’n Pa se botterbakkie

sterre-melkweg

Foto: Skeeze/Pixabay.com

Hierdie was Langner, hoofleier van die Voortrekkers, se afsluitingtoespraak by die Presidentsverkennerkamp op Woensdag 12 Julie:

Ek het groot begrip vir DJ Opperman se dilemma as hy in sy gedig “Negester en stedelig” vra: “Watter kaart of ster sal ek jou wys om veilig deur die grysland te reis?

Watter wysheid of woorde, raad of gedagtes kan daar nog wees ná ’n gebeurtenisvolle kamp volgepak met lesings en toerustingsgeleenthede? Sal ’n mens vir oulaas praat oor ’n Afrikanerheld, oor die uitdagings in ons land of oor die toekoms wat voor julle oop lê?

Min daarvan sal ’n veilige reis deur die grysland waarborg. Die lewe het ’n manier om soms vreemde en onverwagse rondomtaliedraaie met jou te loop, veel anders as ons fyn uitgewerkte toekomsplanne. Dalk is een van die grootste lewenswaarhede dat die mens wik, maar God beskik.

Die waarheid van hierdie spreuk het ons gesin presies ’n jaar gelede, net voor die Presidentsverkennerkamp in Julie 2016, beleef.

Ons het ’n vakansie vol lekker Voortrekkerkampe beplan. Carike doen Ruiterkuns op OPD, ek, Niel en die tweeling gaan op Swartvlei kamp en daarna sal ek en Melanie die PV-kamp bywoon.

Toe word Melanie se pa skielik siek.

Aanvanklik het ons gedink dit is ’n klein probleem, ’n vinnige operasie en dat hy kort voor lank weer op die been sou wees.

Hoe verkeerd was ons nie.

Mense reageer verskillend op só ’n krisis wanneer iemand naby jou skielik ernstig siek word. Party mense se lewe gaan staan stil. Ander gaan normaalweg aan met die daaglikse doen en late. Ander bid. Ander wag, soms by die huis, soms langs die hospitaalbed. Dan is daar die persone wat in krisistye begin orde skep. Toe haar pa ernstig siek word, het Melanie kos gemaak, kaste en laaie reggepak, huis silwerskoon gemaak.

Soos wat sy skoonmaak, ontdek sy in elke kombuisrak, laai en kas 1 kg-botterbakkies. Sy het dit verstaan. Haar pa was, soos sy, ’n herwinningsmens met verskillende asblikke vir papier, plastiek, glas, groenteskille en ander huishoudelike items.

Die honderde botterbakkies was egter een te veel. Sy het swartsakke vol botterbakkies gemaak – gereed om vir herwinning te gee – toe die hospitaal bel.

Die lyntjies op die ICU-masjiene het teen Dinsdagmiddag platter en platter gaan lê. Sy hart het stadiger en moeisamer geklop. Dit was duidelik: die einde kom vinnig nader.

Dominee het teen 15:00 opgedaag. Hy het gelees, getroos, gebid en gegroet. “George, Jesus is lief vir jou,” was sy slotwoorde. Dit was ook die laaste woorde wat skoonpa gehoor het. Dominee was skaars by die deur uit toe hy sterf. Sag. Vinnig. Stil.

Die begrafnis was die volgende Maandag. ’n Warm wintersmiddag in Kroonstad Moedergemeente. Daardie pragtige sandsteenkerk waar Sarel Cilliers ook lidmaat en ouderling was. Die kerk met die mooi beeld waar hy met hande gestrek na bo om hulp roep.

Familie en vriende het die sonkolle in die koue kerk opgesoek. Dit was ’n koue diens. Dominee was nuut en het skoonpa nie baie goed geken nie. Die orrelspel was mooi. Die sang onhoorbaar.

Voor die oop graf in die verwaarloosde begraafplaas het Antjie Krog se woorde oor háár pa se begrafnis in Kroonstad deur my gedagtes geflits:

“Swyend staan ons in die koue Vrystaatse lug. En dit is asof iets van ons uitgaan… En dit is gevul met ’n soort verwardheid, ’n gelate gehawendheid, ’n troosteloosheid, ’n volslae weerloosheid teen onafwendbare eindes.”

