’n Praktiese veldslag in ’n ideologiese oorlog

twitter-sosiale-media-digitaal-oorlog-van-idees

Foto: Marten Bjork/Unsplash.com

Deur Monica Mynhardt

Dit is moeilik vir enige mens om oor idees en teorieë om te gee wanneer jou praktiese werklikheid besig is om uit mekaar te val. So is dit ook moeilik om die belangrikheid daarvan raak te sien om aan die idee-oorlog deel te neem wanneer die drukkende probleme in jou lewe in die werklikheid eerder as teorie gesetel is. Dit is egter besonders belangrik om te begryp waarom dit letterlik lewensnoodsaaklik is om nie net aan die idee-oorlog deel te neem nie, maar veldslag op veldslag te wen ten einde jou praktiese voortbestaan te verseker.

Wat is die idee-oorlog?

Die idee-oorlog is die stryd wat bestaan tussen die twee opponerende ente van die ideologiese spektrum – die stryd tussen die sogenaamde linkses en regses.

Tradisioneel is waardes aan die regse kant van die spektrum meer konserwatief. Hierdie kant hang waardes soos kapitalisme, die vryemark, min na geen regeringsregulering, grensbeheer, lae belasting, geen wapenbeheerwetgewing en gelykheid van geleentheid aan. Hulle ondersteun idees soos privaat eiendomsreg.

Die waardes aan die linkse kant van die spektrum is aansienlik meer liberaal. Hulle hang weer waardes soos sosialisme, streng gereguleerde markte, inkomstegelykheid, hoë progressiewe belasting, oop landsgrense, wapenbeheer, gratis openbare gesondheidsorg en gelykheid van uitkomste aan. Hulle ondersteun idees soos uitermatige na absolute regeringsmag.

Regse waardes lei gewoonlik tot die groei en vooruitstrewing van ’n samelewing. Linkse waardes het, daarenteen, feitlik sonder uitsondering die ineenstorting van ’n samelewing tot gevolg. ’n Land soos die VSA waarin basies elkeen van die regse waardes aanwending vind, word byna onomstrede as die vryste land met die grootste ekonomie in die wêreld bestempel. ’n Land soos Venezuela, waarin talle van die linkse waardes aan die orde van die dag is, het byna onmiddellik onredbaar te gronde gegaan. Waar linkse idees die veldslag wen, is praktiese lyke noodwendig die gevolg.

Tog blyk die rolspelers aan die linkerkant beter daarmee te wees om hul boodskap oor te dra en hul ondersteuningsbasis op te sweep. ’n Meer suksesvolle opgesweepte ondersteuningsbasis bied noodwendig ’n groter kans tot oorwinning. Die gevaar hiervan is dat ’n linkse veldslag wesenlike negatiewe gevolge vir enige land, ons eie ingesluit, sal hê. Daarom moet die regterkant die verpakking van hul boodskap herevalueer ten einde die ineenstorting van ons samelewing te voorkom.

Hoe wen ’n mens ’n veldslag in ’n idee-oorlog?

Ons huidige probleem: Linkse waardes is meestal absurd, maar word suksesvol oorgedra en ruiterlik ondersteun. Regse waardes is sinvol en werk, maar word met minder sukses oorgedra en het derhalwe minder bankvaste ondersteuning. Dit is soos ’n besonderse wyse persoon eens gesê het: Die linkses laat aaklige idees goed klink, en die regses laat goeie idees aaklig klink.

Wat vreemd is, is dat die waardes wat deur die gemiddelde Suid-Afrikaner aangehang word, glad nie op die uiterstes van die spektrum is nie. Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge asook die Wêreldwaardes-peiling (World Values Survey) bevestig dat Suid-Afrika, ten spyte van ’n vreeslike progressiewe Grondwet en hoofstroomnarratief, eintlik ’n baie konserwatiewe land is. Die oorweldigende meerderheid van Suid-Afrikaners is byvoorbeeld sterk gekant teen onteiening sonder vergoeding. Tog is dit byna uitsluitlik die stemme van die radikale linkse minderheid wat gehoor word; die kant wat onteiening sonder vergoeding ondersteun.

Die sukses van die linkerkant in die oordrag van hul boodskap is eenvoudig. Hulle verstaan die kruks van hierdie oorlog: Mense reageer byna sonder uitsondering op emosie eerder as feite.

