ʼn Prentverhaal – die nalatenskap van ʼn vernietigende ANC

dawie-roodt-begrotingsrede-2018

Die ekonoom Dawie Roodt. (Argieffoto: Reint Dykema/AfriSake)

Ekonome meet dinge dikwels oor ʼn tydperk. Daar is niks daarmee verkeerd om dit te doen nie, want dit gee ons ʼn idee van hoe iets met verloop van tyd verander het. Ons meet egter minder gereeld iets relatief met iets soortgelyks.

Een voorbeeld is dat Suid-Afrika se bruto binnelandse produk (BBP) per capita sedert 1994 toegeneem het, wat aandui dat ons vordering gemaak het. Maar watter prentjie sal na vore kom as ons Suid-Afrika se werklike prestasie met die van ander lande sʼn meet?

En dit is waaroor hierdie stuk gaan: Ek gaan Suid-Afrika aan ander lande, of groepe lande, meet om ʼn beter idee van ons relatiewe prestasie te kry. Ek het ook besluit om sekere veranderlikes te gebruik wat ek as belangrik beskou. Trouens, die enkele belangrikste veranderlike, wat my betref, is lewensverwagting. Lewensverwagting hou verband met alles wat goed is: lae vlakke van misdaad, gehalteonderwys, rykdom, en soveel meer. Alhoewel ek hierdie veranderlikes gebruik het, het ek ook ʼn paar ander oorweeg.

Net ʼn kantnota: Ons (dit wil sê die wêreld) het dit nog nooit beter as nou gehad nie. Die afgelope twee jaar het ʼn paar haakplekke gehad, maar die algemene neigings staan steeds vas. Inkomste, misdaadvlakke, oorlog, kindersterftes … omtrent elke veranderlike is óf op die beste vlak ooit, óf is aan’t verbeter. Selfs die reusepanda word nie meer kritiek bedreig nie!

Voor ek vir jou die storie van die ANC se nalatenskap vertel; wat wel duidelik is, is dat Suid-Afrika swak gevaar het in vergelyking met ander lande en in baie gevalle baie swakker. Die enigste gevolgtrekking wat ek kan maak, is dat die “rede” vir ons treurige prestasie te make het met die vernietigende ANC-regering. Vandag is die ANC – trouens die hele drieparty-alliansie – ʼn reuseblerts wat van die staat af leef. En die resultate is daar vir almal om te sien. Maar laat die getalle self die prentjie skets wat ʼn duisend woorde werd is:

Sedert 1994 het Suid-Afrika se BBP per capita, vergeleke met die res van die wêreld, in relatiewe terme met ongeveer 20% verswak. In 1994 was ons BBP per capita naby aan 85% van die wêreld se BBP per capita. Vandag is dit nader aan 60%.

Ons het selfs in vergelyking met die res van Afrika agteruitgegaan. In 1994 was ons BBP per capita 2,6 keer dié van die res van Afrika. Vandag is ons steeds baie ryker as die res van Afrika, maar minder as in 1994.

Suid-Afrika se BBP per capita was in 1994 4,5 keer dié van China. Die grafiek spreek vanself: Vandag is China se BBP dubbel dié van Suid-Afrika s’n.

Hierdie skokkende statistiek verduidelik baie oor ons minderwaardige ekonomiese prestasie. Onthou jy kaderontplooiing? Onthou jy staatskaping? Onthou jy dat president Cyril Ramaphosa toesig oor die Eskom “oorlogskamer” gehad het? Onthou jy hoe Pravin Gordhan aangehou het om die staatsondernemings (SOE’s) met jou belastinggeld te voed en hoe hy in die pad van behoorlike herstrukturering gestaan het toe hulle wel uiteindelik ʼn goeie bestuur aangestel het? Onthou jy dit alles? Wel, hier ontvou die verskrikking …

Suid-Afrika het in 1994 meer elektrisiteit op ʼn per capita-grondslag opgewek as die res van die wêreld (die grafieke dui ʼn bewegende gemiddeld aan). Vandag genereer ons slegs byna 60% van die wêreld se gemiddeld – ʼn katastrofiese ineenstorting!

