’n Penkopmonument vir 16 Junie

penkopmonument-dr-danie-langner-en-jacques-muller

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK en die beeldhouer van die Penkopmonument Jacques Müller. Foto: Verskaf.

Vanjaar is die 120ste herdenking van die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog. Lord Roberts se proklamasie van die verskroeideaardebeleid op 16 Junie 1900 verteenwoordig ’n tragiese wending wat vir geslagte daarna Suid-Afrikaanse geskiedenis op een of ander wyse sou beïnvloed. Roberts se opdrag was duidelik. Plase moet afgebrand en dorpe ontruim word. Huise en veestapels moet sistematies vernietig word. Die burgerlike bevolking moet met treintrokke, ossewa of per voet na konsentrasiekampe weggevoer word. As die Britte nie die Boerekrygers in die veld kan oorwin nie, sal hulle deur middel van die lyding van die vroue en kinders die Boere se moed breek en tot oorgawe dwing.

Die gevolg van die onmenslike beleid was die dood van meer as 22 000 kinders. Afrikaners kon ná die oorlog die heldedade van De la Rey en De Wet besing, droogte, winterkoue, armoede en swaarkry verduur, die verlies van die Republieke verwerk, maar skaars oor die dood van hul kinders praat. Die seer was té diep en té groot. Vir geslagte koester Afrikaners die nagedagtenis van hierdie konsentrasiekampkinders. Ons reël herdenkingsgeleenthede, plaas blomme op rye eensame grafte en versorg verwaarloosde konsentrasiekampterreine. Die kinders se lyding mag nooit vergeet word nie. Hulle het die duurste prys betaal.

Daar is ook ’n ander verhaal. Die verhaal van kinders wat die oorlog oorleef het. Kinders behoort in hulle vormingsjare geluk, geborgenheid en stabiliteit in ouerhuise en ondersteunende gemeenskap te ervaar. Vir dié geslag kinders was dit nie beskore nie. Die verskroeide aarde het gesinne uit mekaar geskeur, gemeenskappe vernietig en kinders van jongs af met trauma gekonfronteer.

Afrikaners skryf graag oor die oorlog, maar min oor die jare ná die oorlog. Oor die groot terugkeer. Die land het getreur. Die land was woes en leeg. Die landskappe was op baie plekke van horison tot horison tot as verbrand. Veekrale was stil. Groot- en kleinwild is uitgeskiet deur honger soldate en bittereinders. Swart gebrande murasies het verlate gestaan. Damme was gebreek, vrugteboorde afgekap. Kerkgeboue verniel. Dorpe en infrastruktuur vernietig. Brûe en treinspore opgeblaas. Die winter van 1902 was die koudste sedert temperature opgeteken is. In die somer het reën weggebly.  ’n Witwarm droogte het die verskroeide aarde tot ’n harde kors drooggebak. ’n Sprinkaanplaag het die laaste groen weggevreet. Dit het maande geneem voor die oorlewendes met hul gesinne herenig is. Sommige is nooit herenig nie. In konsentrasiekampe het baie kinders tevergeefs gewag. In sommige gevalle is die weeskinders weggegee aan enige een wat hulle oor die kinders wou ontferm. Sommige boeties en sussies is op so wyse verdeel dat hulle mekaar nooit weer gesien het nie. Dit het onuitwisbare emosionele letsels gelaat.

Was Jan F. Celliers se graf in die gras en vallende traan ál wat vir Afrikaners ná 16 Junie 1900 oorgebly het? Op die oog af, ja, maar wie gedink het dit is onmoontlik om die land te herbou, het nie rekening gehou met die kinders van die land nie. Die land het kinders oor dekades geleer van moed en deursettingsvermoë. Van selfverdediging en bouwerk. Van swaarkry en opstaan. Hulle was immers die kleinkinders en agterkleinkinders van die Groot Trek-geslag wat skaars ses dekades vantevore die Kaapkolonie verlaat het.

Diegene wat die oorlog oorleef het, het nie in die sinkgat van slagofferskap verval nie. Hulle het nie bakhand by Milner vir aalmoese gepleit of die bedelstaf by koning Edward opgeneem nie. Geloof het gehelp dat die meeste van hulle nie in bitterheid en haat verval nie.

Die oorwonne Afrikaners was ook nie slawe van die oorwinnaars nie. Dit is waar dat sommige Afrikaners ná die oorlog hulself tot “loyal British subjects” getransformeer het deur die identiteit, taal en idioom van die veroweraars gewillig, gedienstig en gedwee te internaliseer. By verreweg die meeste het Afrikaners nie. Ramsey MacDonald, ’n latere Britse eerste minister, skryf in 1902: “The Boers with full hearts have become quiet. They are massive like South Africa itself. They are not stirred by our imperialistic concepts. They have no deference for the British Empire. They don’t help the British government, but they also do not obstruct it. They wait! They believe in God and their nation.”

