ʼn Ramptoestand vir die elektrisiteitskrisis is ʼn ramp

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit (Foto: Solidariteit)

Die regering is self die oorsaak van die elektrisiteitsramp en kan homself nie as ramp verklaar en dan buitengewone magte kry om dié ramp op te los nie. Die rampwetgewing is nie bedoel vir regeringsmislukkings nie.

Ons het ook nie ʼn kort geheue nie. Ons kan die magsvergrype tydens die Covid-19-ramptoestand, en hoe rampgeld geplunder is, onthou. ʼn Ramptoestand vir die elektrisiteitskrisis is ʼn ramp.

ʼn Ramptoestand is ʼn buitengewone instrument wat sekere regte en regeringsprosesse tydelik ophef. Die regering kan sekere regte en vryhede in reaksie op ʼn ramp omseil.

ʼn Ramptoestand is dus ʼn staat van uitsondering en ʼn proses wat teen die normale demokrasie indruis. Daar moet dus uiters versigtig daarmee omgegaan word. ʼn Ramptoestand is bedoel net as ʼn tydelike ingryp en moet net gebruik word indien geen ander instrument beskikbaar is om die situasie te hanteer nie. Dit beteken as ʼn ander regsinstrument vir die uitsonderingsituasie beskikbaar is, moet dit gebruik word.

Solidariteit voel baie sterk daaroor dat ingrypende stappe nodig is om die elektrisiteitskrisis te hanteer. Die probleem is juis dat die regering tot dusver nie die politieke wil gehad het om die regte dinge te doen nie.

Dit is nie die bedoeling van rampbestuurswetgewing om voorsiening te maak vir institusionele mislukkings nie. Rampwetgewing mag nie gebruik word om regeringsmislukkings reg te stel nie.

Alles wat in president Ramaphosa se staatsrede aangekondig is, kan deur ander statutêre instrumente geïmplementeer word. Indien ander instrumente bestaan, is rampwetgewing nie van toepassing nie.

As ons toelaat dat hierdie ramptoestand voortgaan, word ʼn gevaarlike presedent geskep. Dit kan beteken dat Suid-Afrika ʼn toekoms van ʼn rampdemokrasie tegemoetgaan. Regeringsmislukkings, soos om nie water en rioleringsdienste te lewer nie, mislukkende munisipaliteite, die inploffing van infrastruktuur en ander probleme kan dan alles hanteer word deur normale demokratiese prosesse deur rampverklarings te omseil. Dit was nooit die bedoeling van die rampbestuurswetgewing nie.

In hierdie geval is die regering die direkte oorsaak van die ramp. Juis omdat die regering die oorsaak van die ramp is, moet demokratiese meganismes soos byvoorbeeld parlementêre oorsig daar wees.

Die regering het ook ʼn swak rampbestuursgeskiedenis. Ons het tydens die Covid-19-pandemie gesien hoe die aanvanklike positiewe verwagtinge oor die ramptoestand vervaag het namate die ramptoestand self in ʼn ramp verander het. Dit het gelei tot absurde magsvergrype soos boetes wat opgelê is as ʼn sypaadjie geskoffel is, die polisie wat mense soos paddas laat spring het, die verbod op die verkoop van plakkies en warm kos, die sluiting van strande, ʼn sigaretverbod en talle ander vergrype.

ʼn Totaal van 411 000 Suid-Afrikaners is gearresteer omdat hulle Covid-19-ramptoestandreëls verbreek het.

Benewens dié absurditeite het Covid-19-noodfondse ʼn bron van plundering geword. Tientalle maatskappye is met Covid-19-ramptoestandverwante bedrog verbind. Miljarde rande se onregmatige transaksies is aangegaan met die koop van beskermende klere. Amptenare, insluitend die LUR vir gesondheid in Gauteng, ʼn burgermeesterskomiteelid van Johannesburg, ʼn woordvoerder van president Ramaphosa, die minister van gesondheid en sy familie is geskors omdat hulle by die diefstal van rampfondse en toerusting betrek is.

Die doel van die Covid-19-ramptoestand was om nuwe gesondheidsorg kapasiteit te skep om te keer dat mediese fasiliteite nie oorweldig word nie. Te midde van die plundering en absurde magsvergrype is geen nuwe kapasiteit geskep nie. Die ramptoestand het dus nie in sy doel geslaag nie.

