’n Perspektief op Suid-Afrika se reuse-interskole

sos-onderwysersgemoed-2018-10-17-05

Dr. Danie Brink is die hoof van die Skoleondersteuningsentrum. Argieffoto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Elke naweek tydens die wintersportseisoen is daar letterlik oorlog op ’n paar plekke in Suid-Afrika. En ek bedoel letterlik, nie figuurlik nie. Dorpe, streke en selfs provinsies trek laer en betrek weer loopgrawe wat dekades gelede al gegrawe is. Oudleerders trek weer hul rugbytruie aan wat nou stywer sit as in die ou dae en ondersteun met passie skole wat op die sportveld slaags raak.

So ook het daar in Mei een van die land se grootste interskole in Bloemfontein plaasgevind. Min kompetisies in skolesport is so straf soos wanneer die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) van Pretoria teen Grey Kollege van Bloemfontein speel. Vir Affies, met hul welbekende veggees, is ’n wedstryd teen een van die land se voorste sportskole ’n reuse-uitdaging – die wegwedstryd in Bloemfontein ’n dubbele uitdaging. Vir Grey Kollege is elke wedstryd ’n strawwe uitdaging, want “almal wil vir Grey klop”. Dus, hoe het dit toe gegaan met hierdie groot interskole? En behou ons perspektief oor die uitslag van hierdie oorlog?

Op die sportveld het die telbord soos volg gelyk:

Grey het 17 uit die 27 rugbywedstryde gewen, met hul o. 19-spanne wat agt uit die tien wedstryde en hul o. 14-spanne wat vyf uit die ses wedstryde gewen het. Grey se eerstespan het ook geseëvier met ’n oortuigende telling van 50-28. Affies se o. 16-rugbyspanne het daarin geslaag om vier uit die vyf wedstryde te wen.

Daar is ook oor die naweek baie gelykop deelgeneem aan hokkie, gholf, tafeltennis, landloop, fietsry, skaak en tennis en saam is daar aan ’n kultuuraand deelgeneem.

Sonder dat die leerders van hierdie twee spogskole noodwendig daarvan bewus was, het die “interskole” gedeeltelik ook in November 2018 met die jaarlikse matriekeksamens plaasgevind. Dit is interessant om te weet dat die twee skole op ses na ewe veel matriekleerders gehad het en dus kan die uitslae mooi met mekaar vergelyk word. Die amptelike uitslae oor hierdie deel van die oorlog is op 4 Januarie gepubliseer en die twee skole het soos volg gevaar:

  • A-simbole in alle vakke (2018): Grey se matrieks behaal 288, Affies se matrieks behaal 378
  • A-simbole in rekeningkunde: Grey se matrieks behaal 20, Affies se matrieks behaal 43
  • A-simbole in wiskunde: Grey se matrieks behaal 20, Affies se matrieks behaal 33
  • A-simbole in fisiese wetenskappe: Grey se matrieks behaal 29, Affies se matrieks behaal 30
  • A-simbole in Engelse eerste taal: Grey se matrieks behaal 3, Affies se matrieks behaal 35
  • Toelating tot B-graadstudies: Grey se matrieks behaal 187, Affies se matrieks behaal 214

Dus, wie het hierdie belangrike oorlog gewen? Die Skoleondersteuningsentrum spreek nie ’n spesifieke mening uit nie, maar is ’n groot voorstander vir perspektief. Suid-Afrika se skolesport is fantasties. Kom ons neem heelhartig deel en verloor nooit perspektief oor wie wen en wie verloor nie.

Die Namakwalanders het ’n sêding: “Mens stry nooit oor mooi en lekker nie. Mens sou seker ná hierdie interskole effe tong-in-die-kies kon sê: ‘Mens stry nie oor rugby en akademie nie’.”

Welgedaan aan beide hierdie wonderlike skole. Julle lewer ’n wêreldklasdiens aan jul leerders.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Danie Brink

Dr. Danie Brink is die uitvoerende direkteur van Skoleondersteuningsentrum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Rupert Ashford ·

Dr Danie jy krap nou…:-) Ek is seker jy is terdee bewus van die ongelukkigheid by een van die skole, die hofsake en die onderliggende redes daarvoor…

MB ·

Vergelyk appels met appels. Affies is nie soos Grey ‘n rugbyakademie vir Franse rugbyklubs nie.

Piet Nel ·

Dit sal interessant wees om die uitslae te vergelyk van Afrikaanse Grey Kollege leerders en Affies leerders.

Strydom ·

Stem saam met Piet, Grey Kollege is n dubbelmedium skool m.a.w. tenminste 30% van die leerlinge ontvang onderrig in hul 2de of 3de taal. Die uitslae kan dus nie so lynreg vergelyk word nie. Grey se uitslae is egter ‘n goeie argument vir moedertaal onderrig.

Strydom ·

Stem 100% met die skrywer saam, perspektief is baie belangrik. Die skrywer vergelyk (ten minste in ‘n mate) appels met pere. AHS is n enkelmedium (Afrikaanse) skool, Grey Kollege is ‘ dubbelmedium (Afrikaans en Engels) skool. Dit beteken dat net 70% (dit kan selfs minder wees) van die leerlinge van Grey Kollege onderrig word in hul moedertaal. By AHS , veronderstel ek, is hierdie syfer baie nader aan 100%. Uit hierdie perspektief is Grey Kollege se “swak” matriekuitslae en AHS se goeie uitslae nie ‘n aanduiding van wie die “ akademiese inter” gewen het nie, maar eerder ‘n goeie argument vir moedertaal onderrig. Sou die skrywer ‘n meer akkurate vergelyking tussen die akademiese prestasies van die 2 skole wou maak, vergelyk dan die uitslae van leerlinge wat in hul moedertaal onderrig word met mekaar.

kryger ·

ai, mense is so lig geraak deesdae… kolla se dis swak van Affies om teen Grey te verloor? Grey word gesien as die beste span in die land ek glo, hoe is dit nou swak om teen die beste te verloor? …en die selfde punt word gemaak deur almal wat nou wal gooi oor matriek uitslae… Grey so uitslae is uitmuntend, maar julle voel julle moet verskonings gee? Belaglik!

alwyn burger ·

Hoe vergelyk die sg. spogskole se leerling getalle?
Ek gebruik maar die woord leerling. Leerder klink so na iemand wat stadig van begrip is!?

Andreas ·

hehehehe, ek is maar ‘n softie as jit by stry kom, dis makliker om saam te stem as om weerbarstig te wees. Nugter weet waar die woord vandaan kom, ek het idee so …. laat ons eerder sê so met die dinge wat stelselmatig verander het.

Jdb ·

Die punt wat gemaak word is dat beide hierdie skole uitstekende onderrig , afrigting en opleiding aan hul leerlinge bied.
Dit is so.
Sukses kweek sukses en dit lok meer suksesvolle kandidate na daardie skole toe.
Dis die najaag van gemiddeldheid en inhaligheid teenoor die uitstaande wat al hoe meer Afrikaanse skole in die land die handdoek laat ingooi.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.