Die na-oorlogse geslag was nie slagoffers of slawe nie, maar bouers. Nie sodat hulle die Engelse ’n punt kan bewys nie, maar omdat hul kinders vir hulle kosbaar is. Ouers wat 22 000 kinders onder die mees traumatiese omstandighede moes begrawe, het eenvoudig alles moontlik gedoen om te sorg dat die kinders wat oorleef het, in die nuwe, onvriendelike Engelse wêreld in hul eie taal beter onderwys en opleiding sal ontvang as wat hulle gehad het. Brandarm ouers het CNO-skole (Christelike Nasionale Onderwys) in plaasskure, stalle en onder bome gevestig. Hul kinders het verder gebou… Universiteite. Skeppende kultuurorganisasies. Nuwe infrastruktuur is ontwikkel en landerye aangelê. Ou dorpe is herbou en nuwe dorpe se grense vasgestel. Die kinders het met gedigte, kompetisies en toneelstukke die woordeskat van ’n nuwe taal uit Afrika ontwikkel. Met sikspense en pennies, pannekoekverkopings en konserte het hul monumente gebou (onder meer die monument van president Steyn wat nie meer op Kovsiekampus welkom is nie). Die Bybel is in Afrikaans vertaal op voorstel van dr. N.J. van der Merwe, ’n seun wat Norvalspont-konsentrasiekamp oorleef het.

Ons moet vir altyd die kinders wat gesterf het, in herinnering roep en hul nagedagtenis eer. Terselfdertyd moet die bouwerk van die kinders wat oorleef het, ons en ons kinders in ons eie gebroke konteks inspireer. Om dié rede het die FAK in die historiese herdenkingsjaar op 16 Junie ’n Penkopmonument op ons kultuurplaas naby Parys opgerig. Volgende jaar op 16 Junie rig die FAK ’n monument op vir die bouwerk van Afrikanerdogters.

Op die naamborde langs die Penkopmonument staan die name van 2 400 seuns tussen 6 en 16 jaar. Sommige was bannelinge, baie in konsentrasiekampe, ander was bittereinders, maar almal van hulle het uit die ashope van ’n verskroeide aarde opgestaan en ’n toekoms help bou. ’n Toekoms gebou op die fondamente van selfrespek, kulturele trots en selfstandigheid. Die aambeeld is ʼn simbool van die staal, die daadkrag en harde werk van die na-oorlogse seuns. Aan die voet van die Penkopmonument staan die woorde van die beeldhouer Jacques Müller uit graniet gekerf:

Ek het ’n kind gemaak. Uit die oë van ’n kind. Vir ’n kind.

Hierdie kind se aarde is verskroei.

Sy onskuld gesteel, deur die besluite van grootmense.

Al die fases van ’n seun se grootwordjare, kleuter, adolessent en uiteindelik man word in hierdie gesig uitgebeeld. ’n Man in die lyf van ’n seun.

Onseker oor sy voorkoms en sy doel op hierdie aarde, neem hy rotsvas stelling in, teen die noodlot wat ongenooid op hom afstuur.
Omhels met bandolier wat geen doel meer dien, sy laaste uitweg die 7.63 mm-Mauserpistool wat ’n gesneuwelde offisier hom nagelaat het.
Oortrek met storms van angs, bewoë, ondenkbaar.
Kind.
Man.
Naïef. ’n Komieklike determinasie om ’n oormag te verslaan.

Ongeskonde geloof in iets veel groter as lewe.

Wiel voorwaarts.

Vlam ongeblus.

Rigtingwyser versteen.

Vasberade.

Dapper.

Fondament.

Monument.

Trots.

Onsterflik.

Penkop.

Hou Koers.

Dit was aangrypend om te sien hoe die jong Voortrekkers van Parys ná die onthulling van die Penkopmonument dadelik die name en vanne van hul oupagrootjies op die borde begin soek het. Hulle is immers ook kinders van die land. Toekomsbouers in eie reg.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Danie Langner

Meer oor die skrywer: Danie Langner

Danie Langner is die Besturende Direkteur by die FAK.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Frm ·

Wel dit lyk nie of ons nageslag oor 100+ jaar vir ons n gedenksteen gaan oprig nie want ons hou van praat en nie doen nie. Ja ek weet ek is ingesluit.

Andreas ·

Dis waar ek hoort, nie in hierdie dronk ideologiese rasbehepte land wat die ANC regering met CR aan die spits vertrap nie.

Andreas ·

Veronderstel ons kan almal soos een man opstaan en ‘n stuk aarde, met kluite en al, vandag vir ons annekseer! Ons droom sal ons droom tot die dag van werklikheid aanbreek.

alwyn burger ·

PENKOP
Op Sokkies
My vosperd
Oupa se Mauser
Agter my blad
Bybeltjie van Ouma
Haarlint van Sus
Ma se trane
Nat op my hemp
Slopie beskuit
Gekerfde biltong
Saalsak vol
Vat ek pad
Na Wakkerstroom
My makkers wag daar
Kommandomakkers
Dis oorlog
Oorlog teen Engeland

Andreas ·

En ons het ‘n president wat koud voel vir die realiteit en die geskiedenis van die Afrikaner se herkoms, hy sê dis ‘n koudbloedige, stertlose dier wat aan die klas amfibieë behoort. “Amfi-” beide “bios” lewe: wat op die land asook in die water leef, ‘n padda.