Die ouditeur-generaal het ook ʼn verdoemende verslag uitgereik oor die wanaanwending van fondse en die swak bestuur van die KwaZulu-Natalse vloedramp. Die premier van die provinsie het noodwatervoorrade, wat vir die gemeenskap bedoel was, by sy huis laat aflewer.

Die geskiedenis het bewys dat rampfondse sonder twyfel weer gedurende die elektrisiteitsramptoestand geplunder gaan word. Net naïewe mense sal dink dit gaan nie gebeur nie.

ʼn Ramptoestand is per definisie ʼn instrument om regte tydens ʼn ramptyperk op te hef. Ongekende magte word aan die regering toegeken en burgers is uitgelewer aan die regering se hantering van die situasie.

In die geval van die elektrisiteitskrisis is ander instrumente, wat aan beter oorsig onderwerp is, beskikbaar om die probleem te hanteer.

Dit sal irrasioneel, roekeloos en onnodig wees om ramptoestandmagte in hierdie geval aan die regering te gee.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

skurweberg ·

Lees ook “Toekomsvenster: Ons nasie verkeer in gevaar”

Republikein in die Wes Kaap ·

Daar is baie nasies in die “reënboogland.”

Harley Davidson ·

Ons moet ophou praat oor probleme en dit uitsorteer, bou ‘n private kern kragsentrale en gee die mense ‘n betroubare bron van krag die lede sal dit help finansier en die bevoegde personeel sal dit in stand kan hou.Dit is wat die man op straat vandag wil hoor ons weet wat die probleem is.

annie ·

In watter land? Waar kan Afrikaners soiets op hul eis doen en net kies wie hul aanstel. ‘n Atoomkragsentrale kos en neem tot 15 jaar om te bou buiten dat dit ‘n uiters gevaarlike item is wat aanhoudend aandag vereis. Besoek Chernobil eers voor sulke dwase idees verkoop word!

Republikein in die Wes Kaap ·

Kom vorendag met werkbare alternatiewe oplossings, Annie. Dis maklik om te kla en alles af te skiet. Liewe hemel, ons beleef ‘n krisis.

Andrew ·

Die ander vraag is wie deel aan die kern sentrale? Gaan hy op die grid gesit word of net in Gauteng met n privaat grid? Lisensie vir dit is ook nodig en grond natuurlik. Daar word reeds baie deur Afriforum en Solidariteit gedoen so sluit maar aan, Annie is reg, mens moet pragmaties hieroor wees. Kry maar jou batterye en pas aan, dit gaan nie oornag verander nie. Dan word die bevolkings aanwas nog nie eens in ag geneem nie.

Andrew ·

Eerste probleem om op te los is wie betaal die lisensies en tegnologie ens. vir die bou ‘van n private kern kragsentrale, dit is as die lisensie toegestaan word. Dan sal enige buitelandse kapitaal , want pannekoeke en lede fooie gaan nie die ding bou nie, vereis dat BEE aanstellings (maatskapy wet) in lyn met die wet moet wees.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Geagte Harley Davidson,
Hoeveel “onse” is in jou “pond”. Wat doen jy om landsprobleme uit te sorteer, ‘n private kernkragstentrale te help bou, mense ‘n betroubare bron van krag te gee, as lid dit te help finansier, en as bevoegde personeellid dit in stand te hou?
Klim op u Harley Davidson en ry voor as leier vir die uitsorteer van die landsprobleme. “Just do it”. Groetnis.

Republikein in die Wes Kaap ·

Alles begin altyd met idees en konsepte. Modulêre korrelbed reaktors vir groot gebruikers en metros is een daarvan.

skurweberg ·

Kwalifikasies sonder leierskap en integriteit is gevaarlik. Dit is die inwoners van SA se grootste probleem.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Die bronprobleem is nie elektrisiteitsvoorsiening nie maar ‘n gebrekkinge Grondwet.
Die Grondwet moet bepaal dat dit ‘n ernstige kriminele oortreding is om enige kieser of politieke party om te koop om sy stem te werf aangesien dit demokrasie ondermyn. Alle private skenkings, direk of indirek, aan politieke partye of kiesers moet verbied word.
Demokrasie in Suid-Afrika is ‘n klug en sirkus. Niks om oor trots te wees nie.

Andrew ·

Kon jou dit met die skryf van die grondwet vertel het. So boek werk net as almal in n land daarin glo en respekteer dat almal gelyk is onder so boek.

domheks ·

Weereens – net die GROOT GROEN TENT ontbreek, al die narre is alreeds binne!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.