ʼn Paasoordenking: Waarom so baie soldate?

Vanuit ons tradisionele perspektief kan ʼn mens dalk die idee hê dat Jesus in Getsemane ʼn verwese en magtelose figuur was. Tog is dit duidelik dat die Joodse en Romeinse owerheid geen kans wou vat toe hulle Hom in hegtenis wou neem nie.

Volgens Joh. 18:3 het Judas ʼn Romeinse “speira” (dit is 600 soldate) saam met hom geneem om Jesus in Getsemane gevange te neem.

Kan jy jou voorstel hoe dit moes wees om Jesus tydens Sy lewe en bediening in aksie te sien – om soos sy dissipels dag en nag by Hom te wees en al sy wonderwerke te sien? Dink net aan sy verskillende genesingswonders. Watter mag moet iemand hê om iemand wat van geboorte af lam of blind was met ʼn paar woorde te genees, wat met een woord ‘n stormwind kan laat lê en ‘n woeste see laat bedaar, voor wie ‘n besete maniak pleitend neerval, vir wie bose geeste smeek, wat die natuurwette kan ophef en op die water loop, wat met vyf broodjies en twee vissies ‘n skare kon voed, wat water in wyn kan verander en dooies met ‘n woord kan opwek?

Voor die gebeure van die Paasnaweek, was daar verskillende aanslae op Jesus se lewe, maar “sy tyd” het nog nie gekom nie. As ‘n klein babatjie het Herodes die Grote se soldate op die klein dorpie Bethlehem toegesak, maar ‘n engel het sy vader betyds gewaarsku om te vlug. In Luk.4: 29+30 het die mense van Nasaret Hom van ‘n krans probeer afstoot, maar Hy het tussen hulle deurgeloop en weggegaan. In Joh. 8:59 het hulle klippe opgetel om Hom te stenig, maar Hy het tussen hulle deurgeloop en vertrek.

Nou het Sy uur egter gekom. Die verraaier se planne was in plek. Judas het geweet hoe groot die krag was wat deur Jesus gewerk het en hy wou seker maak dat die magte wat Hom hierdie keer gevange moes neem, genoeg sou wees.

Dit moes ‘n formidabele mag gewees het wat daardie nag uitgetrek het om Jesus gevange te neem! Matt. 26: 47 beskryf dit as “’n groot menigte met swaarde en stokke, gestuur deur die owerpriesters en ouderlinge van die volk”. Luk. 22: 47 beskryf dit as ‘n “skare”. Dit laat die vraag by ‘n mens ontstaan: Hoeveel soldate en polisie is nodig om één ongewapende man gevange te neem?

Die gebied oorkant die Kedronspruit, wat as Getsemane bekend gestaan het, was nie ‘n groot gebied nie – kwalik 50 hektaar. Dit moes letterlik gewemel het van soldate en polisie. Daarby sê Joh. 18:3 dat hulle gekom het met “fakkels en lampe en wapens”.  Benewens die feit dat dit volmaan was, moes die hele gebied oorkant die Kedronvallei verlig gewees het. Het hulle verwag Jesus sou êrens probeer wegkruip? Wat het hulle verwag? Wat het hulle van Jesus gehoor? Watter stories het Judas hulle wysgemaak? Wat het gemaak dat die Jode soveel voorsorg getref het?

Het jy al ooit oor hierdie duidelike Bybelfeite gedink? Dat Sy krag en mag so legendaries was dat die owerpriesters geen kans wou waag nie? Dat hulle as’t ware ‘n hele leërmag gewapende soldate en tempelpolisie gestuur het om hierdie ongewapende Nasarener en sy paar eenvoudige volgelinge gevange te neem?

Hoe ironies! Hoe vernederend! Om met fakkels en lampe te kom soek na “die Lig van die wêreld”? En dit met volmaan! Met swaarde en knuppels kom hulle om die Vredevors te onderwerp en gevange te neem! Kan jy dink wat deur Jesus se gemoed moes gaan – Hy, die Man van Smarte wat juis gekom het om dié wat verlore is, te soek en te red?

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Isak Burger

Isak Burger is die voormalige president van die Apostoliese Geloofsending van Suid-Afrika.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.