’n Mens kan soveel as wat jy wil, hoop en glo dat mense kliniese, rasionele wesens is. Dit is egter nie waar nie. Natuurlik is daar mense wat die vermoë het om op grond van feite oor goed te redeneer en debatteer. Dit neem egter nie weg van die feit dat mense male sonder tal emosie die deurslaggewende faktor maak ten spyte van die feite van ’n saak nie. Emosies is persoonlik. Dit is baie makliker om aanklank by ’n mens se storie te vind as by ’n stuk statistiek. Hulle verbloem die gate in hul logika deur verpersoonliking.

Verder is die linkses ook uitsonderlik daarmee om hul opponent, diegene aan die regterkant, te demoniseer. Hulle argumenteer vanaf onregverdig verkrygde morele hoë grond. Hulle skets die prentjie dat die regses boos is en slegs oor hulself omgee, en dat die linkses alleen oor die mense omgee. Wanneer ’n mens egter na die werklike uiteindes van die twee kante se beleide gaan kyk, is dit juis die beleid van die linkses wat alle landsburgers in die voet skiet. Die probleem is verder dat diegene aan die regterkant nie soveel daarin belangstel om die linkses te demoniseer nie. Die feit dat hulle net in die feite belangstel, doen hulle verder in.

Buiten hierdie demonisering, is beide kante ook nie ewe ingelig oor die ander se standpunte soos hulle behoort te wees nie. Andrew Klaven, Amerikaanse skrywer en politieke kommentator, verduidelik hoe die linkses se houvas op die hoofstroommedia vir hulle ’n verdere voordeel bied. Hul ideologie oorheers die hoofstroomnarratief. ’n Linkse aanhanger kan hulle hele lewe deurgaan sonder om ooit werklik ingelig te word oor die waardes en konsepte aan die regterkant. Derhalwe glo hulle die selektiewe, gedemoniseerde weergawe wat die media hulle voer. Diegene aan die regterkant is daarenteen weer deeglik bewus van dit wat hulle teenstanders aanhang weens hierdie absolute oorheersing van die hoofstroomnarratief.

Die regterkant het al die data en feite in hul guns. Hulle het ’n waterdigte saak te maak. Dit is egter belangrik dat hulle leer by die linkses en die wyse waarop hulle hul saak voorhou, verbeter. Sonder om kernbeginsels te verraai, moet hulle ook hierdie emosionele oorlogvoering begin toepas, want dit wérk. Dit is egter ’n feit wat hulle heeltemal miskyk en ook een wat almal duur te staan kom. Nie net skiet hulle hulself in die voet nie, maar hulle laat almal oor aan die praktiese rampspoed van linkse oorwinnings. Hulle moet leer om emosies en verpersoonliking te gebruik om ondersteuning te kry vir hul feitgebaseerde standpunte. Dan sal die praktiese suksesse, hierdie ondersteuning op die lang termyn vaslê.

Hoekom is dit belangrik om te wen?

Die idee-oorlog is nie slegs ’n lekker debatsonderwerp nie. Hierdie stryd van waardes en idees staan direk aan die stuur van ’n samelewing. Die kant wat wen, het wesenlike en verreikende gevolge vir die funksionering en sukses van ’n land. Suid-Afrika is tans ook aan die oorlog voer. Onteiening sonder vergoeding is nie net ’n idee waaroor ons gaan praat en stry en wonder nie. Dit is ook ’n veldslag in die idee-oorlog.

Hoewel ons al op ’n laat stadium in hierdie spesifieke oorlog is, en dit tans lyk of dinge nie besig is om in die guns van die regterkant uit te speel nie, is dit nie te laat nie. Daar is steeds tyd om by die linkses te leer, en beter boodskappe met onstuitbare sukses en momentum te laat vergestalt. Tyd vir ’n konserwatiewe Suid-Afrika om sy stem te verdik. Tyd vir kompeterende alternatiewe mediahuise om wesenlike teenkanting te bied teen die hoofstroom. Tyd om dié stryd in die idee-oorlog te wen.