Die oomblikke by die graf was vinnig verby. Te vinnig. Dominee was haastig om voor donker by familie op ’n plaas iewers in Noordwes te kom. “Julle sal verstaan,” fluister hy, “in tye van misdaad en plaasaanvalle is dit nie goed om ná donker op die pad te wees nie.”

Die vrouediens het baie moeite gedoen. Op die kerksaal se verhoog het rye waterbottels reggestaan vir familie en vriende. Kroonstad het reeds maande lank geen water gehad nie. Daar was eier-en-polonie-begrafnisbroodjies, koeksisters, melktert, warm koffie en tee.

Nadat die laaste familie gegroet en vriende gery het, het Melanie die tannies in die kombuis help opruim. Hulle het George goed geken, het een gesê. “Elke Maandag het hy ’n groot pot sop gekook en dit in 1 kg-botterbakkies verdeel. Een bakkie is net genoeg vir een porsie sop.” Hulle weet nie wat hulle nou gaan doen nie, het ’n ander tannie gesê. “George het ons gehelp om botterbakkies bymekaar te maak.” Hierdie winter sal baie bejaardes sonder George se sop honger gaan slaap, het ’n ander gesê.

Tussen vuil koppies en opwasbakke het ons die eerste keer gehoor van die liefde in ’n pa se botterbakkies.

“Watter kaart of ster sal ek jou wys om veilig deur die grysland te reis,” vra DJ Opperman. Dalk is dit die verkeerde vraag. Miskien moet ons eerder vra: Waaraan gaan jou lewe eendag gemeet word? Aan sakke vol geld, grade teen die muur, groot prestasies, posisies of titels? Dit is immers hoe ons mekaar weeg.

Jesus het ons geleer van sout en lig wees, van mekaar se laste dra, van liefde wat alles oorwin. Dit maak nie saak hoe groot of klein, hoe sigbaar of onsigbaar jou diensbaarheid is nie. Die belangrikste vraag wat saak maak ,is die verskil wat jy in ander mense se lewens maak. Selfs al is dit met 1 kg-botterbakkies.

DJ Opperman het tot die slotsom gekom: “Onthou altyd aan jou dade grens ’n ewigheid.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Danie Langner

Meer oor die skrywer: Danie Langner

Danie Langner is die Besturende Direkteur by die FAK.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

dr Sakkie van der Merwe ·

Mag ons elkeen so leef dat ons kinders en kindskinders ons lewens sal onthou as een van gehoorsaamheid aan God en ook diensbaarheid teenoor ons naaste. Dankie Danie.

Eish ·

Daar het jy my in snot en trane! Wonderlik verwoord, ek voel deel.

Pierre ·

Dankie Danie, dis hoekom dit ‘n voorreg is om jou as ons Hoofleier by die Voortrekkers te mag.

Skemerlig ·

Baie roerende verhaal.

Vir my ook tragies die dominee se baie realistiese vroeg-vertrek verduideliking: ” Julle sal verstaan, in tye van misdaad en plaasaanvalle is dit nie goed om na donker op die pad te wees nie”

Watter donker land het SA nie geword nie?

Anoniem ·

Skemerlig, dis juis in die donkerste donker waar ons die Here se lig en liefde die helderste kan laat skyn. Hierdie omie het lig en liefde in botterbakkies geskep en uitgedeel.

Susan ·

Wat ‘n Voorreg om ‘n Voortrekker offisier te kan wees. Saam met mense wat “Sout van die Aarde” gereken word. Gister tragiese voorval gehad waar my 2 Voortrekker kinders ‘n seuntjie (8) moes help Resusiteer nadat hy in Yskoue swembad geval het met fiets. Voortrekker Waterveiligheid het my 15 jarige dadelik laat besef wat van hom verwag word. Hy kon bystand gee soos ‘n wafferse Paramedici. My 22 jarige was so knap in sy Noodhulp kennis opgedoen in Soltech dat hy hom knap van sy taak gekwyt het deur meer as 45 minute KPR te kon volhou. knap gedaan manne. Alhoewel Die Seuntjie Hermanus nie weer asem gehaal het nie. Was dit steeds ons eer en voorreg om sy laaste paar minute op aarde saam met hom te kon wees. Rus in vrede Manus. Jou mamma en ons harte is seer. Maar ons weet waar ons Hulp vandaan gaan kom. God is in Beheer.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.