgende sulke (“exits”), Noord- Korea se aanmatigende uittarting van alles en almal om hom en die volgehoue krisisse in die Midde-ooste besliste tekens van die tye. Hierdie dinge hou myns insiens nie noodwendig met mekaar verband nie, maar as een hiervan gaan lei tot kritieke afmetings gaan die ander ook onmiddelik eskaleer. Tekenend hiervan is dat lande , organisasies en ook individue maak soos hulle wil, wat reeds voorspel is.

Loeis ·

Dit was George Bush wie ‘n “missile shield” in die ooste van Europa laat oprig het, wat die Russe laat besluit het om hul slaankrag op te skerp. Die rede wat Bush aangebied het was die wapens van massavernietiging (waarvan net hy alleen, soos met Irak, geweet het, en steeds doen). Gebasseer op leuens, maar die Russe het daarop gereageer, en dit het die situasie meer plofbaar gemaak. Putin sal wel meer as ‘n paar keer dink voordat hy Europa aanval. As mens na hul geskiedenis kyk was die Russe eintlik baie vreedsaam, behalwe in die kommunistiese tyd. Dit staan in teenstelling met Europa, en veral die Britte.

Wat China aanbetref is die waardes heel anders, en hulle het ook suksesvolle Taiwan in hul visier, wat tot konflik met die VSA kan lei.

Pietman ·

“‘n verdeelde Europa kan nie vlugteling probleem doeltreffend die hoof bied nie”. Dis nonsens. Een van die redes waarom die Britte juis uit die EU wou padgee is omdat die EU en Merkel die vlugtelingsprobleem pateties hanteer het. Die verkragtingskultuur wat in Swede posgevat het, die massaverkragtings in Cologne, asook honderde ISIS terroriste wat europa binnegestroom het as “vlugtelinge” is ‘n bewys dat die Europese leiers nie weet wat hul doen nie.

Loeis ·

Eintlik weet die Europese leiers wat hulle doen, Piet. Hulle wil hul eie kulture laat ondergaan. Mercozy maak nogal ‘n goeie taak daarvan.

foxi ·

Hulle moet van ons woonbuurte se sekuriteit soontoe stuur, hulle is sterker as enige rooi mag.
Sê maar net!

pieter ·

MENSE WORD WAKKER DIS KLAAR OORLOG.MEER MENSE STERF .RSA AS WAT IN AL DRIE ONS OORLOE GEDOOD WAS.

Reguit Rob ·

Ek dink die hele wêreld is vol kruitvate. Die orde word nog behou deur internasionale faktore wat dinge “redelik” in toom hou, maar as die wal breuk dink ek die hele wêreld gaan in ‘n oorlog ingaan. Groot formele magte wat teen mekaar veg tot vele lande wat in burgerooloë gaan verval. Te veel lande is ryp vir oorlog. Kyk selfs na ons buurmanne Zimbabwe en Mozambiek. Laat ons dan nou nie eers praat van ons eie liewe Suid Afrika.

TTh ·

VSA is die aggressor, het Ukraine binnegeval, Libië verwoes, Sirië verwoes, Afganistan verwoes, Irak verwoes. Dit is dalj nie in die sterre nie, maar die Bybel is duidelik. Wêreldoorlog 3 is op hande, Israel en VSA gaan dit ontgeld.

Selfbeskikking ·

Dit is een van die groot redes waarom ons nou moet onderhandel vir ons eie grondgebied want dan kan ons onsself darm verdedig. Daar kom groot oorlog in ons land en buurlande, die tekens is hier. So asseblief Afriforum of enigiemand wat die inisiatief het, kom ons begin dadelik onderhandel vir ons eie grond.

Wicus ·

Ons sal ons in selfbeskikking moet in presteer, onderhandel tans gaan nie werk nie, die owerheid sal nie die goue gans laat gaan nie en ons het nie bedingingsmag nie.

My boetie is ‘n Duitse burger. Direk na die Brussels bomme het ek ‘n WA boodskap gekry, “Derde wereldoorlog het begin”. Daai mense is bang, my Poolse vriende verwag ook so-iets spoedig. Behoede ons, min gaan oorbly! (Tyd DAT die Engels-sprekende wêreld bietjie terugvoel).