  • Monica Mynhardt is ʼn tweedejaar-regstudent aan die Universiteit van Pretoria (UP) en voormalige voorsitter van die UP-debatsvereniging.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

18 Kommentare

Adriaan ·

Ek hoop om in die toekoms meer van Monica se goeie idees te sien. Bv, hoe kan konserwatiewe idees effektief uitgedra word as die media grootliks deur liberaal gesindes beheer word? Nou verwant daaraan, hoe breek konserwatiewe media deur die beperking van “preaching to the choir”?

Wicus ·

Stem Adriaan!

Jy gee my hoop vir die toekoms Monica, hou so aan, ons het mense soos jy nodig

Jerry ·

Mooi Monica, hierdie keer kan ek nie anders as om saam te stem. Mense hou van wenners en in die idee oorlog is n volwasse vlak van emosionele intelligensie en korrekte benadering n voorvereiste om ten minste in die wedloop te kan bly, veral wanneer jy te staan kom teen n oormag van idees wat jou eie idees, nie goedgesind is nie. Soos wat die idee oorlog vorder raak dit krities dat eie lewensvatbare idees geidentifiseer en geimplementeer word voordat te veel water in die see loop en die goeie idees deur aandag afleidende idees verswelg word. Die beste idees word dus mettertyd deur minder goeie alternatiewe idees vervang soos reeds gebeur het in die geval van n volkstaat idee wat noodgedwonge vervang moes word met die idee van selfbeskikking. Nodeloos om te se dat die vereistes vir idees gebaseer moet wees op nie net feite nie, maar op die regte tyd en plek en dit moet realisties, haalbaar, lewensvatbaar, wetlik en op korttermyn implementeerbaar wees om oor langtermyn te ontwikkel en te bestaan. Konserwatiewe idees voldoen tans nie aan al hierdie vereistes nie en word daarom nie ten volle ondersteun nie. N sprekende voorbeeld van n idee wat dreig om beter idees te verswelg is die idee om geregtigheid in die howe te soek teen uitsluiting en diskriminasie in plaas daarvan om die geleentheid raak te sien en te benut dat uitsluiting die idee van afsonderlike ontwikkelling regverdig en om dit in die howe te wettig en te implimenteer.

Twakkie ·

Lanklaas só ‘n volledige, deurdagte ontleding van die (idee)-oorlog tussen links en regs gelees. In Afrikaans in Suid-Afrika in elk geval. Dit is algemeen onder puik, ingeligte konserwatiewe skrywers in die VSA, soos Newt Gingrich en ander, maar ons Afrikaanse hoofstroommedia hier te lande voer ons ‘n dieet direk uit die linkse hoofstroommedia in die VSA, met presies die onkunde oor en negering van die feite aan hul politieke teenstanders se kant en die aanhoudende oproepe op emosie wat dié skrywer so netjies beskryf. Die relatiewe sukses van die linkse emosionele narratief kan dalk ook toegeskryf word aan die bevinding van sielkundiges en opvoedkundiges dat net 10% van mense die soort intelligensie het wat hulle in staat stel om ingewikkelde abstrakte begrippe baas te raak en net 2% van mense in staat is tot oorspronklike denke. Emosie wen dus gewoonlik, selfs as dit geen sin maak nie. Dank aan skrywer en Maroela vir dié fris briesie!

Frikkie ·

Baie goeie stuk, hoop Monica gaan nog baie vir ons skryf. Baie bly om jong mense te sien wat so ingestel is op die ideologie oorlog.

Judge Dredd ·

Goeie skrywe – dit blyk waar te wees dat emosies ‘n belangriker rol speel as logiese denke – net 2 weke gelede het baie kommentare heel op hol gegaan oor die brakkie wat aan sy agterpote gevang was en buite ‘n motor gehang het.
Meeste kommentare het doodeenvoudig die redes verskaf verwerp en party het hul eie vals aannames gemaak en sodoende die gemoedere nog verder opgestoot – selfs nadat dit in opvolgberig uitkom dat die brakkie 100% reg is, die persoon wat die klagte gele het nie eers die ooggetuie was, en dat van die weerga in eerste berig verkeerd was.