DIT sal ek hom nooit ooit vergewe.

Stephan de S ·

Pragtige artikel en gedagtes. Het net gister in n gemeente waar ons was,hierdie herdenking laat afkondig. Mag ons 16 Junie elke jaar herdenk twv ons vrouens en kinders. As Amerikaners Britte, Franse, Nederlanders en Belge gereeld D dag herdenk, hoe sal ons nie die offers van ons mense herdenk nie. Persentasie-gewys het geen bevolkingsgroep in SA dieselfde offer vir hd land gebring as Afrikaners met die 34000 (vlgs jongste navorsing)vroue en kinders in die konsentrasie-kampe.

Andreas ·

As Afrikaner wat bydrae tot die geskiedenis gemaak het wens ek my naam was ook agter hulle in die muur ingebou!

Dalk, dalk is dit nog nie te laat nie, dalk …. eendag …. dalk ….

GB ·

Baie dankie Danie Langer, Jacques Muller en FAK! Vir n volk wat siek is weens gebrek aan identiteit en kennis van hul geskiedenis, is hierdie die regte tipe medisyne.

Elsie Riekert ·

Die beeld lyk potsierlik. Geen kind het so’n oumansgesig nie.Ook pas die kop nie by die klein lyfie nie. Vra asb.iemand anders om die dogter uit te beeld. Dit hoef nie heeltemal realisties te wees nie maar ‘n karikatuur sal afbreek doen. Hoekom in elk geval nie een beeldegroep nl. seun en dogter nie?

Charles ·

Verskriklik dankie aan almal betrokke! My hart bons van trots. Kom probeer gerus, almal wat wil probeer; maar ek waarsku julle; DOODKRY IS MIN!
God beskerm en seen ons Volk en ons Taal en Kultuur !

Hans Richardt ·

Penkop monument is welkom, want in 118 jaar was hul bydraes nooit met monument erken nie! Maak Penkoptoekenning vir jeug wat presteer!

Salome Malherbe ·

Dit is n wonderlike verslag van die aard van die Afrikaners gees. Sò skryf mens geskiedenis. Sodat dit respek trots en empatie by die leser opwek.
Asseblief help ons om n Groot Afrikaner Geskiedenisboek tot lewe te bring .. vir ons kinders en families wat oor die hele wêreld versprei is.

jaco ·

as Paul Kruger wel vir die meeste uitlanders stemreg gegee het, sou meeste van hulle waarskynlik vir die meer liberale Generaal Piet Joubert gestem het; NIE vir een of ander Engelse kandidaat wat die Transvaal net so aan Brittanje sou oorhandig het nie. En selfs met so ‘n “oorhandiging”, sou die Kaapkolonie, Natal, die Vrystaat en Transvaal veel gouer in die Unie van SA verenig het.
En sonder 22 000 dooie vroue en kinders, dink net hoeveel meer wit mense sou SA vandag gehad het.

Diefie ·

My ouma, sy was in die konsentrasie kamp gewees, het altyd vir ons gesê, kinders eet, want jy weet nie wat op jou môre nie. Ons het 3 x per dag pap geeet en nooit gekla nie.
My ma (90j) het altyd weer gesê, hulle was die verneukde geslag. Vroue mag nie gewerk het nie, ens. Nou ons geslag van bo 50j, wat is ons. Ons het geen keuse gehad nie, jy moes weermag toe gaan en grens toe. Hoeveel van ons het gesterf? En werke verloor ens. Die vernielde geslag? Vandag se jeug? Onderdrukte geslag.

Julie Jansen van Rensburg ·

Die terugslae wat die Boere (en land) tydens die ABO beleef het is legio, maar diegene wat dit oorleef het, was beslis nie in sak geklee en het op ‘n hopie gaan sit en asse van selfbejammering oor hulle hoofde gestrooi nie. Nee – ons mense het hulleself aan hulle skoenrieme (wat daarvan oorgebly het) opgetrek,hulle moue opgerol en hierdie “vieslike-vierletterwoord” -W-E-R-K toegepas en die land van vooraf begin opbou en ontwikkel – en mettertyd het groot stede ook verrys; spoorweë en paaie is gebou; skole, universiteite, sakepersele – noem dit – ONS mense het dit alles gedoen, en terselftertyd was daar ook wedersydse respek tussen wit en swart, want hulle het saamgewerk – goed, hier en daar was daar ook strydighede, maar feit is, almal HET saamgewerk om hierdie land as die mees ontwikkelde land in Afrika te vestig. Reg of verkeerd? Maar nou? Soos die spreekwoord dit stel – I REST MY CASE…

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.