Johan ·

Gerugte van oorloe. Dis die eerste gedagte wat opkom as ek die artikel lees en die meeste kommentators se vrese waarneem (so tussen die lyne). Basies het jy ‘n keuse, vlug New Zealand toe (of Australie of Kanada) – daar is mos minder geweld; vlug Orania toe (dink net, GEEN swartes ens); of, bly waar jy is en maak ‘n verskil.

Jcwf ·

“Soos Brexit bewys egter bewys het, is die Europese eenheid maar broos”

Dis die ou argument: “Fog in the Channel,the continent isolated”.

Eskuus Leopold, waar gaan ‘n kaart van Europa koop, asseblief… Dan kan jy sien hoe onsinnig hierdie argument is.

”Pleilings wys dat [die akkoord met Turkye] dat die gewildheid van die hoofstroom-leiers en partye weer laat toeneem..”

Eh nee, die Britte het dit gedoen met hul Brexit en in amper totale ineenstorting van leierskap in Londen. Dit is in kontras met die vinnige antwoord wat van president Juncker gekom het.

Mense sien liewer ‘n leier as Junckes as mense soos Farage wat met slap gat weggeloop het.

Soos Osborn hier in die VS gese het laat die Britse troepe in Pole veral sien dat Britanje nog ‘n rol in die wereld (sou) speel. Dis die ou truuk: as dit tuis sleg gaan, rammel jy met die sabel erens anders in die wereld.

Wern ·

Ek ken van Europa en die res van die wereld, persoonlik, op grondvlak. So ek se met gesag dat hierdie artikel meer geldig is as wat jy besef.

Theuns ·

Ampie, soos almal van julle kry ek my informasie by verskillende en talle media. Lees maar weer die kommentaar van Leopold Scholtz en sy kommentaar op ons kommentaar. Lees ook Leopold se kommentaar in Rapport waar hy menige Sondae weldeurdagte kommentaar lewer. Jy is klaarblyklik nie bewus van hoe Poetin opgetree het in die Oekraine nie. Gaan lees dit maar gerus weer. Google dit as dit moet. Groete.

Ebert Terblanche ·

Leopoldt, die aantal kere wat jy na Franz Ferdinand en die begin van die Eerste-Wêreldoorlog verwys, raak nou oordadig en afgesaag.

Die bestaan van beide NAVO en die Verenigde Nasies, maak dit absoluut onmoontlik dat ‘n Franz-Ferdinand-tipe somtotaal van alle vrese-gebeurtenis tot ‘n gewapende konflik in Europa sal uitbreek.

Europa gaan nie deur gewapende konflik ten gronde nie, maar deur ‘n sosialestiese en humanistiese ideologie wat tot ekonomiese stagnering, verouderende bevolking en die doodsmoring van die oop gesprek gelei het. Europa se dekadensie is ryp vir die oes: deurekstremisiese Islam.

Wern ·

Ek is n aanhanger van julle albei. Laat ons nie stry nie maar saam bou.

gatiep ·

Ek wonder hoe groot ISIS nou sou gewees het as Putin nie ingegryp het in Syria nie?
In Assad se plek sou seker nou n ISIS leier gesit het en hulle inkomste sou al biljoene teen die tyd gewees het.

Jan ·

Dr. Scholtz, ‘n baie goeie geheel beeld. En ek dink u is korrek met die stelling dat die wêreld voor ‘n afgrond staan. Maar dit is alles goed deurdagte beplanning.

Ek wil tog aan u noem dat die beeld van Pres. Poetin wat in die wêreld media getoon word deur die media niks anders is as propaganda nie. Hiermee bedoel ek nie dat hy ‘n engel is nie. U kan gerus ook lees wat Dr. Paul Craig Roberts te sê het – hy was voorheen die adviseur vir Pres. Ronald Reagen.

Hier is groter magte aan die werk ook. Rusland en China is deel van die Brics lande. Hulle dreig om weg te beweeg van die Petro Dollar wat Amerika sal sink. Dus die negatiewe propaganda teenoor Rusland. En Saudië Arabia is ook op die rand van ineen storting. U kan gerus ook lees wat Dr. Jim Willie rakende dit te sê het.

Die massas immigrante regoor die wêreld selfs in Amerika is voorheen getoets in SA toe ons grense oorgesteek is. Ons deel met xenophobie in SA wat orals hul kop uitsteek. Die rasse kwessie waarmee ons jare worstel steek wêreldwyd kop uit. Ek is net bevrees wanneer word die volgende Zimbabwe getoets en waar (Venuezuela)

Dankie vir u rubriek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.