Dit laat ons met ‘n les te leer – “Never govern by emotion”

Arak ·

Dit is waar, die linkse gebruik emosionele manipulasie om sy standpunt te probeer regverdig, maar daar is ook die saak dat die linkse heeltemal bereid is om blatant te lieg en feite te verdraai om sy doelwit te bereik. So, ek hoor wat die skrywer sê, maar ek dink nie dit is wys om mense emosioneel te probeer manipuleer en linkse taktieke te volg nie. As die gewone bevolking te onnosel is om te onderskei tussen emosionele manipulasie en feite, dan is ek jammer, maar dan verdien hulle die regering wat hulle voor stem. Dit help nie jy pluk van die verrotte (linkse) boom en verwag jy gaan goeie vrugte kry nie.

Judge Dredd ·

Die probleem is hulle sleep die res van ons saam met hulle die verderf in – en dit gebeur orals in die wereld – so daar is nerens waarheen jy kan vlug.

Drikus Kotze ·

Prediker 10:2 “Die hart van die wyse is na regs, maar die hart van ‘n dwaas is na links.”

Fanie ·

Drikus, dis ‘n swak grap. Die Bybel is ver verhewe bo politieke ideologieë. Die Links/regs spektrum het eers tydens die Franse Rewolusie van 1789 ontstaan. As jou opmerkings ernstig bedoel was, verduidelik dit die onregverdige liberale stereotipering van regses as dom.

Pafuri ·

Monica! Die slimste 2e-jaartjie! Baie dankie, maar skryf asb aanhoudend. Mag my meer blootstelling kry. Ek sien ‘n blink toekoms (nie malik nie) vir jou. Seënwense!

rassie ·

Monica,
Ek stem heelhartig saam met jou dat dit moeilik is om jouself oor ideologie en ‘n teorie te bekommer as jou lewenswerklikheid besig is om uitmekaar te val.

Of dit honger, werkloosheid of wat ookal is wat ‘n persoon se lewenswerklikheid uitmekaar laat val, is dit noodsaaklik vir so ‘n persoon is om aan die idee-oorlog deel te neem ten einde, soos jy dit stel, ” jou praktiese voortbestaan te verseker”

Moontlik gaan dit egter glad nie oor ideologie en teorie nie. Moontlik gaan dit juis oor die praktiese, elke dag se realistiese ervaring van die alledaagse bestaan binne die kort lewenspan van elke individu wat bloot menslik strewe na beterskap. Veral as sy/haar huidige ervaring van sy/haar daaglikse bestaan binne ‘n kapitalistiese/konserwatiewe sisteem subjektief beoordeel onhoudbaar blyk.

Lesse uit die verlede oor hoe libealisme, sosialisme en al daardie linkse gedagtes tot verval gelei het, help niks indien die individu se persoonlike huidige lewenswerklikheid onder kapitalisme ook uitmekaar val en sy/haar praktiese voortbetaan nie verseker is nie.

Moontlik is die swakpunt van die konserwatiewe/kapitalistiese uitgangspunt en die bemarking daarvan as die enigste goeie en beste juis geleë in die onvermoë daarvan om al die gewaande goeie eienskappe daarvan “die data en feite” in die praktyk te illustreer.

Dit is ook insiggewend dat liberalisme/sosialisme/kommunisme ens hul ontstaan in Westerse/Europese denke gehad het.

Die Boere en Napoleon het veldslag na veldslag gewen en toe die oorlog verloor.

Vaalseun ·

Dankie dat jy jou gedagtes met ons deel, Monica. Dis baie belangrik, want uit die reaksie daarop leer jy en ek.
Jy lig sommige van die tekortkominge en sterk punte van “links” en “regs” uit. Ek dink die oorsake en verloop van byvoorbeeld die wêreldoorloë en vele ander politieke en godsdienstige suksesse en debakels bied oorgenoeg bewyse dat beide “links” en “regs” mildelik bedeeld was en is met opregtes, toegewydes, geleerdes, godsdienstiges, helde, slagoffers, goeie leiers, martelaars en oorwinnaars. Maar ook ewe mildelik met bedrieërs, lafaards, verraaiers, moordenaars, rowers, onkundiges, kansvatters, beterweters, verkragters, valse profete, diktators, slegte leiers en leuenaars.
So, om “links” of “regs” aan te hang, bring jou uiteindelik niks in die sak nie. Die swakhede en gevare in beide was en is ewe groot. “Links” of “regs” is ‘n oorvereenvoudigde etikettering van die kompleksiteit van die ondersoek, analise en besluitneming wat nodig is om blywende oplossings te vind vir die ingewikkelde probleme van ons samelewings.
Die oplossings vir probleme moet die gevolg van onafhanklike en objektiewe ondersoek en navorsing wees om suksesvol te wees. Subjektiewe “links” of “regs” gefundeerde “oplossings” is dikwels bloot pogings om geldige kritiek teen onregmatige bevoordeling, verskuilde agendas en verryking af te weer.
Bevraagtekening en kritiek vorm die boustene van ons beskawing en vooruitgang, want dit is al manier om gevare betyds te herken en te verreken.