In 1994 het ons byna ses keer soveel elektrisiteit op ʼn per capita-basis as China opgewek. Vandag genereer ons die helfte van hulle s’n. Is ons ekonomiese prestasie dan verbasend?

Ek skryf dikwels oor ons fiskale rekeninge en hoe onvolhoubaar dit is. Die volgende grafiek vergelyk Suid-Afrika se staatskuld relatief tot die BBP van die res van die wêreld:

Net ʼn herinnering dat data nie altyd oor ʼn tydperk beskikbaar is nie. Die volgende grafiek is egter ʼn flitsbeeld wat die kwaliteit van Suid-Afrika se onderwys illustreer:

En nou vir die hoogtepunt van my storie: Soos ek gesê het, lewensverwagting hou verband met alles wat goed is. In 1994 was ons gemiddelde lewensverwagting naby aan die wêreld se gemiddeld. Vandag is dit sowat 85% van die wêreld se gemiddeld. Let egter op die tendens: Weens die ANC se rampspoedige MIV/vigs-beleid onder oudpresident Thabo Mbeki, was daar ʼn dramatiese daling in lewensverwagting. Dit is deur oudpresident Jacob Zuma omgekeer – waarskynlik die enigste goeie ding wat hy as president gedoen het.

In vergelyking met Afrika is ons lewensverwagting tans laer as dié van die armste kontinent ter wêreld!

Dit is nie asof ons nie van al hierdie wanbestuur, korrupsie en onbevoegdheid bewus is nie. Talle indekse wys duidelik hoe ons persepsies verander:

Op die laaste grafiek sien ons dat die middel 1990’s ʼn tyd van politieke omwenteling en geweld was. Na 1994 was daar ʼn dramatiese verbetering, maar politieke onstabiliteit het die laaste paar jaar weer teruggekeer.

Die prentjie wat ek geskets het wys nie ʼn suksesvolle land met ʼn ywerige, verantwoordelike en doeltreffende regering nie. En ten spyte van al die beloftes van ʼn “nuwe dagbreek”, sien ek nie dat dinge verander nie. Maar soos hulle sê, ʼn land kry die regering wat dit verdien.

Maandag is verkiesingsdag, en jy verdien beter!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dawie Roodt

Dawie Roodt is direkteur en hoofekonoom van die Efficient Groep en lewer gereeld ekonomiese kommentaar.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

AW ·

Natuurlik,

Die Land Kry Die Regering Wat Die Massa Verdien Om Dat Die Massa Vir Die Regering Stem !!

Die Bevolking kry die Staats Departemente wat hulle verdien , omdat hulke vir die Regering gestem het en aan bewind gebring het !!

Dus, is dit dan ook maar nie net n bewys van hoe on eties en korrup die mens in SA is Nie???

Die Hartseer storie, is dat die minderheid as gevolg van die Meerderheid se optrede , te na gekom word !!

Cheryl ·

Dankie Dawie, uitstekende artikel. Daar is ‘n goeie rede waarom daar na Afrika as donker Afrika verwys word. Jou artikel beskryf net ‘n klein deel daarvan. SA is donker: geestelik, ekonomies, opvoedkundig en polities. Dan praat ek nie eers van die res nie.

Marie ·

Elke kieser wat Maandag versuim om te gaan stem help indirek die ANC.

MakersMark ·

Ongelukkig is dit die storie. Die mense kan geen welvaart skep nie net dit op vreet wat ander geskep het en dan as die spaarvark leeg is apartheid en minderheids groepe blameer. En verder vreet van wat by die trog oor is. Zim, Angola, Zambia, SA…noem maar op.

Andries ·

M.a.w. SA is ‘n baie tragiese handboekvoorbeeld van hoe menseregte en demokrasie NIE veronderstel is om te werk nie. Soos geskrywe staan: Moenie die meerderheid volg in verkeedre dinge nie. Ex 23 : 2 – (53 vtl.)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.