Jerry ·

Jy kom baie naby aan die stand van sake Vaalseun. Die emosionele aspek egter, word in SA in n rigting gedikteer tussen die wat “het” en dit wat hulle “het” met hart en verstand wil behou, sommiges vreedsaam (meer verstand as emosie) en sommiges minder vreedsaam (meer emosie as verstand) teenoor die wat nie “het nie” en wie met hart en verstand (meer emosie as verstand), dit wil vat van die wat “het” aangesien hulle niks het om te verloor nie en aangesien die linkse ekstremisme aan hulle daardie hoop bied, valslik of nie!

Frans C ·

Die kern van die probleem lê nie in ‘links’ of ‘regs’ maar in ‘n stryd tussen ‘kapitaal’ en ‘arbeid’, tussen die ‘haves’ and ‘have not’.Dit beweeg soos ‘n pendulum heen en weer ,soms te ver ‘links’ en soms te ver ‘regs’ altyd soekend na ewewig waar beide partye en faktore tevrede gestel word en aan behoeftes voldoen word.

In Suid Afrika is die verdeling nie soseer gegrond op dit wat normaal weg die ‘haves’ en
‘not haves’ van mekaar onderskei nie, maar wel kleur. Die blankes word beskou as die
‘haves’ en die voorheen benadeeldes as die ‘not haves’.

Dit is ongelukkig so uit ons geskiedenis dat goedkoop arbeid hoofsaaklik uit die ‘not haves’ gekom het omdat hul altyd die meerderheid was. Van die ‘not haves’ het oornag
‘haves’ geword nie deur verryking maar verdeling van die ekonomie,wat grotenliks die
produk was van ‘westerse’ en nie ‘Afrika’ siening van hoever die pendulum eenkant toe moet swaai.

Twakkie ·

Die ideologiese stryd tussen links en regs in die VSA waarna veral die eerste deel van die artikel verwys, word in SA deur ‘n verskeidenheid faktore skeefgetrek. Die VSA bestaan steeds grotendeels uit mense wat min of meer op dieselfde vlak van beskawing is, ongeag ras, ‘n redelik homogene nuwe kultuur ontwikkel het en een taal praat. Dis net die onwettige immigrante vir wie praktiese oorlewing in ‘n mate problematies is. Sosialisme is dus in baie gevalle ‘n ideologiese keuse, nie ‘n praktiese een nie. In SA is sosialisme eintlik die tradisionele inheemse kultuur en volkome prakties gedrewe selfs waar dit hoegenaamd nie ‘n naam gegee word nie. Die oorspronklike gebrek aan mediese sorg en vooruitbeplanning van enige aard wat tradisioneel die bevolkingsaanwas gebalanseer het, is egter nou geneutraliseer en het in SA, soos oral in die Derde Wêreld, gelei tot die bevolkingsontploffing wat dreig om die Westerse wêreld te verswelg. Die ideologiese stryd is dus net tussen diegene wat dié probleem ideologies probeer uitsorteer, nie tussen diegene wat dit leef nie. Dit dreig egter om vir die Westerse Wêreld ook ‘n praktiese eerder as ideologiese probleem te word.

Gert ·

Waar studente in die VSA baie erg beïnvloed word deur linkse lektore, en dan baie uitgesproke links opeindig, het Monica duidelik ‘n absoluut gebalanseerde uitkyk. Uiters verfrissend. Ek is nie seker of dit is weens meer objektiewe lektore, of weens eie goeie oordeel nie, maar dis lekker om te lees!

Rupert Ashford ·

Slegs goeie oordeel, Gert!!! Monica is een van die 2% waarna iemand anders hierbo verwys. Sy is ‘n juweel. Doen so voort.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.